Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579 SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 3:1 Kérugma® Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
FEBRUARIE 2001

"O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O Julle wat die Here herinner aan sy beloftes - moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot 'n lof op aarde!" (Jes. 62:6-7).

JERUSALEM - 'n lof op aarde

- Ignatius A le Roux

Deur die oogstuk van die kamera sien ek hom - met die volmaan agter hom staan hy op die muur van die Ou Stad. Hierdie swaar bewapende wag kan 'n mens maar net herinner aan die teks hierbo. Dit was 'n baie besondere geleentheid. Die Jerusalem Post het die oggend berig dat die grootste polisie teenwoordigheid in die geskiedenis van Jerusalem daardie dag daar saamgetrek is. Tydens die vorige twee weke is groot advertensies oral in Israel opgerig om almal te nooi om by die Jaffahek van die Ou Stad saam te trek om 'n eed af te lê dat Jerusalem nie verdeel sal word nie. Die geleentheid sou plaasvind op 8 Januarie 2001, twee dae voor ons vertrek terug na Suid-Afrika.

Netnou meer omtrent hierdie besondere geleentheid. Verlede keer het ons berig dat die plan om Israel te besoek vir eers afgestel is. Intussen het 'n paartjie wat deur hul werks- omstandighede 'n jaar in die buiteland moes deurbring, ons laat weet dat hulle vir 'n 10 dae tydperk te Israel sou wees. Hulle gaan dan 'n motor huur. Sou ons self daar kan kom, sal hulle ons graag vervoer na waar ookal en help met die dra en opstel van die kameratoerusting. Hierna het dinge baie vinnig gebeur. Aanvanklik het ons dit nie eens oorweeg om te gaan nie, want hoe sou ons daar kom en waar moes ons bly? Die Here het egter onderneem. Iemand gee my toe 'n bedrag vir 'n vliegkaartjie. Die persoon waarvan verlede keer berig is dat sy voertuig gebreek het en die onkoste daaraan veroorsaak het dat ons nie meer kon gaan nie, het skielik soveel bykomende werk gekry dat hy ook kon gaan. Weens die oorlog-situasie en die leë vlugte na Israel, kry ons toe ons kaartjies teen byna halfprys. Die lugredery reël toe boonop dat ons die kamera en al die toerusting as "handbagasie" kon saamneem - teen geen ekstra koste nie. 'n Spesiale plek aan boord is voorsien waar ons dit kon pak.

Om 'n lang storie kort te maak: Dr. Randall D. Smith, 'n leraar uit Amerika wat terselfdertyd beskik oor 'n doktoraal in Argeologie, het einde verlede jaar 'n volskaalse replika van die tabernakel in die woestyn naby Jerigo opgerig. Die doel daarvan is om toeriste wat Israel besoek op 'n begeleide toer daardeur te neem. Na verskillende onderhandelings het hy ons deur die tabernakel geneem en alles verduidelik. Ons beplan om die video daarvan teen ongeveer einde April beskikbaar te stel. Wat interessant is, is dat die koper en goud vir die brandofferaltaar, die kandelaar, die tafel met toonbrode, die wierook altaar en die ark met die gérubs daarop, asook die mure van die tabernakel alles uit Suid-Afrika kom.

Nog 'n video wat ons nie kan wag om te maak nie, is een van 'n besondere aanbieding deur Elfie Gill van die tuin van Biblical Resources te Ein Karem, Jerusalem. Items soos 'n dorsvloer, meulsteen, parskuip, wagtoring, altaar, olyfpars, put en baie ander dinge word daar uitgebeeld. Sy het ook baie van die gebruike van destyds geillustreer. Wat veral tot seën was, is die verduideliking van hoe die laaste avondmaal plaasgevind het. Daar is baie werk aan die redigering van hierdie video. Sodra dit gereed is, sal dit in die Bulletin bekend gemaak word.

Beide bogenoemde video's is bestem vir verspreiding in Israel terwyl Kérugma die voorreg sal hê om dit in Suid-Afrika te versprei.

Daar is baie ander dinge wat ons afgeneem het wat op video's gebruik sal kan word. Wat veral interessant was, is die hoeksteen van die toekomstige derde tempel wat tans op 'n sirkel in een van Jerusalem se verkeersweë staan. Die eerste tempel is dié van Salomo wat deur Nebukadnésar verwoes is. Die tweede is dié van Herodus wat in 70 nC deur die Romeinse keiser Titus afgebreek is. Die derde is volgens hulle die een wat deur die profeet Esegiël voorspel is. Naas die hoeksteen is daar al die instrumente wat reeds gereed is om in hierdie tempel geplaas te word. Die Joodse beweging wat hiervoor verantwoordelik is, sê dat dit alles presies volgens die voorskrifte is soos in Esegiël 40-48 voorspel word.

Die argiteksvoorstellings en -skilderye van hier- die tempel is asemrowend. Ons kon dit ongelukkig nie dié keer alles afneem nie, want die persoon wat die toestemming daarvoor moes gee, was nie daar nie. Wat 'n mens getref het, is hoe absoluut slaggereed hulle is om die tempel te bou. Hulle verduidelik dat hulle wag op die koms van die Messias. Alles is van egte silwer en goud en die musiekinstrumente verstom 'n mens veral - dit is van die beste houtsneewerk.

Wanneer 'n mens by die klaagmuur staan en veral kyk na die afdeling waar die vrouens bid, dan kan 'n mens nie anders as om te bid dat die Here Homself aan hierdie mense sal openbaar nie. Veral as 'n mens so deur die kamera se lens van naby die trane sien waar 'n moeder in wanhoop staan en bid...

Een lied wat my getref het by die byeenkoms wat ek hierbo genoem het, is juis waar die skare jong Israeli's gesing het dat die Messias asseblief nou moet kom.

Die geleentheid was onder andere moontlik gemaak deur groot donasies van Christen organisasies veral uit Amerika, Europa en Israel self. Terwyl daar 'n ketting van fakkels reg rondom die mure van die Ou Stad gevorm is, het meer as 400 000 Jode in die strate voor die Jaffahek vergader. Tonele uit die oorloë van Israel is geprojekteer teen die mure van die Ou Stad sodat dit van baie ver af gesien kon word. Sangitems asook toesprake en baie samesang het die skare vir ure daar gehou. Die hoofspreker was die burgemeester van Jerusalem, mnr. Ehud Olmert. Sy boodskap so aan die vooraand van president Clinton se uittrede was:

"Geagte Meneer die President, vir die afgelope 8 jaar, President Clinton, het u u vriendskap teenoor die Joodse volk en die staat Israel getoon en ons is u baie dank verskuldig daarvoor. Nou, ter wille van die stad Jerusalem; ter wille van die 400 000 mense wat vanaand saamgetrek is in die grootste optog in die geskiedenis van die stad Jerusalem en die staat Israel, rig ek graag die volgende versoek tot u: Asseblief, Meneer die President, moenie dat u die eerste president in die geskiedenis van u land word wat amptelik aangeteken sal wees as die persoon wat voorgestel het dat die historiese, antieke en ewige hoofstad van die Joodse volk verdeel moet word nie. Ons is 'n ou volk. Ons vergeet nimmer ooit ons vriende. Maar ons vergeet ook nimmer diegene wat dit durf waag om hul hand te lig teen die mees kosbare skatte van ons lewens nie. Asseblief Meneer die President, dink weer hieroor."

Ons weet dat die Here dit in Genesis 12:3 duidelik stel dat diegene wat sy volk seën deur Hom geseën word, maar dat die teenoorgestelde net so geldig is. Wat is ons houding jeens hierdie volk? Die volk wat die Here in die lewe geroep het om Homself deur hulle aan die mensdom te openbaar. Dié volk wat vandag geestelik versluierd is, maar wie se sluier weggeneem word wanneer hulle in die Here Jesus glo as hulle Messias (2 Kor. 3:14-16). Voor die aanvang van die saamtrek het mnr. Olmert in 'n onderhoud met die pers aan ons verduidelik dat dit nie 'n politieke saamtrek was nie.

Hoe onderskei 'n mens tussen die politiek en dit wat so in die harte van die godsdienstige Jode leef? Ons weet daar is nog baie van die profesieë in die Bybel aangaande Jerusalem wat nog vervul moet word. Baie van die profesieë aangaande die Messias is reeds deur die Here Jesus met sy eerste koms vervul. Die tye en geleenthede waarop hy die res daarvan gaan vervul weet ons nie (Hand. 1:7). Dat Hy dit egter met sy wederkoms gaan doen, is seker. Intussen is dit ons voorreg om sy getuies te wees (Hand. 1:8). Wat egter opvallend was, is die groot persentasie jongmense en veral tieners wat die strate by die Jaffahek gevul het tot 'n groot lewende en juigende massa.

Deur die genade van die Here kan ek hiermee aan u noem dat Kérugma die nommer 1 posisie op die persgallery kon inneem. Vier ure voor die aanvang van die byeenkoms was ons daar om aansoek te doen vir persgoedkeuring. Ons kon ons kamera langs die van die BBC plaas, net om later te ontdek dat die kant waar ons staan, die beste posisie was. Alhoewel die wêreldmedia dit alles afgeneem en per satelliet direk versend het, is daar blykbaar niks daarvan buite Israel self gebeeldsend nie. Soos die Here lei, beplan ons om wel 'n produksie daarvan saam te stel om dit beskikbaar te hê vir diegene wat daarin mag belangstel.

Die besoek aan Israel was vir ons tot groot seën. Ons vertrou dat die beeldmateriaal wat ons kon vergader vir baie ander tot seën sal wees. Een ding staan egter duidelik uit en dit is dat die Een wat beskik oor die lotgevalle van volke en nasies, beslis met iets besig is betreffende die volk aan wie Hy die hele gebied soos in Genesis 15:18- 21 uiteengesit, beloof het.

Die wag op die mure van Jerusalem van wie ek u aan die begin genoem het, se silhoeët teen die aandlig het my egter herinner daaraan dat die Here begeer om Jerusalem te bevestig tot 'n "lof op aarde" (Jes. 62:7).

Is ons bewus van die beloftes waaraan die Here wil hê dat ons Hom moet herinner? Dit is die beloftes wat die Here in Jesaja 62:1-5 maak aangaande Sion (die ou stad van Dawid waarvan die murasies vandag duidelik sigbaar is) en Jerusalem (soos dit deur Salomo verder uitgebou is).

In die gedeelte waaruit die teks bo- aan hierdie artikel kom, het die Here belowe dat Hy nie sal swyg nie totdat Jerusalem (waarby Sion ingesluit is), se "geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand" (Jes. 62:1).

Verder het Hy aangaande Jerusalem belowe:

"En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met 'n nuwe naam genoem word wat die mond van die Here sal noem. En jy sal 'n sierlike kroon wees in die hand van die Here en 'n koninklike tulband in die hand van jou God. Jy sal nie meer genoem word 'Verlatene' nie, en jou land sal nie meer genoem word 'Wildernis' nie. Maar jy sal genoem word: 'my welbehae', en jou land: 'die getroude'; want die Here het 'n behae in jou, en jou land sal getroud wees. Want soos 'n jongman 'n jongdogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die buidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees" (Jes. 62:2-5).

Tot vandag toe het die Here hierdie belofte nog nie vervul nie. Die profeet Sagaria het voorspel dat met die wederkoms van die Messias die berg waarop Jerusalem van oudsaf geleë was, bo die ander berge sal uittroon (Sag. 14:4,10). Dit is dan dat die belofte van die Here om Jerusalem te bevestig en 'n lof op aarde te maak, vervul sal word. Volgens Sagaria 14:4 gaan die Olyfberg met die wederkoms van die Here Jesus Christus in twee gedeel word. Die berg (of heuwel) waarop die Ou Stad gebou is, gaan in die proses opgehef word bo die berge (heuwels) daar rondom. So sal Jerusalem bo die ander berge uittroon en sal almal die heerlikheid daarvan kan sien. Intussen is daar wagte op die mure van die heilige stad. Nie wagte soos die een wat ek daar afneem het nie. Hy was een van baie wat daar was ter wille van die sekuriteit van die skare wat daar saamgetrek was. Nee, die wagte waarvan die Here praat, het 'n heel ander doel.

In Lukas 21:24 leer die Here Jesus dat ons tans leef in die "tyd van die nasies".

Dit is die tyd waartydens Jerusalem deur die nasies (diegene wat nie Jode is nie) vertrap word.

Sedert die tyd dat Israel weens hul sonde deur Nebukadnésar weggevoer is, totdat die Messias sal kom om te Jerusalem te heers as koning, heers die heiden nasies oor die heilige stad. Duideliker kan dit nie geïllustreer word nie as daar waar die Jode onder teen die Klaagmuur staan en bid in die rigting waar die allerheiligste van die tempel moet wees - daar waar die bekende goue Rotskoepel, die moskee van die Moslems troon. Op 'n afstand lyk die hele prentjie so pateties - die magteloosheid van diegene wie se geestelike oë versluierd is: Hulle staan teen 'n reuse muur en bid en dit eintlik in die rigting van hul vyande se "tempel" - die "Dome of the Rock". Gedurende hierdie tyd waarin diegene wat nie Jode is nie so oor Jerusalem heers, is daar wagte op die mure van die stad gestel deur die Here. Hulle is daar om Hom voortdurend te herinner aan sy belofte om die stad te bevestig en tot 'n lof op aarde te maak.

Is ons besig om dit te doen? Leef ons in afwagting dat die Here Jesus sal kom om te heers as Koning? Om sy beloftes jeens sy stad, sy volk en die seën wat dit vir die hele wêreld sal inhou, te vervul?

Psalm 122:6 leer dat daar gebid moet word "om die vrede van Jerusalem".

Dit is nie 'n gebed dat daar vandag vrede in Jerusalem sal heers nie. Om dit te bid, is om teen die Woord van die Here te bid. In Sagaria 12:2-3 leer die Here dat die laaste plek op aarde waar daar vandag enige vrede kan wees, Jerusalem is. Wanneer ons Hom aan sy beloftes herinner, dan bid ons dat Hy sal kom om Jerusalem te maak dit wat sy naam beteken naamlik Fontein (of Stad) van Salem/SHALOM - vrede. Die Here Jesus het teen die voet van die Olyfberg, daar in die tuin van Getsémane vrede gemaak met die wete dat Hy die volle beker moes ledig ten einde ons met sy bloed te kon loskoop. In daardie vrede het Hy Homself oorgegee om koelbloedig gekruisig te word. Vandag sit Hy aan die regterhand van die Vader op die troon. Vandaar gee Hy deur sy Heilige Gees sy vrede ook aan sy volgelinge waar hulle onregverdig ly in hierdie wêreld. Hy is die enigste Een wat sal kan kom as die Prins van Vrede om aan die inwoners van 'n stad soos Jerusalem, ware vrede te gee.

Daar gaan 'n dag kom wanneer Hy weer sy voet op die Olyfberg sal sit en sy vrede aan die inwoners van hierdie stad sal gee. Voorts gaan daar ook 'n dag kom wanneer die nuwe stad Jerusalem uit die hemel sal neerdaal (Open. 21:2). Sien u uit daarna? Leef u met die verwagting dat dit alles sal gebeur? Is dit u daaglikse gebed dat die Here sal kom om dit wat sy hartsbegeerte is, te vervul? Is u daadwerklik 'n wag op die mure wat die Here die hele dag en die hele nag herinner aan sy beloftes?

Dit was vir my aangrypend toe ons in die tuin met die graf waarin dit byna seker is dat die Here Jesus begrawe was, kon staan en die gids aan ons verduidelik het dat daar net een ware Via Dolorosa; een ware weg van smarte was, en dit is die weg van die kruis, naamlik:

"En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei" (Joh. 19:16).

Van die tuingraf self sal daar ook, soos die Here wil, eersdaags 'n video beskikbaar wees. Dit het soos heelwat van die ander ook nie sommer net so vanself gekom nie. Eers na heelwat beraad- slagings is die nodige toestemming daartoe verkry. Ons vertroue is egter dat dit elkeen wat dit sien sal inspireer om des te meer te bid vir die skare van derduisende Joodse tieners wat by die poort van die Ou Stad die lof van die Messias besing het. Kom ons bid dat Hy in hierdie tyd nog die sluier van hul oë sal wegneem sodat hulle Hom sal sien soos Hy is en sy offer aan die kruis sal aanvaar as vir hul sondes. Dit sodat hulle Hom sal leer ken as die Prins van Vrede. Hy is die enigste Een wat dit waarna hulle eintlik smag, aan hulle kan gee.


Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel (Jos. 1:7-8).

GELOOF: WAT IS DIT? en WAAROM IS DIT NODIG?

- Marina le Roux

Die eerste hoofstuk van Josua gee vir ons God se resep vir sukses in alles wat ons aanpak. Die beloftes wat die Here hier aan Josua gemaak het, klink amper onmoontlik. Hy het aan Josua belowe dat Hy altyd by hom sal wees, ja, dat Hy hom nooit sou verlaat nie, dat Hy aan hom en sy volk elke plek sou gee waarop hulle hulle voete sou neersit. Hy het ook aan hom voorspoed in alles wat hy sou aanpak, beloof. Dit waarvoor die Israeliete al soveel jare gebid, gewag, en voor gehoop het, sal nou in vervulling kan gaan. En God het van Josua verwag om die instrument te wees waardeur hierdie beloftes waar sou word. Is dit nie wonderlik om te dink dat die God wat die hemel en die aarde gemaak het sowaar elke oomblik elke dag by my kan wees om my so te lei dat ek nooit verkeerde besluite kan neem nie? Is voorspoed in alles wat ons doen, nie iets waarna elkeen van ons verlang nie?

Hierdie belofte is nie alleen aan Josua gemaak nie. In Psalm 1:3 vind ons nog so 'n belofte. Dit is nie aan 'n spesifieke persoon gemaak nie, maar in die algemeen aan elkeen wat aan sekere voorwaardes voldoen. Dit is absoluut ongelooflike beloftes. Hoekom sou God hierdie beloftes maak? Wat was die omstandighede waaronder hierdie beloftes gemaak is?

God het sy volk uit Egipteland gelei, na die land waar Hy lank tevore besluit het dat hulle moes woon. Die uittog was 'n ongelooflike groot wonderwerk! Water het meer as een keer uit die rotse gestroom, brood het uit die hemel geval, vleis is voorsien deur middel van voëls wat net op 'n onverklaarbare wyse in baie groot getalle op die Israeliete se laer afgevlieg het. Israel het selfs 'n oorlog teen Amalek gewen. Hierdie volk wat vir 400 jaar slawe was en geen gevegstegnieke geken het nie, oorwin 'n volk wat daarin geoefen was en ook bekend was as bloeddorstig en ongenaakbaar.

Al het Josua en die volk al hierdie wonderwerke aanskou, het hulle nou voor die grootste uitdaging ooit te staan gekom. Hulle moes die land verower deur middel van 'n reeks oorloë, en nou was Moses nie meer daar nie. Hy was die een wat met God gekommunikeer het, ja wat met God gepraat het soos wat 'n mens met 'n vriend kommunikeer (Eks. 33:11). Hy was die een wat, elke keer wanneer hulle God se toorn op die hals gehaal het, vir hulle by God ingetree het en God oorreed het om weer met hulle saam te trek en te help (Eks. 33:3;13-17). Hy was ook die een wat God geraadpleeg het namens hulle en vir hulle gewys het wat God se wil vir hulle was in elke situasie (Eks. 18:15;16). Moses se dood het 'n ontsettende leemte gelaat in die lewens van die volk. Josua moes baie onbekwaam gevoel het vir die taak om die volk in die beloofde land in te lei. Juis daarom het God hom hier ontmoet en hierdie beloftes gegee. Hy het 'n baie spesifieke plan met hierdie volk gehad. In sy wysheid wou Hy 'n mens gebruik as instrument om hierdie plan te verwesenlik, en hierdie mens was Josua. Josua kon daarop reken dat God hom in staat sou stel om hierdie opdrag uit te voer. Tog was daar sekere voorwaardes verbonde aan hierdie beloftes.

Die eerste voorwaarde was dat hy baie sterk en vol moed moes wees. God is nie die God van die vreesagtiges nie. Wanneer Paulus in Efesiërs 6 vir ons leer hoe om in die stryd teen Satan te oorwin, begin hy met die woorde: "... word kragtig in die Here, en in die krag van sy sterkte" (vs. 10). In Filippense 4:13 sê hy ook dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee. In 2 Timoteüs 2:1 sê Paulus vir Timoteüs om sterk te wees deur die genade wat in Christus Jesus is. Wanneer God vir Josua sê om baie sterk en vol moed te wees, wil Hy dus nie hê dat Josua skielik moet dink dat hy Simson is wat met brute geweld almal wat in sy pad kom, kan doodslaan nie. Nee, God vra van Josua om Hom onwrikbaar te vertrou, en verseker te weet dat God se krag tot sy beskikking is. Hy moes nie terugdeins vir die taak wat voor hom gelê het nie.

Die tweede voorwaarde hang baie nou saam met die eerste. Josua moes nie toelaat dat enigiets hom verhinder om die wet wat Moses vir die volk gegee het, stiptelik te hou nie. God sê hier vir hom dat hy nie regs of links daarvan moes afwyk nie. God het dus nie net 'n volmaakte plan gehad vir hierdie volk nie, maar Hy het ook baie duidelike riglyne gehad waarvolgens Hy wou hê dat hulle moes lewe. Hulle kon nie maar besluit dat dit of dat ook vir God aanvaarbaar sou wees net omdat dit vir hulle so gelyk het, of omdat dit vir hulle reg gevoel het nie. Hulle moes seker maak waarvan hulle Redder uit Egipteland hou en wat Hy haat, en dan moes hulle hulle lewe daarvolgens inrig.

Om dit te kon doen, moes hulle God vertrou om sy beloftes waar te maak. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die wyse waarop Jerigo ingeneem is. Josua en die volk het voor die mure van Jerigo gestaan en nie geweet hoe om die stad in te neem nie. God se opdrag was egter duidelik. Hulle moes die hele land deur middel van die swaard verower. Maar hoe? Dan kom God se opdrag dat hulle vir sewe dae om die stad moes stap. Volgens menslike logika is dit 'n dom plan. Tog het Josua die volk gelei daarin om God hier te vertrou om wel die oorwinning te gee en Hom dus te gehoorsaam. As Josua dus enigsins aan God se beloftes getwyfel het, sou hy nie sy opdrag kon uitvoer nie. Omdat hy God vertrou het om op daardie vreemde manier 'n oorwinning te gee, het hy Hom gehoorsaam en God het hom nie teleurgestel nie. Om God se wil so te ken, moet ons God se woord baie goed ken. In Josua 1:8 sê die Here vir Josua dat die wetboek nie uit sy mond mag wyk nie. Hy moes dus gedurig daaroor gepraat het met die volk. Hy moes dit ook dag en nag bepeins het. Dit beteken dat hy daaroor moes dink. Ja, hy moes dit baie goed geken het, oor en oor gelees het, nagedink het oor wat God presies met elke frase bedoel het en dit dan noukeurig nagekom het. Eers dan sou God sy volmaakte plan wat hy vir hierdie volk gehad het, kon uitvoer, want elke keer wat hy in gehoorsaamheid God vertrou het, en God sy beloftes nagekom het, sou sy geloof sterker wees vir 'n volgende opdrag.

In hierdie opdrag en beloftes wat God aan Josua gegee het, vind ons ook riglyne vir ons wat gereinig is in die bloed van die Seun van God, ja, vir ons wat vandag in die twintigste eeu onsself Christene noem. Elkeen van ons pas ook in by God se volmaakte plan met die kerk. Ook vir ons het Hy spesifieke take. In Efesiërs 2:10 sê Paulus dat God ons wederbaar het sodat ons die goeie werke sal doen wat God lank tevore reeds beplan het dat ons sal doen. Die Amplified Bible vertaal hierdie vers soos volg: "For we are God's own handiwork (His workmanship), recreated in Christ Jesus, [born anew] that we may do those good works which God predestined (planned beforehand) for us, (taking paths which He prepared ahead of time) that we should walk in them - living the good life which he prearranged and made ready for us to live." Soos wat Josua deur God gekies is om Moses op te volg en die volk in die beloofde land in te lei, so is elkeen van ons gekies vir 'n taak wat ons hemelse Vader lankal beplan het, en wat vir niemand anders bedoel is nie. Begeer ons om deur God gebruik te word? Is ons beskikbaar? Twee dinge verwag God ook van ons vandag. Hy verwag van ons in die eerste plek om Hom volkome te vertrou. Hebreërs 11:6 sê dat dit onmoontlik is om God te behaag sonder geloof, want die persoon wat tot God nader moet glo dat God wel bestaan, maar ook dat Hy die beloner is van die wat Hom soek. Waarvoor moet ek God vertrou? As ek elke dag kan werk, en genoeg verdien om gemaklik te lewe, as ek taamlik gelukkig getroud is, oulike, slim kinders het, ja, min of meer alles het wat my aardse lewe draaglik maak, waarvoor moet ek God vertrou? Hoekom het ek as Christen geloof nodig? Miskien is dit juis dit wat die verskil maak tussen Christen en Christen.

Paulus het vir die Korintiërs gesê dat hulle vleeslik is omdat daar onder hulle jaloersheid, twis en tweedrag was (1 Kor. 3:3). Hier het ons dus Christene wat geleef het met die wete dat hulle hulle heidense afgode verlaat het om die ware God te dien. Tog het hulle nog vir hulself en hulle eie eer en gemak geleef. Dit is tog waar jaloesie vandaan kom. Hulle het die opdrag van Jesus om hulself te verloën nie ernstig genoeg opgeneem nie (Matt. 16:24). Hulle het nie geweet wat dit is om hul eie behoeftes en begeertes eenkant toe te skuif en eerstens te soek na die wil van God nie.

Aan die ander kant praat Paulus van geestelike mense (1 Kor. 2:15). God is die God wat graag met sy kinders kommunikeer. Hy wil vir hulle wys waarvan Hy hou, wat Hy haat, hoe groot Hy is, wat sy plan met die wêreld is, ens. God wil daagliks sy kinders lei, en in elke situasie vir hulle wys wat die regte optrede sou wees, en hoe om te maak. God wil met ander woorde sy hart vir sy kinders oop-maak. Paulus sê dat Hy vir die wat Hom liefhet 'n plan het wat so wonderlik is, dat geen mens nog daaraan gedink het, dit gesien het of daarvan gehoor het nie. En dit het Hy deur sy Heilige Gees aan Paulus en ander kinders van Hom geopenbaar (1 Kor. 2:9-10). Geestelike mense is dus Christene wat met God kan praat en sy stem ken en met Hom kan kommunikeer.

Wat is dit dan wat die verskil maak tussen geestelike en vleeslike christene? GELOOF.

Jakobus 2:17 sê dat geloof sonder werke dood is. 'n Kenmerk van ware geloof is dus dat dit die mens wat glo, dring tot optrede. Jakobus gee vir ons 'n paar voorbeelde. Ragab die hoer was 'n heidense vrou. Sy het net een ding geweet, en dit is dat die God van die Israeliete die ware God moes wees. Haar kennis was gegrond op dit wat sy gehoor het Hy gedoen het met die Egiptenare. Daarom het sy gewaag om teen haar eie owerheid op te tree. As sy betrap sou word sou dit die doodstraf beteken het, maar sy het haar eie lewe in gevaar gestel sodat sy deel kon word van die volk wat die ware God aanbid het (Jak. 2:25). Nog 'n voorbeeld is Abraham. Hy was bereid om sy seun Isak te offer op God se woord. Hy het nie God se motiewe bevraagteken nie, maar eenvoudig vertrou dat God weet wat hy doen. Daarom het hy gehoorsaam (Jak. 2:21). Omdat hy God vertrou het, is hy 'n vriend van God genoem (Jak. 2:23). Met hom kon God kommunikeer. Hy het nie vir sy eie belange geleef nie. Nog 'n voorbeeld is Daniël. Om sy eie lewe te spaar, moes hy net vir dertig dae nie bid nie (Dan. 6:8). Daniël het nie daarvoor kans gesien nie. Sy eie belange en begeertes het lankal plek gemaak vir God se belange. Hy het immers as jong seun al geleer om liewer net met groente en water klaar te kom as om sy God te verloën deur vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is (Dan. 1:8). Hy het geleef daarvoor dat God se planne met sy volk uitgevoer kon word. Daarom het hy voortgegaan met sy gewoonte om drie maal op 'n dag te bid en God te loof (Dan. 6:11). Wat leer ons hieruit?

Geloof is nie net 'n wete dat God wel bestaan nie, maar 'n wete wat definitiewe gevolge het. Ware geloof is daardie geloof wat my dring om in die eerste plek seker te maak wat God se wil regtig is. Dit bring ons by die tweede vereiste wat God vir sy kinders stel. Die skrywer van die Hebreërbrief sê dat daar sekere Christene is wat geestesvermoëns besit, deur die gewoonte geoefen, wat hulle in staat stel om goed van kwaad te onderskei (Heb. 5:14). Dit is dus vir God baie belangrik dat ons sy Woord sal ken, sodat ons dit kan gehoorsaam. Psalm 1:2 sê dat die mens wat voorspoedig is, die mens is wie se behae in die wet van die Here is. Hy oordink dit dag en nag. Ons hemelse Vader verwag van ons om dit te geniet om sy Woord te bestudeer, en seker te maak wat sy volmaakte wil is. Dit is ongehoord vir 'n Christen om te sê dat hy/sy nie dink dat God iets sal hê teen dit of dat nie. Om iets te doen waaroor ek nog wonder, beteken dat God se volmaakte wil in daardie saak nie vir my regtig belangrik is nie. As Josua Jerigo blindelings sou bestorm omdat hy veronderstel het dat dit die beste sou wees, sou daar geen oorwinning gewees het nie. As Ragab uit vrees vir haar owerhede die verspieders oorgegee het, en verwag het dat God maar moes verstaan, want sy was mos 'n heidense vrou wat nog nie ervaring van sy liefde gehad het nie, sou sy nie gered kon word nie. God verwag van ons om sy wil te soek, seker te maak daarvan en te gehoorsaam, al sou dit onaangename gevolge inhou vir ons lewe hier en nou. Wanneer ons geoefen is daarin om Hom te gehoorsaam, sal ons al hoe beter sy wil in elke situasie ken en al hoe meer sy wil doen.

Eers dan kan ons aanspraak maak op die beloftes wat Hy vir Josua gegee het, asook die belofte in Psalm 1:3.

Is ons gewillig om God tot in die fynste besonderhede elke dag te gehoorsaam? Is ek bereid om God se wil te doen, al sou dit slegte gevolge inhou vir my lewe hier en nou? Dien ek Hom nie maar net omdat ek 'n veilige, gemaklike lewe vir myself hier wil verseker nie? Hoekom raak ons opstandig teen God wanneer dinge skeefloop?

Kom ons vra onsself 'n slag af wat regtig ons motiewe is waarom ons God dien. Of nee, kom ons vra God om vir ons die diepste motiewe van ons harte te wys. Kom ons vertrou Hom om in ons die alles oorheersende begeerte te werk om Hom met ons hele hart, met ons hele siel, al ons krag en met ons hele verstand te dien (Mark. 12:30). Dan eers kan Hy sy volmaakte plan in ons lewens laat gestalte kry; het ons lewens sin en doel hier op aarde, en word Hy verheerlik.


Kopiereg © 2001 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21 906-2637
E-pos:
info@kerugma.org.za; Web: www.kerugma.org.za