Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 4:3 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
Julie 2002 |
|---|
| "Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die Here het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die Here is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie" (Sef. 3:14-15). |
- Ignatius A le Roux
Hoe goed is u vertroud met die hedendaagse situasie in Israel? Byna geen nuusbulletin gaan verby sonder dat daar berig word aangaande ‘n selfmoordbom, skietery en ander ongelukkige gebeure in die land waar die Bybel sy oorsprong het nie. Die Here Jesus is daar gebore, het daar sy bediening gehad, is daar gekruisig en begrawe en het opgestaan. Hy gaan met sy wederkoms weer, soos hulle Hom van die Olyfberg af sien opvaar het, daarheen terugkeer.
Hoe moet ons die mense wat tans in hierdie land woon, verstaan en bystaan? Dr. Randall Smith wat al meer as 11 jaar in Israel woon, was as gasspreker genooi na die Loofhuttefees te Jerusalem gedurende 1-8 Oktober 2001. Terwyl ons die voorreg gehad het om as deel van ‘n internasionale kameraspan die agt dae lange feesgebeure af te neem, kon ons onder andere ook die seminaar van Randall Smith afneem. Hy het gepraat oor die begrip Die Dogter van Sion soos dit in die Ou Testament voorkom. Dit was so insiggewend dat ons daar en dan besluit het om ‘n video daarvan te maak. Dit vorm dan nou ook deel van die reeks waaronder die video’s Psalm 23 - The Shepherd and His Sheep en How Jesus Taught sorteer, naamlik The Word on Location.
Hierdie video heet The Daughters of Zion - Understanding the people and the land of Israel. Hierdie tema dui duidelik aan waaroor die video gaan, naamlik oor die vraag, hoe verstaan ‘n mens die inwoners van die huidige Israel. Dit is moeilik om hier volledig aan te dui wat alles in die video na vore kom. Wat egter opvallend is, is dat Randall Smith basies maar net die begrip Dogters van Sion vanuit die Ou Testament toelig. Die parallel tussen die mense wat destyds in daardie land die "Dogters van Sion" genoem was en baie van die huidige inwoners, is opmerklik.
Op die video sien u ‘n antieke kaart van Israel waar Jerusalem aangedui word as die middelpunt van die aarde. Uit hierdie middelste sirkel spruit die omliggende kontinente soos die kroonblare van ‘n blom voort. So het Israel homself destyds bevind as ‘n landbrug tussen die groot aanliggende kontinente. Die Via Maris of Weg van die See wat van noord na suid kuslangs deur Israel geloop het, was die een groot bekende handelsroete van destyds. Die handelaars het hul goedere langs hierdie roete met groot karavane deur Israel geneem.
Deel van Abraham se strategie om kontak met dié mense te maak, so verduidelik Randall Smith, was om putte te grawe waar die handelaars hul kamele kon laat drink.
Die inwoners van die land was dus deurgaans blootgestel aan transkulturele beïnvloeding. Voorts was hulle die ongevraagde teiken wanneer die omringende lande oorlog gevoer het. Almal het deur hul grondgebied gejaag en verwoesting gesaai; die soort verwoesting waar immorele soldate maar net kon maak, breek, vat en geniet wat hulle wou.
Dit, asook die oorloë waarin Israel self betrokke was, het daartoe bygedra dat die stede van hierdie land telkens gestroop en verpletter is. Baie van hierdie stede is dan later weer herbou op hul eie ruïnes. Deur die jare is die stede so die een op die ander herbou totdat dit as’t ware ‘n klein heuweltjie gevorm het. In Hebreeus is so ‘n ruïne-heuwel ‘n "tell" genoem, vandaar byvoorbeeld ‘n naam soos Tel Aviv. In Engels noem die argeoloë dit ook ‘n "mound". Die kante van so ‘n "tell" of "mound" het skuins afgeloop en die vorm van ‘n vrou se romp aangeneem. Die mure van die stad is bo-op hierdie skuinstes gebou. Dit het dit des te moeiliker gemaak om die stad binne te val. Alvorens die mure ingeneem kon word, moes die vyand eers teen hierdie skuinste opklim.
Die dogters van die stad, was nie die inwoners van die stad self nie. Die inwoners was gewoonlik die ryk en uitspattige mense wat ‘n huis in die stad kon bekostig. Die eintlike bevolking het op die buitewyke van die stad, buite die stadspoorte in tente gebly. Omdat hulle rondom hierdie deel wat soos ‘n rok gelyk het, gebly het, is hulle die dogters van die stad genoem.
Vandaar die uitdrukking "Dogters van Sion". Dit is die eintlike bevolking van Jerusalem. Hulle het buite die stadspoorte gebly. In tye waarin die stad bedreig is, is hulle die hardste getref. Hulle sou hul veiligheid binne die stadsmure wou soek. Die feit is egter dat kos- en watervoorrade binne so ‘n beleërde stad beperk sou wees. Derhalwe sou die welgestelde inwonders van die stad nie graag wou sien dat die arm "dogters" van die stad die poorte moes binne stroom nie. Hulle sou dus nie welkom wees nie. Wanneer hulle dan hul toevlug na die stad sou neem, kon hulle hul voor geslote poorte bevind - en dit met die vyand op hul hakke.
Sedert die Here in 1948 sy belofte om Israel weer terug te bring na hul land (Eseg. 36:24), begin vervul het, bevind die huidige inwoners hulself weer eens in ‘n netelige posisie. Randall skets in hierdie video hoe vuisvoos almal in hierdie land is. Voorts toon hy aan deur watter ellende die land gaan sedert die Palestynse Intifada (Opstand) gedurende September 2000 begin het.
Die inwoners van hierdie land is as’t ware die slaansak tussen die nasies van die wêreld. Die groot moonthede neem besluite en dié wat in die land woon moet maar net spring. Ook baie Christene reken om raad te gee. So is baie gereed om die land te besoek en ‘n vinnige politieke oplossing te bied. Maar begryp hulle regtig die mense wat te midde van die eeue oue situasie moet leef? Hierdie video toon nie net deur baie beeldmateriaal hoe die land daar uitsien nie, maar gee vir ‘n mens ‘n dieper kykie in die lewenswyse van die mense daar. Deur hierdie video kry ‘n mens ‘n nuwe begrip vir die situasie daar en weet jy des te meer hoe om vir diegene wat vandag die "Dogters van Sion" is, te bid.
Wonderlik is dit om te sien dat die Here nie sy beloftes jeens sy volk vergeet het nie. Soveel van die profesieë is die afgelope paar jaar besig om vervul te word, dat ‘n mens maar net met hoop en afwagting die Here aan die res daarvan kan herinner (Jes. 62:6-7).
So sê die Here in die teksgedeelte bo-aan dat daar ‘n dag gaan kom waarin Israel en Juda sal juig. ‘n Dag waarin Hy al sy vonnisse oor hul oortredinge gaan ophef; hul vyande uit die weg gaan ruim en die Koning van Israel, die Messias, die Here Jesus Christus self by hulle sal wees (Sef. 3:14-15).
Maar die huidige inwoners van die land, leef hulle in afwagting van die vervulling van hierdie profesie? Daar is baie wat die kinders van die Here kan doen om die mense by die Here uit te bring. Die belangrikste is om vir hulle te bid. Daarvoor is dit nodig om te weet wat hul situasie vandag is.
Dit sal ook baie goed wees om ‘n slag die boek van die profeet Sefanja saam met hierdie video te lees. Die video is op hierdie boek gebaseer. Randall Smith wys in hierdie video daarop dat, volgens die Skrif, daar baie erger dinge as die val van die torings op 11 September 2001 is wat in die naby toekoms gaan gebeur. Dinge wat Israel asook die hele wêreld gaan tref. Deur dit alles gaan Israel gelouter word. ‘n Loutering wat daartoe gaan bydrae dat hulle met sy wederkoms na die Here Jesus sal opsien vir wie hulle deurboor het, "en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind" (Sag. 12:10).
Daarom is daar die troos dat Israel se triomf, wanneer die Here Jesus weer op die wolke gaan verskyn, al die huidige hartseer, lyding en pyn by verre gaan oortref. Daarom die opdrag: "Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel!"
Alhoewel Randall Smith die boodskap op Daughters of Zion gedurende Oktober 2001 gepreek het, is die inhoud daarvan amper nog meer van toepassing vandag. Ek het pas ‘n week gelede teruggekeer van ‘n 10 dae filmsessie met Randall. Menere Jack Carstens van Kaapstad en Johan Roos van Pretoria het my vergesel. Ons moes sekere dele wat in ‘n reeks video’s oor die agtergrond van die lewe van Jesus ontbreek het, gaan verfilm.
Wanneer ‘n mens kyk na wat vandag in Israel aangaan, dan begeer jy om die video Daughters of Zion aan elke Christen te gee sodat hulle kan weet hoe om vir die mense in daardie geteisterde land te bid.
Die eerste dag na ons aankoms daar, sou ons saam met ‘n toergroep van Randall by Meggido aangedoen het. (U sien Megiddo in hierdie video.) Net voor ons vertrek ontvang ons toe die nuus dat ‘n motor met ‘n bom in op daardie roete teen ‘n bus vol mense vasgejaag het. Die pad sou vir ure gesluit wees. Daarom moes ons ‘n heel ander roete neem. Pas tien dae later, net na ons weer terug is in Suid-Afrika, verneem ons van ‘n bomontploffing op ‘n bus van Gilo. Randall Smith en sy gesin woon in Gilo. Ek het dié keer hul huis met die sandsakke voor die vensters afgeneem. Van oorkant die vallei word daar gereeld op hulle geskiet. Daar is etlike koeëlgate in hulle huis se mure. Sommige van die sandsakke is ook al uitgeloop omdat dit stukkend geskiet is. Randall berig dat die een Christen Arabier wat ek self persoonlik goed ken, naamlik Saher Rizkallah die oggend oppad van hul huis af gery het na die tabernakel, toe die bus agter hom ontplof het. Randall se vrou, Dottie, sou die bus dié oggend stad toe geneem het, maar net voor sy vertrek het, het sy besluit om eerder met die motor te ry. Penny Valentine van die organisasie Christian Friends of Israel skryf dat twee van die werkers van die organisasie elke oggend daardie bus werk toe neem. Beide van hulle het ander afsprake gehad en daarom nie dié dag daardie bus geneem nie.
Is dit nie wonderlik om te sien hoe die Here so baie van sy kinders teen hierdie bomontploffing beskerm het nie? Dit is egter nodig om te bid vir diegene, veral die skoolkinders, wat beseer is of getraumatiseer is deur die ontploffing. Daar is Christene, soos die lede van Christian Friends of Israel, wat met baie moeite hierdie mense gaan besoek. Ons kon maar net bid dat dié mense deur hierdie ervaring heen die Here Jesus sal leer ken as hul Messias.
Die kyk van die video The Daughters of Zion - Understanding the people and the land of Israel, sal u help om die inwoners van hierdie land beter te verstaan. Dáár heers tans ongekende ellende. As gevolg van die Intifada (die Palestynse opstand) is daar baie mense, beide onder die Jode en die Arabiere wat werkloos is. Die ekonomie van die land steun veral op toerisme. Weens die oorlog is daar nou vir byna twee jaar amper geen toeriste nie. Vir die verfilming van die video’s is dit ‘n gulde geleentheid om plekke wat gewoonlik vertrap word deur toeriste, te kan afneem.
Dit is egter hartverskeurend om te sien hoeveel meer besighede elke keer gesluit is en hoeveel meer mense sonder werk en sonder kos is.
Randall en Dottie het onlangs, tydens die beleëring van die gebiede, begin met ‘n reuse projek om die Christen Arabiere in die woongebied oorkant hul huis van voedsel voorrade te voorsien. Terwyl niemand van hulle dit uit hul huise kon waag nie, is daar vragte vol voedsel aan hulle afgelewer. Die fondse daarvoor het van Christene uit ander lande gekom.
Miskien is dit nodig dat Christene in Suid-Afrika ook meer spesifiek sal bid vir die kinders van die Here in huidige Israel. Die Christene daar is baie dun gesaai. Ons gebede kan maar net daartoe bydra dat elkeen van hulle des te beter getuies vir die Here kan wees te midde van die omstandighede waaronder hulle leef.
Wanneer ‘n mens deur sekere dele van Israel ry, lyk dit asof daar geen bewustheid is van enige gevaar wat bestaan nie. Waar die hotelle en restaurante in sekere dele lank reeds gesluit is, sit die restaurante in ander dele uitgepak van jolige menigtes. Van gewone misdaad soos selfone wat gesteel word, is daar nie sprake van nie. Wanneer ek my kamera en ander toerusting telkens uit die geparkeerde motor haal, dan verstaan baie dit nie. Oor die algemeen voel ‘n mens baie veiliger in Israel as hier tuis. Op die Sabbat sien jy gesinne in die parke ontspan, kinders speel orals en bejaardes gaan tot saans laat vir ‘n wandeling. Iets wat ons nie meer ken nie.
Tog het die Intifada sy merk gelaat en is daar groot behoeftes - veral onder die Arabiere wat telkens ingehok word. Dit is in omstandighede soos dié, dat diegene wat die Here Jesus lief het, daadwerklik begrip en ondersteuning nodig het sodat hulle inderdaad die lig van die wêreld en die sout van die aarde kan wees. Hulle is Christene wat leef in ‘n oorwegend Moslem wêreld.
‘N GEBEDSVERSOEK
Ons kon daarin slaag om in ‘n baie beperkte tyd al die ontbrekende dele in die reeks waarmee ons besig is te verfilm. Ons moes soms onder moeilike omstandighede werk. Een keer is ons onder andere teëgestaan deur ‘n groep klein Arabier kindertjies wat hul hande voor die kameralens ingedruk het en doelbewus so geraas het dat ons Randall se boodskap nie kon afneem nie. Hulle het vir ons byvoorbeeld geskreeu om daar weg te gaan, omdat dit volgens hulle hul land is. Baie van hierdie kinders word klaarblyklik van kleinsaf geleer om almal wat nie Arabiere is nie, te haat.
Ons het egter behoefte dat u moet bid vir wysheid en krag om die video’s na behore te kan redigeer.
Dit is een ding om alles te kon afneem, maar dit is ‘n ander saak om dit reg aan mekaar te las en al die nodige oorgange en effekte daarby in te werk. Dit beloof om ‘n baie goeie reeks te wees, maar daar is baie wysheid, krag en gesondheid nodig om dit te kan voltooi.
Bid asseblief vir ons hele Kérugma span.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/