Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579 SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 2:5 Kérugma® Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
AUGUSTUS 2000

"... en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery ... En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus ... " (Op. 17:3-4,6)

Die Millenniumberaad vir WÊRELDVREDE van 1000 godsdiens- en geestelike leiers by die Verenigde Nasies, 28-31 Augustus 2000

- Ignatius A le Roux

Ek kon my oë en ore nie glo toe ek so deur die oogstuk van Kérugma se kamera kyk en oor die oorfone hoor wat mnr. Bawa Jain van die Intergeloof Sentrum te New York tydens die afgelope Parlement vir Wêreldgodsdienste aangekondig het nie. Die bostaande gedeelte uit Openbaring 17 het onwillekeurig by my opgekom. Miskien is dit wat vir 28 - 31 Augustus 2000 by die Verenigde Nasies beplan is, 'n belangriker mylpaal in die profetiese kalender as wat 'n mens mag dink.

Meer persone as net Bawa Jain het tydens die Parlement na hierdie belangrike geleentheid verwys. Verskillende insetsels daarvan is te sien op Kérugma se video DIE PARLEMENT VIR WÊRELDGODSDIENSTE - DIE WEGBEREIDING VIR DIE VALSE PROFEET.

Een aand met die afsluiting van die dag se verrigtinge, het die internasionale direkteur van die Parlement, mnr Jim Kenney, bekend gemaak dat 'n spesiale byeenkoms die volgende oggend in die restaurant by die Rhodes Monument gehou sal word, waar mnr. Bawa Jain die genoemde beraad sou aankondig.

Na die verskillende brokstukkies wat tydens die vorige paar dae in verband daarmee gehoor is, het ons besef dat dit 'n belangrike geleentheid sou wees om te verfilm.

Alhoewel die Parlement se registrasiekaarte om ons nekke duidelik aangetoon het dat ons amptelike media verteenwoordigers was, wou verskillende persone keer dat ons die geleentheid afneem. Wat interessant was, was die optrede van mnr. Jain self. Toe hy ons dilemma sien, het hy vorentoe getree, ons welkom geheet en vir ons 'n prominente plek aangewys om stelling te kon inneem.

Hy het begin deur te vertel dat hy lankal die visie koester om die godsdiens- en geestelike leiers van die wêreld by die Verenigde Nasies byeen te trek.

Vroeër gedurende die Parlement het die jong Nicholai Kipp Parker van New York gedurende 'n werkswinkel oor The Creation of a Spiritual Forum at the United Nations, genoem dat gedurende Augustus 2000 daar 'n Millennium Beraad vir Wêreldvrede by die Verenigde Nasies gehou gaan word net voor die opening van die Algemene Vergadering. Die doel daarvan is om 'n geestelike klimaat van spiritualiteit en liefde te kweek vir die opening van die Verenigde Nasies.

Die bekende en omstrede Rooms Katolieke teoloog, prof. dr. Hans Kühn, van die Universiteit van Tübingen, het die leiding geneem in die opstel van die Parlement se etiese kode Towards a Global Ethic: An Initial Declaration. In een van sy lesings tydens die Parlement het hy verduidelik dat om 'n suksesvolle Nuwe Wêreld Orde daar te kan stel, daar meer moet wees as net eenheid onder die Christen Kerke en vrede tussen die verskillende godsdienste. Daar moet ook 'n ware same-horigheid tussen die nasies wees. Daarom, sê hy, kan hy aan ons bekend maak dat aan die einde van Augustus 2000 daar die eerste Beraad van Godsdiens- en Geestelike leiers te New York gaan plaasvind.

Die voorsitter van die St. Francis College te New York se departement van godsdiens studies, Dr. Kusumita P. Pedersen, het tydens 'n werks-winkel oor Religion at the United Nations onthul dat die plan om so 'n beraad by die VN te hou, bekend gemaak is tydens 'n intergeloofs biduur by die 1998 opening van die Algemene Vergadering deur die sekretaris-generaal self. Volgens die sekretaris-generaal word daar beplan om die leiers van die verskillende wêreld-godsdienste na die VN te bring.

Dr. Pedersen het voorts verduidelik dat die plan basies daarop neerkom dat ongeveer 'n duisend godsdiens- en geestelike leiers van al die godsdienste van die wêreld aan die einde van Augustus 2000 by die VN sal saamtrek.

Dr. Pedersen sê dat sy self betrokke is by die organisering van die beraad. Die eintlike saak waarom dit gaan, is om vrede te bewerk. Daarom heet dit DIE MILLENNIUM BERAAD VIR WÊRELDVREDE VIR GODSDIENS- EN GEESTELIKE LEIERS.

Die hele gedagte waarom die Parlement vir Wêreldgodsdienste gehou is en dan ook 5 jaarliks in een groot wêreldstad na die ander herhaal gaan word, is om wêreldvrede te bewerk. Dit is altans wat as motivering aangevoer is deur die leiersfigure tydens die Parlement. Hulle voer aan dat byna alle oorloë 'n godsdienstige oorsaak het. Daarom moet daar gewerk word aan 'n tipe konsensus tussen die verskillende godsdienste. As daar vrede, eenheid en harmonie tussen die godsdienste is, dan is dit volgens hulle logies dat daar ook wêreldvrede sal heers. Waar daar wêreldvrede is, kan die Nuwe Wêreld Orde suksesvol heers. Die langverwagte Nuwe Wêreld Orde het misluk juis as gevolg van verskillende oorloë wat telkens die afgelope paar jaar uitgebreek het.

Dr. Karan Singh, voorsitter van die beweging Temple of Understanding en 'n voor-malige ambassadeur van Indië aan die VSA, het in sy lesing oor Interfaith Harmony in the 21st Century gesê dat miljoene mense al gesterf het in die naam van godsdiens. Ongelooflike wreedhede vind gereeld plaas aan die hand van godsdienste wat, volgens hom, almal dit pleeg in die naam van 'n godheid waarvan hulle belei dat hy alversorgend, genadig en barmhartig is.

Waar godsdienste baie goeie dinge in die wêreld vermag, moet ons onthou hoeveel wreedhede ook in die naam van godsdiens gepleeg word. Hierdie dualistiese kenmerk van godsdiens moet ons in ag neem, sê hy, soos wat ons in die nuwe "global society" in beweeg.

Baie het al begin twyfel of die Nuwe Wêreld Orde ooit sal aanbreek - en dit as gevolg van die probleem wat godsdiens telkens veroorsaak. Dit maak dat die Verenigde Nasies nie in sy doel kan slaag nie, naamlik om wêreldvrede te bewerkstellig.

Derhalwe moet die verskillende tradisies van die godsdiens, of soos ons dit ken, die verskillende godsdienste, byeenkom en vrede maak met mekaar. As die VN dit regkry, glo hulle sal hulle in hul doel slaag.

By die Parlement was dit gou duidelik dat dit algemeen aanvaar word dat almal wat godsdienstig is, dieselfde idee van "God" het. Die verskillende godsdienste is almal maar net verskillende tradisies van dieselfde verskynsel. Die rede waarom daar erns met die godsdienste gemaak word, is omdat die godsdienstige besef by die mens baie sterker is as wat voorheen gereken is.

Sou die verskillende godsdienste bymekaar kom, kan dit beteken dat hulle nuwe waardering kry vir hul gemeenskaplike oortuigings. Daar sal dan godsdienstige harmonie en wedersydse begrip kom en almal sal kan saamwerk. So sal daar 'n tipe eenheid in die verskeidenheid kom. Dit sal 'n wonderlike oplossing bied vir al die probleme van die wêreld. Wanneer dit gebeur kan die Nuwe Wêreld Orde of die Globale Samelewing floreer.

WIE REËL DIT ALLES?

Die Uitvoerende Koördineerder van DIE millennium BERAAD VIR WÊRELDVREDE, mnr. Bawa Jain, het in die restaurant by die Rhodes Monument dié verhaal vertel. Dit het alles begin in 1977 toe 'n vergadering belê was onder leiding van die destydse onder-sekretaris-generaal van die VN, mnr. Maurice Strong. Dit was voor mnr. Ted Turner van CNN se $1 000 000 skenking aan die VN.

Die sekretaris-generaal van die VN het destyds samesprekinge gevoer met sekere sleutelfigure in verband met die rol van die VN in die 21ste Eeu. In een van sy gesprekke met mnr. Ted Turner het dié aan hom gesê dat as hy wêreldvrede wil hê, hy al die leiers van die godsdienste na die VN moet bring en hulle 'n verdrag tot vrede moet laat teken. Hierdie voorstel het dadelik byval gevind by die Sekretaris-Generaal. Mnr. Maurice Strong het hierop gesê dat hy die regte persoon ken wat dit kan reël. Daarop het hy mnr. Bawa Jain geskakel en gesê dat sy jare lange droom verwesentlik gaan word. Na 'n koerant 'n artikel daaroor geplaas het, het mnr. Turner hom direk geskakel en gesê dat hy sal instaan vir wat verder ookal benodig mag word. Hyself wil ook net graag 'n spreekbeurt by die beraad hê. Voorts sal CNN en ander uitsaaiers wêreldwye dekking aan die geleentheid verleen ten einde die mensdom in te lig betreffende die deelname van hul geestelike leiers by die beraad.

Mnr. Kofi Annan het gedurende Augustus 1999 finaal die datums aangekondig waarop die beraad sal plaasvind. Dit is 28-29 Augustus 2000. Op 30 en 31 Augustus sal hulle dan in die openbaar verskyn om aan die wêreld hul onderneming bekend te maak.

Dr. Pedersen het in haar betoog verduidelik dat baie godsdiensleiers nie strewe na vrede nie. Daar is ook baie wat nie aan intergeloofsbyeenkomste deelneem nie en dit selfs verwerp. Juis diesulkes sal ook na die beraad genooi word. Die hoop is dat hulle eenvoudig sal kom.

Die indruk wat ek gekry het uit die wyse waarop sy dit gesê het, is dat diegene wat die uitnodiging van die hand sal wys, eenvoudig daarna geïgnoreer sal word. Dit is omtrent soos wat die afgelope jare op die politieke arena gebeur het. Diegene wat nie met die stroom saamswem nie, verdwyn maar net so stilweg langs die pad.

Daarom word hierdie beraad nie in die eerste instansie gereël vir die geestelike leiers wat graag deelneem aan intergeloofsbyeenkomste nie. Dit word gereël vir diegene wat deur die massas erken word as die leiers.

Daar sal dus diegene wees wat toegewyde "heiliges" is en ten gunste van intergeloofs-oefeninge is, maar ook diegene wat daarteen gekant is en selfs teen hierdie tipe van vrede en teen menseregte. Die vertroue is dat hulle sal opdaag, want dinge sal dan vandaar verder met hulle opgeneem word.

Volgens mnr. Jain is daar twee doeleindes wat die Verenigde Nasies met die beraad wil bereik. Die een is om 'n deklarasie op te stel en die godsdienstige- en geestelike leiers te kry om dit te onderteken. Die tweede en meer belangrike oogmerk is dít wat uit die beraad na vore sal kom, naamlik die stigting van 'n Internasionale Adviserende Raad van Godsdiens- en Geestelik leiers. Die funksie van die liggaam sal wees om te dien as 'n raad van advies vir die Sekretaris-Generaal en aan die VN-gemeenskap.

Interessant is dat daar ook gereël is dat net na die Beraad, daar in dieselfde lokaal op 6 September 2000 die millennium BERAAD VIR STAATSHOOFDE sal plaasvind.

Mnr. Bawa Jain sê dat dit van die grootste belang is wat gedurende die eerste beraad van 28-31 Augustus sal gebeur. Dit wat daaruit sal voortspruit kan 'n bepalende invloed uitoefen op die beraad waar die staatshoofde gaan vergader. Volgens hom het die eerste beraad 'n mandaat om hierdie tweede beraad te beïnvloed. Deur hierdie gebeurtenis, sê dr. Pedersen, gaan die verhouding van godsdiens tot die Verenigde Nasies vir altyd verander word. Wanneer 'n mens so na dit alles kyk, klink dit asof daar, om die nuwe term te gebruik, 'n "paradigma verskuiwing" beoog word betreffende die funksie en rol van godsdiens tot die politieke bestel van die wêreld. Dit sal dan seker van daar ook 'n heel spontane effek hê op die verhouding van elke land se godsdienste tot sy regering.

Dr. Pedersen verduidelik dan ook dat tydens die vier dae wat die eerste beraad sal duur, elke godsdiens- en geestelike leier 'n spreekbeurt sal kry. Dit beteken nou nie dat elkeen van die duisend leiers die hele vergadering sal toespreek nie. Sommige sal wel die ander toespreek, maar dan sal die beraad verdeel in klein groepe volgens die verskillende streke van die aarde waarvandaan hulle kom. In hierdie groepe sal elkeen die geleentheid kry om sy inset te lewer. Veral waar daar tans konflik heers in 'n gebied sal die geestelike leiers die geleentheid kry om mekaar te ontmoet en aan die wêreld te toon hoe hulle mekaar vind.

Mnr. Bawa Jain sê dat die godsdienste en die Verenigde Nasies 'n gemeenskaplike strewe het, naamlik vrede in die wêreld. Die vraag volgens hom is hoe om die godsdiens- en geestelike organisasies en die politieke instellings in die wêreld te verenig en met die VN te laat saamwerk om wêreldvrede te bereik.

Die rede waarom die Verenigde Nasies die liggaam moet wees waar dit alles gebeur, is dat dit 'n gemeenskaplike platform bied. Dit behoort aan geen spesifieke godsdiens of groep nie. Dit is 'n algemene "huis" wat bestaan ter wille van die mensdom. Deur middel van die massa media sal alle oë kan sien hoe hierdie vrede geskep word, want weens die betrokkenheid van mnr. Ted Turner van CNN sal almal kan kyk hoe hul geestelike leiers die Beraad bywoon. Miljoene in die wêreld sal, aldus mnr. Jain, belangstel om te weet wat daar gebeur.

'n Goeie tyd in Suid-Afrika om daarna te kyk is die uitsending van CNN se nuus soggens om ±07:00 op SABC 3.

DIE BELANG DAARVAN

Wanneer 'n mens na dit alles kyk, blyk dit 'n duidelike vervulling te wees van dit wat ons onder andere in Openbaring 17 lees. Dit is natuurlik nie die finale vervulling daarvan nie. Tog is dit sekerlik 'n voorloper wat die weg berei sodat dit uiteindelik in vervulling kan gaan. Dit is as't ware die begin van die einde. Voor dit wat ons daar lees ten volle kan plaasvind, is daar sekerlik heelwat wat ter voorbereiding moet plaasvind.

In Openbaring 17 vind ons die kulminasie van dit waarop die dinge wat in Openbaring 13 beskryf word, gaan uitloop. Openbaring 13 praat van twee diere, naamlik die Antichris en sy Valse Profeet. Die eerste dier wat beskryf word, is die een wat uit die see opkom. Hy het egter 'n handlanger nodig om die mense aan te sê om hom te aanbid. Dit is die tweede dier. Hierdie dier kom uit die aarde op en maak dat die mense die eerste dier aanbid.

In Openbaring 17 en 18 word meer omtrent die twee geleer. In Openbaring 17:3 vertel Johannes hoedat hy 'n vrou gesien het wat:

sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.

Die dier waarop die vrou sit, stem duidelik ooreen met die dier in Openbaring 13:1:

En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.

Albei het 'n naam (of name) van godslastering, sewe koppe en tien horings.

Ons gaan nie nou op die betekenis van dit alles in nie, maar ons weet dat hierdie eerste dier die Antichris is. Daar is deur die geskiedenis heen diegene wat hulself voordoen as Christus, as die gesalfde of as diegene wat die salwing het (1 Joh. 2:18-19). Kort voor die Here Jesus se wederkoms gaan daar egter 'n persoon wees wat gaan kom in die gestalte van die Here Jesus. Hy gaan kom as 'n ruiter op 'n wit perd (Op. 6:2) soos wat Jesus met sy wederkoms gaan kom (Op. 19:11).

Hierdie dier gaan sy krag kry van die draak, "die ou slang wat genoem word duiwel en Satan" (Op.12:9,13:2). So gaan die Antichris kom.

Die vrou wat op hierdie dier ry, is egter die een wat ons interesseer. Johannes beskryf haar in Openbaring 17:4:

En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery.

In Dave Hunt se video, wat by Kérugma Produksies bestel kan word, A WOMAN RIDES THE BEAST - The Roman Catholic Church and the Last Days, toon hy deur beeldmateriaal baie goed aan wie en wat hierdie vrou is.

In Openbaring 17:5 word sy onder andere genoem "die moeder van die hoere". In die Bybel is 'n hoer 'n vrou wat ontrou is aan haar man. God is jaloers op sy volk, sy kinders. Hy vereis hul onverdeelde trou aan Hom. Wanneer hulle neig na ander gode, is hulle ontrou aan Hom en pleeg dus egbreuk. Daarom word die volk, telkens wanneer hulle hulself met ander gode bemoei het, bestraf oor hul hoerery. Dit wat verskillende ander godsdienste doen, gaan dikwels gepaard met werklik fisiese onreinheid. Wanneer die Here sy kinders egter berispe oor hoerery, is dit in die eerste plek omdat hulle met Hom doen wat 'n vrou aan haar man doen wanneer sy ontrou aan hom is.

Wanneer die Bybel dan sê dat die vrou wat op die dier ry, die moeder van die hoere is, word daar na hierdie geestelike hoerery verwys. Net soos daar tot en met die koms van die Antichris baie antichriste is, net so is daar deur die eeue heen baie valse profete en valse kerke. Hierdie kerk het die valse profeet van Openbaring 13:11-18 as leier. In hierdie "kerk" of godsdienstige liggaam is almal wat deel daarvan is, onder die Valse Profeet gegroepeer. Hy gaan immers "maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier (die antichris) aanbid" (Op. 13:12).

Dit is interessant hoe Johannes hierdie vrou verder in Openbaring 17:6 beskryf:

En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus ...

Sy, die moeder van die hoere, het 'n goue beker in haar hand waaruit sy, nie dit wat sien op die bloed van die Here Jesus drink nie. Nee, sy drink haarself dronk aan die bloed van die volgelinge van Jesus.

In Openbaring 13:15 lees ons dan ook dat die leier van hierdie "vrou", die Valse Profeet, "maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie".

Dit herinner aan die vriende van Daniël wat in die vuuroond gegooi is omdat hulle geweier het om die beeld wat Nebukadnésar opgerig het, te aanbid.

Hierdie vrou drink haarself dronk aan die bloed van die heiliges - die getuies van Jesus.

Dit is duidelik uit die woorde van dr. Pedersen tydens die Parlement, soos dit ook op die video te sien is, dat diegene wat na die Beraad genooi gaan word, net eenvoudig daarheen sal moet gaan. Dis is asof hulle nie eintlik 'n keuse gaan hê nie.

Uit die wyse waarop hulle daaroor praat, is dit so asof 'n mens al iets begin ervaar van dit wat ten tye van die Groot Verdrukking gaan gebeur. In die tyd wanneer die Antichris gaan regeer, gaan die kerk, of dan die godsdienstige bestel onder aanvoering van die Valse Profeet, die Antichris aanbid. Die Valse Profeet gaan diegene wat weier om die Valse Jesus-figuur te aanbid, doodmaak. Sy aanhangers, die lede van die valse kerk, gaan diegene wees deur wie hy dit doen. So erg sal dit gaan dat die Bybel sê dat hulle dronk gaan wees van die bloed van hulle slagoffers. Ja, "die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery" (Op. 17:2).

DIE SKARLAKENROOI DIER

Ons lees ook dat "die konings van die aarde" met hierdie vrou gehoereer het (Op. 17:2). Wie is hierdie konings? Die dier waarop die vrou sit, is "vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings" (Op. 17:3). In Openbaring 17:12 verklaar 'n engel dat die tien horings:

"... is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier."

Soos ons verstaan is dit die tien streeksregeerders wat die Antichris oor die tien streke waarin hy die wêreld gaan verdeel, gaan aanstel.

Die verhouding tussen hulle en die kerk of godsdiens van die Antichris, is dat hulle met haar hoereer (Op. 17:2). Dit is asof hulle kompromie met die vrou maak ten einde die guns van die bewoners van die aarde te verkry. Hulle doen hulself dus voor as ten gunste van godsdiens sodat die gelowige mense sal glo hulle is ook gelowig. So verkry hulle die samewerking en ondersteuning van die mense. Hulle gebruik dus die godsdiens bloot om hul onderdane se guns te wen. Dit laat 'n mens baie dink aan verskillende politieke figgure se optrede by die Parlement. Soos op die video duidelik gesien kan word, het oud-President Nelson Mandela dit duidelik laat blyk dat hy godsdienstige instellings respekteer en dat hy gedurende die jare in die gevangenis die geskrifte van verskillende gods-dienste gelees het ter wille van die fundamentele beginsel vir die menslike lewe wat daaruit na vore kom. So is al die godsdienste goed vir die mens. Suid-Afrika se adjunk-Staatspresident, Jacob Zuma, het ook 'n referaat gelewer wat dieselfde gees geadem het.

Uit dit wat hulle sê, blyk dit dat godsdiens morele waarde het en dus goed is vir die mens. So het dit al baie gebeur dat sekere politici godsdiens gebruik het om die mense te laat dink dat hulle dieselfde glo. Kort voor die wederkoms van die Here Jesus gaan die tien streeksregeerders onder die Antichris egter hul ware kleur wys. Dan sal dit volgens Openbaring 17:16 duidelik uitkom wat hul ware gesindheid jeens godsdiens is:

"En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand."

Dit mag wees dat daar oënskynlik veel vermag word uit die politieke leiers se sameroep van die godsdiens- en geestelike leiers einde Augustus 2000. In die toekoms kan daar moontlik 'n leiersfiguur uit dié beweging na vore tree. So 'n persoon mag dalk die res saamsnoer om die politieke leier van die wêreld te aanbid as die Messias, die Gesalfde of die Christus.

Waar dit tans die politieke leiers van die wêreld is wat hierdie vergadering saamroep, leer Openbaring 17:16 dat die Valse Christus en sy tien onderkonings hulle maar net vir 'n tyd sal gebruik. Wanneer hulle hul doel bereik het, gaan die tien streeksregeerders hul veragting vir hierdie godsdienstige glomorasie ten volle openbaar. Hulle gaan haar "haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand."

Wat 'n waarskuwing vir diegene wat simpatie het met al haar kompromieë en valshede.

Die Here sê uitdruklik:

"Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Op. 18:4).

Hierdie woorde van die Here mag geld vir die gelowiges gedurende die tyd van die Groot Verdrukking. 'n Feit is dat dit ook vandag met ons praat. 'n Kind van God mag nie deel wees van 'n kerk of enige beweging wat kompromie met die valse kerksisteem maak nie.

Een ding wat vir my duidelik uitgestaan het op die Parlement, was dat daar as't ware geen kennis by die leiers daarvan bestaan dat daar so iets soos wedergebore Christene is nie. Soos wat enigeen van ons miskien niks meer van Buddhisme af weet, as hoe die Dalai Lama lyk, so klassifiseer hulle die Christendom as die wêreldgodsdiens waarvan die Pous die leier is.

Volgens hul uitsprake is daar in elke godsdiens ekstreme groepe wat diegene wat meedoen aan die Parlement en aan ander Intergeloofsaksies "vervolg". Hulle noem dan dat almal die "vervolging" stilweg moet verduur ter wille van die groter doel. Hiervolgens blyk dit dat die "Christene" wat meedoen aan die Parlement, maar aanvaar dat die Christendom ook, soos die ander gelowe, "ekstreme" groepe het. So is daar in die Christelike geloof diegene wat glo dat Jesus die enigste weg tot die Vader is - en dat al die gelowe wat Jesus verwerp, nie by die Vader kan uitkom nie. Vir die Parlement is diegene wat dit glo, 'n radikaal ekstreme groep wat maar net geïgnoreer moet word. Waar mnr. Kofi Annan nou verteenwoordigers van al die godsdienste nooi om hom by die VN te ontmoet, is dit nie ook bedoel om ekstreme groepe soos dié te verteenwoordig nie. Die verteenwoordiging by die Beraad is nie vir sulke ekstreme groepe nie.

DIE POUS

'n BAIE interessante saak wat by die Parlement na vore gekom het, is die posisie wat die leier van die Rooms Katolieke Kerk in die Verenigde Nasies geniet. Baie mense in die wêreld, veral van ander godsdienste, beskou hom as die verteenwoordiger van die Christendom. Alhoewel hulle na 'n byeenkoms van 'n duisend leiers sekerlik ook Christen leiers van ander denominasies sal uitnooi, staan die persoon wat in die stoel van die Pous sit, ver bo almal uit. Soveel so dat dit selfs mag gebeur dat hyself nie persoonlik by hierdie geleentheid teenwoordig sal wees nie.

Tydens die werkswinkel Religion at the United Nations het die presidente van Catholics for a Free Choice, mej. Frances Kissling, sterk kapsie gemaak teen die huidige bevoorregte posisie wat die stoel van die Pous op die VN geniet. Hy het volgens haar 'n voorrang bo alle ander godsdiens leiers en dieselfde status op die VN as Switzerland! Dit laat 'n mens wonder watter rol hierdie persoon teen die einde van die dag gaan speel in terme van die Internasionale Adviesraad wat uit die Beraad van 28-31 Augustus 200 na vore sal tree.

ONS POSISIE

Waar staan ons as kinders van God ten opsigte van dit alles? Alhoewel ons in hierdie wêreld is, is ons nie van die wêreld nie. Kragtens ons geboorte is ons van hierdie wêreld, maar met ons wedergeboorte neem God die Vader ons uit die wêreld uit en plaas ons IN Christus Jesus sy Seun.

In sy liefde het die Vader ons saam met Christus lewend gemaak "en saam opgewek en saam laat sit in die hemel in Christus Jesus" (Efé. 2:5-6). Sedertdien is ons lewens "saam met Christus verborge in God" (Kol. 3:3).

Daarom staan ons onder die opdrag:

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie (Kol. 3:2)

Ons moet vir ons skatte in die hemel opgaar, nie op die aarde nie. Wanneer ons dan dinge sien en hoor soos hierdie nuus in verband met die Beraad vir Wêreld Godsdiensleiers, hoef ons nie te skrik en wonder wat ons nou gaan tref nie.

Ons moet in elk geval elke dag leef, gereed om die Here Jesus te ontmoet. Uit dit wat ons leer in verband met die beoogde Beraad, weet ons dat die wederkoms van die Here Jesus Christus op hande is. Deur die eeue heen is baie Christene vervolg, gemartel en gedood - veral ook deur "Christene" en selfs deur die kerk waaraan hulle behoort het. Wie is ons dat dit nie ook met ons sal gebeur nie?

Die feit is dat deur al hierdie verwikkelinge heen, ons een ding verseker weet: Die oomblik dat die Here Jesus Christus sy Bruid gaan kom haal, is naby (1 Tess. 4:16-17).

Dus, laat ons dan doen dit wat Paulus vir ons sê:

Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde (1 Tess. 4:18).

Watter woorde? Paulus sê daar dat die Here Jesus ons na Hom toe gaan neem "en so sal ons altyd by die Here wees" (1 Tess. 4:17).

Laat ons mekaar dus bemoedig met die nuus van gebeure soos die Beraad van 28-31 Augustus 2000. Dit alles is tekens dat die Here ons eersdaags gaan kom haal. Ons gaan dan by Hom wees! Uit al hierdie gebeure weet ons dat alles gereed is vir die koms van die Here Jesus. Is ons gereed om Hom te ontmoet?

Petrus sê:

... die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? (2 Pet. 3:10-11).

Kom ons slaan dan ag op sy raad:

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede (2 Pet. 3:14).

Kopiereg © 1999 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21 906-2637
E-pos:
info@kerugma.org.za; http://www.kerugma.org.za/