Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 3:3 Kérugma®Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
AUGUSTUS 2001

" Geliefdes, glo nie elke gees (profeet) nie, maar stel die geeste op die proef of of hulle uit God is hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan" (1 Joh. 4:1).

HOE STEL 'N MENS DIE GEESTE OP DIE PROEF?

- Ignatius A le Roux

Kérugma het so pas twee video's vrygestel wat heelwat reaksie ontlok. Dit is twee video's deur Bill Randles onderskeidelik oor die bediening van Profeet TB Joshua van die Synagogue of All Nations te Lagos, Nigerië en een oor die nuwe geestelike oorlogvoering soos veral gepropageer deur die bekende TRANSFORMATIONS-video. Die werk aan die redigering van die twee video's het 'n mens baie laat nadink. Waarom laat so baie Christene hulle so maklik aan die neus lei? Hoe gebeur dit dat mense wat bely om kinders van die Here te wees, so mislei word? Een van die redes is moontlik daarin geleë dat baie Christene onkundig is omtrent die wyse waarop valse profete te werk gaan. Hoe onderskei 'n mens tussen ware en valse profete?

In hierdie artikel wil ons 'n bietjie na die saak kyk en dit aan die hand van die bogenoemde twee video's. In die video van profeet T B Joshua word onder andere 'n leraar van die Ned. Geref. Kerk, ds. Jannie Pelser getoon. Hy het groepe mense, waaronder ook die ontslape springbok slot, Wium Basson, na Lagos vergesel.

Daar is nou 'n OPE BRIEF "aan Bill Randles en Kérugma Produksies" wat uit reaksie op hierdie video deur ds. Pelser versprei word. In hierdie brief maak ds. Pelser sekere stellings waarop ons graag wil reageer. ('n Fotokopie van ds. Pelser se OPE BRIEF is op aanvraag by Kérugma Produksies beskikbaar)

MISLEIERS

Wanneer ons kyk na baie van die dinge wat deesdae gekatagoriseer word as fenomene van die misleidingsbeweging, dan is dit duidelik dat dit telkens iets is wat sy vertrekpunt aan 'n waarheid in die Skrif ontleen. So is die persone wat hierdie dinge propageer, leiers in Christen Kerke.

Onder hierdie leiers is daar sekerlik diegene wat valse profete is. Daar is egter ook die leiersfigure wat self mislei is of wat uit onkunde dinge verkondig wat nie voluit strook met die Woord van God nie. Voorts is daar ook baie wat bloot nie deur die Here self geroep is nie. 1 Johannes 4:1 sê immers ons moet op die proef stel of hulle uit God is.

Interessant is dat onder die profete in die Ou Testamenstiese bedeling sekerlik by verre die meerderheid valse profete was. Dieselfde het gegeld vir die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd. Waarom sal dit tans anders wees? Ons leef dan nou juis in die laaste dae - die tyd waarin die apostels duidelik gewaarsku het dat daar baie misleiers sal wees wat baie, selfs van die uitverkorenes, sal mislei. Vir diegene wat nog nie Kérugma se reeks video's DIE TORONTO "HERLEWING" - 'N KRITIESE EVALUERING gesien het nie, wil ons aanmoedig om daarna te kyk. Daarin word hierdie kwessie volledig toegelig.

In Volume 7 van die reeks noem ons dat elke Christen die verantwoordelikheid het om te onderskei of sy/haar predikant, pastoor of geestelik leier van die Here is of nie. In die gelykenis van die Goeie Herder (Joh. 10:15) leer die Here ons om te weet dat so 'n geestelike leier 'n dief en rower kan wees. Dit kan wees dat hy net 'n huurling is, of dit is iemand wat deur die Here by sy naam geroep is.

Onder diegene wat bloot huurlinge is, mag daar ook sommige wees wat gered is. Alhoewel hulle tot wedergeboorte gekom het, is hulle nie deur die Here geroep om die Woord te verkondig nie. Hulle is diegene wat dit bloot as 'n beroep beoefen. Wanneer die valse profete, die diewe en rowers op die toneel verskyn, het hulle geen standpunt om in te neem nie.

Hierteenoor verkondig iemand wat deur die Here geroep is die hele raadsplan van God (Hand. 20:27). Diens na diens lê hy stelselmatig die Woord uit. Wanneer daar iets nuuts kom soos nou byvoorbeeld die belangstelling in die bediening van Profeet T B Joshua, dan weet hy op grond van die Woord wat reg en verkeerd is. Sodra hy inligting kry wat bots met die waarheid, waarsku hy sy kudde.

'n Ware profeet is dus iemand wat sy kudde voed met die Woord deur hulle stelselmatig daarin te onderrig. Wanneer nodig laat hy ook die lig van die Skrif op 'n spesifieke saak val. Hy voed nie net sy kudde nie, maar waak ook oor hulle en beskerm hulle. Hierteenoor is 'n huurling, en daar is baie van hulle - 'n draadsitter wat bang is om standpunt in te neem. Naas die huurlinge is daar ook die valse profete. Dit is diegene wat baie populêr is. Die ware profeet moet mooi weet hoe om so 'n dief en rower aan die kaak te stel. U sien: 'n Ware profeet is gewoonlik iemand wat nie gewild is nie. Hierteenoor preek valse profete beter as die ware profete. Een kenmerk van 'n valse profeet is juis die aanhang wat hy geniet.

Dit is in kontras met ds. Jannie Pelser se verweer teen Bill Randles se stelling op die video, naamlik dat Profeet TB Joshua 'n valse profeet is. Hy skryf:

"Valse profete dra die vrugte van die vlees blatant. Hul hoëvaardigheid, eie ekkerigheid, geldgierigheid, ens is duidelik. 'n Boom word egter aan sy vrugte geken. In Jesus se eie woorde kan 'n slegte boom nie goeie vrugte dra nie."

As hierdie woorde van ds. Pelser enige water gehou het, wie sou dan na 'n valse profeet geluister het? 1 Johannes 2:18-19 leer dat hulle presies weet hoe om op te tree en wat om te leer. Hulle kom vanuit die geledere van die kerk en het dus kennis van die waarheid:

"Hulle het van ons uitgegaan, maar was nie van ons nie..." (1 Joh. 2:19).

Die "hulle" wat onder die Christene uitgaan, is die antichriste. Hiermee kom ons dan by begrippe soos "anti" of "vals". Die algemene idee omtrent die Antichris, is dat hy na vore sal kom in die gewaad van 'n geweldenaar. 'n Monsteragtige tipe van persoon wat net verwoesting sal saai. Dit is nie wat die Bybel leer nie. Eers wanneer hy tot volle openbaring gaan kom, sal sy ware kleur aan die lig kom. Die rede is dat die Griekse woord vir Antichris wel dui op iemand wat die teenoorgestelde van die Here Jesus Christus is.

Hy is die teenstander van die Here Jesus. Die woord "antichris" sien egter op iemand wat soos Christus sal wees. Hy sal homself voordoen as Christus. Hy kom in die plek van Christus. Daarom dat die Antichris (Op. 12:18 - 13:10) 'n handlanger gaan hê, naamlik die Valse Profeet (Op. 13:11-18) wat as't ware sy propagandis sal wees. Die valse profeet sal allerhande wonders en tekens doen. Deur dié wonders en tekens sal baie mislei word (Op. 13:11-14).

Wat vandag gebeur - en dit wys Bill Randles duidelik in hierdie video uit - is dat die Christene wêreldwyd voorberei word om hom te ontvang en te aanvaar as die Christus. Daarom is diegene wat meehelp met hierdie kondisioneringsproses - die antichriste - se kenmerk dat hulle soos Christus is. Hulle dra namaaksels van die vrug van die Gees en doen allerhande wonders en tekens. Daarmee word nie die sogenaamde "wonders en tekens" van 'n Benny Hinn of 'n Rodney Howard-Browne bedoel nie. Enigeen weet dat dit nie die wonders en tekens is waarvan ons in die Bybel lees nie.

Wanneer diegene wat soos Christus is, wonders en tekens van die leuen doen, dan doen hulle presies dieselfde as dit wat Jesus gedoen het. En dit tref ons nog nie aan by profeet TB Joshua nie! Hy doen baie wat Jesus nie gedoen het nie. Hy gebruik, so lyk dit vir ons, klaarblyklik dieselfde hipnose tegnieke as wat Benny Hinn en Rodney Howard-Browne aanwend. Volume 6 van die video's oor DIE TORONTO "HERLEWING" handel volledig oor die wyse waarop hierdie hipnose beoefen word om mense sogenaamd te "slain in the spirit" en toon hoe onder andere Rodney Howard-Browne dit toepas.

Die feit is dat die vader van mesmerisme of hipnose, Franz Anton Mesmer, presies dieselfde in die strate van Parys gedoen het as dit wat in die Toronto-, Pensecola- en TB Joshua - bewegings beoefen word. Mesmer het telkens die mense laat omval, baie het onbeheersd gelag, stuiptrekkings gekry en al dies meer. Meer nog, hy het deur hipnose sommige mense genees. So byvoorbeeld is daar die bekende geval van 'n pianiste wat sedert haar kleuterjare blind was. Mesmer het deur sy terapie haar gesig aan haar teruggegee. Sy kon 'n tyd lank sien, tot sy weer 'n soortgelyke ervaring gehad het as dit wat oorspronklik tot haar blindheid aanleiding gegee het.

Mesmer, 'n voormalige Rooms-Katolieke priester en later 'n mediese praktisyn, het leer onderskei tussen siektetoestande wat bloot 'n fisiese oorsaak het en die wat psigo-somaties is. Pasiënte met fisieke probleme het hy medies behandel of na ander dokters verwys. Diegene met psigo-somatiese oorsake het hy dan gemesmeriseer. Ds. Pelser beroep hom op Jesus se stelling dat 'n slegte boom nie goeie vrugte dra nie. Mesmer en so ook baie ander hipnotiseurs se werk lewer in sommige gevalle uitstekende resultate op. Maak dit nou die boom ook goed? Moet ons nou kyk na die genesings en ander wonderwerke wat die toordokters, die Hindoes, die Moslems, die spiritiste en baie ander doen en dan sê hulle vrugte verklaar hulle goed?

In volume 7 van genoemde reeks video's word getoon hoe verskeie heidense geestelike leiers mense genees. Daar is selfs getuienisse van mense wat deur hulle genees is. Ds. Pelser beroep hom veral op die baie getuienisse van mense wat sê dat hulle deur die bediening van Profeet TB Joshua genees is. Die Bybelse leer omtrent die vrug is veral dat dit gaan omtrent dit wat uit die mond van die mens voortkom. Hier val Profeet TB Joshua ver uit, want tereg noem ds. Pelser dat die video nie alle aspekte van die profeet se bediening dek nie. So is daar onder meer in hierdie video nie ingegaan op die leer van die profeet as sodanig nie. Hierdie aspek regverdig 'n hele videoproduksie opsigself. Dit is tog nie moontlik om al die leerstellige afwykinge van hierdie "profeet" uit te wys, te weerlê en die waarheid in die plek daarvan deur te gee in die beperkte tyd van een so 'n produksie nie.

Dit wat hierdie video toon is veral gemik op die werke van die "profeet". Beide 'n persoon se leer en lewe moet suiwer wees. Dit help nie iemand lei 'n mooi vroom lewe, maar sy leer is korrup nie. En wie gaan iemand glo wat die waarheid suiwer verkondig, maar sy lewe is nie in ooreenstemming daarmee nie? Hierdie video toon egter meerendeels wat Profeet TB Joshua doen. Dit gaan nie oor sy eie persoonlike lewe nie, maar oor dit wat hy doen waar hy mense bedien. Heelwat van dit wat hy glo en verkondig kom egter ook hierin na vore.

'n Feit is dat dit wat in hierdie video getoon word, oorgenoeg is om aan elkeen te toon dat hierdie "profeet" nie besig is met 'n Bybelse bedieningspatroon nie. Leerstellig erken ds. Pelser egter dat hy ook "teologiese aksentverskille" met Profeet TB Joshua het. Word hierdie verskille maar net oor die hoof gesien? Ds. Pelser beroep homself daarop dat hy "... 'n gelegitimeerde predikant in die NG Kerk" is "en reeds 16 jaar in voltydse bediening. Ek het my studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi".

Wat word nou van sy legitimasie-eed as hy iemand wat ander "teologiese aksente" het, verdedig? Dit is dan juis dìt wat nie aan 'n goeie boom kan voorkom nie. Maar meer nog, wat van al die ander dinge wat die profeet doen en leer wat wel volledig deur die video van Bill Randles uitgelig word? Voorts toon die video aan dat daar ook lofwaardige dinge te Lagos gebeur. As dit nie daarvoor was nie, sou niemand daarheen gestroom het nie. Daarom noem hy die oënskynlike vrug van die Gees wat allerweë aan die profeet toegeskryf word soos nederigheid. Hierdie eienskap van die profeet is een van die dinge wat met die eerste oogopslag dit 'n bietjie moeiliker mag maak om te weet wat daar aangaan.

Ds. Pelser se verweer dat die profeet 'n aksent lê "op 'n heilige lewenswandel, die refrein 'Sin no more', die uitspraak 'I'm not the Healer but I know the Healer ... His name is Jesus Christ' ...", gaan bloot nie af nie. Soos Bill Randles tereg uitwys, sal niemand na 'n valse profeet gaan as hy hierdie dinge nie doen nie. 'n Feit is egter dat die sogenaamde aksent wat hy op 'n heilige lewenswandel sou lê, hoegenaamd nie strook met die, myns insiens, absurde propagandistiese beeldmateriaal wat hierdie kuis en nederige profeet in die vorm van glanstydskrifte en video's versprei nie. Dit is vol naakte mense met ernstige swere. Ter verdediging hiervan voer ds. Pelser dieselfde argument aan wat nou al te algemeen geword het: "Die kulturele verskille moet verskans word wanneer 'n mens die bediening in Lagos wil beoordeel. Naaktheid, braking en ander fenomene kan net binne hierdie konteks verstaan word".

Niks is volgens my mening verder van die waarheid as hierdie stelling nie. Ek het die voorreg dat ekself in die sendingveld in Afrika gebore is. Uit my eie ervaring kan ek sê dat dit nie die waarheid is wat ds. Pelser praat nie. Nogtans het ek moeite gedoen om verskillende sendelinge gedurende die tyd wat die video geredigeer is, hieroor uit te vra. Ek is jammer, maar onder geen omstandighede kan aanvaar word dat 'n kind van God aan iemand sal sê om homself voor 'n hele skare van 14 000 mense uit te trek, ure lank sy swere en alles ten toon te stel en dit boonop voor video kameras nie. Geen medikus doen ooit so iets nie. Dit is myns insiens nie moontlik dat 'n Christen sulke video-materiaal sal neem en dit oor en oor en by herhaling op 'n video sal toon om sy bediening te propageer nie.

Die een toneel uit Profeet TB Joshua se video's, waarvan ons maar 'n fraksie in die video toon, toon hoedat die persoon wat genees is, gedwing word om voor al die duisende mense en voor die TV sy broek oop te maak om sy geneesde geslagsorgaan te toon. Watter dokter doen dit in die openbaar? Watter kulturele agtergrond regverdig dit? Wat het dan van die nuwe skepping in Christus geword? Is dit wat 'n Crhisten "profeet" sy bekeerlinge leer om te doen? Voorts word vir die persoon gesê dat hy homself moet ontbloot anders kan die toeskouers nie glo nie, want "seeing is believing". Hierdie woorde is soos 'n refrein op die video's van hierdie "profeet". Van wanneer af aanvaar Christene die bediening van iemand wat "seeing is believing" propageer. Voorts sê hulle vir die man in sy verleentheid dat as hy nie uithaal en wys nie, hy sy genesing sal verloor.

Gesien in die lig van die moderne en ontwikkelde kleredrag van al die duisende in die gehoor op die video's van die Synagogue of All Nations, maak die argument van die sogenaamde kulturele agterstand van die mense myns insiens geen indruk nie. Die ervaring in Afrika is nie dat 'n sieke so 'n seer aan jou toon sodat jy daarvoor kan bid nie. Wanneer die Here hom aanraak, sal hy in dankbaarheid vir jou noem dat hy genees is. Hy hoef dit nie vir jou te wys nie. As die sweer weg is, weet hy mos hy is gesond.

Maar Profeet TB Joshua en sy aanhangers versprei glanstydskrifte waar die pasiënte hulle geheel en al moet ontklee om gefotografeer te word. Die skokkendste vir my is dat daar sogenaamde Christen predikante en pastore is wat hierdie dekadente video's vir hulle gemeentes getoon het. Beide die tydskrifte en video's grens na my beskeie oordeel, aan uiters sieklike pornografie. Ons was aanvanklik nie van plan om enigiets van al hierdie dinge in Bill Randles se video te toon nie. Dit het egter onder ons aandag gekom dat Christene hierdie video's nou gebruik as nuwe tydverdryf. Veral die feit dat dit in kerke getoon is, het daartoe gelei dat ons enkele baie kort insetsels daarvan toon.

Voorts toon ons twee van die baie gevalle op hierdie video's waar dit onmiskenbaar duidelik is dat die persoon wat poseer as die geneesde een, duidelik iemand anders is as die een wat aanvanklik 'n dag of drie tevore die swere kom toon het. Ds. Pelser ag die volgende te sê nadat hy die video self gesien het:

"Die suggestie dat die persone in die getuienisse nie dieselfde persone is nie, raak aan valse getuienis. Immers wat van die tientalle Suid-Afrikaners wat van genesing getuig".

Dit is geen suggestie dat dit ander persone is nie. Elkeen wat na die video kyk, kan self sien dat dit hoegenaamd nie dieselfde persoon is nie. Voorts sê die video van Bill Randles uitdruklik dat daar wel genesing te Lagos plaasvind. Die vraag is net deur die hand van watter Jesus gebeur dit? (2 Kor. 11:4) Onlangs was daar een aand op e-TV 'n program met duidelike getuienisse van mense wat deur geloofgenesers uit al wat 'n godsdiens is, genees is. Ds. Pelser skryf voorts:

"Dit is baie duidelik dat wat in Lagos as sy 'Point of contact' beskou word en wat ander aangehaalde persone daarmee bedoel wêrelde verwyder is. 'n Mens wonder hoekom die bediening in Lagos telkens met Oral Roberts, Benny Hinn en die Rooms Katolieke Kerk in verband gebring word."

Hierdie vraag is vreemd in die lig daarvan dat Profeet TB Joshua uitdruklik in 'n insetsel op hierdie video sê dat alle Christene, beide Rooms Katolieke en Protestante die liggaam van Christus vorm. Die "point of contact" wat Profeet TB Joshua beoefen, is dieselfde as die wat Oral Roberts propageer. Soos in Volume 1 van die Toronto-reeks video's getoon word, is dit 'n okkultiese geneeswyse waar demone die liggaam van die "geneesheer" gebruik as die medium waardeur hulle die genesing transformeer na die pasiënt. Verskeie insetsels op die video toon duidelik aan dat Profeet TB Joshua die genesing "transformeer". Die kommentator van die profeet se video-span sê dit nie net nie, maar dit word ook op die video so geskryf. Hy plaas sy een hand op die deel van sy liggaam waar die kwaad op die pasiënt se liggaam is en met sy ander hand wys hy na die sieke. So transformeer hy vanaf die kontakpunt die genesing na die ander.

Daar is mense wat dit gesien en beleef het en dan sê dat die profeet bid vir siekes. Van wanneer af word so 'n okkultiese praktyk "gebed" genoem. Baie andere wat siek is, word op dié manier daarheen gelok - net om tot die ontnugtering te kom dat daar nie vir jou gebid word nie. Die feit is net dat God die Heilige Gees nog nooit op dié wyse gewerk het nie, dit tans nie deur Oral Roberts of Profeet TB Joshua doen nie en dit ook in der ewigheid nie sal doen nie. Hierteenoor weet ons dat dit wat die Bybel ons leer in verband met die wyse waarop die Here mense genees, altyddeur ewe geldig is. God is soewerein en werk soos dit Hom behaag, waar en wanneer Hy wil. Hy is dieselfde, gister, vandag en tot in ewigheid (Heb. 13:8).

Hy laat Hom nie deur mense manipuleer nie, maar doen vandag nog dieselfde as dit wat Hy van Homself in die Skrif openbaar.

DIE BLOED VAN JESUS

Ds. Pelser noem in sy verweer onder andere: "die aksent op die bloed en betekenis daarvan". Hier vind ek iets baie vreemd. 'n Man met die genoemde kwalifikasie van ds. Pelser kyk na Kérugma se video TB JOSHUA - PROPHET OR DECEIVER. Daarin word uit die profeet se eie video's sy duidelike okkultiese gebruik van die "bloed van Jesus" oortuigend getoon. Die profeet gaan staan by 'n waterpyp met verskillende krane en sê dan dat hy die gesalfde van die Here is. Hy doen dit net soos byvoorbeeld Benny Hinn. Die woord "gesalfde" is die Hebreeus vir Messias en die Grieks vir Christus. Iemand wat sê dat hy 'n gesalfde meer as ander is, verhef homself nie net bo dit wat die Bybel leer, naamlik dat elke wedergeborene die salwing van die Heilige het nie (1 Joh. 2:20,27). Hy sê daardeur dat hy die Messias (Hebreeus) of die Christus (Grieks) is. Christene moet weet om mense wat roem op die salwing, te vermy. Hulle is die antichriste wat besig is om die weg voor te berei vir die Antichris - dié een wat gaan kom en homself sal voordoen as die Gesalfde, as die Messias, die Christus.

Die Bybel en by name die Nuwe Testament leer nie dat daar enigeen sal wees met 'n salwing wat sal verskil van die wat die mens wat tot geloof in Jesus Christus kom, met sy wedergeboorte ontvang nie. Profeet TB Joshua gaan dan voort deur te noem dat dit wat die gesalfde aanraak, geseënd is. Hy open dan die krane en "seën" die water. Hierdie water verander dan in "die bloed van Christus". Die video toon wat dan alles gebeur met die arme mense wat hierdie water drink, oor hul gooi of daaraan raak. Baie gaan in hipnotiese transe wat dan demoniese manifestasie genoem word. As dit nie toordery is nie, wat is dit dan?

Wil iemand wat sewe jaar lank teologie gestudeer het nou daarna kyk en dit nie duidelik afwys nie? Ek is jammer, maar myns insiens is dit blatante godslastering. Ek glo dit het tyd geword dat ons terugkeer na die Bybel en begin om al hierdie verskynsels, wat gerig is op die voorbereiding van die kerk wêreldwyd om die Valse Christus te ontvang, duidelik af te wys. Dink net hoe baie mense het nie vir die leuen van die TRANSFORMATIONS video geval nie. Dit is nie nodig om meer daaroor by te voeg nie. Bill Randles se hantering van die saak is so duidelik dat enigeen wat geval het vir die TRANSFORMATIONS-saak, met die eerste kyk daarna, sal besef dat hulle om die bos gelei was.

HOEKOM VAL CHRISTENE HIERVOOR?

Die vraag is: Hoe gebeur dit dat Christene so maklik deur hierdie dinge mislei word? Een deel van die antwoord is moontlik daarin geleë dat hulle nie weet wat die Bybel leer omtrent die eindtyd en hoe die Antichris gaan kom om baie te mislei nie. Die rede daarvoor is dat baie Protestantse Kerke vandag in die Rooms Katolieke eskatologie vasgevang is. Baie wat na 'n kweekskool gaan om die waarheid te leer, word nie eers onderrig in dit wat die Bybelse uitgangspunt is nie. Hulle word maar net geleer dat dit "sektaries" is. So weet hulle nie naastenby wat die Bybel leer nie.

In die plek daarvan word hulle ook nie veel geleer nie. Omdat dit wat hulle geleer word nie Bybels gefundeer is nie, is daar geen maatstaf daarvoor nie. Elkeen suig maar uit sy eie duim dit wat hy oor dié dinge wil leer. In breë word baie dan onderrig in die leer wat eeue gelede reeds deur die Rooms Katolieke Kerk daargestel is. Dit leer dat ons tans in die bedeling van die koninkryk leef. Dit is daardie tyd waarin die Satan gebind is. Daarom beleef ons tans die wêreldwye vrede van die Koninkryk van die Messias. So leer hulle dat ons vandag leef in die tyd waarin Satan "die nasies nie meer verlei nie". Ons leef dus in die tyd waarin Christene nie meer vervolg en gedood word "oor die getuienis van Jesus en oor die Woord van God nie" (Op. 20:2-4).

'n Mens moet seker aanvaar dat iemand wat in staat is daartoe om te val vir hierdie leuen ook in staat sal wees daartoe om te val vir enige ander misleiding waarmee die Antichris die wêreld mag kondisioneer. U sien: Die Antichris is die een wat gaan kom in die gedaante van Christus. Hy gaan homself voordoen as die Seun van God.

Baie sal glo dat hy die Christus is.

Daarom is dit so nodig dat elkeen van ons persoonlik moet waak daaroor om die Woord van God, soos dit geskryf is, te glo. Om dit te ken, ons eie te maak en alleen daarvolgens te wandel.

VERVALSING VAN KÉRUGMA SE VIDEO'S

Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat 'n sekere persoon ons video's dupliseer en versprei. Hy is in beheer van 'n besigheid wat Christelike video's verhuur en versprei. Daar is klaarblyklik ook ander video produsente se produkte wat hy onwettig dupliseer en versprei. Hy wek volgens getuies die indruk dat hy die amptelike verspreider van ons video's is. Hy sou dan meesters van ons video's hê en die reg om dit te dupliseer en selfs teen laer pryse as onsself te verkoop. Ons het geruime tyd reeds heelwat klagtes ontvang betreffende die gehalte van ons video's. Dit was vir ons vreemd, want elke video wat ons dupliseer, word op verskillende plekke asook heel aan die begin en ook aan die einde getoets om te sien of die beeld en klank reg is. Eers daarna word dit geseël met die plastiek.

Die duplisering is die duurste deel van die produk. Anders as met ander kassette, kan video's nie teen hoë spoed gedupliseer word nie. Die masjiene loop teen die normale spoed. 'n Produksie van 3 ure neem dus 3 ure om te dupliseer. Hierdie duplisering geskied vanaf 'n duur digitale meesterband wat deur 'n baie duur masjien gespeel word. Die sein word dan versterk vir elke masjien afsonderlik waarop gedupliseer word. Hierdie masjiene elk kos 'n hele paar maal die prys van gewone huishoudelike videomasjiene. Die klagtes wat ons al hoe meer ontvang het, is byvoorbeeld dat daar niks op die video is nie. Ons het byvoorbeeld so 'n band by iemand gekry. Toe ons dit toets was dit 'n splinternuwe band waarop daar nog nooit enigiets opgeneem is nie. Op ander bande het soms die beeld en soms die klank weggeraak.

Die een saak waaroor ons by Kérugma baie sterk voel, is die gehalte van die video's. Dit gaan juis vir ons daaroor om die beste nuus wat mense kan hoor, aan hulle te bied op dieselfde en selfs 'n hoër standaard as waarop hulle die gewone nuus van die dag ontvang. Om dit reg te kry, word baie opgeoffer. Sou die Suid-Afrikaanse polisie wat kopiereg hanteer, toeslaan op die persoon, sou hulle elke kliënt wat by hom koop se huis deursoek om sodoende elke moontlike vervalsing van ons en andere se video's op te spoor.

Verklarings sal by elkeen afgeneem word. Met skuldigbevinding sal die skuldige beboet word met 'n minimum van 3 jaar of R5000.00 per kopie. Die polisie is nou bewus van die saak en mag dit dophou. Ons het egter versoek dat hulle nie nou toeslaan nie. Die man is gewaarsku dat as hy homself te enige tyd in die toekoms weereens hieraan skuldig sou maak, ons verplig sal wees om sy naam in die Bulletin bekend te maak sodat almal sal weet by wie om nie ons video's te koop nie. Voorts sal die saak onverwyld aan die Polisie oorgegee word.

RUIL VALSE VIDEO'S IN

Hiermee 'n baie spesiale aanbod. Alhoewel ons tot hier toe op geen enkele video enige wins gemaak het nie, bied ons vir u die volgende aan. Ons wil nie hê dat daar eers een kopie wat van 'n VHS band gemaak is, iewers moet wees nie. Dit is 'n skending van die gehalte van die produk. Indien u beskik oor enige valse kopieë, stuur dit asseblief vir ons en noem net waar of by wie u dit gekoop het en teen watter prys. Onthou om u eie naam en adres by te voeg. Kyk dan op die nuutste bestelvorm wat die regte prys van die video is of skakel ons. Trek dan R25.00 van die prys af en stuur die res van die bedrag saam. Ons sal dan graag vir u 'n nuwe video stuur. Onthou asseblief om dit per versekerde pos te stuur.

Hierdie aanbod geld net vir kopieë van ons video's wat onwederregtelik gemaak is. Sal u asseblief help dat ons die land kan skoonmaak van alle vervalste kopieë.


Kopiereg © 1999 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21 906-2637
E-Pos:
info@kerugma.org.za; http://www.kerugma.org.za/