Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 7.1 Kérugma®Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
Augustus 2005

"... Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; ...Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het." (Joh. 14:26,16:13)

WAT SOU U SONDER 'N BYBEL GEDOEN HET?

- Ignatius A le Roux

'n Christendame vertel onlangs hoe sy per geleentheid deur haar werk vir 'n periode van ses maande na Israel gestuur was vir navorsing. Tydens die vlug besef sy dat sy vergeet het om haar Bybel in te pak. Sy het egter gereken dat sy die volgende dag in 'n boekhandel een sou kry.

In 'n land soos Suid-Afrika kan 'n mens die Bybel deesdae selfs in sekere van ons sekulêre boek-winkels koop. In baie lande, soos ook in Israel, is dit eger 'n heel ander situasie. Die eerste oggend was vir haar baie sleg. Hoe hou 'n mens stiltetyd sonder jou Bybel? En dit voor jy al die vreemde mense saam met wie jy moet werk, gaan ontmoet. Die hele dag het vir haar leeg gevoel - so asof iets ontbreek. Die een dag na die ander het gekom en eers na etlike weke kon sy na Jerusalem gaan. Daar het sy uiteindelik met Christene kennis gemaak. Sy kon toe 'n klein Engelse Bybeltjie bekom. Sy vertel hoe kosbaar dit vir haar was. Sy kon dit nie neersit nie, maar het dit gelees en gelees.

Sy getuig van iets wonderlik wat sy ervaar het. Nog voordat sy die Bybel gekry het, het die Here haar meermale gelei na mense en plekke waarvan sy nie geweet het nie. Telkens het die Here 'n duidelike doel met elkeen van die afsprake gehad. Sy kon nie glo hoe duidelik die Here haar lei nie. Dit was vir haar 'n wonderlike ervaring dat, selfs sonder haar Bybel, sy steeds duidelik kon weet wat die wil van die Here is.

Ek weet nie wat ek sonder my Bybel sou doen nie. 'n Feit is egter dat 'n baie groot persentasie van die kinders van die Here vandag sonder 'n Bybel is. Baie het nog nooit eers 'n Bybel gesien nie. Tog dien hulle die Here. Baie ly, word gemartel en sterf selfs weens hul geloof in Hom - sonder dat hulle ooit 'n Bybel in die hand gehad het.

Dit is niks nuuts dat kinders van die Here sonder Bybels is nie. Van die vroegste tye af was Bybels maar net nie beskikbaar nie. Later na die boekdrukkuns ontdek is, het die kerk die besit of lees van die Bybel deur die gewone lidmate verbied. Die Bybel mag net in 'n taal wat die priesters alleen kon lees, beskikbaar gewees het. Hulle kon dit ook nie vryelik lees en verkondig nie, maar moes net die kerklike tradisies, soos oorgelewer en deur die pous en kerklike vergaderinge goegekeur, aan die mense deurgee.

Ek het onlangs weer gekyk na 'n film wat gemaak was van Richard Wurmbrand. Dit is verfilm 2 jaar nadat hy uit die gevangenis vrygelaat is. Hy was deur die Kommunistiese owerheid van Roemenië vir 14 jaar in die gevangenis gemartel. In hierdie film noem hy hoedat hy gedurende daardie jare die beste preke en mooiste gedigte in sy verbeelding neergeskryf het. Niks daarvan is egter op skrif nie, want hulle was nie toegelaat om ooit 'n boek of papier te besit nie. Sy lewensverhaal en ander boeke kan bestel word van die Christelike Sending Internasionaal, Posbus 7157, PRIMROSE HILL 1417 Tel. 011-873 2604.

Daar is nou weer 'n aangrypende boek wat vertel hoe dit met ons broers en susters in die kerk agter die Bamboesgordyn gaan. Dit is die lewensverhaal van Broer Yun. Die boek, THE HEAVENLY MAN, is ook in Afrikaans beskikbaar as DIE GESANT VAN GOD. Ek wil nie hier nou veel meer vertel van wat in die boek aangaan nie. Die van u wat dit nog nie self gelees het nie, kan dit gerus aanskaf. Dit is beskikbaar in enige geestelike boekwinkel.

So baie het al gesê: "Die Here belowe so baie dinge in Sy Woord. Waarom sien ons niks daarvan nie?" Een van die beloftes wat die Here Jesus gemaak het, is die in Johannes 14:12:

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."

Waar die kerklike lewe sieklik en swak is, waar sonde geduld en ongehoorsaamheid aan die opdragte van die Here geduld word en waar ongeloof in die Jesus van die Skrifte heers, dáár kom hierdie werke nie voor nie.

Hierdie werke kom ook nie voor waar mense die tegniek van hipnose gebruik en soos kulkunstenaars allerande toertjies in die Naam van die Here Jesus Christus doen nie. Op die oog af mag baie van die "wonderwerke" wat so gedoen word, eg lyk, maar wanneer die gordyn sak, sit die ontnugterde paiënte weer met al hul ellende - net met nog meer pyn en verwarring.

Die Bybel leer egter in Hebreërs 12:8 dat Jesus Christus gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. GLO U DIT

Lees gerus die getuienis van Broer Yun en u sal sien dat u die Bybel maar kan glo. Op 'n DVD van 'n optrede van hierdie man by die loofhuttefees te Jerusalem verlede jaar, verwys hy na die beloftes van die Here Jesus, soos bo aan hierdie artikel. Hy noem dan hoe getrou die Heilige Gees is om hulle wat geen Bybels het nie te onderrig en te lei.

Baie wat broer Yun se boek gelees het, het al gesê dat die lees van die verhaal van die kerk agter die Bamboesgordyn, presies klink soos die boek Handelinge. Inderdaad: wanneer 'n mens dit lees sien jy hoedat die verhaal van die Bybel in ons dag voor jou oë afspeel.

Een probleem in die Westerse Christendom is dat kerklike teologie mettertyd soos 'n status quo word. Wat 'n mens ookal in die Bybel mag lees, word altyd toegeooi met 'n vae-teologiese sousie: "Mens moet dit nie so letterlik opneem nie". "Dit is nie regtig wat die Here daar bedoel nie". "Jy kan dit nie so direk toepas nie". "Die 'hoofstroom teoloë' verduidelik dit tog so mooi anders". Ensovoorts.

Waarom sien ons nie dat dit wat die Here Jesus gesê het, in ons dag ook gebeur nie? Die antwoord is dat Hy óf 'n leuenaar is óf dat ons nie regtig in Hom glo nie. 'n Mens glo in die Bybel of jy glo nie daarin nie.

Wanneer jy daarin glo, dan glo jy dit wat jy daarin lees. Sou jy dan vir 'n geestelike leier vertel van iets wat jy in die Bybel lees en hy maak dit af asof dit nie so bedoel is nie, dan weet jy om jou nie verder aan hom te steur nie.

Wanneer die Here Jesus sê dat die Heilige Gees ons "alles sal leer" en ons sal "herinner aan alles wat Hy vir ons gesê het", dan is daar die ongelowiges wat sê dat Jesus dit net vir die 12 apostels alleen gesê het. So het die Heilige Gees hulle alles geleer en aan al sy woorde herinner sodat hulle die Nuwe Testament kon skryf. Volgens hierdie teologie kom dit daarop neer dat toe Johannes die laaste woorde van Openbaring geskryf het, die Heilige Gees opgehou het met sy werk. Sedertdien het ons die Bybel waarin ons die hele historiese verslag van wat gebeur het, kan oplees. Daarom lees ons in Handelinge hoedat die Heilige Gees die groter werke doen, maar dit het toe opgehou en so is die Heilige Gees se werk afgehandel. Daarom sien ons niks daarvan in ons dag nie. Ander weer, maak Jesus se belofte dat ons selfs "groter werke" sou doen af deur die vroom storie dat dit daarop sien dat ons mense na die Here sou lei. Hulle redeneer dan: "Watter groter wonderweke kan daar dan wees as dat 'n siel tot bekering kom". Hierdie redenasie mag baie goed klink, maar dit is 'n tipiese voorbeeld van die wyse waarop 'n mens so maklik die betekenis van die Woord van die Here kan wysig. Die Here Jesus praat van die werke wat die wat in Hom glo sou doen asook groter werke. As Hy met die "groter werke" die redding van siele sou bedoel, doen ons dan wel die werke wat hy gedoen het?

Enigeen wat Johannes 14:12 lees weet dat dit nie verwys na bekering nie, maar na die wonderwerke wat Jesus gedoen het. In Sy opdragte aan sy kerk in gedeeltes soos Matteus 10:7-10, sien ons watter wonderwerke Jesus bedoel het.

Dit is maar net spontaan deel van die vrug van 'n mens se bekering dat jy andere na die Here lei. Daarmee saam gaan egter ook andere dinge gepaard. Die vraag is egter of ons in die Bybel glo. Glo ons in die Jesus van die Skrifte, of in die Jesus wat deur mense se verbeeldingskrag en ongeloof opgetower word?

Gelukkig is daar mense soos die kinders van die Here agter die Bamboes-gordyn, wat nog nie deur 'n teologie van ongeloof verblind is nie. Ek is seker dat enigeen wat in die Here Jesus Christus glo en lees wat Hy in gedeeltes soos Johannes 13,14, 15 en 16 sê, nie so 'n teologie kan onderskryf nie. Het Jesus dit wat hy daar sê alles net vir die twaalf apostels bedoel? Natuurlik nie.

Deur die eeue het kinders van die Here al die dinge wat Jesus beloof het, beleef en uitgeleef - dikwels sonder enige kennis van die Woord self. Baie mense wat vandag deur die Here in Moslem - en Kommunistiese lande gered word, word deur die Heilige Gees geleer en gelei. So, het dit ook deur die geskiedenis heen gebeur.

Daarmee word nie gesê dat die Bybel self nie nodig is nie. Wanneer hierdie kinders van die Here dan 'n Bybel kan kry, maak dit 'n groot verskil. Lees maar hoedat Broer Yun na sy bekering gebid en later gevas het om die Here te vra vir 'n Bybel. Deur 'n groot wonderwerk het die Here vir hom een gegee. Die vrug daarop was verrykend!

Maar wat maak mense wat tot bekering kom waar daar nie Bybels is nie? Al wat hulle kan doen is om na die stem van die Here te luister en Hom te volg. Die Here lei sy kinders deur die Heilige Gees wat in hulle woon (Rom. 8:14).

Ons wat die voorreg het om ons eie Bybel te hê, luister ons na die stem van die Here? Volg en gehoorsaam ons Hom?

"...OMDAT EK NA MY VADER GAAN"

Die Here Jesus sê dat die rede waarom die wat in Hom glo selfs groter werke doen as die wat Hy gedoen het, is "omdat Ek na my Vader gaan" (Joh. 14:12).

Dit is nie ons wat uit onsself die werke doen nie. Dit is Hy wat vanaf sy posisie op die troon waar Hy aan die regterghand van die Vader sit, die Trooster stuur om in ons te woon. Deur sy Heilige Gees wat in ons nuwe wedergebore gees woon, gaan hy voort met die werk wat Hy op aarde gedoen het. Hy doen dit nou nie meer alleen nie. Die voordeel daarvan dat Hy nie self nou op aarde woon en werk nie, so sê Hy in Johannes 16:7, is dat Hy die Heilige Gees kon stuur na almal wat in Hom glo (Hand. 2:33).

En wat moes die Heilige Gees kom doen? Hy moes kom om by die gelowige te wees en in hom te woon (Joh. 14:17). Met watter doel woon Hy so in ons? Om die wêreld te oortuig (Joh. 16:8). Die Here Jesus gaan dus vandag voort met sy werk op aarde. Hy doen dit tans deur sy kinders. Vanaf sy posisie op die troon gaan hy deur die Heilige Gees wat in sy volgelinge op aarde woon, voort om die Vader aan die wêreld te openbaar.

Dit is vir ons om na sy stem te luister en Hom in alles gehoorsaam te volg. Soos Hy net gespreek het dit wat Hy by die Vader gehoor het, so is dit vir ons om net te doen dit wat ons weet sy wil is.

Sodoende kan hy Homself in en deur ons verheerlik. Dit is die wyse waarop Hy Homself deur ons aan die wêreld openbaar. Wat Hom behaag kan Hy deur ons doen. Dit is dus nie vir ons om te soek na die groter werke nie, maar na die volkome verhouding met Hom. 'n Verhouding waar Hy ons Koning is en Homself ten volle in en deur ons kan verheerlik.

VERVOLGING

Paulus leer in 2 Timoteus 3:12 dat "almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word". Pastoor Richard Wurmbrand was nog skaars in die Weste of 'n groot kerklike vergadering het in samerwerking met die Kommunistiese geheime polisie 'n verklaring uitgereik. Daarin is ook beweer dat Wurmbrand 'n kommunistiese agent is, asook 'n klomp ander onwaarhede. Die dokument was bedoel om hom heeltemal te diskrediteer by die Christene in die Vrye Wêreld. Baie jare late, net voor Wurmbrand se laaste besoek aan Suid-Afrika, het die omstrede teoloog, prof. Ferdinand Deist, 'n boek die lig laat sien waarin hy die inhoud van hierdie kommunistiese dokument weergee asof dit historiese feite bevat. Volgens die tydsberekening wat gekies is om die boek te publiseer, het dit gelyk asof dit bedoel was om 'n negatiewe effek op Richard Wurmbrand se optredes in Suider Afrika te hê.

Wurmbrand, wat 13 tale magtig was, het gou die nuut gepubliseerde Afrikaanse boek gelees. Hy het, met dit in die hand, na UNISA gegaan, by die deur van prof. Deist aangeklop en homself voorgestel. Presies wat binne die kantoor van die professor gebeur het, weet ek nie, maar 'n feit is - van die boek het ons nooit weer gehoor nie. Ek het nog nooit weer die voorreg gehad om iemand soos Pastoor Richard Wurmbrand te ontmoet nie. Die liefde en krag van die Here Jesus het maar net uit hom gestraal. 'n Joernalis wat hom baie antagonisties gesind was, sou destyds 'n onderhoud met hom hê. Gedurende die gesprek het sy tot bekering gekom. Dit was normaal dat mense wat maar net met hom te doen gekry het, tot bekering gekom het. Dit was maar net asof riviere van lewende water uit hom gestroom het na almal rondom hom.

Net so is dit dat pas nadat Broer Yun uit China ontsnap het, daar duidelike pogings tot diskreditasie uit sekere Christelike geledere gekom het. Ons noem dit maar net, want u sal moontlik hoor dat sommige Christene op hul Internet webblaaie en ander plekke allerande wilde aantuigings teen hom maak.

Lees maar self sy boek THE HEAVENLY MAN en besluit vir uself. Dit gaan egter nie daaroor of u dit waarvan broer Yun getuig, glo nie, maar of u in die Here Jesus glo. Glo en bewaar u dit wat Hy vir ons gesê het? Het u hom lief? Kyk 'n bietjie na wat Hy vir ons in Johannes 15: 10 en 16: 26-27 sê.

Die Here Jesus seën u.

NS. Die DVD van broer Yun wat hierbo genoem is, is nie deur Kérugma gemaak nie, maar word deur ons in Suid-Afrika versprei. Dit is bedoel om gekyk te word nadat 'n mens die boek THE HEAVENLY MAN gelees het. Daarin vertel hy van die ontstaan van die sendingbeweging van die kerk in China, naamlik BACK TO JERUSALEM. Broer Yun besoek Suid-Afrika van 26 Oktober tot 6 November 2005. Sy program sal eersdaags bekend gemaak word op www.btj.org.uk


Kopiereg © 1999 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21 906-2637
E-Pos:
info@kerugma.org.za; http://www.kerugma.org.za/