Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 1:4 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
AUGUSTUS 1999 |
|---|
| "... vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel. Dan moet jy die fees van die weke [die Pinksterfees] hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën. En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is ..." (Deut. 16:9-11). |
- Ignatius A le Roux
Vir Israel was daar 'n besondere geleentheid in die jaar waarop die sekel vir die eerste keer in die jong graan op die land geslaan moes word. Dit was die dag waarop elke familie Jerusalem toe vertrek het vir die Paasfees. Hulle moes dan hul eerstelingsgerf oes om dit gedurende die fees op die dag ná die Sabbat waarop die pasga gevier is, aan die priester te gee. Dit was die eerste dag van die week, wat vandag natuurlik die Sondag is. Die priester moes dit voor die Here beweeg om sodoende die komende oes aan Hom op te dra (Lev. 23:10-11). Sewe weke later, presies vyftig dae daarna, het hulle weer te Jerusalem vergader vir die viering van die tweede groot fees van die jaar, naamlik "die fees van die oes" of die Pinksterfees. 'n Interessante feit is dat die eintlike dag van hierdie fees nie 'n Sabbat nie, maar die eerste dag van die week was. Dit was op so 'n Sondag, "die dag van die Pinksterfees", dat die Heilige Gees uitgestort is? Presies vyftig dae voor dit, ook op die eerste dag van die week, het die Here Jesus Christus uit die dood opgestaan. Wat beteken dit alles vir ons vandag?
Verlede keer het ons begin kyk na wat die Bybel leer in verband met die Vrywillige Offer. Elke Israeliet moes, soos hulle na die drie groot jaarlikse feeste te Jerusalem opgetrek het, telkens hul hande gevul het met dit wat hulle hulself voorgeneem het, om vir die Here te gee. Alhoewel hulle so 'n vrywillige offer na elkeen van hierdie feeste moes neem (Deut. 16:16-17), word daar veral met betrekking tot die Pinksterfees voorgeskryf dat dit gehou moet word "ooreen-komstig die vrywillige offer van jou hand ...". Voorts moes hulle dit met "vrolikheid" vier (Deut. 16:10-11).
Vir die regte begrip van die vreugde en vrolikheid wat met die gee van die vrywillige offers gepaard gegaan het, is dit nodig om te weet wat die Here se bedoeling is met die gee van tiendes en vrywillige offergawes.
Die tiende is iets wat elke gelowige gee, ongeag van hoe groot of gering sy/haar inkomste mag wees. Die vrywillige offer is verder dit wat naas die tiende gegee word. Dit word vrywillig en graag gegee. Anders as die tiende wat die gelowige in elk geval aan die Here gee, is dit iets wat hy opoffer. Daarom word dit op sommige plekke 'n "offergawe" genoem. Waar die eerste tien persent van 'n persoon se inkomste aan die Here behoort, kom die vrywillige offer uit sy eie sak. Dit is deel van die negentig persent van sy inkomste wat aan sy beheer toevertrou is. Hy kan daarmee maak wat hy goed dink, maar in gehoorsaamheid aan die Here, besluit hy om van dit ook te gee.
Wanneer 'n mens kyk na die motivering wat daar vir Israel was om hul tiendes en vrywillige offers te gee, dien dit vir ons tot inspirasie om dieselfde te wil doen.
Die motivering vir die Israeliet in die gee van sy tiende en vrywillige offer, was daarin geleë dat hyself niks besit het nie. Alles wat hy gehad het, het aan die Here behoort. Dit wat aan hom toevertrou was, het hy namens die Here bestuur. Al sy arbeid het hy vir die Here verrig. Met al sy vernuf het hy dit bewerk, sodat die meeste voor-deel daaruit vir die Here na vore kon kom. Die opbrengs moes so wees dat die Here dit kon gebruik ter uitbreiding van sy koninkryk op aarde.
So het die Israeliet dit waaroor die Here hom aangestel het, bewerk, bewaak en daaroor geheers. Alles het vir hom gegaan om die Naam en die eer van dié God wat alles so mildelik aan hom gegee het.
Die bedoeling van die Here met sy volk was dat hulle 'n unieke volk in 'n baie voorspoedige land sou wees. Daarvoor het Hy al die wette vir hulle gegee. Dit was sy wil om deur sy volk, en vanuit hul land, al die heidennasies van die aarde te bereik. Dit was nie sy begeerte dat hulle vir hulself en húl rykdomme moes leef nie, maar vir Hóm en in vólle gemeenskap met Hom.
Deur alles wat hulle vir Hom moes gee, maar ook deur die wyse waarop hulle self van dit moes geniet en met andere deel (Deut. 16:11), kon dit nie anders nie as dat hul alles geheel en al op Hom gerig sou wees. Alles het om God en sy tempel gegaan.
Soos hulle geploeg, gesaai, gesnoei en geoes het, was alles daarop gerig om so veel as moontlik in te bring vir God en sy koninkryk. Alles wat hulle gehad het, was aan Hom te danke. Al sy seëninge oor hulle was tot sý eer, tot hul voordeel, maar ook om die heidennasies jaloers te maak op hul God.
Deur hulle te seën, kon Hy Homself aan die heidene openbaar as die God wat goed en getrou vir sy kinders sorg.
Nou is die vraag: Waaroor gaan dit in die gee van tiendes en vrywillige offers vandag? Dit gaan oor die wil en plan van God met sy kerk in hierdie wêreld.
Die Here Jesus begeer 'n kerk wat staan in die volle seën wat Hy deur die Heilige Gees daaraan gee. Hy het die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort. So het sy kerk ontstaan. Diegene wat daardie dag die Heilige Gees ontvang het, het die volle seën beleef en was ook tot 'n seën vir diegene wat oor hul weg gekom het (Hand. 2:47a).
In die Ou Testament was die Pinksterfees 'n vooruitskouing van dit wat verwag is. Daar is ook 'n spesifieke rede waarom die vrywillige offer so pertinent by die Pinksterfees genoem word. Dit is dieselfde rede waarom ons vandag ook ons vrywillige offers gee. Hierdie rede word gevind in die wyse waarop die Pinksterfees gevier moes word.
Saam met die lammers, ramme en bul wat hulle as brandoffer moes bring, was daar ook twee brode wat voorberei moes word:
| Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee-tiendes van 'n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eersteling aan die Here. ... en die priester moet ... die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg ... dié moet aan die Here heilig wees ... (Lev. 23:17,20). |
Dit is opvallend dat daar twee brode was en dat dit boonop ingesuur moes wees. Anders as die brode by die pasga en dié van die fees van die ongesuurde brode, moes hierdie brode suurdeeg bevat. Die suurdeeg sien op die ou lewe in Egipteland. Dit dui die "lekker" van die sondige wêreld aan.
Deur die eet van die ongesuurde brode het Israel onder meer bely dat hulle gebreek het met die wêreld en sy plesier. Die eet daarvan was 'n vorm van vas. Hulle het gevas van die suurdeeg en sodoende gedenk hoedat die Here hulle in sy genade gereinig het deur hulle uit die wêreld te red. Soos Hy Israel uit Egipteland uitgelei het, so het Hy hulle verlos uit die juk van die sonde en die wêreld. Hulle was nou vry daarvan en het vir Hóm geleef.
Hierteenoor ontstaan die vraag: Waarom moes die brode van die Pinksterfees dan ingesuur word? Die rede daarvoor was onder meer dat die twee gesuurde brode gesien het op die kerk van die Here Jesus Christus. Die Ou-Testamentiese gelowiges het dit natuurlik nie so verstaan nie. Die suurdeeg in die brode was 'n vooruitskouing dat die kerk deursuur sou wees van die wêreld, die sonde en valse leringe. Die Here Jesus het dit ook uitgebeeld deur die gelykenis van die suurdeeg:
Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is (Matt 13:33).
Warren Wiersbe verduidelik hoe hierdie gelykenis verstaan moet word:
"... the leaven illustrated the inward development of false doctrine and false living. Throughout the Bible, leaven is a symbol of evil. It had to be removed from the Jewish homes during Passover (Ex. 12:15-19; 13:7). It was excluded from the sacrifices (Ex. 34:35), with the exception of the loaves used at the Feast of Pentecost (Lev. 23:15-21). But there the loaves symbolized Jews and Gentiles in the church, and there is sin in the church.
Jesus used leaven to picture hypocrisy (Luke 12:1), false teaching (Matt. 16:6-12), and worldly compromise (Matt. 22:16-21). Paul used leaven to picture carnality in the church (1 Cor. 5:6-8) as well as false doctrine (Gal. 5:9). Sin is like leaven (yeast): It quietly grows, it corrupts, and it 'puffs up' (1 Cor. 4:18-19; 5:2; 8:1). It would seem that making the growth of the leaven a picture of the spread of the Gospel throughout the world would violate the meaning of this important symbol. It would also contradict the other parables."
Die suurdeeg in die brode bied egter geen verskoning vir sonde, wêreldgelykvormigheid of val- se leringe in die kerk nie. Dit was daar om as waarskuwing te dien, ook vir die gelowiges in die Ou Testament. As die kerk so sou wees, hoeveel te meer moes húlle nie daarteen waak nie. Hulle moes Egipte, of dan die wêreld, uit Israel hou. Dwalinge en ander onsuiwerhede moes nie geduld word nie. Juis waar hul roeping die bereiking van die nasies was (vgl. Gen. 12:2-3; 22:18; Gal. 3:8), moes hulle seker maak van die suiwerheid van diegene wat hulle by hulle kom voeg het.
Die kerk self word deur die suurdeeg in die twee brode van die Pinksterfees gemaan tot versigtigheid. Paulus stel dit soos volg in 1 Korintiërs 5:6-8 waar hy oor die toepassing van die kerklike tug praat:
| Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees soos julle inderdaad ongesuurd is want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. |
Met die Pinksterfees het die Israeliete dan die brode ingesuur. Die priester het dit voor die Here gehou as hul belydenis van hoe vol van die ou mens hulle steeds was. Daar was egter twee brode wat enersyds gesien het op Israel self, maar andersyds ook op die heidene wat juis deur hierdie fees na die Here getrek moes word. Met die koms van die Heilige Gees op die "dag van die Pinksterfees", is dit opvallend dat Hy op Jode en Jodegenote [dit is heidene wat die Joodse geloof aangeneem het], uitgestort is (Hand. 2:11).
Die twee brode was egter ook 'n vooruit-skouing van hoe die kerk vandag daar sou uitsien. Soos dit op Israel en die heidene gesien het, dui dit vandag ook op die feit dat die kerk uit "twee brode" bestaan.
Naas die brood wat gesien het op die Joodse Christene, was daar ook die tweede brood, wat gesien het op die heidense Christene. Dit is almal vanuit die heidennasies wat ook tot geloof in die Messias sou kom. Jesus het dit so verduidelik:
| Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder (Joh. 10:16). |
Op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort "op alle vlees" (Hand. 2:17). Dit beteken dat Hy nie gekom het om in Jode alleen te woon nie, maar in mense van alle volke, nasies en tale.
In Handelinge 2 is Hy weliswaar net op Jode en Jodegenote uitgestort. Soos hulle egter voort-gegaan het en die evangelie verkondig het, is Hy in Handelinge 8 op die Samaritane en in Handelinge 10 op die heidene ook uitgestort. In Handelinge 11:15 het Petrus dit duidelik gestel dat
| ... die Heilige Gees op hulle [die heidene] geval het net soos ook op ons [die Jode] in die begin. |
Die tweede brood van die Pinksterfees het gesien op die aandeel wat die heidene in die kerk sou kry.
Vandag steeds word hierdie twee brode in die kerk van die Here Jesus Christus onderskei. Alhoewel die kerk een liggaam is, stel Paulus dit duidelik dat dit uit Jode en Grieke bestaan. Die benaming Grieke sien op diegene wat nie Jode is nie en dus uit die heidendom kom. So skryf Paulus:
| ... ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek (Rom. 1:16). |
| ... ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge (1 Kor. 12:13). |
Deur die bloed van die Here Jesus Christus is die twee brode die Jode en die heidene wat in Hom glo een gemaak. Hý het die middelmuur van skeiding wat die heidene weggekeer het, in sy offer aan die kruis afgebreek (Ef. 2:13-14). Alhoewel daar twee brode is, vorm hulle saam sy liggaam waarin Hy deur sy Heilige Gees woon en werk. Deur hierdie liggaam openbaar Hy Homself aan die wêreld.
DIE DOEL
Die intensiteit van die viering van die Pinksterfees het afgehang van hoe groot die vrywillige offers was wat elke familie sou bring. Dit moes gevier word in ooreenstemming met die grootte van die "vrywillige offer van jou hand" (Deut. 16:10).
Hierdie vrywillige offers was gegee om die heidene te bereik. Dit was gegee om die hele wêreld te wen. Waar dit sou gebeur, sou God sy belofte aan Abraham vervul. Die seën waarmee God Abraham geseën het, sou deurvloei na al die volke van die aarde.
Daarom dat Deuteronomium 16:11 sê dat die fees gevier moes word deur die hele gesin; saam met hul slawe, die Leviet van die plaaslike gemeenskap, die weeskinders en die weduwees asook enige vreemdelinge. Die vreemdelinge was mense vanuit ander volke. Hulle kon nie self grond in Israel besit nie. Hulle was normaalweg slegs tydelik in die land. Baie van hulle was sakemanne wat deur die land gereis het.
Naas dat die doel van die Pinksterfees was om die Leviete, die weeskinders en die weduwees te bedien, was die een groot oogmerk dat die vreemdelinge, die nie-Jode, daardeur ook dié God wat so vir sy volk sorg, sou leer ken.
In die Ou Testament word daar dan ook verskillende persone uit heidennasies genoem wat tot geloof in hierdie God gekom het. So is daar die verhaal van Rut, die jong Moabitiese weduwee, wat saam met haar skoonmoeder, Naomi, na die land Israel gekom het. Rut het juis daar aangekom tydens die sewe weke waartydens die oes, wat op die Pinksterfees sou uitloop, ingesamel is.
'n Interessante feit is dat juis die verhaal van Rut tot vandag toe jaarliks met die Pinksterfees deur die Jode in hul sinagoges voorgelees word. Dit sien op God se liefde vir die heidene en hoedat Hy deur sy volk die heidene na Hom wou trek. In Matteus 1:5 word hierdie selfde Rut in die geslagsregister van die Messias genoem.
Die Pinksterfees moes dan so gevier word dat die nie-Jood wat dit meegemaak het, nie anders sou kon as om te erken dat die God van Israel die enigste ware God is nie.
Dink maar aan wat die heidene alles moes doen om te verseker dat hul gode aan hulle goeie oeste sou gee. Wanneer dit nodig was, moes hulle selfs hul eie kinders aan die afgode offer. Dit beteken dat 'n ouer sy eie kind se keel sou afsny en sy bloed op die grond laat uitloop. Dit ter wille daarvan dat die gode hulle sou seën (Ps. 106:37-38). Sou so 'n "fees" gekenmerk kon word deur vrolikheid en vreugde?
Die feeste van Israel was duidelik iets heel anders. By die Pinksterfees het hulle offers gebring uit dankbaarheid vir die Here se seën op hul handearbeid. Hulle het nie iets gebring om God se guns te wen en Hom sodoende te manipuleer om aan hulle goeie oeste te gee nie. Nee, dit wat hulle gebring het, was om Hom te dank vir die oes waarmee Hy hulle geseën het. Verder het hulle gegee sodat daar oorvloed in sy huis sou wees en dat almal in die land genoeg sou hê om van te leef. Hulle het dus gegee sodat die hele land 'n getuienis teenoor die ganse mensdom sou wees. Ja, hul land sou 'n lof vir God op aarde wees. Iets waardeur Hy Homself aan almal kon openbaar as hul God, maar veral iets waarin Hy Homself kon verlustig.
Dit is waarom hulle almal saam op hierdie fees "vrolik" moes wees voor die aangesig van die Here.
Kan u sien wat die doel van die jaarlikse Pinksterfees was? Verstaan u nou hoekom die Heilige Gees gekom het op "die dag van die Pinksterfees"? Die fees waardeur God Homself aan die verlore wêreld wou openbaar?
Ja, die kerk het op daardie eerste dag van die week, op die dag van die Pinksterfees, ontstaan. Ons wat vandag die voorreg het om kinders van God te wees, ons het elkeen sedert ons wedergeboorte die Heilige Gees wat op daardie besondere dag uitgestort is, in ons lewens (1 Kor. 12:13). Ons het dus elkeen die voorreg om te kan hoor wat God se wil is. Die inwonende Heilige Gees openbaar dit aan ons (Joh. 16:13, 1 Kor. 2:10). Verder gee Hy ook aan ons die krag om dit wat God se wil is, te doen.
Die leer van die Bybel in verband met die tiendes en vrywillige offers handel ten diepste oor die welwese van God se kerk op aarde. In en deur die kerk openbaar God Homself aan die wêreld. Die kerk is al die Christene op aarde wat deur die Heilige Gees wederbaar is. In en deur elkeen van hulle openbaar die Here Homself aan die wêreld.
In die tuin van Getsemane het die Here Jesus Homself so volkome aan sy Vader gegee dat die Vader Hom kon offer. Weens daardie geloofsgehoorsaamheid aan die Vader kon die Vader Hom op die eerste dag van die week, die eerste dag ná die pasga, as sy Eerstelingsgerf uit die dood opwek (vgl. Hand. 26:23; 1 Kor. 15:20,23; Kol. 1:18; Op. 1:5). Hierdie tekste praat van "eerstelinge", maar dit blyk dat "eerstelingsgerwe" 'n beter vertaling sou wees.
Israel moes op die eerste dag van die week, die dag ná die pasga, 'n eerstelingsgerf aan die priester gee. Die priester moes dit voor die aangesig van die Here beweeg om die hele oes wat hierna ingesamel sou word, aan die Here op te dra. Vyftig dae later, op die dag van die Pinksterfees, die fees van die oes, het hulle Hom gedank, geloof en geprys vir sy seën. Hulle het dan, naas een tiende van hul oes, ook 'n ruim vrywillige offer gebring om Hom te seën en te gee dat daar oorvloed vir almal sal wees.
Vyftig dae nadat die Vader sy Seun as sy Eerstelingsgerf uit die dood opgewek het, het die Here Jesus op "die dag van die Pinksterfees" die Heilige Gees uitgestort op 120 van sy volgelinge. Op daardie selfde dag het 3 000 tot bekering gekom en ook die Heilige Gees van die belofte ontvang. Wat 'n ryke oes!
Dit het gevolg op Jesus se opstanding uit die dood. Hy is deur die Heilige Gees in die graf lewend gemaak en opgewek (Rom. 8:11). Die Vader het Hom as sy Eerstelingsgerf opgewek om daarna 'n volle oes in te samel. Van Pinksterdag af tot vandag toe word daar daagliks meer mense bygevoeg tot hierdie oes.
Is jy seker dat jy al ingebring is as deel van die oes? Het jy al uit die dood opgestaan? Of leef jy nog onder die mag van die sonde, die vlees en die dood?
Paulus het met die Korintiërs gereël om hul vrywillige offers op "elke eerste dag van die week" te gee (1 Kor. 16:2).
Op die eerste dag van die week gedenk ons die opstanding van die Here Jesus Christus uit die dood. Waar ons dit Sondae doen, gee Hy aan ons sy opstandingskrag en verkwik Hy ons innerlike mens. Hierdeur gee Hy aan ons die krag vir dit wat Hy wil hê dat ons daardie week moet doen. Dit is ook dan dat Hy aan ons die krag, die vermoë gee om onsself met alles wat ons besit, aan Hom te wy. Ja, ook om Hom toe te laat om volle seggenskap te hê oor hoe ek my inkomste spandeer sodat daar net nog 'n groter oes ingesamel kan word.
Hy gee dus aan ons die krag om ons vrywillige offers te gee. Ons gee dit dan in die krag van sy opstanding. Hierdie krag word onophoudelik aan ons gegee deur die inwonende Heilige Gees. Romeine 8:23 sê dat ons "die eerstelingsgerf van die Gees het". Die Heilige Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, verteenwoordig die opgestane Here in ons harte. Hy gee aan ons daardie nuwe lewe van die Seun. Dit is ook Hy wat ons swakhede ken en vir ons by die Vader intree (Rom. 8:26). So aanvaar die Vader ons en ons offers, al is dit ook hoe gebrekkig. Vir Hom is dit wonderlik, want dit is alles deel van die vrug op sy Seun se sterwe en opstanding.
Jesus het die Heilige Gees uitgestort om in ons te woon. Deur sy Gees is ons in gemeenskap met Hom en met die Vader, maar deel Hy ook onophoudelik sy lewe aan ons mee. Soos ons elke dag met Hom praat, laat ons aan Hom noem dat ons een begeerte is om na Hom te luister en sy leiding te volg. Ja, laat ons Hom spesifiek bid om ons te leer hoe om sy stem te hoor. Ook sodat ons kan weet hoe om hom te gehoorsaam in die gee van ons tiendes en vrywillige offers.
Laat ons Hom gereeld vra aan wie Hy wil hê dat ons moet gee en hoeveel. Wanneer 'n instansie of persoon herhaaldelik by ons opkom, laat ons daaroor met die Here praat om te hoor wat Hy vir ons daaromtrent wil sê. Kom ons rig onsself daarop om sy wil te ken en te doen.
| "... ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus." (2 Kor. 11:3) |
- Marina le Roux
Ons as Christene ervaar soms dat die samelewing rondom ons God totaal verwerp. Ja, baie dinge wat vroeër onaanvaarbaar was soos egskeiding, aborsie, buite-egtelike gemeenskap, homoseksualisme, en dies meer, is nou die normaalste ding op aarde. Terselfdertyd word diegene wat dit nie beoefen nie, hanteer asof daar iets met hulle skort. Selfs die definisie van Christenskap het verander. Wat het hierdie veranderinge teweeg gebring?
Paulus noem 'n paar dinge wat lig werp op dit wat rondom ons gebeur:
... hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is (2 Kor. 10:3-6).
Eerstens sê Paulus hier dat hy as deel van sy lewenstaak betrokke is in 'n oorlog, nie 'n fisiese oorlog met wapens soos swaarde en spiese nie, maar 'n geestelike oorlog.
Tweedens sê hy dat hy vestings (geestelik gesproke) moet inneem en vernietig. Hierdie vestings is planne.
Derdens neem hy, wanneer hy 'n vesting inneem, gevangenes weg om onder 'n nuwe heer te werk. Hierdie gevangenes is gedagtes.
Paulus sê hier dat hy skanse wat opgewerp word teen die ware kennis van God, verbreek. Hy stel hierdie skanse voor as planne of gedagtes wat ongehoorsaam aan Christus is. Ons kan dus sê dat hy teorieë of argumente weerlê wat nie die waarheid omtrent God weergee nie. Paulus stel dus ons verstand voor as 'n gevegsterrein waar 'n stryd woed tussen twee partye. Albei partye veg om ons gedagtes te lei in 'n sekere rigting. Aan die een kant is daar die redenasies wat nie in ooreenstemming met die wil van God is nie, maar wat uit hoogmoed hul eie voorstelle maak. Paulus lê hom daarop toe om hierdie vestings te vernietig.
Kom ons kyk na 'n paar teksgedeeeltes wat vir ons lig kan werp op die rigting waarin Satan ons gedagtes wil stuur
Paulus sê vir die Korintiërs dat hy bang is, dat net soos Satan Eva mislei het, hy ook hul gedagtewêreld sal besoedel met idees wat hulle sal beroof van hulle opregtheid teenoor Christus (1 Kor. 11:3). Die Griekse woord vir opregtheid is haplotes. In Engels kan dit vertaal word met "sincerity without dissimilation or self-seeking". Die Amplified Bible vertaal 2 Korintieërs11:3 as volg:
But now I am fearful lest that even as the serpent beguiled Eve by his cunning, so your minds may be corrupted and seduced from wholehearted and sincere and pure devotion to Christ.
Deurdat hulle na valse apostels geluister het wat hulself hoog geag het en gespog het oor hulle vermoëns, het die gevaar gedreig dat die Korinthiërs self ook hoogmoedig en selftevrede sou word. Dit sou ook daartoe lei dat sonde nie meer verag sou word nie, maar aanvaarbaar sou wees.
Daarom dat Paulus die Christene te Korinte vermaan om nie in dieselfde juk te trek met die ongelowiges nie (2 Kor. 6:14).
Hieruit kan ons sien dat Satan se gevegstaktiek daarop gerig is om 'n Christen se gedagtes weg te lei sodat hy God sal dien met 'n bymotief, naamlik dat hy op een of ander wyse voordeel sal trek uit dit wat hy vir die Here doen. Sodoende word self-opofferende toewyding aan God iets waarvan ek totaal wegskram, sodat ek nie meer opreg soek na God se wil nie. So raak 'n mens "vervreemd van die opregtheid teenoor Christus".
Paulus noem dat dit sy bekommernis is dat juis dit met die Christene te Korinte sou gebeur. Die wêreld lê in die mag van die bose. Hul gedagtewêreld is onder sy beheer. Ons moet egter weet om te waak daarteen dat ons gedagtes nie ook so deur hom beïnvloed kan word nie. Die rede vir die huidige toestand waarin die wêreld om ons verkeer, is grootliks daaraan te wyte dat baie Christene nie meer opreg soek na die wil van God nie. Hul gemoed is gevul met dieselfde gedagtes as die van die wêreldlinge.
In 2 Korintieërs 4:4 sê Paulus dat Satan die ongelowige se sinne verblind. Die Amplified Bible se vertaling lui:
"For the god of this world (Satan) has blinded the unbelievers' minds (that they should not discern the truth) preventing them from seeing the illuminating light of the Gospel of the glory of Christ ..."
Hiervolgens wil ongelowiges God nie ken nie, omdat Satan hulle gedagtewêreld lei in 'n rigting waar hulle nie God se liefde en sy verlossingsplan met die mense sal raaksien nie. Hy lei byvoorbeeld hulle gedagtes in rebellie teen God. Dit doen hy deur God by hulle te beskuldig. Die gevolg daarvan is dat hulle nie hul eie sondes raaksien nie, en daarmee saam ook nie God se begeerte om hulle te vergewe nie.
Dit word byvoorbeeld gesien in 2 Korintiërs 3:14, wat sê dat die sinne (verstand) van die Jode verhard is, sodat wanneer die Ou Testament gelees word, hulle nie besef hoe sondig hulle is, en watter groot doel God met hulle het nie.
Efesieërs 4:17 sê dat die heidene in die verdwaasdheid van hul gemoed wandel. In Engels kan dit vertaal word met "futility of mind". Hulle gedagtewêreld is dus gerig op dinge wat nie die moeite werd is nie. Dit wat vir God niks werd is nie, oorheers hulle hele lewe. Kolosense 2:18 sê dat sommige mense opgeblase (hoogmoedig) is deur hulle vleeslike gesindheid. Die woord "gesindheid" is die vertaling vir die Griekse woord nous, wat verstand of gedagtewêreld beteken. Gedagtes oor hulle eie waarde, regte en voorregte oorheers dus hulle gedagtewêreld.
Romeine 8:7 sê dat die gedagterigting van die vlees vyandig is teen God, omdat dit nie onderworpe is aan die wet van God. Deur sy wet, sy Woord, maak God sy wil aan die mens bekend. Die vlees is dus die wil van God vyandig gesind.
Uit dit alles blyk dit dus dat Satan al sy aandag toespits daarop om 'n vastrap-plek in ons gedagtewêreld te kry, sodat hy ons lewens van daaruit kan beheer. Wat ek dink, doen ek tog op die ou end. As ons dus ons verstand of denkprosesse uit sy kloue kan hou, sal ons in staat wees om te dink soos God dink, en om voluit vir Hom te leef.
In Romeine 12:2 sê Paulus:
En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Hierdie wêreld is die mense rondom ons wat nog nie deur die Here nuut gemaak (wederbaar) is nie. Hulle het nog nie besef dat hulle sondaars is wat op pad hel toe is nie. Hulle het dus ook nog nie hul sondes bely nie. Om in alles God se wil te soek, is nie vir hulle belangrik nie. Paulus sê nou dat ons wat reeds nuut gemaak is en vir wie dit belangrik is om aan God gehoorsaam te wees, nie soos hierdie wêreld moet wees nie, maar verander moet word deur die vernuwing van ons gemoed. Die Griekse woord vir gemoed hier in Rom. 12:2 is nous, in Engels mind. Sedert ons bekering moet ons denkprosesse dus verander word. Hoekom? Sodat ons kan beproef wat die volmaakte wil van God is. Wanneer my denkprosesse dus nog beïnvloed word deur Satan se leuens, is ek nie in staat om God se wil te ken nie. Dan verdraai ek God se wil. Ek dink dat ek besig is om God se wil te doen, terwyl ek eintlik Satan se saak bevorder.
Hoe gaan ek dit regkry om my verstand onder Satan se invloed uit te kry? Hoe weet ek dat ek regtig God se wil doen? 'n Paar riglyne kan ons hier help.
In Filipense 4:8 sê Paulus:
"Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is - watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit."
Hieruit blyk dit duidelik dat ons self bepaal wat ons dink. Ek besluit dus self waaroor ek dink. Gedagtes kom en gaan nie maar deur my kop na willekeur nie. Wanneer 'n gedagte in my kop opkom wat nie waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik of loflik is nie, mag ek nie daardie gedagte duld nie, en allermins daarop broei. Ek moet dadelik bid dat die Here Jesus Christus dit uitwis met sy bloed.
My omstandighede het natuurlik ook 'n groot invloed op wat ek dink. Wanneer ek in 'n gesprek is waar iemand anders beskinder word, kom daar dadelik gedagtes op wat nie eerbaar is nie. Daarom moet ek sorg dat ek nie met mense meng wat hulle tyd graag verwyl met doellose kuiertjies waar allerande afbrekende praatjies uitbroei nie. Wanneer ek televisie-programme kyk waar buite-egtelike verhoudings as iets heel normaal voorgestel word, sal dit natuurlik onrein gedagtes by my laat opkom. Wanneer ek televisie-programme kyk of boeke lees wat leuens propageer, of met mense omgaan wat allerande leuens glo, sal daardie leuens natuurlik ook vassteek in my gedagtes en my optrede mettertyd beïnvloed. Dit gebeur baie subtiel. Jesus het byvoorbeeld vir sy kinders gesê om nie bekommerd te wees oor wat hulle sal eet, of wat hulle sal aantrek nie (Mat. 6:25-33). Hoe ek lyk, hoe ek aantrek, wat ander van my dink, hoe my huis lyk, of my motor, is dus nie veronderstel om die Christen se gedagte-wêreld te oorheers nie. Maar wanneer ek heeldag in die teenwoordigheid van mense is wat nog nie deur die Heilige Gees wederbaar is nie, en wat hulself heeldag loop en verknies oor onbelangrike dingetjies, kan dit my gedagtes ook later oorheers.
Hoe ken ek die waarheid? 2 Timoteus 3:16 sê:
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.
Diegene wat die waarheid verkondig, toets dit graag aan die Skrif. Jesus het gesê dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (Joh. 3:20,21).
As ons ons gedagtes wil rig en hou op alles wat waar is, sal ons die Skrif moet leer ken. Ons sal baie tyd moet spandeer en moeite moet doen om die Skrif goed te ken. Wanneer 2 Timoteus 3:16 sê dat die hele Skrif deur God ingegee is, dan bedoel hy dat die Ou Testament net so belangrik is as die Nuwe Testament en vandag nog net so belangrik is vir ons as Christene. Dit help ons om God reg te ken en sy wil vir ons te verstaan.
Verder vermaan Petrus (1 Pet. 4:1) ons om ons te bewapen met die gedagte dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.
Wanneer my eie gemak, gerief, erkenning of eer vir my belangrik word, moet ek weet dat ek my gedagtes oopstel vir Satan om my baie subtiel uit God se volmaakte wil te kry.
Kom ons rig ons hart opnuut daarop om Satan te oorwin daar waar hy hom toespits daarop om ons te verslaan, naamlik ons gedagtewêreld. Laat ons hom weerstaan in die Naam van die Here Jesus Christus, soos Jakobus 4:7 sê. Wanneer ons gedagtes op hol gaan, of deur iets vasgegryp word, laat ons die Here aanroep. Vra Hom om jou te reinig met sy bloed en sê dan vir die Satan in die Naam van die Here Jesus Christus om van jou te wyk. Die Woord van die Here verseker ons dat hy dan van ons sal wegvlug.
Die samelewing rondom ons verwerp God voorwaar, omdat Satan met sy leuens die lewensuitkyk van diegene wat nie aan God behoort nie, besoedel het. Hy het dit reggekry deurdat hy met sy leuens hulle in rebellie teen God gelei het. Laat ons waak en bid dat hy ons wat aan Christus behoort, nie ook so besoedel met sy opstand teen God nie.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/