GEBEDSVERSOEKE
Beste Kerugma Ondersteuner, Hiermee wil ons u graag op hoogte bring met ons program die volgende paar weke omdat ons dit sal waardeer as u spesifiek vir ons gedurende die tyd kan bid. Die toerprogram van Dr. Randall Smith se Israel toer van 17 tot 29 Mei is spesiaal aangepas om ons in staat te stel om die gedeeltes af te neem wat nog nodig is om die Israel gedeelte van die Exploring the Lands of the Bible – reeks te kan voltooi. Ons beplan ook om ‘n paar dae na die toer verskillende dele waarvoor daar op die toer self nie tyd is nie, weer te besoek om die nodige dele waarna Randall op toer verwys, af te neem. Daarom is ons, soos die Here wil, eers weer Maandag 11 Junie terug op kantoor.
Gedurende die tyd sal bestellings wel op die volgende wyses geplaas kan word: Dalene Swanepoel, ‘n dierbare vriendin, sal die kantoor beman elke Dinsdag en Donderdagaand van 19:00 tot 20:30. Verder kan bestellings soos normaalweg op ons webtuiste geplaas word. Dalene sal sover moontlik die bestellings waarvoor daar voldoende voorrade beskikbaar is, versend. Die res sal ons dan so gou as moontlik na die 11de Junie versend. Indien u nodig het om in die tyd met iemand hier te praat, skakel dan gerus vir Dalene gedurende hierdie tye.
Hiermee neem ons vrymoedigheid om u te vra om asseblief saam met ons vir onder meer die volgende te bid: * Die Here het reeds deur u donasies voorsien in sowat 80% van die koste van die vliegkaartjies, die toerkaartjies asook die addisionele verblyf en vervoer koste in Israel. Dank Hom daarvoor en bid asseblief saam met ons dat die res nog sal inkom.
*Die SABC is tans besig met die oorskakeling na die nuwe Hoë Definisie uitsaaistandaard (HDTV). HDTV is internasionaal reeds die afgelope tyd die standaard waaraan alle programme moet voldoen. Geen program wat nie teen ‘n spesifieke vasgestelde standard afgeneem is nie, kan vir uitsending aanvaar word nie. Daarom het Kerugma spesifieke kameratoerusting benodig voor ons hierdie keer die toer kon afneem. Die Here het in enkele van sy kinders se harte die begeerte gewerk om daarvoor te help bydra. Sodoende het ‘n klein persentasie van dit wat ons benodig, reeds ingekom. Omdat die Here op die wyse reeds begin voorsien het en ons nie sonder die nodige apparaat op die toer kon gaan nie, het ons in ‘n geloofstap tydelike maatreels getref om die mees basiese van hierdie apparaat aan te skaf. Die belangrikste was twee kameras wat ons op die ou end in der haas bestel het. Ons is die Here so dankbaar dat dit betyds hier aangekom het! Dank Hom saam met ons daarvoor. Ons sal dit natuurlik verder ook baie waardeer as u ernstig saam met ons sal bid dat die Here vir ons verder sal voorsien sodat ons dit alles kan afbetaal. Ons maak baie staat op u gebede daarvoor.
* Bid asseblief dat al hierdie apparaat goed sal werk en veilig saam met ons sonder oponthoud in Israel sal aankom. Dat die Here sy hand op dit alles sal hou en ons instaat sal stel om dit reg te kan hanteer. Die kameras werk op ‘n heel nuwe konsep wat vir ons vreemd is en ons het dit nou maar pas ontvang. Dus is daar geen tyd vir enige opleiding of om dit te leer ken of om vertroud te raak daarmee nie. Ons vertrou om tydens die vlug soveel as moontlik van die handboek daarvan te bestudeer.
* Bid asseblief vir ons vir toestemming om af te neem: By sommige plekke moet ons vooraf reël om te kan afneem en telkens is daar duur fooie te betaal. Dan is daar weer plekke waar daar altyd afgeneem mag word, maar op die mees onwaarskynlikste tyd besluit iemand net skielik dat daar nou nie meer afgeneem mag word nie. By verskillende van die plekke is dit baie moeilik om te weet wat om te verwag en moet ‘n mens per geleentheid bid en sien hoe jy te werk moet gaan.
* So is daar onder andere die volgende waarvoor u vir ons gereeld gedurende die duur van die toer kan bid: - Bid asseblief vir ons vir toestemming by al die plekke waar ons moet afneem. - Vir Randall, vir sy aanbieding, die leiding van die toer en vir sy gesondheid. - Vir Naas en Marina, vir krag en stamina om die kameras met tripote en ander apparaat vinnig saam te kan dra en betyds die regte plekke te kan kies om dit op te stel. - Vir die veiligheid, gesondheid en beskerming van almal op die toer. * Soos ons gesê het, beplan ons om ‘n paar dae na die toer verskillende plekke weer te besoek om dit vollediger te kan afneem. Bid asseblief vir ons vir wysheid om reg te kan oordeel wat die belangrikste is om te besoek en af te neem in die beperkte tyd tot ons beskikking asook vir ons veiligheid.
Ons waardeer u belangstelling en betrokkenheid by hierdie bediening en steun regtig gedurende hierdie toer baie op u gebede. Naas en Marina le Roux
NS.: Nog een BAIE BELANGRIKE saak waarvoor u kan bid is dat SABC 2 tans besig is met die proses om te besluit of hulle die res van Dr. Randall Smith se DVD’s gaan uitsaai. Daar is aanhoudende en deurdringende gebede daarvoor nodig. Dit is ‘n wonderlike geleentheid om die Woord uit te dra na miljoene wat dit andersins nooit sal kry nie.
DEBIETORDER STELSEL
Kerugma Produksies is 'n geloofsonderneming waar ons die Here daagliks vra om te voorsien vir alles wat ons nodig het vir Sy werk. Indien u graag hierdie bediening op 'n gereelde basis finansieel wil ondersteun, kliek hier om 'n debietordervorm af te laai. Nadat u dit ingevul het, kan u dit faks na 086.679.4748 of stuur na Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579. Om slegs eenmalig 'n donasie te gee, kliek hier om dit aanlyn te doen. Van een ding kan u seker wees, en dit is dat elke sent wat u hier gee, gebruik word tot die uitbreiding van die koninkryk van die Here. Ons wil ook diegene van u wat reeds van aftrekorders gebruik maak, versoek om, indien moontlik, eerder oor te skakel na die debietorderstelsel. Die bank het die stelsel goedgekeur, maar ons moet ‘n sekere aantal debietorders aan hulle voorlê voordat hulle die stelsel kan aktiveer. Ons sal u samewerking in die verband baie waardeer. Ons vertrou dat die Here u sal seën waar u ons ondersteun om Hom meer effektief te dien.
Vir alle bestellings, besoek gerus ons webtuiste by http://www.kerugma.pro/
Let asseblief daarop dat Kerugma Produksies se tel. nr. verander het na 0861.786.831
STUUR ASSEBLIEF HIERDIE E-POS AAN U ADRESLYS. DIT SAL ELKEEN WAT HONGER IS VIR DIE WAARHEID VERSTERK.
|
|