Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 10 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
Julie 2008 |
|---|
Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ‘n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd. Matteus 10:9,10
Die opdrag van die Here Jesus in die Skrifgedeelte hierbo het deur die jare ‘n groot rol gespeel in die verhaal van Kérugma Produksies. Ons is nou meer as 10 jaar voltyds aan die gang. Dit alleen is ‘n wonderwerk! Die verhaal van hoe die Here ons die afgelope 10 jaar gelei en veral ook hoe Hy telkens in die behoeftes van hierdie bediening voorsien het, is ‘n getuienis van sy goedheid, getrouheid en sorg wat onbeskryfbaar groot is. Net die hooftrekke van hierdie verhaal kan ‘n hele boek volmaak.
Die verhaal gaan verder terug tot die begin jare voordat die Here ons tien jaar gelede gelei het om die bediening voltyds te bedryf. Daar is diegene van u wat al die jare reeds saam met ons is en die begin en ontwikkeling van hierdie bediening van die begin af meegemaak het. Van u het ons gereeld of per geleentheid finansieel ondersteun, en ons dank die Here vir u gehoorsaamheid aan Hom. Ons weet dat, behalwe vir daardie ondersteuning u ook vir ons gebid het. Dit word hoog op prys gestel. Daar is egter ook diegene van u wat nooit in staat was om iets te gee nie, maar wat gereeld en getrou vir ons bid. Een persoon skakel so af en toe om te sê dat alhoewel hulle nog nooit een van Kérugma se DVD’s gesien het nie, hulle gereeld vir ons bid. Dit is dié ondersteuning wat ons regtig waardeer. U sal nooit weet hoeveel dit vir ons beteken nie. Maar ons glo u sal eendag wanneer ons saam voor die Here Jesus staan, die wonderlike vrug op dit alles sien. Die feit is dat ons in hierdie bediening telkens sien en ervaar dat daar mense is wat vir ons bid.
Daar is ook diegene van u wat onlangs eers op ons adreslys gekom het, miskien deur ’n DVD wat u bestel het, of deur op ons webwerf te vra om op die adreslys geplaas te word. Baie welkom, ons vertrou dat hierdie bediening vir u geestelike lewe tot groot seën en bemoediging sal dien. Ter wille van u sou ons graag die hele verhaal van Kérugma wil vertel. Daarvoor is daar egter nie plek in ’n enkele Bulletin soos hierdie nie. Ons gee vir u net ‘n kort oorsig.
Kérugma Produksies het in 1994 ontstaan toe ons begin het met die maak van die reeks video’s Die Toronto Herlewing-’n Kritiese Evaluering. Dit was ‘n geweldige onderneming. Ons het geen idée gehad waarvoor ons ons ingelaat het nie. Dit is lang volledige produksies. Nadat ons reeds begin werk het aan Volume 6 in die reeks, het iemand vir ons gesê dat groot filmmaatskappye in hulle beplanning normaalweg nie meer as een so ‘n lang produksie per jaar aanpak nie.
Voordat die laaste een in die reeks, naamlik Volume 8, begin kon word, het die Here ons gelei om die geloofstap te neem en voltyds met die bediening aan te gaan. Op daardie stadium was ons gedagte dat hierdie laaste een in die reeks die eerste produksie sou wees wat ons hier sou kom maak. Ons moes egter leer om op die Here te wag vir Sy tyd om dinge te doen. Al wat ons gehad het, was die Woord van die Here waardeur Hy vir ons gesê het om in algehele afhanklikheid van Hom voort te gaan. Sonder ‘n sent in ons sak of enige ondersteuning moes ons Kaap toe verhuis en hier begin. Soos ons daardie eerste dag en maand nie geweet het waar eingiets vandaan sou kom nie, so is dit nog steeds elke dag en elke einde van die maand die geval. Dit was nie een oomblik maklik nie, en is nog steeds nie eenvoudig nie. Tog het die Here ons deur alles heen tot hier gebring. Ons vertroue is dat Hy maar net sal voortgaan om Kérugma Produksies te dra. Dit is Hy wat deur Sy Heilige Gees mense opwek om vir ons te bid. Dit is ook Hy wat in harte werk om vir hierdie bediening te gee. So bid ons steeds gereeld vir die nodige fondse om Volume 8 te kan maak. U sien, ons kan nie ‘n produksie aanpak as die Here nie lei en voorsien daarvoor nie. Uit onsself sou ons lankal Volume 8 wou klaarmaak. Alles wat in die vorige volumes gesê is help eintlik eers wanneer ’n mens die inligting wat in Volume 8 deurgegee word, verstaan. Dit is so belangrik dat mense sal snap hoe hierdie tipe van “herlewing” werk, dat ons nie kan wag om Volume 8 vry te stel nie. Maar die Here voorsien nie en is doodstil daaroor. Nou na alles is Todd Bentley se Lakeland “Herlewing” skielik die groot nuus. Wat is daar by Lakeland in die VSA aan die gang? Wel, dit is presies wat ons gesê het toe ons die reeks oor die Toronto “Herlewing” begin het, naamlik dat dit ‘n beweging is wat verder sal voortwoeker en in felheid sal toeneem. In 1 Timoteus 4:1 skryf Paulus dat die Heilige Gees uitdruklik sê dat sommige kinders van die Here hulle geloof sal verloor omdat hulle “verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”.
Dit is ’n harde maar baie waar woord. Daarom is dit nodig om die kinders van die Here in te lig en te help waar die dinge gebeur. Met die gevolg dat as Volume 8 nou gemaak sou kon word, dit presies op die regte tyd sou wees. Die Here se tydsberekening is altyd in die kol. Ons is tans besig met ‘n proses om Volumes 1 tot 7 asook ds. Etienne Maritz se getuienis op DVD te sit. Dit was deurgaans in aanvraag, maar soos mense oral in kerke die dinge ervaar, het die aanvraag daarna die laaste tyd heelwat toegeneem.
DIE TOEKOMS VAN KÉRUGMA
Van die staanspoor af was die doel van Kérugma nie om net met apologetiese produkte, soos die oor die misleidingsbeweging vorendag te kom nie. Iemand wat die Woord verkondig kan nie net weerlê en bestraf nie. Die opdrag van die Here is veel wyer en omvattender. Daar moet ook lering gegee word. Diegene wat uit die misleiding kom, ja, almal van ons het nodig om onderrig te word in die hele raadsplan van die Here (Hand. 20:27). So het ons in een van ons eerste Bulletins verduidelik dat die Here ons gelei het om deur middel van hierdie bediening video’s (nou DVD’s en Blue-ray skywe) beskikbaar te stel wat die agtergrond van die Bybel vir mense oopmaak. In daardie Bulletin het ons as voorbeeld gebruik die oprigting van ‘n tabernakel en die verfilming daarvan. Ons het by onsself gereken dat so iets hopelik moontlik miskien eendag aan die einde van ons lewens sou kon gebeur. Op daardie stadium het die Here reeds vir dr. Randall Smith (’n Bybelse argeoloog en leraar) gelei om ‘n egte replika van die tabernakel in Israel op te rig. So het die reeks van vier dele oor die Tabernakel ontstaan. Is die Here se weë nie wonderlik nie! Naas die DVD’s wat ons reeds die voorreg gehad het om met dr. Randall Smith te maak, is ons tans besig met ‘n projek om al sy aanbiedinge op die verskillende argeologiese plekke in die Bybellande te verfilm. Dit is ‘n geweldige projek wat jare sal neem om te voltooi. Waar moontlik, soos die Here voorsien, gaan ons saam op die toere wat hy aanbied. So tussen alles deur neem ons af so ver as wat ons kan. Ons het so pas ‘n DVD vrygestel, JOURNEY THROUGH THE BIBLE, wat ’n oorsig van die laaste toer gedurende Februarie 2008 deur Israel bied en die kyker ‘n goeie idee gee van so ‘n toer. Almal wat belangstel is natuurlik welkom om saam op so ‘n toer te gaan. U kan ons kontak vir die nodige inligting. Ons weet egter dat die meerderheid mense nooit die voorreg sal kry om op so ‘n toer te gaan nie. Daarom werk ons aan die reeks met die tema: Exploring the Lands of the Bible. Die twee mees onlangse DVD’s wat so gemaak is, is HOW JESUS GREW UP en THE CALL OF MOSES. In ‘n sekere opsig bied dit selfs vir diegene wat self op so ‘n toer kan gaan, baie. Hulle kan in die rustigheid van hul huis dit weer en weer kyk en alles indrink. Wanneer ‘n mens op so ‘n toer gaan, is dit baie belangrik om seker te maak wie die toergids is. Ons het in Jerusalem ‘n Suid-Afrikaanse dame raakgeloop wat baie teleurgesteld was met die toer waarop sy was. Terwyl hulle toerleier hulle rondgeneem het by die tuin van Getsemané, het sy gehoor wat Randall vir ons groep aangebied het. Dit het daartoe gelei dat sy sedertdien omtrent al ons DVD’s bestel het en ook aan andere gee.
Hiermee neem ons die vrymoedigheid om u te vra om gereeld vir ons te bid vir die maak van die Exploring the Lands of the Bible reeks. Dit is eintlik verskillende reekse oor die verskillende Bybellande. Dit verg baie van ‘n mens om met al die apparaat te vlieg, op die toer elke dag in die toerbus en oral waarheen die groep ookal beweeg, alles saam te dra, op te stel en so tussen al die skouers en koppe deur te probeer afneem. Die redigering daarvan neem natuurlik ontsettend baie tyd. Bid asseblief vir ons gesondheid, maar veral ook vir die finansies. Die vlieg– en toerkaartjies is baie duur. Ons sou sekerlik self nooit op so ‘n toer gegaan het as dit nie was dat die Here so gelei het nie. Ons glo egter dit is nodig dat hierdie DVD’s gemaak moet word, veral in die tyd waarin ons leef. Daar is soveel leuens en suggesties wat die Christendom deursuur wat veroorsaak dat mense hul vertroue in die Bybel verloor. Hierdie argeologiese ontdekkings toon egter dat die Bybel absoluut betroubaar is! Nie dat ons nie in elk geval die Bybel glo nie. Tog help die boodskappe op hierdie DVD’s om die algemene leuens rondom die Bybel te verbreek en die waarheid van Gods Woord te bevestig. Voorts bied dit baie inligting wat nog nie algemeen beskikbaar is nie.
Bid asseblief ook vir die effektiewe verspreiding van al ons DVD’s. Ons het self ongelukkig geen fondse om dit te bemark of te adverteer nie en die ideaal is tog dat dit in elke huis sal uitkom. Ons maak staat daarop dat u wat daarna kyk, dit verder sal bekendmaak en selfs sal adverteer. Op die wyse vorm u ‘n baie belangriker deel van hierdie bediening as wat u mag besef. Mag die Here u ryklik seen.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/