Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 2:1 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
JANUARIE 2000 |
|---|
| "... uit
die aarde het ek 'n ander dier [die valse profeet] sien
opkom, en ... hy oefen al die mag van die eerste dier [die
Antichris] uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en
die wat daarop woon, die eerste dier aanbid ..." (Open. 13:11-12) |
- Ignatius A le Roux
Die derde byeenkoms van die PARLEMENT VIR WÊRELDGODSDIENSTE het so pas van 1 tot 8 Desember 1999 te Kaapstad plaasgevind. Die eerste byeenkoms is in 1893 te Chicago gehou en die tweede 'n eeu later in 1993 weereens daar. By die geleentheid is besluit om dit voortaan 5-jaarliks te hou en telkens in 'n ander wêreldstad. Die logiese volgende plek sou dan nou Kaapstad wees, weens dit wat hier bereik is tussen so baie verskillende kulture en godsdienste. So is dit op die Parlement verduidelik. Kérugma was ook daar!
Netnou meer daaroor, maar eers net 'n bietjie KÉRUGMA-NUUS.
U het lanklaas van ons gehoor, maar dit beteken nie dat Kérugma nie meer bestaan nie of dat ons nie gereeld daaraan gedink het om die volgende Bulletin aan u te stuur nie. Ons het maar net nie grond geraak nie. Intussen is daar goeie nuus en dit is dat nog twee persone uit Bloemfontein by ons aangesluit het om ons in hul vrye tyd te help met al die verpligtinge. Naas Anita Fouché, die verpleegster wat twee jaar gelede saamgekom het hierheen en elke oomblik van haar beskikbare tyd wy aan die duplisering, toetsing en verpakking van die video's en die baie ander werk, het Elize Fourie en Dalene Swanepoel (twee bibliotekaresses) hul werk bedank, hul huise verkoop en hierheen verhuis omdat die Here hulle gelei het om hulself hier te kom vestig. Dit sodat hulle ook in hul vrye tyd kan help met die werk hier. Dit is vir ons 'n groot uitkoms en beteken vir ons geweldig baie. Hulle is tans besig om van vooraf aansoek te doen vir werk. Sal u asseblief saam bid dat die Here vir hulle daarin sal onderneem.
Van werk gepraat, deel van die rede waarom u nou eers weer van ons hoor is dat, nadat die redigeerstasie waarvan ons u reeds vertel het, gekom het, was daar eers groeipyne waardeur ons moes gaan voordat ons kon begin om te redigeer. Ons het die eerste van 'n nuwe opgradering van die spesifieke model gekry, maar dit wou reg van die begin af net nie werk nie. Nadat dit eers weer 'n draai in Johannesburg gemaak het en daar gekommunikeer is met die vervaardigers in Engeland, Amerika en Duitsland, het die Here voorsien in 'n plaaslike rekenaardeskundige wat die probleem kon raakvat en sodoende kon Suid- Afrika toe die oplossing vir die wêreld bied. Alhoewel nie sonder tydelike haakplekke nie, werk ons sedertdien onverpoos daarmee. Ons het reg deur die Kersvakansie gewerk, maar daar is nog baie wat geredigeer moet word. Die eerste video van Dave Hunt is net voor Kersfees vrygestel. Sedertdien is ons dag en nag besig met 'n produksie oor die Parlement vir Wêreldgodsdienste. Ons vertrou dat dit gereed sal wees vir bestelling wanneer u hierdie Bulletin ontvang. Na dit moet die ander video's van Dave Hunt geredigeer word en dan een van 'n baie besondere getuienis wat 'n bekende leraar onlangs gegee het. Daaroor vertel ons in 'n volgende uitgawe van die Bulletin meer. Die redigering van so 'n video duur baie langer as wat meeste mense mag dink. Die redigering aan 'n produksie soos die een oor die Parlement duur byvoorbeeld ten minste ses weke waar daar dag en nag gewerk word. Ons noem dit maar net sodat u kan begryp waarom u geduldig moet wag vir sommige goeie dinge.
Ons het aansoek gedoen vir toestemming om as deel van die media die Parlement vir Wêreldgodsdienste by te woon ten einde 'n videoproduksie daaroor te kon maak. Toestemming is verleen op voorwaarde dat ons die volle toegangsgelde sou betaal. So is ek en my oudste seun, Filip, na hierdie agt dae byeenkoms. Filip is saam om te help dra aan al die kameratoerusting. Hy was juis besig om te soek vir werk vir die Desembervakansie. Na alles is ons verstom as ons nou sien wat die Here ons gelei het om af te neem. Die Parlement het 'n lywige program gehad. Daar was baie verskillende lesings, items en besprekinge gelyktydig aangebied in die lesingsale van die Kaapse Technikon, by die Universiteit van Kaapstad, in die stadsaal, die Burgersentrum, die Goeie Hoop Sentrum, ens. So moes ons van soggens vroeg tot laatnag afneem. Die beste van dit alles kan u sien op die video waaraan ons tans werk. Omtrent twee weke voor die Parlement het ons gehoor dat die bekende ds. Soon Zevenster van Radio Tygerberg oor die Parlement gaan preek. Ons het hom toe genader om te hoor of ons nie die preek kon afneem nie. Nadat ons begin het met die redigering daarvan, het ons eers besef hoe akkuraat sy navorsing oor die hele Parlement-beweging was. Aanvanklik het ons gereken om maar net die gesigte van byvoorbeeld die Dalai Lama en pres. Nelson Mandela te toon wanneer hy na hulle verwys. Op die ou end het dit ontwikkel in 'n volledige dokumentêre video oor die Parlement. U sien en hoor nou wat hierdie en baie ander figure daar gesê het. Wanneer ds. Zevenster byvoorbeeld praat van diegene wat die godin Moeder Aarde aanbid, dan sien u wie dit doen en hoor u wat hulle bid. So is daar verder insetsels omtrent alles waaroor die beweging gaan.
Dit is 'n baie belangrike produksie want een ding het duidelik geblyk en dit is dat hierdie beweging tans die godsdienstige arena van die wêreld oorspoel en geen teenkanting duld nie. Diegene wat dit gaan weerstaan sal maar net dieselfde behandeling kry as elkeen wat die afgelope paar jaar op politieke of ekonomiese gebied teen die stroom op probeer swem het. Dit blyk dat daar oor diesulkes maar net gestoomroller sal word, asof hulle nie bestaan nie.
Insiggewend is die bekendmaking tydens die Parlement betreffende die politieke leiers van die wêreld se agenda vir die gemeenskaplike rol wat die leiers van die verskillende godsdienste voortaan, rakende politieke byeenkomste, sal speel. Teen wil en dank gaan ongeveer 'n duisend godsdienstige en geestelike leiers op aandrang van die Sekretaris Generaal van die Verenigde Volke vanaf 28 Augustus 2000 voor die opening van die Algemene Vergadering te New York byeenkom vir 'n byeenkoms wat 'n paar dae sal duur. Dit is ook gesê dat die wat tot nog toe nie openlik aan Intergeloofsbyeenkomste deelneem nie en selfs ook die wat daarteen gekant is, daar sal wees.
Ons begeer so dat u dit sal sien en ook vir ander sal wys. Die video is onlangs in die radioprogram "Kollig op die Kerk" bekend gestel teen die prys van R75.00. Die opname van die uitsending is 'n geruime tyd voor dit reeds gedoen. Sedertdien is begin met die produksie van die video en is dit nou langer as wat oorspronklik beplan is. As gevolg daarvan is die dupliseringskoste, asook die koste per videokasset hoër. As u dit voor 15 Februarie 2000 bestel, kry u dit vir R75,00. Vanaf 16 Februarie sal dit R85,00 kos.
Die bywoning van die Parlement het verskeie indrukke op my gelaat. Leiers soos die direkteur mnr. Jim Kenney se standpunt was duidelik. Volgens hom probeer hulle nie om een wêreldgodsdiens daar te stel nie. Hulle streef net daarna om harmonie te bewerk tussen die verskillende godsdienste, want oorloë ontstaan telkens as gevolg van godsdiens verskille. As daar vrede en samewerking tussen godsdienste bewerk kan word, sal dit lei tot wêreldvrede. Dit was sy standpunt, maar tog was dit gou duidelik dat baie van die afgevaardigdes na die Parlement van oral oor die wêreld gekom het om die volle agt dae se verrigtinge by te woon in 'n soeke na iets meer. Daar was dan ook leiers, soos wat u ook op die video sal sien, wat duidelik te kenne gegee het dat hulle verskil met die amptelike standpunt van die direkteure Jim Kenney en Dirk Ficca. Volgens hulle ervaar almal by die Parlement dat hulle op die ou end tog een en dieselfde God aanbid. Daar kan, so stel hulle dit, slegs ware harmonie wees indien daar ware eenheid is. Dit was opvallend dat daar dikwels verwys is na die werk van die "Goeie Gees", of die "Gees", en daar is baie gepraat van die "Heilige Gees", wat so werksaam was in hulle midde tydens die Parlement.
Een van die eerste geleenthede waar ons 'n groep wat hieroor gepraat het afgeneem het, het 'n spesifieke lid van die Sjiek-geloof my opgeval. Ons het na die tyd nader kennis gemaak en 'n bietjie gesels. Die volgende dag was hy deel van die gehoor waar daar spesifiek gepraat is oor die onderwerp, die "waarheid". Dit is toe duidelik gestel dat die waarheid iets was wat ons eers ontdek die dag as ons sterf. 'n Mens wou uitroep en vir hulle vra of hulle dan nog nooit gehoor het dat Jesus Christus die weg die waarheid en die lewe is nie. In die vraetyd noem die Sjiek toe aan die spreker sekere dinge wat, soos hy dit gestel het, sy "heilige boek" oor die waarheid leer. Sy vrae oor die waarheid het my opgeval. Dit was asof hy desperaat was om meer oor die waarheid te leer. Die vae antwoorde wat hy gekry het, was net so onbevredigend soos die hele lesing.
Hierdie vraag van die Sjiek het my bygebly. Skielik was dit vir my duidelik dat van die mense wat daar was, nog nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie. Van hulle is daar omdat hulle soekende is. Baie Amerikaners byvoorbeeld, het groot geword in skole waar godsdiens verbied was. Hulle weet nie eers wie Moses of Abraham is nie. Hoe nog wie Jesus is? Al wat baie van die mense van die Christendom weet, is die optrede van die Pous op die Televisie.
Hierna het ek en Marina elke aand daaroor gepraat dat ons vir die Sjiek 'n Bybel moet gee. Filip en ek het egter snags so laat by die huis gekom, dat ons net nooit die geleentheid kon kry om by 'n boekwinkel uit te kom nie. Die tweede laaste dag, terwyl ek by my boekrak verbyloop op pad na die motor, val my oog op 'n egte leerband Studiebybel. Dit was net asof die Here vir my vrede gee om dít aan die man te gee. Die spesifieke Bybel se studienotas bevat eenvoudige uiteensettings en toon die weg van saligheid duidelik aan. Min het ek geweet dat die Sjiek se vrou ook die Parlement bywoon. Die gedagte het by my opgekom dat ek versigtig moet wees om nie die Bybel aan hom te gee as sy vrou nie by hom is nie. Tot dusver het ons hom byna elke dag raakgeloop en hy was telkens bly om ons te sien. In die motor op pad daarheen het ek en Filip die Here spesifiek gevra dat Hy asseblief sal gee dat ons die man daardie dag sal raakloop. Ons het geweet dat die volgende dag die afsluiting sou wees waar die Dalai Lama sou praat en dan sou daar weer so baie mense wees soos die Sondag toe Pres. Mandela opgetree het. Die kans om dan die Sjiek raak te loop en die Bybel vir hom te gee, sou maar skraal wees. Die Here het ons geloof op die proef gestel en eers vyfuur die middag, loop ons trompop in hulle vas. Hy stel ons toe aan sy vrou voor! Wat 'n wonderlike geleentheid het die Here ons nie gegee om vir hom die Bybel te gee nie! Saam het ons na die motor gestap. Daar het ek eers aan hom 'n kopie van die band wat ons die eerste dag van hom afgeneem het, gegee, en gesê dat ons gereken het dat hy graag sou wou sien hoe dit gekom het. Hierna haal ek toe die Bybel uit die motor. Toe sy vrou dit sien, roep sy uit: "O, it is holy Bible!" Toe sy verder die leeromslag sien, sê sy: "But it is a most expensive gift!" Die Sjiek neem dit toe met beide sy hande, druk dit teen sy bors vas en sê: "It must be the Holy Spirit who told you to do this". Ek het aan hom verduidelik dat dit inderdaad die Heilige Gees is, want ek het maar net hier diep in my hart geweet dat ek dit vir hom moes gee. Nadat ek dit by die Johannes evangelie oopgemaak het en die lint van die Bybel daar ingesit het, het ek aan hom verduidelik om juis daar te begin lees. Ek het geweet dat hy dit wat hy omtrent die waarheid soek sonder twyfel onder andere in Johannes 14 en 16 sal vind. Daarna het ons adresbesonderhede uitgeruil. Uit sy besigheidskaartjie het dit geblyk dat hy 'n professionele beroep beoefen in een van die groot wêreldstede. Hy het aan my verduidelik dat hulle oorspronklik van Indië is, maar nou in hierdie stad bly. En toe sê hy 'n aangrypende ding: "Sien, dit is my werk, maar ek werk net twee dae 'n week op kantoor. Die res van my tyd spandeer ek daaraan om die waarheid te soek. En dan help ek ook met die organisering van die plaaslike Intergeloofsbyeenkomste." Hoeveel tyd spandeer ons daaraan om die waarheid te ken? Ek het toe aan hom verduidelik dat ek glo dat dit juis daarom is dat die Heilige Gees my gelei het om die Bybel aan hom te gee. Hy het toe sy kamera aan sy vrou gegee sodat sy 'n foto kon neem van hom saam met my en Filip.
Ongeveer twee weke gelede het ons 'n kerskaartjie van hulle ontvang met een van hierdie foto's daarin!
Wil u nie saam met ons bid dat die Here hierdie man en sy vrou sal red nie?
Groete in die Naam van die Here Jesus.
Naas le Roux
| "Met die
vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die
hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat
daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin,
sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die
vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n
oorvloedige seën sal uitstort nie". (Mal. 3:9, 10) |
- Ignatius A le Roux
Maleagi sê aan die volk dat God sy seëninge van hulle weerhou, omdat hulle dinge van Hom weerhou. Hulle weerhou God daarvan om hulle te seën, omdat hulle suinig geword het. God het sy tempel onder hulle as die sigbare teken van sy teenwoordigheid op aarde gegee. Hy vra van hulle om daarheen te bring 'n tiende van alles, en om dit met dankbaarheid te gee en te sê: "Ons is afhanklik van U om ons te seën." Hulle weerhou dit egter van Hom, daarom kan Hy nie anders as om sy beskermende en seënende hand van hulle te weerhou nie.
In die laaste Kérugma Bulletin het ons eerstens gesien dat dit nie Ou Testamenties of wetties is om tiendes te gee nie, maar dat Abraham reeds tiendes gegee het voordat die wet aan die volk Israel gegee is.
Tweedens het ons gesien dat ons nie tiendes gee om finansiële rampe af te weer of om God daarmee te manipuleer sodat Hy ons finansieel sal seën nie.
Derdens het ons gesien dat God met die oorvloedige seën waarvan Hy in Maleagi 3:10 praat, veel meer bedoel as finansiële seën. Dit sien veral op die uitstorting van die Heilige Gees wat tot gevolg sou hê dat die kinders van Abraham hulle Hemelse Vader uit 'n opregte hart sou liefhê en gehoorsaam.
In sy genade het God in Deuteronomium 28:1-14 uiteengesit hoe Hy sy volk sou seën as hulle gehoorsaam sou wees aan sy wil. Weens sy kennis van die mens se sondigheid het Hy egter ook in Deuteronomium 28:15-68 verder onderneem dat sekere vloeke diegene wat ongehoorsaam is, sou tref. Vloeke tref mense nie omdat God in sy woede allerhande onheile op ons uitstort nie. Weens ons ongehoorsaamheid kan Hy ons nie seën nie. Sommige mense gee die duiwel 'n reg in hulle lewens deur hulle ongehoorsaamheid, sodat Satan hulle op verskillende wyses kan aanval. Israel het die tempel van die Here nie in stand gehou nie en daarom sê Hy in Maleagi 3:9 vir hulle: "Met die vloek is julle belaai...". Dit is die vloek van Deuteronomium 28:15-68.
Die Nuwe Testament sê ook:
| "Wie
spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai, en wie
volop saai, sal ook volop maai." (2 Kor. 9:6) |
So sê Maleagi vir hulle dat hulle slegs vrug ontvang op dit wat hulle gesaai het. Hulle het gruwelik in die verwagting van God gefaal. Hulle het Hom geïgnoreer en Hom teleurgestel. Tog vra Hy dat hulle Hom op die proef moet stel.
Wanneer God sê dat ons Hom moet beproef, dan is dit asof Hy 'n geleentheid vra om Homself in sy volheid en na sy ware integriteit aan ons te openbaar. Hy kan nie Homself maar net so aan die wêreldgesinde mens openbaar nie. Hy soek mense wat 'n ware, diepgewortelde begeerte na Hom het. Aan húlle wil Hy Homself gee. Daarom beveel Hy ons om Hom te soek en Hom op die proef te stel. Dit beteken dat Hy mense soek wat gedurig aktief besig sal wees om sy oorvloedige seën te soek. Mense wat nie gou moed sal opgee nie, maar wat sal aanhou soek totdat Hy dit gee.
U sien, mense wat God só sal beproef, is ook mense wat gedurende die hele proses waarin hulle God beproef, self ook deur en deur gelouter sal word. Ons kan nie só voor God staan en sy seën van die hemel afbid, sonder dat God se liefde en heiligheid ons sal verlig en ons deur en deur sal reinig nie.
Wanneer ons ons tiendes na sy huis bring en daar sy seën oor die kerk afbid, dan sal ons maar net telkens ervaar hoedat die soeklig van sy heilige oë ons hele wese deurpriem. Dit is dan dat ons telkens sal besef waarom die seën nog nie kom nie.
God ken die mens. Hy weet dat die mens reken dat die seën wat in Maleagi 3:10 belowe word, oorvloed op materiële gebied inhou. Hy weet ook dat diegene wat al verder gevorder is, van beter weet. Ja, dat hulle weet dat die seën eintlik geestelike seëninge is. En Hy weet dat vir diegene wat dit weet, die gevaar bestaan dat hulle graag hierdie geestelike seëninge wil hê, sodat hulle die "geestelikes" kan wees na wie andere moet opsien.
O, God ken ons harte en weet dat dit deur en deur bedorwe is. Hy beveel ons dus om HOM te beproef. Hy nooi ons juis om Hom te beproef deur die gee van ons tiendes, want Hy weet watter mag die wêreld, die vlees en die Satan juis deur geld oor ons het. Hy kén ons en weet dat sommige Maleagi 3:10 sal wil toepas om sy seën te koop deur hul tiendes te gee. Simon die towenaar wou so die gawe om mense met die Heilige Gees te doop, met sy geld koop (Hand. 8:17-19).
Ja, Hy beveel ons om Hom te beproef deur die gee van tiendes, want daardeur kry Hy ons so ver dat Hy ons deur en deur kan beproef. Slegs aan diegene wat Hom enduit beproef en nie verslap of moedeloos word nie, aan hulle vervul Hy die belofte van die oorvloedige seën. Kan u sien waarom dit hier gaan? Vir God gaan dit om sy koninkryk, om sy wil, om sy tempel, sy huis op aarde. Sy tempel was bedoel as die plek waar Hy Homself te midde van sy volk sou openbaar op aarde sodat alle mense in hierdie wêreld Hom sou leer ken.
Ons kom dan voor die vraag te staan: "KEN JY DIE HEILIGE GEES?" God die Heilige Gees is deur God die Seun na hierdie wêreld gestuur om binne-in ons te woon sodat ons die tempel van God die Vader kan wees. Ons het in 2 Korintiërs 6:16 gesien dat daar waar ons almal saam is, dáár is ons die tempel van God. Paulus vra dan ook aan ons:
| "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?" (1 Kor. 3:16). |
Hy gaan egter nog verder en waarsku ons uitdruklik:
| "As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle." (1 Kor. 3:17). |
As ons ons tiendes van die tempel van God weerhou, skend ons nie dan die tempel nie? Veroorsaak ons nie dan dat daar nie vanuit die tempel geleef en gewerk kan word nie? Maak ons nie dan die tempel arm en beklaenswaardig in hierdie wêreld nie? Ons kan veroorsaak dat die tempel nie 'n getuienis in hierdie wêreld is nie. Ons kan die seëninge van God vir sy kinders weerhou deur nie ons tiende aan Hom te gee nie.
In hierdie reeks oor die vrywillige offers en die tiendes het ons onder andere geleer hoedat God deur ons, wat sy seuns en sy dogters is, Homself in hierdie wêreld openbaar as 'n Vader in die hemel wat lief is vir die mens op aarde. Dit is vir ons om voor ons God te staan op die belofte van Maleagi 3:10 dat as ons ons tiendes gee, Hy die vensters van die hemel sal oopmaak en sy Heilige Gees op ons sal uitstort. Dit is wat ons nodig het in hierdie dae. Dit is vir ons nodig om te bid vir herlewing. Dit is vir ons nodig om te bid dat dit wat in God se hart leef en dit wat Hy graag wil gee, sal deurbreek in hierdie wêreld.
Ek dink nie daar was al 'n tyd in die wêreld se geskiedenis waarin dit noodsaakliker was as nou dat God die vensters van die hemel sal oopmaak en 'n oorvloedige seën op al sy kinders sal uitstort nie. Dit is vir ons nodig om te bid dat God 'n bewussyn by al sy kinders sal bring dat hulle hul tiendes vir Hom moet gee, sodat Hy hulle kan seën en hulle kan gebruik. As dit gebeur, sal die tempel, sy kerk, herstel kan word en sal die kerk dit kan wees wat God graag wil hê dat dit moet wees. 'n Lig vir die nasies!
God wil die hele wêreld bereik en Hy vra van ons maar net ons tiendes sodat Hy ons kan seën en tot 'n seën vir al die nasies kan maak. Hy beloof hierdie oorvloedige seën in antwoord op die gee van die tiendes alleen. Hy raak hier nie eers die vrywillige offergawes aan nie. Hoe 'n seën sal sy kerk nie in hierdie wêreld wees as elkeen van sy kinders ook hul vrywillige offers sal gee nie!!
Kom ons vra onsself: Stel ons die Here op die proef? Ons wat sê dat ons nog altyd ons tiende gee, is die oorvloedige seën uit die hemel al op ons uitgestort? Leef ons onder daardie seën? Ervaar ons elke oomblik van die dag hoedat die Heilige Gees in volle krag vanuit die hemel in ons werk? Is ons seker dat God nie dalk vir ons ook vra: "Mag 'n mens God besteel?"
Gee ons ons tiendes en offergawes sodat dit vir God tot 'n seën sal wees? Gee ons dit met die verwagting dat dit Hom gelukkig sal maak? Is dit ons begeerte dat Hy ons gawes deur diegene wat Hy aangestel het, sal kan gebruik soos dit Hom behaag, of het ons voor- en afkeure ten opsigte van die aanwending daarvan?
Kom ons ondersoek die motiewe waarmee ons die wil van die Here doen. Gee ons ons tiende regtig met suiwer bedoelinge in 'n algehele oorgawe? 'n Oorgawe waarin ons onsself met alles wat ons is en het, aan Hom oorgee. Is vreugde, blymoedigheid en verwagting, die draers van die offers wat ons gee? 'n Verwagting dat God ons, as sy kerk, daardeur sal seën?
Die Ou Testament leer onder andere in 2 Kronieke 31:4-15 en Nehemia 10:38-39 dat daar 'n duidelike verband is tussen die gee van tiendes en herlewing. Dit is eintlik nodig om die hele herlewing onder Hiskia in 2 Kronieke 29 tot 32 te lees om die belangrike rol wat die gee van die tiendes daar gespeel het, reg te begryp. Toe Hiskia op 25-jarige ouderdom koning geword het, het hy dadelik die tempeldiens heringestel. Die eerste stap was om die priesters en die Leviete weer in hul poste aan te stel. Hiermee saam gee hy dan die opdrag aan die volk:
| "... om die aandeel van die priesters en die Leviete te gee, sodat hulle aan die wet van die Here al hulle krag kon wy." (2 Kron. 31:4). |
Hierna word verhaal hoe die volk spontaan gereageer het.
| En toe die bevel verbrei is, het die kinders van Israel baie eerstelinge van koring, mos en olie en heuning en van elke opbrings van die land ingelewer en die tiendes van alles in menigte ingebring. En die kinders van Israel en Juda wat in die stede van Juda woonagtig was, hulle het ook die tiendes ingebring van beeste en kleinvee en die tiendes van die heilige gawes wat aan die Here hulle God geheilig was, en dit op hope neergelê (v. 5-6). |
Die hoëpriester verduidelik dan aan Hiskia:
| "Vandat hulle die offergawe na die huis van die Here gebring het, eet ons tot versadiging en hou nog oorvloedig oor; want die Here het sy volk geseën, sodat ons hierdie menigte oorgehou het". |
Dit was die begin van die herlewing!
So blyk dit dan dat die seën van God en die hartlike en spontane gee van die tiendes hand aan hand gaan. Toe die tempeldiens heringestel is, het die volk hul tiendes gegee. Die gevolg was dat die Leviete en priesters hul werk na behore kon doen. Die tempeldiens kon dus volgens die voorskrifte van God en tot sy eer op die regte wyse voortgaan.
God begeer om die mens te seën, maar Hy doen dit vanuit sy tempel op aarde. Deur sy kinders laat Hy sy strome van seën deurvloei na die wêreld. Sorg ons reg vir die instandhouding van sy tempel?
| "My huis moet
'n huis van gebed genoem word vir al die nasies." (Mark. 11:17; vgl. Jes. 56:7). |
Die Here Jesus sê dat die Vader ware aanbidders soek wat Hom in gees en waarheid aanbid (Joh. 4:23). As ons ons tiendes gee, gee ons dit soos die Fariseërs en die Skrifgeleerdes gegee het, om maar net 'n wet na te kom, of seën God ons, in antwoord daarop, omdat ons dit in die verwagting gee dat Hy ons sal seën? Gee ons dit as 'n teken aan Hom dat ons onsself geheel en al vir Hom gee? Gee ons dit omdat ons Hom dien met ons hele hart, met ons hele siel, met al ons krag en met al ons verstand? Gee ons dit omdat ons leef uit die krag wat God die Heilige Gees aan ons verleen?
Is ons werklik 'n tempel van God die Heilige Gees? Die tempel waarin en waardeur God Homself openbaar aan al die mense in die wêreld? Jesus het aan ons die opdrag gegee: "Gaan maak dissipels van al die nasies." Is ons besig om dit te doen?
In die gelykenis van die groot maaltyd lees ons hoedat die heer vir sy dienskneg sê:
| "Gaan uit op
die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom,
sodat my huis vol kan word." (Luk. 14:23). |
God begeer dat sy tempel vol sal wees van die mense uit alle nasies, volke en tale soos hulle gedurigdeur aankom en tot bekering kom. Hy begeer dat hulle hul skatte, goud, silwer en koper sal aanbring na sy huis, sodat des te meer manne en vroue van God in staat sal wees om uit te gaan en die wêreld vir God te verower.
Hoe lyk God se tempel vandag op aarde? Soos wat Hy begeer het dat dit moet wees? Ons lewe in 'n tydperk waar na berekening 70 persent van die huidige mensdom nog nie die Naam Jesus Christus ken nie en nie weet dat Hy aan die kruis van Golgota vir hulle gesterf het nie. Duisende mense sterf daagliks deur natuurrampe, oorloë, ens. Mense, beelddraers van God, net soos u en ek, wat sonder Christus die ewigheid ingaan. Hoeveel duisende gaan nog in die volgende paar jaar die ewige dood in sonder dat hulle bewus was van die tempel van God op aarde en dat Jesus Christus lééf om die ewige lewe aan hulle te gee! God openbaar Homself aan die mensdom deur mense soos u en ek. Is ons waarlik sy tempel waardeur Hy Homself daagliks aan die verlore wêreld kan openbaar?
Die Heilige Gees is op Pinksterdag uitgestort en het die dissipels gevul met die heerlikheid van die Here Jesus Christus. God het hulle as sy tempel op aarde gebruik en duisende mense het tot bekering gekom. God die Heilige Gees het deur hul lewens die wêreld oortuig van sonde, van geregtigheid en van oordeel. Hulle het die werke gedoen wat Jesus gedoen het en groter werke as dit (Joh. 14:12). Hulle het geleef in die volheid van die Gees. Hulle het gestaan in die teken daarvan dat hulle die tempel van God die Heilige Gees was.
Hoe kort daarna moet Paulus nie aan die Korintiërs skryf: "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?" Wéét julle dan nie dat júlle die tempel van God die Heilige Gees is, dat julle heilig is, dat julle afgesonder is uit die wêreld nie?
Handelinge 6:4 wys hoedat diakens gekies is om sekere funksies te verrig sodat die apostels kon "volhard in die gebed en die bediening van die woord". Hoeveel predikante, pastore, gees- telike werkers en sendelinge is daar vandag in hierdie wêreld wat dit kan waag om hulle aan die gebed en die verkondiging van die Woord alleen te wy? Hoeveel is daar wat nie gebuk gaan onder 'n las wat maak dat hulle nie hul werk kan doen nie? Hoeveel is daar wat nie allerhande ander dinge moet doen of selfs ander beroepe moet beoefen eerder as om hulle te wy aan die gebed en om die Woord te bestudeer en dit uit te lê nie? Die bedoeling van die tiendes en die offergawes is:
| ... sodat hulle aan die wet [die Woord] van die Here al hulle krag kan wy (2 Kron. 31:4). |
Kan ons in hierdie tyd praat van die tempel van God? Sê Maleagi 3:10 nie dalk vandag vir ons dat ons moet opskud nie? Moet ons nie weer begin om God te beproef nie? As ons na die kerk en na onsself kyk, moet ons nie dan Maleagi 3:10 in alle erns gehoorsaam en ons tiendes gee, sodat God sy oorvloedige seën kan uitstort nie? Ja, dat God die sluise van die hemel kan oopmaak en dit wat sy begeerte vir ons is, vir ons kan gee nie?
"Jou dief!" Dit is wat God in Maleagi 3 sê. Liewe leser, as ons nie die oorvloedige seëninge ervaar nie, dan moet ons onsself afvra: "Waarin beroof ons ons God?" Doen ons dié deel wat ons moet doen? Gee ons dit wat ons moet gee, sodat God kan doen wat Hy graag wil sien gebeur?
Die bestaansrede vir die kerk van Jesus Christus is sodat elke skepsel op aarde sal weet dat Jesus Christus vir hóm aan die kruis gesterf het. God vra dat sy kinders seker moet maak dat daar spys in sy huis sal wees, sodat sy diensknegte vry kan wees om hulle werk te doen, sodat sy Naam oor die hele aarde geheilig en nie onteer sal word nie. Is die kerk waaraan ons behoort, 'n oneer vir die Naam van die Drie-enige God, of word Hy daardeur geëer? Seën Hy die wêreld waarin ons ons bevind deur die kerk waaraan ons behoort?
In Handelinge 3 lees ons dat almal alles gemeenskaplik besit het. Hulle het niks as hul eie beskou nie. Dit was alles God s'n. U sien, herlewing kos iets. Om te wees op die geestelike vlak waarop God begeer dat u en ek moet wees, gaan vir ons iets kos! God vra vir ons:
| Mag 'n mens God
beroof? Want julle beroof My, en julle sê: "Waarin
het ons u beroof?" In die tiendes en die offergawe.
Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My,
julle, die hele nasie! (Mal. 3:8,9) |
Ons wat sê dat ons kinders van God is, as ons kyk na wat God in Maleagi 3:10 vir sy kinders beloof, hoe lyk dit, is ons met die vloek belaai, of oortuig die Heilige Gees die wêreld rondom ons? Stroom die Heilige Gees uit ons uit as riviere van lewende water? Volgens Maleagi was dit destyds die groot probleem dat die volk nie bewus was van hul sonde nie, nie bewus was daarvan dat hulle God beroof nie. Hulle was vas aan die slaap en het vir God gevra: "Maar wat is dan fout?" So asof die fout by die Here gevind moes word.
O, as God se kinders sal weet om die hele tiende na die skathuis te bring! As God se kinders net sal weet wat dit beteken om dit gereeld na sy huis te neem! O, as die Woordverkondigers in ons dag die mense reg sal leer in verband met die rede vir die gee van hul tiendes, dan sal God weer die vensters van die hemel oopmaak en 'n oorvloedige seën op sy kinders uitstort, sodat hulle 'n seën kan wees!
Maleagi 3:10 roep ons om gereeld en getrou een ding te doen. Dit is die een voorwaarde vir God se oorvloedige seën in die wêreld. elke kind van God ís geroep om sy/haar tiendes na die skathuis te bring en God se oorvloedige seën te ontvang. O, as elkeen dit sal doen, hoe groot gaan die seën nie wees waarin almal saam gaan deel nie!
As ons waarlik herlewing begeer, kan ons begin deur reg te gee. Die gebed om herlewing is 'n hart-deursoekende gebed, want hierdie gebed bring baie groot verantwoordelikhede mee. Die verantwoordelikheid is om waarlik kind van die Vader in die hemel te wees; om nougeset volgens sy Woord te lewe.
Kom ons bid en vra God om ons genadig te wees, om ons om te keer, ja om ons van ons selfvoldaanheid te bekeer tot selfopoffering, dat ons mense sal wees wat soos God gee. God is liefde en daarom géé Hy sy Seun (Joh. 3:16). Kom ons leer om te gee. Kom ons gee ons self; ons alles.
Die Here Jesus het die skande van die kruis verag, maar Hy het daaraan gehang om te wys dat daar 'n afstand tussen Hom en die wêreld is en dat Hy nie deel van hierdie wêreld is nie. Hy het die wêreld duidelik laat verstaan dat Hy hul veragting aanvaar. Laat die Heilige Gees toe om jouself ook so gans anders as die wêreld te maak soos wat Jesus anders was, sodat dit wat Paulus in Galasiërs 6:14 sê, ook vir ons sal geld:
| Deur die kruis van Jesus Christus is ... die wêreld vir my gekruisig ... en ek vir die wêreld. |
Kom ons gee onsself vir die Gees van God omons te verander tot mense wat vir God lewe. Ons Vader in die hemel begeer net een ding en dit is om ons te seën met die keur van sy seëninge. Ja, Hy wil ons seën met alle geestelike seëninge in die hemele. Hy begeer om ons deur sy Gees te vervul met sy lewe, met die hemelse lewe, sodat ons mense sal wees wat in hierdie wêreld besig sal wees om dissipels te maak. Kom ons word deel van die tempel van God op aarde waarin daar spys is, waarin daar lewe is, waarin daar oorvloed is. Die tempel van waaruit die wêreld bedien word met die liefde en die genade van God. Kom ons kom die een voorwaarde vir die oorvloedige seën na. Kom ons beproef die Here in hierdie saak.
Die hartsgesindheid wat God in Maleagi 3:10 openbaar, is dié van 'n Vader wat werklik begeer om sy kinders met hierdie oorvloedige seën te seën. Die vraag kan egter gevra word of dit wat God hier belowe, regtig sien op die seën van Abraham en uiteindelik ook op die belofte van die Gees. Vir 'n antwoord hierop is dit nodig om te kyk na presies wat God belowe. Dit is iets kosbaars om te sien wat God sê. Die belofte behels dat die Here "die vensters van die hemel sal oopmaak" en sodoende "'n oorvloedige seën sal uitstort".
In die Ou Testament wys die beeld van die vensters of die deure van die hemel wat oopgemaak word, telkens daarop dat die oorsprong van die seën die hemel is. God is die Een wat die seën beheer en Hy gee dit soos Hy wil, wanneer Hy wil en aan wie Hy wil. Hy gee dit dan vanuit die voorraadkamers van sy tempel in die hemel. Waar hierdie beeld voorkom, dui dit op seën op materiële gebied (Deut. 28:12) of sorg vir die nodige voedsel (2 Kon. 7:1-2,19-20).
So het God byvoorbeeld "die deure van die hemel oopgemaak" toe Hy tydens die woestyntog die manna op die Israeliete "laat reën" het (Ps. 78:23-25). Die manna word daar ook genoem die "koring uit die hemel" en "die brood van die engele". Met verwysing hierna het die Jode aan Jesus gesê dat God aan hulle vaders "brood uit die hemel" gegee het. Jesus se reaksie hierop was:
| "Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood
uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee
julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van
God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld
die lewe gee". "Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie." (Joh. 6:32-33,35). |
Die manna in die woestyn het dus 'n dieperbetekenis gehad. Dit was voedsel wat God aan sy kinders gegee het, sodat hulle in die woestyn kon leef. God het hierdeur in hul onmiddellike fisiese lewensbehoeftes voorsien. Dit het egter gesien op die eintlike, die dieper, die geestelike lewe. Hierdie ware ewige lewe kry die mens deur in God en sy Seun, die Brood van die Lewe, te glo. Daarom dat Jesus sê:
| "Ek is die
lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand
van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid." (Joh. 6:51). |
Die Israeliet moes dus weet dat soos die manna in die woestyn aan hom die lewe gee, so is die Gewer van die manna ook die Een wat die ewige lewe gee. Die oopmaak van die deure van die hemel dui dus duidelik op 'n tweërlei seën. Tweërlei in die sin dat dit vrug dra op beide die materiële en die geestelike aspekte van die lewe.
Om dit te begryp, is dit nodig om te weet dat daar nie vir God 'n wesenlike onderskeid is in die seën wat Hy op materiële gebied of op geestelike vlak gee nie. Dit bly God wat seën in die gesindheid van 'n Vader wat vir sy kinders die beste wil gee. Die bedoeling waarmee Hy seën, is dat Hy sy kinders gelukkig wil maak. Die vrug wat spontaan daaruit voortvloei as Hy hulle seën, is dat hulle tot 'n seën vir andere word. As Hy sy kinders seën, dan sien andere watter wonderlike Vader hulle het en begeer hulle om ook sy kinders te wees.
Ons moet daarteen waak dat die bedoeling van die seën nie misverstaan word nie. So dikwels wanneer God die vensters van die hemel open en sy kinders ryklik seën met materiële dinge, dan vergeet hulle wat die bedoeling daarvan eintlik is. Hulle kyk dan weg van Hóm wat die seën gee omdat hulle aandag vasgevang word deur die seën wat hulle ontvang. God wil graag hê dat hulle die seën sal geniet, maar nie sonder dat hulle Hóm sal onthou en daardeur vir andere tot 'n seën sal wees nie (vgl. 2 Kron. 31:9-10; 2 Tim. 6:17-19).
Die Israeliete is baie keer oorvloedig deur God geseën. Hulle het Hom egter telkens die rug toegekeer, tevrede met alles wat hulle het. Juis met die wonderwerk van die manna en die kwartels in die woestyn, het dit ook gebeur:
| Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. Hulle was nie weg van hul begeerte nie - hulle voedsel was nog in hulle mond - toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het. Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. (Ps. 78:29-32). |
Wanneer God die vensters van die hemel oopmaak, gaan dit nooit om sy volk bloot op materiële gebied te seën nie. Die manna en die kwartels het 'n dieper geestelike betekenis gehad. Die heel minste wat daarin gesien en ervaar kon word, is dat daar Een is wat op 'n buitengewone wyse vir hulle sorg.
Waar God in Deuteronomium 28:12 aan Israel beloof dat die hemel oopgemaak sal word, word dit duidelik gestel dat dit tot 'n voorbeeld en tot 'n voordeel vir die heidene sal wees:
| Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. |
Dit blyk dus duidelik dat wanneer God in sy genadige beskikking die hemel oopmaak, dit om baie meer as net reën en voedsel gaan. God sien verder as dit. Hy weet wat die mens nodig het. Daarin versorg Hy sy kinders (vgl. Matt. 6:8,30,33). Sy sorg vir hulle gaan om hulle self, maar ook om deur hulle andere na Hom toe te trek. Die reën en die voedsel wat Hy gee, kan egter nooit losgemaak word van die dieper doel wat Hy daarmee het nie.
In Jesaja 64:1 blyk dit dat Israel goed geweet het wat hierdie dieper doel van God met hulle was. Hulle bid dat God die hemel oor hulle moet oop- skeur. Uit die konteks van die hele gebed blyk dit dat hulle dit nie vra ter wille van finansiële voorspoed nie. Israel is in ballingskap. Die volk van God is die bespotting van hul vyande. In hierdie haglike omstandighede bid hulle "Ag, as u maar die hemele wou skeur, wou neerdaal ..."
Ja, as God hulle genadig sou wees en hulle as sy volk kragtig sou oprig, sou eer en herstel, dan sal die nasies bewe. Hulle sal bewe soos die inwoners van Jerigo gebewe het, al die jare sedert hulle gehoor het dat die God van Israel sy volk droogvoets deur die Rooisee gelei het (Jos. 2:8-11). Ja, as U maar "wou neerdaal ... soos vuur die houtjies aan die brand steek ..." Sou dit sien op die doop met vuur? "... om u Naam aan u teëstanders bekend te maak ..." God se teëstanders is die goddelose nasies wat Hom nie ken en wil erken nie.
Wanneer die Heilige God van die hemel sy woning oor sy volk skeur, dan heilig Hy hulle nie net as syne nie. Nee, wanneer hulle sy heiligheid deelagtig word, dan brand sy vuur hulle skoon en word hulle gelouterde goud deur wie Hy Homself in sy heiligheid aan die nasies openbaar (vgl. Mal. 3:1-4).
Dit is waaroor dit ook in Maleagi 3 gaan. Wanneer God die hemele skeur, die vensters van die hemele oopmaak, dan gee Hy onder andere ook materiële en finansiële seën. So beloof Hy byvoorbeeld in Maleagi 3:11:
| "Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie". |
Dit gaan egter vir Maleagi oor veel meer as net suksesvolle oeste. In Maleagi 3:1 word voorspel hoedat Johannes die Doper; "my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan", sou kom.
Die res van die vers is 'n profesie dat die Here Jesus, die Messias, "die Engel van die verbond", sal kom. Dit is 'n profesie van sy eerste koms. In vers 2 volg dan 'n profesie van sy wederkoms. Hierdie profesieë word dan verder in onder andere vers 12 opgevolg met 'n beskrywing van die seën wat op sy wederkoms sal volg:
| "... al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees," sê die Here van die leërskare. |
Hierdie profesie volg die belofte van materiële seën in vers 11 op. Die doel van die materiële voorspoed wat in vers 11 beloof word, is dat al die nasies sal weet wie die Outeur van die seën is. Wanneer hulle sien hoe geseënd Israel is, sal hulle nie anders kan as om te erken dat die hand van die Here dit gedoen het nie (vgl. Jes. 41:20). Hierdie belofte is tot nog toe nie vervul nie. God gaan egter wel sy woord nakom.
Met die wederkoms gaan Jesus sy volk reinig soos verse 2 en 3 sê. Die dinge wat in hierdie profesieë voorspel word, sal in die koninkryk van die Here Jesus Christus in vervulling gaan (Op. 20:1-6). Dan gaan Hy hierdie dinge doen. Dit is dan ook hiervoor, vir sy koms, dat daar in Jesaja 64:1 gebid word. Die wederkoms van die Here Jesus Christus sal dan ook die beantwoording van hierdie gebed wees.
Vandag word hierdie woorde ook gebid in die verwagting dat dit wat dan in volle heerlikheid gaan wees, nóú al reeds die deel kan wees van hulle wat getrou die voorwaardes van die beloftes nakom. Ja, dit is God se wil dat Maleagi 3:12 nou ook waar sal wees. God gee vandag ook aan sy kinders die voorreg om hul tiendes na sy huis te bring. Hy gee Homself daarvoor dat ons Hom mag beproef, want Hy begeer om die vensters van die hemel oop te maak en sy seën oor ons uit te giet totdat dit oorloop.
In die Hebreeus kan "oorvloedige seën" op twee wyses verstaan word. Enersyds staan daar dat die Here 'n seën oor hulle wil uitgiet totdat dit uitgeput is. Dit sien daarop dat Hy alles tot sy beskikking in die skatkamers van sy tempel in die hemel sal uitstort totdat daar niks meer oor sal wees nie. Andersyds kan dit vertaal word dat die Here 'n seën oor ons sal uitstort totdat dit oorloop.
Daar is egter diegene wat sê dat dit bloot op materiële seën sien. Hulle vertaal dit dan as "reën" wat uitgegiet sal word, meer as wat gebruik kan word. God werk nie op hierdie wyse nie.
Waar Hy die vensters van die hemel oopmaak om reën te gee, is dit reën op die regte tyd (Deut. 28:12) en nie in 'n te groot mate nie. Ons weet dat te veel reën skadelik kan wees, selfs rampspoedig. Wie sal daarvoor hulle tiendes gee? In die oorspronklike Hebreeus kom die woord "reën" glad nie in Maleagi 3:10 voor nie. Nee, hier staan, soos die New American Standard Bible dit vertaal: "... a blessing until it overflows".
Die woorde "oorvloedige seën" in Maleagi 3:10 kan dan soos volg vertaal word:
| "... beproef My tog hierin ... of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n seën sal uitstort tot dit oorloop nie." |
Volgens die oorspronklike taal sien dit daarop dat God sê dat Hy begeer om aan hulle alles wat Hy het, te gee. Ja, Hy wil hulle seën met 'n seën wat nooit sal ophou nie. Sy voorraadkamers is onuitputlik en solank sy voorrade hou, wil Hy hulle aanhou seën. Wil hulle Hom nie dan maar altyddeur hierin beproef nie?
Wanneer 'n Joodse gesin op 'n Vrydagaand die Sabbat vier, dan gebruik hulle onder andere 'n silwer beker wat op 'n silwer skinkbord staan. Die moeder neem dan druiwesap, skink dit in die beker totdat die beker daarvan oorloop en die skinkbord self ook gedeeltelik daardeur bedek is. Die betekenis daarvan is dat die seën van die Sabbat oorvloei na die volgende week.
Dit is na hierdie volle, ryke, oorvloedige maar ook voortgaande seën dat die skaap in Psalm 23:5 verwys wanneer hy getuig van die sorg van sy Herder: "... my beker loop oor".
Dit is baie interessant dat die Here sê dat sy begeerte jeens ons is om sy seën oor ons uit te stort. In die Hebreeus beteken dit om 'n kruik om te keer en sy inhoud uit te giet. Dit is sinoniem met die Griekse woord wat in Handelinge 2:33 gebruik word om te sê dat die Here Jesus Christus op Pinksterdag die Heilige Gees "uitgestort" het.
Sal ons nie die Here vertrou om die hemel bo ons te skeur nie? Sal ons Hom nie op die proef stel sodat Hy sy seën wat Hy volledig oor ons wil uitgiet, aan ons kan gee nie? Kom ons neem 'n besluit om ons tiendes voortaan met oorgawe en in groot verwagting te gee.
Die Vader - so sê Efesiërs 1:3 - het ons geseën "met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus". Hy begeer om ons te seën met 'n seën wat sal oorvloei tot in alle ewigheid. Is ons bereid om Hom altyddeur te beproef sodat Hy sy seën oor ons kan uitgiet?
| "Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie." |
'n Goeie voorbeeld van gehoorsaamheid aan hierdie opdrag van die Here sien ons in die lewe van Loeng Sieng van Laos soos vertel deur Jan Pit.[1]
Na 45 jaar verslawing aan opium het Loeng Sieng van die Here Jesus Christus gehoor en tot bekering gekom. Die pad wat hy van hier af moes loop, was 'n plesier, maar nie altyd ewe maklik nie. Op 'n dag toe hy en sy vrou besef dat hulle die laaste sak rys oopgemaak het en daar geen vooruitsig was dat die rysvoorraad gou aangevul sou kon word nie, blaai hy deur die Bybel op soek na 'n antwoord. Nadat hy Matteus 6:25-34 gelees het, het hy teruggeblaai. Hy ontdek toe 'n skoon bladsy tussen Matteus 1 en Maleagi 4. Hy kon dit nie verstaan nie. Die Bybel is "mos alles die Woord van God! Dit lyk snaaks, die skoon bladsy, asof God niks gesê het nie."
Loeng het toe verder gelees en hom boeglam geskrik toe hy in Maleagi 3 sien dat God sê dat hy Hom besteel het. Om die storie kort te maak: op die ou end het hy die enigste sak rys wat hulle gehad het, gaan haal. Ds. Jan Pit vertel verder wat Loeng en sy vrou Boenma toe gedoen het:
| Hulle het 'n emmer geneem, dit
vol gegooi en daarna in 'n ander sak gesit, om so uit te
vind hoeveel emmers nog oor was. Daar was net elf emmers vol. Toe, sonder om iets te sê, het Sieng 'n emmer vol uitgeskep en in 'n houer gegooi. Daarna het hy die emmer weer half vol gemaak en dit ook in die houer bygesit. "My man, wat doen jy nou. Jy gee te veel. Jy hoef tog net 'n emmer en 'n handvol te gee ..." Skielik, voordat Sieng kon antwoord, vervolg sy: "Nee, dis goed Sieng. Ek is jammer. Gee maar baie terug aan die Here. Hy het mos alles vir ons gegee." Ek het 'n knop in my keel gekry toe ek hulle so besig sien. Dit was egter nie ál nie. Sieng het buitekant toe gegaan na die hoenderhok. Hy het getel, daar was presies twintig hoenders en in 'n ander hok ook nog nege eende. Sieng het twee hoenders gevang en een eend. "Adjaan, ek sal alles probeer verkoop op die mark en die opbrengs Sondag in die kollektebordjie gee. Is dit reg so?" Ek was te verbaas om 'n antwoord te gee. Sondag by die erediens het hy die geld sonder seremonie in die kollektebord gesit. Omdat ek gevoel het dat ons in die saak van Sieng kan leer, het ek daardie oggend ook oor die gee van tiendes gepreek en toe vir Sieng gevra om te vertel wat hy die afgelope paar dae geleer het. Sieng het verleë opgestaan en verskoning gemaak dat dit wat hy geleer het nie juis 'iets besonders' was nie. Die gemeente het aandagtig geluister. Baie het al gehoor van die gee van die tiende, maar tog nooit iets daaraan gedoen nie. Hulle was beskaam deur die geloof en gehoorsaamheid van Sieng. Baie Christene het sy getuienis beantwoord deur te belowe dat hulle van nou af ook 'n tiende sou gee vir die werk van die Here. [1] Pit, J. Loeng Sieng, die stryd en oorwinning van 'n Christen onder kommunisme. 'n Publikasie van Geopende Deure SA, p.60-64. |
Die Here Jesus sê:
| "Voorwaar Ek
sê vir julle, as julle nie verander en soos die
kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk
van die hemele ingaan nie!" (Matt. 18:3). |
Is ons nog bereid om te verander? Is ons bereid om verander te word deur die vernuwing van ons gemoed? (Rom. 12:2) 'n Mens se gemoed bepaal hoe hy dink en voel oor dinge. Is ons bereid om onsself te gee sodat die Heilige Gees ons gedagtes kan vernuwe, sodat ons sal kan dink en voel oor dinge soos God dit sien?
Ja, kom ons laat, ook in die wyse waarop ons God se geld hanteer, ons gemoed VERANDER en vernuwe sodat ons kan BEPROEF wat God se wil is (Rom. 12:2).
Mag God ons hierin seën sodat sy seëninge deur ons kan oorloop na die wêreld wat wag om te hoor dat God sy eniggebore Seun (sy alles) gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo ... die ewige lewe kan hê.
Kopiereg © 2000 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za
Web: www.kerugma.org.za