Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 2:4 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
JULIE 2000 |
|---|
| "... soos julle gehoor het dat die antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste ... Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie ... julle het die salwing van die Heilige en weet alles ... En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly." (1 Joh. 2:20,27). |
- Ignatius A le Roux
Die Bybel leer dat "almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God" (Rom. 8:14). Net mooi twee verse verder lees ons: "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is" (Rom. 8:16). Ons weet dus dat ons kinders van God is omdat die Heilige Gees saam met ons gees daarvan getuig. Diegene wat hierdie getuienis het, word verder ook daagliks deur die Heilige Gees gelei. Die vraag is nou: Hoe getuig die Heilige Gees saam met ons gees en hoe lei Hy ons?
Daar is diegene wat sê dat God vandag nie met ons praat en ons so direk lei soos in die tyd voor die Bybel sy finale beslag gekry het nie. Daarteenoor is daar andere wat weer getuig van allerhande bo-natuurlike wyses waarop die Heilige Gees hulle vandag lei.
'n Voorbeeld van hierdie teenoorgestelde oortuigings sien 'n mens in die kontrovers tussen dr. John MacArthur jr en dr. Jack Deere. Dr. Deere het vroeër 'n professoraat beklee aan die Dallas Theological Seminary, 'n inrigting wat bekend is vir sy "nugtere, Skrifgetroue teologiese stand-punt". Hierdie kweekskool is as't ware 'n bastion vir baie van die behoudende evangeliese kerke in die VSA.
Een aspek van hul oortuiging wat baie sterk na vore kom, is egter dat die buitengewone gawes van die Heilige Gees alreeds tydens die bediening van die apostels begin afneem het en later heeltemal opgehou funksioneer het. So trek hulle as't ware strepe deur sekere dele van die Bybel as sou dit slegs van toepassing wees op diegene wat in die Bybelse tyd geleef het. Daarom word hierdie oortuiging "Streepteologie" genoem.
Die Dallas Seminary stem sterk ooreen met die oortuigings van dr. John MacArthur jr., 'n uitgesproke voorstaander van die streepteologie.
Dr. Jack Deere het egter onder invloed van die Britse Christen psigiater, dr. John White, t.ot die oortuiging gekom dat die Heilige Gees vandag steeds net soos in die Bybelse tyd met krag werk. Hiervan vertel hy in sy boek SURPRISED BY THE POWER OF THE SPIRIT. Dit het beteken dat hy die Dallas Seminary moes verlaat. Hy het toe heel Charismaties geword en homself gevoeg by die Derde Golf of Vinyard Beweging van John Wimber. In sy boek SURPRISED BY THE VOICE OF GOD vertel hy hoe hy ontdek het dat God vandag nog net so met sy kinders praat soos in die Bybelse tyd.
Op die oog af klink dit baie goed, maar wanneer 'n mens eers lees wat hy beskryf as "die stem van die Here", dan skrik 'n mens wanneer jy besef dat iemand kan oorswaai van een radikale standpunt na presies die teenoorgestelde siening. Die gevaar daarvan om teen dit wat verkeerd is te reageer, is dat mense telkens oorreageer. Hulle land dan gewoonlik weer aan die teenoorgestelde kant van die waarheid. 'n Mens moet soek na dit wat die waarheid is. Dit help nie om teen die leuen as sodanig te veg nie. Die waarheid op sig self het die krag om die leuen te openbaar en te verbreek.
Die feit dat dr. Deere so ver oorhel na die teenoorgestelde kant, het mense soos dr. John MacArthur jr baie skietgoed gegee. So het die twee in 'n hewige polemiek betrokke geraak. Die debat tussen hulle kan o.a. gevolg word in dr. MacArthur se boek, CHARISMATIC CHAOS, en dr. Deere se SURPRISED BY THE POWER OF THE SPIRIT.
Dr. John MacArthur, 'n wêreldbekende ver-klaarder van die Woord van God, se werke toon dat hy in verskeie opsigte die teologie van die bekende streepteoloog, B.B. Warfield, sterk aanhang.
Daarom ontken hy die bestaan van sekere gawes van die Heilige Gees vandag. Hy sal ook ontken dat die Heilige Gees die kinders van God vandag direk lei soos wat ons in die Bybel lees. 'n Voorbeeld hiervan is die versekering wat die Here Jesus aan sy volgelinge in gedeeltes soos die volgende gee:
| "...die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het" (Joh. 14:26). |
| "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig" (Joh. 16:13). |
Dit is volgens dr. MacArthur nie van toepassing op ons vandag nie, maar net op die twaalf Apostels. Die Heilige Gees het hulle gelei om die leer van die apostels te verkondig en die boeke van die Nuwe Testament te skryf. Dit is waarvan Jesus hier, aldus dr. MacArthur, gepraat het.
So ook in die geval van die volgende belofte van die Here Jesus:
| "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan" (Joh. 14:12). |
Volgens dr. MacArthur is die belofte vervul aan die hand van die twaalf apostels, soos dit in die boek Handelinge opgeteken is en geld dit dus nie meer vir vandag nie.
Dit is maar net enkele voorbeelde van die streepteologiese standpunt. Dr. Deere wat self eers 'n voorstander van hierdie standpunt was, vertel egter hoedat hy na sekere ervaringe saam met onder andere dr. John White, skielik ervaar het hoe die Here wel vandag praat.
Op 'n dag het hy op die voorkop van 'n teologiese student die woord "pornografie" gesien. Toe hy hom daarmee gekonfronteer het, het dit geblyk dat die man verslaaf was aan pornografie. Die vermoë om die woord op die student se voorkop te sien, verklaar dr. Deere as die gawe van die Heilige Gees naamlik "'n woord van kennis" (1 Kor. 12:8). Wanneer 'n mens egter in die oorspronklike taal kyk na wat "'n woord van kennis" beteken, dan is dit die toerusting wat die Heilige Gees aan iemand gee om 'n spesifieke gedeelte van die Bybel in die konteks van die hele Skrif te kan verklaar.
Nou wat is dan die vermoë om 'n woord of prentjie of naam so op iemand se voorkop of voor sy bors te kan sien? Waarsêers wat heldersiend-heid beoefen, kry hul kennis of insigte op presies dieselfde manier. Dit is nie hoe die Here in Bybelse tye of vandag "praat" nie. Die Pinkster/Charismatiese/ Derde Golf beweging se basis is geleë in die dwaalleer van die doping met die Gees.
Die ware leer van die doop met die Heilige Gees, behels dat 'n mens die inwonende Heilige Gees met jou wedergeboorte ontvang (1 Kor. 12:13). Wanneer die Here in sy genade aan jou 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, ontvang jy daarmee saam die inwonende Heilige Gees (Eseg. 36:26-27). Dit is die doop met die Heilige Gees. Naas dit staan ons verder ook onder die opdrag om vervul te word met die Heilige Gees (Efe. 5:18).
Die leuen van die dwaalleer omtrent die doop met die Heilige Gees behels dat jy die Heilige Gees ná jou bekering ontvang wanneer jy die ervaring daarmee saam het dat jy 'n gawe soos byvoorbeeld veral die gawe van tale ontvang. Saam met dit wat so "ontvang" word, ontvang baie die "gawes" wat demoniese namaaksels van die ware gawes van die Gees is. Met hierdie leuen as basis is mense oop en ontvanklik vir nog baie ander leuens. So kry ons vandag in die Pinkster/Charismatiese/Derde Golf-beweging baie valse namaaksels van die gawes van die Heilige Gees. Baie van die leuens wat hiermee saam geleer word oor die betekenis van die onderskeie gawes, word vandag allerweë aanvaar as die ware betekenis van die gawes.
Die gawes van die Heilige Gees bestaan en dit is nodig dat ons erns daarmee maak om dit te ken en te beoefen soos die Skrif self leer dat dit gedoen moet word.
'n Feit is dat dr. Deere se verandering hom laat oorhel het na die teenoorgestelde kant. Die gevolge hiervan was dat hy later nie meer geweet het of hy kom of gaan nie. Dave Hunt openbaar dit in sy video THE OCCULT INVASION OF THE CHURCH. So noem hy ook in sy boek OCCULT INVASION hoedat dr. Deere verval het in 'n staat waar hy nou sê dat hy altyd "in a state of flux" verkeer. Daarom weet hy nou nie meer wat die evangelie boodskap is nie. Dit is die getuienis van een van die huidige toonaangewende leiers in die Derde Golf- of Toronto Beweging.
Alhoewel 'n mens nie altyd graag daarvan wil kennis neem nie, is dit tog nodig om 'n slag te kyk na standpunte soos hierdie. Dit het oral 'n invloed op ons as Christene en lei maklik daartoe dat ons nie maar net as normale Christene in 'n spontane oop en skoon verhouding met die Here wandel nie. 'n Mens moet egter vra wat die ware wyse is waarop die Here ons lei. Hoe praat Hy met ons? Hoe weet ek verseker dit is Hy wat my lei?
Hier is dit belangrik dat ons sal weet dat daar wel skrywers is wie se werke ons met vry-moedigheid kan lees. Alhoewel daar baie geleer kan word uit verskillende werke van 'n persoon soos dr. John MacArthur, moet ons ook onderskei wat sekere van sy oortuigings is. Daar is egter skrywers soos byvoorbeeld dr. Andrew Murray en Watchman Nee wat geleer het dat elke kind van God deurentyd kan weet wat die wil van die Here is.
Die Here praat op verskillende wyses met sy kinders. Hy praat deur sy geskrewe Woord, die Bybel; deur die inwonende Heilige Gees diep in ons harte; deur predikers wat deur Hom geroep is om die Woord te verkondig; deur ander mense wat Hy per geleentheid daarvoor gebruik; deur omstandighede en dinge wat in ons lewens gebeur; deur die werking van die Heilige Gees; deur drome, gesigte, profesieë en dies meer.
Wat al hierdie dinge betref is dit nie net nodig om te weet hoe die Here praat nie, maar ook hoe Hy dit nie doen nie. Hierdie kennis is nodig om ons te help om te kan onderskei of dit wat ons hoor wel die stem van die Here is of nie.
Dit is heel eenvoudig om die stem van die Here te hoor, maar ongelukkig is daar ook die stem van die vreemde; van valse predikers en wonderwerkers; van misleidende geeste; van die antichriste, soos Johannes ons waarsku (1 Joh. 2:18).
In die gedeelte waar hy ons teen die antichriste waarsku (1 Joh. 2:18-29), verseker Johannes ons egter daarvan dat hulle vir ons eintlik geen bedreiging inhou nie. Die rede daarvoor is dat ons die salwing van die Heilige het en daarom alles weet (1 Joh. 2:20). Dit is baie interessant om hierdie gedeelte in die oorspronklike Grieks te lees. Dit wat Johannes hier skryf kom op die volgende neer:
Hy noem in vers 18 die feit dat aan die einde van die bedeling waarin ons nou staan, die Antichris sal verskyn. Baie dink aan die antichris as iemand wat soos 'n lelike, wreedaardige monster sal lyk en brutaal sal optree. Volgens die Bybel gaan hy tydens die laaste deel van sy optrede vreeslike dinge doen. Aanvanklik gaan hy egter soos 'n ware heer optree. Die woord Antichris beteken dat dit iemand is wat "soos Christus" of "in die gedaante van Christus" gaan kom. Hy gaan teenoor Christus staan in die sin dat, alhoewel hy sal lyk soos en sal doen dit wat Christus met sy wederkoms gaan doen, hy dit in die plek van die ware Jesus Christus sal doen. Hy doen hom dus voor as Christus en mislei sodoende die mense.
Johannes skryf verder dat net soos die Antichris gaan kom, "bestaan daar ook nou baie antichriste." Wie en wat is hulle? Hierop vind ons 'n tweeledige antwoord. Een deel daarvan is dit wat die woord Antichris sê. Die woord of naam Christus beteken "gesalfde." Die Antichris is dus die een wat homself sal voordoen as die Gesalfde, as die Messias, die Christus. Die antichriste is die mense wat hulself dus voordoen as gesalfdes van God. Hulle is diegene wat roem daarop dat hulle die "salwing" het.
In ons dag kry ons verskillende invloedryke figure in die Christendom wat daarop roem dat hulle die "anointing", die salwing het. Dit is mense soos onder andere Rodney Howard-Brown en Benny Hinn vir wie u op ons reeks video's oor DIE TORONTO "HERLEWING" - 'N KRITIESE EVALUERING kan sien verklaar dat hulle die "salwing" het.
Die tweede deel van die antwoord is die kenmerk wat Johannes aan hulle gee: "Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie" (1 Joh. 2:19). Dit beteken dat ons hulle aanvanklik leer ken het as normale Christene wat tussen ons rondbeweeg het. Hulle is dit nou nie meer nie. Mettertyd het hulle as't ware vlerkies gekry en bo ons uitgestyg. Hulle het die Bybel so "goed" leer ken dat hulle nou die evangelie beter verkondig as diegene by wie ons almal geleer het. Wanneer ons nou met hulle te doen kry, staan ons onder 'n tipe van beskuldiging. Dit is asof ons agter geraak het - ons is nie van die "gesalfde" kinders van die Here nie.
Sou ons egter mooi luister na dit wat hulle leer, dan tel ons tog mettertyd allerhande wanklanke op. Hier is iets bygevoeg, daar is iets weggelaat en hier en daar is daar verdraaiings. Sou ons mooi luister sal ons later agterkom dat hierdie mense wat so besonder geestelik is en die Bybel so goed ken eintlik "'n ander evangelie" verkondig (2 Kor. 11:4). Hulle leer in effek dat Jesus nie die Gesalfde van God was nie. Ja, dat Hy nie die Christus is nie (1 Joh. 2:22). Hulle verloën dus die Vader en die Seun. Alhoewel hulle die Naam Jesus Christus verkondig, bely hulle nie dat Hy in die vlees gekom het nie (1 Joh. 4:3). Hulle is "valse apostels ... wat hulleself verander in apostels van Christus" (2 Kor. 11:13). Hulle word oral aangetref, tussen die lidmate van 'n gemeente, as ouderlinge, predikante, pastore, geestelike werkers, jeugwerkers, wonderwerkers, professore aan kweekskole (Matt. 7:21-23). Hulle is oral te vinde. Daar is altyd van hulle tussen ons. Iets wat ons mooi moet verstaan is dit wat die Here Jesus deur die gelykenis van die onkruid in Mattheus13:24-30,36-43 vir ons leer. Dit is naamlik dat waar daar Christene is, daar altyd ook diegene in hul midde is wat "in die nag gesaai is". Hierdie "gesalfdes" kom uit die geledere van die "onkruid" onder ons.
Wat nou interessant is, is dat Johannes dieselfde woord gebruik om diegene wat van die goeie saad is, te beskryf. Hy gebruik juis die woord chrisma (afgelei van christos = Christus soos in Antichris) of "salwing" en sê:
| "... julle het die salwing van die Heilige en weet alles" (1 Joh. 2:20). |
Hy sê: Moenie julself so geringskat teenoor diegene wat so met die Bybel onder die arm loop nie. Dit wat hulle op roem, naamlik die salwing is lankal julle deel. Daarom kan julle onderskei dat daar fout is met hierdie super geestelikes. Moet julle nie verknies dat julle nie soveel tekste uit julle kop ken soos hulle nie - julle weet dan alles!
Wanneer hy sê dat ons die salwing van die Heilige het, dan bedoel hy nie dat dit iets is wat ons op een of ander bo-natuurlike wyse gekry het en wat ons nou in staat stel om allerhande wonderlike dinge te doen of te ervaar nie. Nee, hy praat van dit wat Paulus in 2 Korinthiërs 1:21-22 noem waar hy sê dat God die Vader ons gesalf en verseël het met die Heilige Gees toe Hy Hom as onderpand of waarborg in ons harte gegee het. Die woord gesalf wat Paulus hier gebruik, is dieselfde as wat ons in 1 Johannes 2:20 aantref.
Dit is al wat die Nuwe Testament ons leer omtrent "die salwing". Diegene wat so roem daarop dat hulle die salwing het, dat hulle Christusse of gesalfdes is, leer allerhande dinge omtrent die salwing wat heel vreemd is aan die Skrif. In die Ou Testament is die priesters (Eks. 28:41), die konings (1 Sam. 15:1) en die profete (1 Kon. 19:16) gesalf. Hierdie salwing is in die Here Jesus Christus se kruisdood vervul. Hy is gesalf met die oog op sy begrafnis (Matt. 26:12).
Na sy opstanding uit die dood het die Vader Hom verhoog tot aan sy regterhand. Toe het die Vader aan Hom wat as mens van vlees en bloed al die versoekings weerstaan het en nooit gesondig het nie, die Heilige Gees van die Belofte gegee. Daarom het Hy op die dag van die Pinksterfees die Belofte van die Vader, naamlik die Heilige Gees uitgestort (Hand. 2:33). Sedertdien stort Hy die Heilige Gees uit in die hart van elke mens wat tot geloof in Hom kom. So word ons met ons wedergeboorte gesalf, nie met sigbare olie nie, maar met die Persoon op Wie dit in die Skrif dui, naamlik die Heilige Gees. Die salwing met die Heilige Gees sonder die Nuwe Testamentiese gelowiges af vir hulle dienswerk as priesters aan die verloregaande mensdom (1 Pet. 2:5,9). 'n Mens kan nie bid om die salwing te ontvang nie. Andere kan ook nie vir jou bid en hulle salwing aan jou oordra nie. Die beoefening van so 'n gebruik kan gevaarlik wees. Nee, ons het die salwing van die Heilige en weet alles. Die Vader het dit aan ons gegee die oomblik toe hy ons aangeneem het as een van sy kinders (Rom. 8:15; Gal. 4:5,6: Efé. 1:5).
Die Here Jesus Christus is ook die Een wat gewaarsku het:
| "...baie sal onder my Naam kom en sê: 'Ek is die Christus!' en hulle sal die mense mislei ... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (Matt. 24:5,24). |
Hoe moet ons teen misleiding waak? Dit is hierop dat Johannes ook antwoord. Die wyse waarop ons daarteen waak, leer ons ook hoe om in ons alledaagse lewe te let op die leiding van die Here.
Johannes gebruik hier in 1 Johannes 2:27 dieselfde terme as in Johannes 14:26 en 16:13. Daar praat hy van die Heilige Gees wat "... julle alles sal leer ...", "... Hy sal julle in die hele waarheid lei ...". Hier sê hy dat die salwing "... bly in julle ..." en leer "... julle aangaande alles ...".
Dit is dus nie waar dat die beloftes wat Jesus in Johannes 14 en 16 aangaande die Heilige Gees gemaak het net vir die apostels bedoel was nie. Die Heilige Gees doen vandag steeds dit wat Jesus beloof het. Hy woon in ons, onderrig ons en lei ons. Dit is vir ons om na sy stem te luister. Hy woon diep in ons harte, in ons gees en daar openbaar hy stilweg die wil van die Vader aan ons. Baie dieper as wat ons gedagtes of emosies kan gaan, daar diep in ons weet ons net intuïtief wat Hy sê. Ons kan dit nie altyd dadelik in woorde omsit of verduidelik hoe ons dit weet nie, maar ons weet maar net wat die Here se wil is.
Johannes sê: "... soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly." Hoe het Hy ons geleer? Miskien moet ons vra: Hoe het ons die Heilige Gees leer ken? Sy werk is om te OORTUIG (Joh. 16:8). H oortuig ons van ons sonde, van ons verlorenheid en van die Here Jesus se geregtigheid. Hy is die EEN wat ons by die plek bring waar ons die Here Jesus Christus aanroep om ons te red. So leer ons Hom ken.
Sedert ons redding praat hy verder op dieselfde wyse met ons. Diep in ons harte werk Hy 'n oortuiging. Al is dit baie sag en stil, tog WEET ons presies wat Hy vir ons sê. So is dit dat Hy ons ook van daar af verder lei. Wanneer ons voor 'n keuse te staan kom, dan weet ons dikwels maar net intuïtief daar diep in ons hart wat die Here wil hê dat ons moet doen. Al sê ons verstand en alle ander mense ons is verkeerd en selfs dwaas om so 'n keuse te maak, dan weet ons wat ons te doen staan. Hy wat "die dieptes van God", die verskillende kamers in die hart van God die Vader, ondersoek (1 Kor. 2:10,11), is ook die Een wat in ons harte woon en werk. Daar in die diepste kamers van ons harte, daar openbaar Hy dit wat in die hart van God leef. Daar maak Hy stilweg die wil van die Vader aan ons bekend.
Johannes sê verder dat ons in Hom moet bly. Dit beteken dat ons 'n lewe moet leef in so 'n volkome gemeenskap met Hom, dat ons altyddeur bewus sal wees van sy leiding. Dat ons die waarheid so sal ken, dat ons nooit vir die leuen sal val nie, maar enkel die wil van sy Vader sal ken en doen. Johannes sê dat ons in Hom moet bly soos Hy ons geleer het.
Nou het ons gesien dat Hy ons reeds geleer het vanaf die eerste oomblik nadat ons Hom ontmoet het.
U sien, naas dat Hy ons oortuig het van ons verlorenheid en van die Here Jesus se geregtigheid is daar meer wat Hy ons geleer het. Onderwyl Hy hierdie oortuigingswerk in ons harte gedoen het, het Hy ook Homself asook die wyse waarop Hy werk, aan ons geopenbaar. Ons het Hom leer ken en ervaar hoe Hy werk. Ons het dit miskien nie op daardie stadium besef nie, maar ons het Hom leer ken toe Hy met ons gepraat het. Nou weet ons wanneer Hy met ons praat. So het ons Sy stem leer ken en weet nou om daarop ag te gee.
Niemand kan jou dit leer nie en jy sal ook nie weet hoe om dit aan 'n ander te verduidelik nie, maar sedert jou kennismaking met Hom, weet jy hoe Hy met jou praat. Daarom dat Johannes skryf: "... soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly."
Jesus praat in Openbaring 2:4 van ons "eerste liefde." Hy noem die gevaar dat 'n mens dit kan verlaat en sê dan hoe jy daarheen moet terugkeer:
| "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke" (Open. 2:5). |
So kan dit wees dat 'n mens met jou bekering en daarna duidelik geweet het wat die Here vir jou sê. Jy het geleer om na Hom te luister. Wanneer jy ongehoorsaam was, het jy berou gehad en Hom om vergifnis gevra. So het jy met Hom gewandel. Jy het geweet jy behaag God, jy kon sy wil doen ten spyte daarvan dat andere jou sou spot of dat dit onlogies gelyk het en dikwels nie sin uitgemaak het nie. Jy het geweet wanneer Hy wou hê dat jy vir iemand of vir 'n instansie moes bid of 'n bedrag moes stuur en jy het dit in oorgawe gedoen.
Wanneer jy nou egter terugkyk besef jy dat jy nie meer in daardie intieme verhouding met die Here staan nie. As dit vir jou ook geld, luister dan na die opdrag van die Here Jesus in Openbaring 2:15 en doen die volgende:
1. Onthou waarvandaan jy uitgeval het. Dink goed na oor hoe dit eers was en weet dat dit jou normale lewenswyse as Christen is.
2. Bekeer jou. Draai 180° in jou spore om. Dit beteken dat jy in jou spore moet stop, heeltemal moet omdraai en terug loop na waar jy vandaan gekom het. Maak reg wat jy verkeerd gedoen het, bely jou sondes en kom geestelik gesproke weer daar waar jy eers was. Dit kan jy alleen doen deur berou te hê oor jou afdwaling. Dink aan waar dit begin het en bely elke ding wat verder daartoe meegewerk het om te veroorsaak dat jy jou bevind waar jy nou is. Breek elke steen in die skeidsmuur tussen jou en God af.
3. Doen die eerste werke. Bly weer in Hom soos Hy jou geleer het. Luister weer na sy stem en doen sy wil met jou hele hart, met jou hele siel, met jou hele verstand en met al jou krag. Gee jou alles om Hom in elke ding, klein en groot te gehoorsaam. Soek om sy wil alleen te doen en om Hom met jou hele lewe te behaag. Dit is Hy wat met 'n mens praat en dan van jou verwag om dit te doen wat sy wil is.
Die mens is nie 'n robot in die hande van die Here nie. Hy beheer ons nie soos masjiene wat maar net dit doen waartoe ons geproggrammeer is nie. Hy laat dit aan ons oor om self dit te doen wat ons weet sy wil is. Ons ken en weet dit vanuit sy Woord, maar ook omdat Hy dit oomblik vir oomblik aan ons bekend maak. Uit sy Woord het ons onder meer sy morele wet - dit wat ook in ons eie gewetens gegrafeer is (Rom. 1:19). Daaruit weet ons wat Hom behaag en wat nie - en so verstaan ons wat die wil van die Here is (Efé. 5:17). Voorts kommunikeer Hy deur die werking van die Heilige Gees gedurigdeur aan ons dit wat Hy wil hê dat ons moet doen.
Daar is baie situasies waarin ons onsself daagliks mag bevind waar die Bybel self nie vir ons sê wat God se wil is nie. Dit is dan dat ons afhanklik is van die leiding van die Here.
In so 'n situasie weet ons dikwels maar net wat die Here wil hê dat ons moet doen. Soms is dit nodig om eers te bid en die Here te vra wat Hy wil hê dat ons moet doen. Ander kere is dit dalk nodig om 'n oombik te dink oor wat die Here Jesus sou doen as Hyself nou in daardie situasie sou wees. So kan ons dan deur dit te doen, in sy voetspore navolg (1 Pet. 2:21). Daar mag ook belangriker besluite wees waaroor ons moontlik 'n tyd lank mag bid om dag vir dag die Here te vra na wat sy wil mag wees. Dit kan dan ook gebeur dat Hy deur sy Woord aan ons bevestiging gee van dit wat Hy deur sy Gees in ons binneste vir ons sê.
Dit is belangrik om te weet dat die Here ons nooit dwing om sy wil te doen nie. Dit blyk duidelik uit die verhaal van Adam en Eva. Die Here het sy wil ten opsigte van die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad aan hulle bekendgemaak (Gen. 2:16-17).
Nêrens in die gedeelte waar sy versoek was lees ons dat die Here ingegryp het om haar te herinner daaraan nie. Sy het nou reeds geweet dat dit nie sy wil was om van die boom van kennis se vrug te eet nie en moes haar rug op die slang gedraai het.
U sien, die Here het ons nie as robotte geskape nie, maar as mense wat vrywillig en selfstandig met Hom sal saamwerk. Hy wil nie hê dat ons iets uit dwang of plig moet doen nie. Dit is vir ons om self te kies of ons dit wil doen wat Hom behaag. Dit is daarom dat ons die kruis moet opneem, die vlees met sy eie-ek, sy eiesinnigheid moet aflê en met oorgawe dit moet doen wat sy wil is.
Dit is nie altyd ewe maklik nie, maar dit is die enigste weg wat die moeite werd is. Dit is dan ook baiekeer nodig dat ons oor 'n spesifieke saak ernstig sal bid totdat ons weet wat die wil van die Here is.
In die tuin van Getsemané het die Here Jesus eers gebid:
| "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos u wil" (Matt. 26:39). |
Hier vra Hy dat die Vader sal gee dat Hy die beker nie hoef te drink nie. Tog is Hy bereid om dit te drink, as dit die wil van die Vader is.
Hierna het Hy twee keer die volgende gebid:
| "My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied" (Matt. 26:42,44). |
Hier vra Hy nie meer dat dit moet verbygaan nie, maar verklaar Hy Hom bereid om die beker te ledig. In sy hart het Hy geweet toe Hy die eerste keer gebid het, dat dit die wil van die Vader was om die beker te ledig. Na hierdie drie gebede het Hy stil, maar met krag en vrede die pad na die dood aan die kruis bewandel. Wat opval met die lees van hierdie gebeure, is dat Jesus dit in volle oorgawe gedoen het en met 'n innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan.
So is dit wanneer 'n mens die wil van die Here doen. Die Here Jesus Christus sit vandag aan die regterhand van die Vader op die troon. Daar tree Hy vir ons by die Vader in en terselfdertyd werk Hy deur sy Heilige Gees in ons lewens. Wanneer ons dit wat ons weet die wil van die Vader is doen, gee Hy deur sy Heilige Gees aan ons die vrede wat Hy gehad het toe Hy so die wil van die Vader gedoen het. Daarmee saam gee Hy ook deur die Heilige Gees aan ons die innerlike krag om dit te doen. So verheerlik Hy Homself in en deur ons lewens waar ons dit doen wat die wil van ons Vader is.
Dit is vir ons nodig om te weet dat dit die Vader behaag om sy wil aan ons te openbaar - deur sy Woord, maar ook deur die inwonende Heilige Gees diep in ons gees. Wanneer ons gewillig is om dit te doen, verleen Hy dan ook deur die Heilige Gees aan ons die krag om dit te doen.
Die werk van die Heilige Gees is onder andere ook om die Vader en die Seun te verheerlik. Dit is wat Hy dan ook doen in die lewe van elkeen wat die wil van die Vader en die Seun uitvoer.
Op dié manier beantwoord ons aan die doel wat God met ons hier op aarde het. Is ons as kinders van God daarop ingestel om werklik sy Wil te soek en te doen of is ons tevrede om maar net elke dag ons eie behoeftes bevredig te sien?
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/