Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 3:5 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
DESEMBER 2001 |
|---|
| "Ek vra dan: "Het God miskien sy volk verstoot?" Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie" (Rom. 11:1-2). |
- Ignatius A le Roux
Met die bekende Jaffahek van die Ou Stad Jerusalem in die agtergrond kyk ek deur die oogstuk van die kamera na 'n persoon wat vertel hoe die Here jare gelede die aartsvader Abraham geroep het. Hy noem die beloftes wat die Here aan Abraham gemaak het en herinner ons aan die verskillende verbonde wat die Here met die aartsvader gesluit het. Inderdaad het die Here nie net nog steeds 'n plan met sy volk nie, maar is Hy ook besig om sy beloftes aan hulle getrou te vervul.
Die man wat so vertel van die Here se getrouheid en hoe Hy deesdae voor die oë van al die nasies sy verbondsbeloftes vervul, is die Suid-Afrikaanse prediker, Malcolm Hedding. Hy is die nuut aangestelde uitvoerende direkteur van die Internasionale Christen Ambassade te Jerusalem. Terwyl Malcolm so praat, sien ek al hoe die video geredigeer gaan word. Ook hoe baie van dit wat ons gedurende Januarie afgeneem het, op die video gebruik sal kan word. Die video met die titel HIGHWAYS TO ZION bestaan uit vier verskillende dele van ongeveer 35 minute elk. Drie van hierdie boodskappe is deur Malcolm Hedding gelewer, terwyl die internasionale direkteur van die Christen Ambassade, Michael Utterback, die orige boodskap gelewer het.
Sy aandeel was baie interessant en insiggewend. Terwyl hy gepraat het, kon ek duidelik sien hoe die Here hierdie produksie lankal reeds in die oog gehad het. In 'n vorige Bulletin het ek genoem van die saamtrek van 400 000 Jode, meestal tieners, op 8 Januarie 2001 wat Kérugma verfilm het. Van hierdie beeldmateriaal asook baie ander dinge wat ons reeds afgeneem het, kon nou in hierdie produksie gebruik word. Die deel wat Michael Utterback aangebied het, handel oor God se plan met die herstel van sy volk Israel. In hierdie gedeelte sien 'n mens heelwat van die aktiwiteite van die Christen Ambassade.
Die Ambassade het ontstaan toe die regering van Israel in 1980 Jerusalem verklaar het tot die enigste, ewige en onverdeelde hoofstad van Israel, soos gestig deur koning Dawid 3000 jaar gelede. Hierdie stap het daartoe gelei dat die olielande gedreig het om 'n boikot in te stel teen enige land wat nie sy ambassade aan Jerusalem onttrek nie. Ongeveer 13 lande het toe hul ambassades van Jerusalem na Tel Aviv verskuif.
Daar was Christene te Jerusalem wat ervaar het dat hierdie optrede 'n geweldige slag vir die Jode was. Hulle het toe aangebied om 'n ambassade te Jerusalem te open wat die Christene vanuit baie verskillende lande in die wêreld verteenwoordig. So is die Internasionale Christen Ambassade te Jerusalem in 1980 gestig. Michael Utterback vertel in hierdie video van baie van die projekte wat die ambassade deur die jare geloods het. Daar is baie dinge waarby hulle betrokke was, ook projekte wat hulle gesamentlik met ander Christen- en Joodse organisasies aangepak het. Wat my verstom het, is die groot mate van sukses waarmee hulle groot projekte geloods en suksesvol deurgevoer het.
Wat opvallend is, is dat daar vanuit sommige oorde heelwat kritiek teen die organisasie gelewer word. Daar is selfs diegene wat dit amper hul lewenstaak maak om die Christen Ambassade te diskrediteer. Sommige van die kritiek is egter ook geldig. Die Christen Ambassade is 'n groot organisasie met baie lede wêreldwyd. Hulle verteenwoordig Christene van oor die hele wêreld uit baie verskillende kerke met verskeie oortuigings. Een maal per jaar tydens die Loofhuttefees trek baie Christene te Jerusalem saam en vier hulle agt dae lank die feesverrigtinge wat deur die Ambassade gereël word. Dit is 'n wonderlike kleurvolle geleentheid en word benut onder andere om baie Jode te Israel ook te betrek.
Met soveel kerkleiers en Christene vanoor die hele wêreld gebeur dit dat sommige vanuit hul spesifieke agtergrond ook hul stempel op die fees afdruk.
Gedurende die afgelope Loofhuttefees (1-8 Oktober 2001) het ek self die voorreg gehad om as deel van 'n internasionale videospan die fees-gebeure te help afneem. Daar was enkele gebeurtenisse waar Christene van dié tipe van dinge probeer doen het waarteen ons onder andere ook in ons video's waarsku. Dit was egter uiters geïsoleerde gevalle wat nie enige inpak op die verrigtinge as sodanig gehad het nie.
Na die fees het die leier van die videospan, die Amerikaner, Paul Richardson, dit goed saamgevat toe hy gesê het: "As 'n mens die klein persentasie van negatiewe dinge wat ons kon sien, moet opweeg teen die oorweldigende positiewe en verrykende dinge wat aangebied was, dan verdwyn dit in die niet." Vir my was dit wonderlik om te kon sien hoedat alles goed beheer word en hoe diegene wat voorgaan en leiding neem, telkens die fokus op die regte dinge plaas.
Voorts was daar in die geskiedenis van die organisasie blykbaar 'n leiersfiguur of twee wat teologies of andersins dinge gedoen of geleer het wat nie reg was nie. Wanneer 'n mens kyk na hoe hierdie dinge deur die jare hanteer is, dan is dit wonderlik om vandag te kan sien en beleef hoeveel vrug daar op die werk en getuienis van die Christen Ambassade as sodanig is. Wat opval is hoeveel kinders van die Here daar is wat daarby betrokke is om hierdie werk te dra en te ondersteun - dit sodat die Jode kan weet dat daar wel mense is wat vir hulle omgee en vir hulle lief is. 'n Liefde wat hulle dring om die mense te bedien, te bemoedig en te help sodat hulle einde ten laaste sal ontdek dat die Messias wat hulle verwag, die Here Jesus Christus is. Hy wat gekom het om sy volk van hul sondes te verlos.
Miskien moet ek niks meer sê nie, en maar net vir u vra om hierdie video HIGHWAYS TO ZION aan te skaf en self te kyk.
Wat ek graag van u wil weet, is: Wanneer laas het u die voorreg gehad om 'n Jood na die Here Jesus te lei?
Net soos wat daar baie vooroordele by baie Jode teenoor Christene is, is daar ook Christene met 'n misopvatting teenoor Israel.
Alf Hutchison, wat my beide Januarie en ook gedurende Augustus na Israel vergesel het, kan persoonlik getuig van die aggressie wat daar by baie Jode teen ons as Christene leef. Die eerste dag in Jerusalem het ons met 'n munisipale bus stad toe gery.
Ons gesprek is skielik wreed onderbreek deur 'n Jood wat vir ons vra: "Is julle Christene?" Alf, 'n ware sielesoeker en iemand wat nie 'n geleentheid om te getuig laat verbygaan nie, het dadelik bevestig dat ons in Jesus Christus glo. Dit was soos om 'n rooi doek voor 'n bul te swaai. Die vol-gende oomblik staan die twee kop aan kop in die paadjie en die man beduie in geen onsekere taal nie dat Hitler iets verskrikliks was... Dit het gelyk asof hy daar en dan alles wat Hitler aan die 6 miljoen Jode gedoen het, op Alf gaan wreek.
Dit was nogal 'n benouenswekkende situasie want Alf was self 'n ruwe soldaat in die Rhodesiese leër voor hy 'n paar jaar gelede die Here Jesus leer ken het. Ons het sommer by die volgende stop afgeklim en vinnig aangestap. Dit was amper of iemand het seergekry.
Ek het geweet dat Hitler 'n lid van die Rooms Katolieke Kerk was en dus wat sy godsdiens betref, beskou is as 'n Christen. Ek het ook al gehoor dat baie Jode geen openheid het vir die evangelie nie omdat hulle Christene assosieer met Naziïsme. Die Naam Jesus Christus is dus vir hulle sinoniem met die Duitse gaskamers.
Op die video HIGHWAYS TO ZION sal u sien hoedat 'n jong Rus duidelik sê dat ons vandag die voorbeeld van Hitler moet volg en die Jode na gaskamers moet lei. Hierdie haat teen die volk van God is redelik algemeen in baie lande. Daarom dat verskillende organisasies, waaronder die Christen Ambassade, hulself daarop toespits om soveel as moontlik van hierdie vervolgde Jode te help om Israel toe te immigreer voordat dit te laat is.
Op die video sal u van hierdie aktiwiteite van die Christen Ambassade sien. Deur die jare het hierdie werk van die Ambassade 'n nuwe klimaat in Israel begin skep by baie van die Jode. Daar is 'n groter openheid by die owerhede. Ek het my verstom om te sien hoeveel deure oopgaan wanneer ons aanklop om iewers iets af te neem as ons sê dat dit vir 'n video van die Internasionale Christen Ambassade te Jerusalem is. So baie plekke, so het ons tydens ons besoek in Januarie ondervind, was totaal geslote vir 'n professionele kamera. Ons het ons egter verstom om te sien hoeveel deure oop was vir ons as Christene as gevolg van die jare se werk wat die Christen Ambassade gedoen het.
Dit het lank geneem om die vooroordeel af te breek en daar is weliswaar nog baie werk om te doen. Tog is daar baie sukses. Dit is duidelik dat baie van die Jode ook leer onderskei het tussen Christen en Christen. Hulle weet ten minste dat daar evangeliese Christene is wat te onderskei is van die Roomse Christene.
Tog is daar ook by baie Christene net soveel vooroordeel en onkunde jeens die Jode. Dieselfde Alf het onlangs hier in Kaapstad in sy besigheid teen so 'n Christen vasgeloop. Toe sy hoor dat hy Israel toe was, was sy dadelik op haar perdjie: "Ek haat die Jode, want dit is hulle wat my Here Jesus gekruisig het."
Alf wou toe by haar weet waar sy geestelik gesproke sou gestaan het as hulle dit nie gedoen het nie. Malcolm Hedding behandel die kwessie van Israel se skuld aan Jesus se dood baie mooi op hierdie video. Wat meer is, Paulus wat self 'n Jood was, skryf ook hieroor. Hy skryf: "Ek vra dan: 'Het God miskien sy volk verstoot?'" En dan ant-woord hy baie duidelik: "Nee, stellig nie!" As voorbeeld daarvan dat die Here die Jode nie verstoot het nie, noem hy homself: "... ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin." So skryf hy dan baie uitdruklik: "God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie" (Rom. 11:1-2).
In Handelinge 3:17 sê Petrus ook aan die Jode self die volgende omtrent die feit dat hulle die Here Jesus gekruisig het: "... broers, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het ..." En die Here Jesus self het, terwyl hulle Hom gekruisig het, vir hulle ingetree: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie" (Luk. 23:34).
Nogtans kry ons Christene wat hulle nie kan vergewe nie; wat hulle nie wil erken as die volk van God nie en wat God se plan wat Hy volgens sy Woord met hulle het, nie wil aanvaar nie. Dit behoort nie so te wees nie.
Ek self het op hoërskool 'n geskiedenis onderwyser gehad wat 'n vurige haat teen Israel gekoester het. Hy het nooit 'n oomblik laat verbygaan nie of hy het ons geleer hoe haatlik die Jode is. Gedurende dié tyd het ek op die groot kerk hervormer, Martin Luther, se boek THE JEWS AND THEIR LIES afgekom. Ek weet nie of daar enige geskrif is wat meer gif blaas teen die Jode as dit nie. Klaarblyklik het Luther met sy bekering geglo dat die Jode sonder meer die Here Jesus sou erken as hul Messias. Toe hulle dit nie doen nie, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hulle verwerplik is. Paulus sê egter dat God hulle nie verwerp het nie.
So, met my vooroordeel teen diegene wat, soos ek geglo het, deur God verwerp is omdat hulle die Here gekruisig het, is ek na skool weermag toe.
Die Here het egter 'n ander manier om met 'n mens te werk. Ek land toe in 'n barak waarvan 'n derde van die manskappe Jode was. Dit is interessant, maar toe ek hulle self eers leer ken het, was daar niks meer van die "Jode haat" by my nie. As kind van die Here het my hart maar net spontaan uitgegaan na hulle toe. Soos 'n mens met hulle gesels het, was die ervaring dat hulle absoluut verlore is. Dit was asof die Here my bewus gemaak het hoe groot die duisternis in hulle was. Skielik kon ek die gedagte nie verdra dat hulle die ewigheid sonder die Messias, die Here Jesus Christus, moet ingaan nie. So het ek maar net spontaan begin om elke dag vir elkeen van hulle te bid.
Ek onthou een klaspreek wat ek op kweekskool moes lewer, baie goed. Dit het gehandel oor Romeine 11 waar ons lees oor die verhouding tussen die kerk en Israel. Die kerk, al die wedergebore mense in die wêreld, staan in 'n besondere verhouding tot die Joodse volk.
Die preek het begin met die vraag aan my klasmaats: Wanneer laas het jy die voorreg gehad om 'n Jood na die Here Jesus te lei? Daarop het ek verduidelik hoedat Paulus skryf dat hy as Joodse Christen met 'n spesifieke strategie te werk gaan in die bearbeiding van sy volksgenote. Hy skryf: "... as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!" (Rom. 11:14)
Hierdie begeerte was brandende in sy hart terwyl hy in die vorige vers noem dat sy bediening 'n bediening is aan die heidennasies. Dit is almal wat nie Jode is nie. Sy strategie in sy bediening is om die heidene so te bearbei dat hul lewens sodanig sal wees dat as Jode met hulle te doen kry, daardie Jode jaloers sal word en sal begeer om soos hierdie heidense Christene te wees.
Hierop was my verduideliking aan my klasmaats dat dit in die bediening nie daaroor gaan of hulle self direk betrokke sal wees daarby om Jode te bearbei nie, maar dat die Here wil hê dat diegene aan wie ons die Woord mag bring, se lewens so 'n wandel met die Here moet weerspieël, dat waar Jode hulle mag teëkom, hulle jaloers sal word op dit wat hulle in Christus Jesus het.
Hoedanig is u wandel met die Here? Raak Jode wat met u te doen kry, jaloers op u verhouding met die Here?
Paulus sê dat hierdie jaloesie daartoe kan lei dat sommige van die Jode tot bekering sal kom.
Dit beteken dat alles wat 'n Christen dink, praat en doen daarop gerig moet wees om die Jood wat van hom hoor of direk met hom te doen mag kry, jaloers te maak op dit wat hy/sy het.
Miskien kan die kyk van die video HIGHWAYS TO ZION u des te meer help en inspireer tot so 'n wandel met die Here.
Soos u moontlik kan aflei het dit gebeur dat ek self die voorreg gehad het om hierdie jaar reeds drie keer Israel toe te kon gaan. Dit was nie om te toer nie, maar inteendeel om te werk. 'n Mens moet elke oomblik benut. Dit kos baie duur en daar is so baie om af te neem dat daar byna geen geleentheid is vir iets anders nie.
Die eerste keer, Januarie, was meer ter verkenning, maar die video THE WILDERNESS TABERNACLE het daaruit ontstaan.
Die tweede keer, Augustus, het daaruit voortgevloei. Dit was gereël om video's van dr. Randall D. Smith van Christian Travel Study Programs, Ltd., te skiet. Dit is die persoon wat die tabernakel gebou het en die video daaroor aangebied het. Die videos wat ons so gaan afneem het, word tans die een na die ander geredigeer en vrygestel. Dit gaan hoofsaaklik oor die agtergrond van die lewe en bediening van die Here Jesus te Israel. Dit is baie goed. Een video wat nou pas klaar is, maar nie deel van die reeks oor die lewe van Jesus is nie, is PSALM 23 - THE SHEPHERD AND HIS SHEEP. Diegene wat dit kry sal sekerlik meermale daarna kyk en vir baie ander ook wil wys. Dit is baie goed en gee 'n mens insig in die agtergrond van baie van die beeldspraak in die Bybel betreffende skape en bokke. Mnr. Alf Hutchison het my op dié twee togte vergesel. Hy het die driepoot en baie ander dinge gedra - en ook kos gemaak op ons tweede tog. Tydens die eerste geleentheid het Jannie en Elsie Scott van Bredasdorp ons ook help dra - en Elsie het die kos gemaak terwyl Jannie die skottelgoed "versorg" het.
Baie dankie aan elkeen van hulle.
Onderwyl die reëlings getref was vir die tweede ekspidisie, is ons gevra of ons nie 'n paar dae aan die Christen Ambassade kon afstaan om vier boodskappe te verfilm nie. Is ons nie dankbaar dat ons daartoe ingestem het nie? Dit was 'n belewenis en 'n geestelike verrykende ervaring om die mense so te leer ken.
Hierdie afnemery het daartoe gelei dat ons genooi was om te gaan meedoen aan die afneem van die Loofhuttefees. My seun Filip (Graad 11) het toe alles help dra. Hy het toe darem ook die geleentheid gehad om in die Dooie See te swem.
Die fees duur agt dae. Elke dag is 'n voldag program met verskillende seminare en dies meer. Elke aand is daar 'n kleurvolle program. Die eerste aand - wanneer die volmaan oor die Dooie See opkom, word die fees in die woestyn te Ein Gedi gehou. Dit was 'n belewenis. Verskillende tonele uit die Bybel is opgevoer.
Wanneer 'n mens daar is, dan begeer jy om almal van u wat op die adreslys is, te kan saamneem en al die dinge wat die Bybel vir 'n mens oop en nuut maak, met u te deel. Hierdie drang om dit te kan doen, inspireer 'n mens wanneer jy hier sit en die video's redigeer. Dit is 'n wonderlike medium wat die Here daargestel het om te gee dat almal al die wonderlike dinge kan sien. Dit maak sy Woord so oop, lewendig en toon vir ons hoe eenvoudig die dinge van ons geloof eintlik is.
Hiermee begeer ek net om vir u almal baie dankie te sê vir u gereelde gebede asook vir u morele en finansiële ondersteuning. Was dit nie daarvoor nie, kon niks van dit alles gebeur het nie nie. Daar is nog so baie wat gedoen moet word. Wil u asseblief voortgaan om ons te ondersteun. Ons maak regtig daarop staat.
Die Here Jesus seën u.
Kopiereg © 2001 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
Web: www.kerugma.org.za