Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 1:3 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
JUNIE 1999 |
|---|
| Toe het die Here met Moses gespreek en gesê: "Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My 'n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. ... hulle moet vir My 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon ..." (Eks. 25:1-2). |
- Ignatius A le Roux
Sedert die uitstorting van die Heilige Gees op daardie besondere Pinksterdag, is die harte van sy kinders God se woonplek hier op aarde. Diep in hul harte, daar diep in hul gees, woon en werk Hy deur sy Heilige Gees. Deur hul lewens openbaar Hy Homself aan die wêreld. Dit was egter nie altyd die geval nie. Voor die Pinksterfees waarop die Here Jesus die Heilige Gees uitgestort het, het die Here sy volk Israel gebruik om Homself aan die wêreld te openbaar. God wou Homself destyds vanuit sy woonplek op aarde, die tempel te Jerusalem, aan die mensdom openbaar. Dit was sy doel met sy woning onder sy volk. Eers in die tabernakel en later in die tempel het Hy in die midde van sy volk gewoon. Beide die tabernakel en die tempel moes eers gebou en voltooi word alvorens God kon neerdaal om daarvan besit te neem (Eks. 40:33-34, 2 Kron. 5:14, 7:1-3). Vir die oprigting en die bou daarvan het Hy spesifieke voorskrifte gegee.
'n Interessante feit is dat 'n deel van hierdie voorskrifte gehandel het oor die besondere wyse waarop die Here bepaal het dat hierdie projekte gefinansier moes word. Dieselfde reëling het gegeld vir beide die oprigting van die tabernakel (Eks. 25:2, 35:5) asook vir die bou van die tempel (1 Kron. 29:1-9). Dit was naamlik dat elke lid van die volk, soos die Here hulle in hul harte daartoe opgewek het, 'n vrywillige offer moes bring.
Ons het al aan u genoem dat, as die Here dit so wil, ons graag verskillende video's wil maak van die tabernakel, van elk van die vyf verskillende offers wat Isreal moes bring (Lev. 1- 7), asook van die Groot Versoendag (Lev. 16). Daar is natuurlik baie navorsing en voorbereidingswerk wat gedoen sal moet word alvorens so 'n projek van stapel gestuur kan word. Waar ons tans bid om die nodige redigeerapparaat te kan aanskaf sodat ons voluit kan begin om video's te produseer, is ons tussen dit alles deur ook besig om meer te lees oor die tabernakel en alles wat daarmee gepaard gaan.
Die vrywillige offers wat Israel moes bring vir die oprigting daarvan, asook die verhaal van hoe hulle dit gebring het, is so inspirerend dat ons dit graag met u wil deel. Die hele begrip wat daaruit deur die Skrif ontplooi rondom dit wat in God se hart leef omtrent die gee van vrywillige offers, is egter so omvangryk dat ons gereken het om hierdie, asook van die volgende uitgawes van die Bulletin daaraan te wy. Ons vertroue is dat die waarhede wat daarin opgesluit lê, vir u tot groot seën sal wees. Veel meer as die finansiering van die tabernakel en die tempel, is geraak deur die gee van vrywillige offers. Dit was 'n integrale deel van Israel se aanbidding van die Here.
Gedurende die woestyntog het die Here aan Israel die opdrag gegee om, wanneer hulle eers die beloofde land in besit geneem het, jaarliks drie groot feeste te Jerusalem te hou.
| Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn ... op die fees van die ongesuurde brode (die Paasfees) en op die fees van die weke (die Pinksterfees) en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou gegee het (Deut. 16:16-17). |
Elkeen van hierdie drie feeste het sy eie unieke betekenis gehad. Die Here het duidelike voorskrifte gegee vir die viering daarvan, asook van dit wat elke familie na die onderskeie feeste moes saamneem. By elke fees was daar bepaalde offers wat gebring moes word (vgl. bv. Lev. 23 en Deut. 16:1-17).
Daar was egter een spesifieke item wat elke familie na elkeen van die drie feeste moes saamneem. Dit was hul vrywillige offer. Wat interessant is, is dat ook die Nuwe Testament leer dat dit die normale lewenswyse van elke Christen behoort te wees om gereeld so 'n vrywillige offer te gee. Dit is 'n belangrike saak, maar tog is daar baie kinders van die Here wat nie daarvan weet nie. Die onkunde is te wyte daaraan dat waar die onderwerp van vrywillige offers in die Nuwe Testament voorkom, dit maklik verkeerd verstaan word. So kan dit gebeur dat 'n persoon wat nie kennis het van dit wat die Ou Testament daaromtrent leer nie, die gegewens daaroor in die Nuwe Testament in 'n heel ander lig vertolk.
Daar is baie begrippe in die Nuwe Testament wat hul oorsprong en betekenis aan die Ou Testament te danke het. Hierdie begrippe kan alleen reg verstaan word, wanneer dit in die lig van die Ou Testament gelees word.
So is daar begrippe in die Nuwe Testament, wat met die eerste oog opslag lyk asof dit sien op die gee van tiendes. Wanneer dit so verstaan word, klink dit asof die Here die gee daarvan in die Nuwe Testament gewysig het na iets wat 'n mens nou kan gee "soos hy hom in sy hart voorneem", of dat hy net dit hoef te gee wat hy "met blymoedigheid" kan gee (vgl. bv. 2 Kor. 9:7). Gedeeltes in die Nuwe Testament wat wemel van die Ou Testamentiese begrippe rakende die vrywillige offers is byvoorbeeld Fillipense 4:10-20, 1 Korinthiërs 9:6-14, 16:1-4 en 2 Korinthiërs 8 en 9. Wanneer die Ou Testamentiese betekenis van hierdie begrippe egter in ag geneem word, is dit duidelik dat hierdie gedeeltes in die Nuwe Testament eintlik handel oor die gee van vrywillige offers. Die volgende vergelyking toon van hierdie ooreenkomste:
OU
TESTAMENT
|
NUWE
TESTAMENT
|
Die Ou Testamentiese tekste in hierdie diagram kom almal uit gedeeltes wat spesifiek oor die gee van vrywillige offers handel. Uit hierdie paar gedeeltes alleen blyk dit dat die vrywillige offer iets is wat 'n belangrike plek in die Skrif inneem. Dit behoort net so 'n belangrike plek in elke gelowige se lewe te hê. Die regte begrip rakende die vrywillige offer, lewer gewoonlik wonderlike vrug in 'n mens se lewe op.
Dit is so 'n wonderlike deel van die raadsplan van God met die wêreld, dat die bestudering daarvan ontwikkel in 'n heerlike ontdekkingstog deur die Bybel. Die toepassing daarvan in ons lewens kan 'n groot avontuur word iets wat so heerlik mag wees dat dit ons hele lewe vul met nuwe betekenis. Ja, dit is deel van God se plan waarmee Hy die wêreld deur sy kinders wil bereik.
Dit gaan in kort om die opdrag wat die Here aan sy volk gegee het om nie met leë hande voor Hom te verskyn wanneer hulle na die feeste kom nie.
Wanneer Deuteronomium 16:16 sê: "... hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie", moet dit nie verstaan word as 'n wet wat enige verpligting op mense lê nie. Dit is eerder iets wat die Woord van die Here sê as 'n inspirasie vir God se kinders. Dit is bedoel as 'n aanmoediging om hierdie opdrag na te kom in 'n spontane uitdrukking van hul dankbaarheid teenoor Hom vir sy seëninge in hul lewens. Hulle doen dit verder ook omdat hulle begeer dat Hy ook die ewige lewe aan alle ander mense sal gee.
Vir ons wat vandag leef, is dit iets wat elkeen spontaan en van harte behoort te gehoorsaam. Dit sodat die kerk van die Here Jesus werklik só 'n kerk sal wees dat die wêreld die goeie nuus van die evangelie sal hoor en sal glo. 'n Interessante verskynsel is dat daar kinders van die Here is wat soms vrywillige offers gee sonder dat hulle weet wat die Bybel in die verband leer. Dit kom maar net spontaan in hul lewens na vore as vrug op die nuwe natuur wat hulle met hul wedergeboorte ontvang het. Deur die inwonende Heilige Gees word hulle gedring om dit te doen.
Om die gee van die vrywillige offer reg te verstaan en om te begryp watter plek dit in die Israeliet se lewe ingeneem het, is dit nodig om te weet na watter drie feeste hulle dit moes neem. Dit is ook nodig om te weet wat die gee van die tiendes en ander offergawes vir Israel beteken het.
Deuteronomium 16 beskryf die drie feeste volledig en sê presies wat by elke fees gedoen moes word.
Die Paasfees of die pasga was die eerste groot fees van die jaar. Dit het ook bekend gestaan as "die fees van die ongesuurde brode" (Deut16:16). Die rede hiervoor was dat Israel van die Pasga af vir sewe dae lank ongesuurde brood moes eet. Elke familie moes 'n lam na die fees saamneem, dit slag en eet in die nag waarop hulle hul uittog uit Egipte gedenk het. Daarmee saam moes hulle ongesuurde brood eet. Israel se trek in die nag uit Egipte het so haastig gebeur dat daar nie tyd was om die deeg vir die padkos in te suur nie (Eks. 12:34,39). Daarom noem Deuteronomium 16:3 die ongesuurde brood, "brood van ellende". Hulle moes dit elke jaar tydens hierdie fees eet:
"... want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou."
Die Here het egter reeds voor hul vlug uit Egipte bepaal dat hulle in dié tyd ongesuurde brood moes eet (Eks. 12:8,15). Alhoewel die feit dat die meel nie ingesuur was nie prakties gesproke sou help om die brood vinnig te kon voorberei, het dit ook 'n geestelike implikasie gehad.
Suurdeeg sien op die ou lewe in Egipteland. Die "lekker" van die sondige wêreld die vlees daarvan het hulle afskeid geneem. Nooit weer moes hulle terugverlang na die wêreld en sy plesier nie. Die sewende dag ná die pasga, die laaste dag van die fees van die ongesuurde brode, daardie dag in besonder moes "'n feestyd vir die Here" (Deut. 16:8) wees, want 'n mens vier jou redding uit Egipte, uit die wêreld, met blydskap. Na hierdie fees aan die begin van die jaar, moes elke Israeliet sy vrywillige offer neem.
Die Pinksterfees of "die fees van die weke" was die tweede groot fees van die jaar. Handelinge 2:1-2 verhaal hoedat die Heilige Gees juis op die dag van die jaar waarop hierdie fees gevier is, uitgestort is. Handelinge 2:1-2 sê:
"Toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het."
Hierdie fees word ook genoem "die fees van die oes" (Eks. 23:16). Die rede daarvoor is dat hulle die Pinksterfees presies vyftig dae ná die pasga moes vier. Om die Pinksterfees reg te verstaan, is dit nodig om kennis te dra van iets besonders wat Israel elke jaar reeds tydens die Paasfees gedoen het ter voorbereiding van die komende Pinksterfees. Met hul vertrek na Jerusalem vir die Paasfees, moes hulle die sekel vir die eerste keer in die jong koring op die land slaan. Hulle moes dan een gerf oes om saam te neem na die fees. Op die dag ná die pasga dit is dan die eerste dag van die week, die Sondag moes hulle hierdie eerstelingsgerf van hul komende oes aan die priester gee (Lev. 23:10-11).
Hy moes dit neem en voor die Here beweeg sodat diegene wat dit gebring het, vir God "welgevallig kan wees". So het hulle die res van hul oes aan die Here gewy. Na die Paasfees kon hulle dan gedurende die volgende sewe weke (49 dae), hul oes insamel.
Op die vyftigste dag ná die pasga is die Pinksterfees te Jerusalem gevier (Lev. 23:15-16). Dit was een groot dankfees om die Here te loof vir die oes. Dit word die dag van die Pinksterfees genoem omdat die woord pinkster afkomstig is van die woord vir die vyftigste. Hierdie vyftigste dag na die Pasga was 'n Sondag, die eerste dag van die week.
Die Israeliete moes veral nie met leë hande na die Pinkserfees gaan nie. Alhoewel hulle 'n vrywillige offer na elkeen van die drie feeste moes neem, is dit opmerklik dat waar die feeste in Deuteronomium 16 beskryf word, daar spesifiek ten opsigte van die Pinksterfees melding gemaak word daarvan (Deut. 16:10).
Die Huttefees of "die fees van die insameling" (Eks. 23:16) was die derde groot fees van die jaar. Dit was die oes "aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel".
Soos die Pinksterfees ná die graanoes gehou is, het die Huttefees weer gevolg op die wingerdoes.
Elke familie moes tydens hierdie fees vir sewe dae in 'n hut buite Jerusalem kamp opslaan. Hulle moes dit doen ter gedagtenis dat die Here hulle uit Egipteland uitgelei het. Met hul uittog en gedurende die reis deur die woestyn het hulle in hutte gebly (Lev. 23:42-43).
Hierdie derde fees van die jaar word ook genoem "die fees van die Here", want dit is die Here wat hulle in sy genade uitgelei het. Dit is Hý wat hulle so in hutte laat bly het. Die vrugte- en wingerdoes is hulle aan Hóm te danke. Hulle verneder hulself weer eens om hulself te identifiseer as die volk wat eens in hutte gewoon het. Hulle is Hom dankbaar, nie in die eerste instansie vir die oes nie, maar dat Hý hul name in die boek wat Hy geskrywe het, opgeteken het (Eks. 32:32-33, vgl. ook Luk. 10:20).
Ook na hierdie fees moes hulle nie met leë hande gaan nie.
Die drie groot feeste wat die hele Israel elke jaar te Jerusalem moes vier, was dan die Paasfees, die Pinksterfees en die Huttefees. Na elkeen van hierdie feeste moes hulle gaan "en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie".
Hierdie feeste is deur die Here voorgeskryf met die doel dat dit dankfeeste sou wees. In al drie die feeste het dit gegaan om dankbaarheid vir die Here se genadige verlossing uit Egipte. Dit is Hý wat hulle uit die slawehuis van die sonde verlos het. Hý het hulle uitgelei. Hý het hulle ook deur die woestyn gelei. Hý is die Een wat hulle gedurende die woestyntog versorg het ten spyte van hul sonde, rebellie en ongehoorsaamheid. En nou seën Hy hulle met alles in die beloofde land.
Wanneer hulle dan na die feeste gegaan het, het hulle uit dankbaarheid teenoor Hom hul hande gevul met veel meer as dit wat Hy in die Wet aan hulle voorgeskryf het. Naas die tiende van hul oes wat hulle volgens sy opdrag vir Hom geneem het, was hulle dankbaar teenoor Hom wat hulle uit al die volke, nasies en tale van die wêreld uitgekies het as sý volk. Hulle was opgewonde oor sy versorging en seën op hul handewerk, maar veral weens die voorreg om deel te kon wees van die volk deur wie Hy Homself aan die wêreld openbaar.
So het hulle oorgeloop van vreugde omdat hulle Hom kon ken, maar ook weens die voorreg dat hulle deel van sy plan kon wees om die wêreld te bereik.
Wanneer hulle dan na die feeste gegaan het, het hulle sy tiende van die oes vir Hom geneem. Uit dankbaarheid teenoor Hom wou hulle uit hulself egter ook iets van hul eie vir Hom gee - 'n vrywillige offer. Die vraag is nou: Wat is 'n vrywillige offer? Deuteronomium 16:10,16-17 bied hierop 'n antwoord. Volgens vers 17 moes elkeen gee
"... volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou gegee het."
Die maatstaf daarvoor was hul voorspoed. Dit was nie iets wat hulle iewers afgeknyp het nie. Dit was iets wat hulle spontaan en graag gegee het, nie uit hul gebrek nie, maar uit dit waarmee die Here hulle geseën het.
Toe Israel die beloofde land in besit geneem het, is daar aan elke familie 'n stuk grond toegeken. Met hierdie feeste moes elkeen volgens die seën wat die Here op sy oeste gegee het, sy vrywillige offer bring.
Diegene wat nie grond besit het nie en dus geen voorspoed gehad het nie, kon nie so 'n bykomende vrywillige offer bring nie. So kon die slaaf, die Leviete, die vreemdelinge (dit is die nie-Jode of heidene), die weeskinders en weduwees byvoorbeeld nie sonder meer ook sulke offers bring nie. Nee, hulle kon déél in die offers deurdat daarvan aan hulle uitgedeel was. Die vrywillige offer is nie iets wat iemand gee wat regtig nie het nie (2 Kor. 8:12). Al sou hulle ook hoe graag gee, hulle was onder geen verpligting daartoe nie.
Na al hierdie wonderlike waarhede speel daar 'n tragedie aan die einde van die Ou Testament af. Dit gebeur dat die Here sy volk sterk aanspreek oor hulle Hom, soos Hy dit sien, "beroof" het. Hulle het Hom beroof daarin dat hulle nie hul "tiendes en offergawes" gebring het nie (Mal. 3:8). Die offergawe sien hier op die vrywillige offer. Dit sou 'n offer wees want dit behoort aan hulle en hulle kon dit op hulself spandeer, maar hulle offer dit op om te gee dat daar oorvloed in sy ryk sal wees. Dink maar net aan die besondere seën wat die Here in Maleagie 3:10 aan Israel belowe as hulle tog maar net hul tiendes vir Hom wou gee. Hoeveel te meer sou Hy hulle nie wou seën as hulle boonop hul vrywillige offers van harte vir Hom sou gee nie?
Hoe weet 'n mens wanneer en hoe om 'n vrywillige offer te gee?
Die antwoord hierop vind ons in dié verhaal van die bou van die tabernakel in die Ou Testament. Uit die wyse waarop elkeen daartoe bygedra het, leer ons ook hoe 'n mens weet hoeveel of wat om te gee. Voorts leer die gedeelte ook hoe 'n nuwe projek soos die oprigting van 'n kerkgebou of toerusting wat vir die werk van die Here benodig mag word, gefinansier kan word.
Die opskrif by Eksodus 25 is: Vrywillige offers om die heiligdom op te rig. In vv. 1-9 word dan genoem wat benodig sou word vir die oprigting van die tabernakel, maar ook hoe elkeen sou weet of hy van die dinge moes bydra:
"Toe het die Here met Moses gespreek en gesê: "Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My 'n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. Ook moet hulle vir My 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Volgens alles wat Ek jou laat sien die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort so moet julle dit maak."
Uit dit wat hier genoem word, blyk dit dat die Israeliete die Egiptenaars gedurende die aand van hul vertrek redelik goed "berowe" het (Eks. 12:35-36). Hulle het hierdie silwer, goud en klere wat hulle van die Egiptenaars geëis het, al die tyd saam met hulle gedra. Geen wonder hulle het so gekla en gemurmureer nie.
En nou gee die Here aan Moses die opdrag om die volk te beveel om van hierdie items vir die oprigting van die tabernakel te gee. Ons lees daarvan in Eksodus 35:4-5:
"Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: "Dit is die saak wat die Here beveel het: 'Neem van julle besittings 'n offergawe aan die Here. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die Here: goud en silwer en koper ...'"
Moses noem dan alles wat die Here beveel het dat hulle moes bring. Die reaksie hierop word soos volg in vv. 20-22,29 vertel:
"Toe het die hele vergadering van die kinders van Israel van Moses af weggegaan. En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die Here gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere; die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring. En elkeen wat 'n offer van goud aan die Here gewy het ... Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets by te dra vir al die werk wat die Here deur die diens van Moses beveel het om te verrig as vrywillige offergawe aan die Here het die kinders van Israel dit gebring."
So het hulle aangehou totdat daar halt geroep moes word:
"Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die heiligdom besig was, ... met Moses gespreek en gesê: "Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die Here die vervaardiging beveel het." Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het 'n oproep deur die laer laat gaan en gesê: "Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie." Toe het die volk opgehou om te bring; want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly." (Eks. 36:4-7).
Is dit nie 'n wonderlike verhaal nie! 'n Soortgelyke verhaal word in 1 Kronieke 29 vertel waar Dawid 'n oproep maak vir die bou van die tempel. U kan dit gerus self daar lees.
Het dit nie al met u gebeur dat nadat u reeds in die maand u deel aan die Here gegee het, die gedagte by u opgekom het om 'n sekere bedrag aan 'n spesifieke instansie of persoon te stuur nie? Miskien het u daaroor gewonder en die gedagte met die Here bespreek. Op die ou end het u dit vir die mense aangestuur en maar net geweet dit is reg so. U het dit bo en behalwe u normale tiende gegee, maar tog het u vrede gehad daaroor en u het dit graag en met vreugde gegee.
Dit kan byvoorbeeld gebeur dat 'n mens iemand saamnooi kerk toe en terwyl jy by die boeketafel 'n sekere boek vir die persoon aanbeveel, dan weet jy net dat jý dit self vir die persoon moet gee. Dan géé jy dit en betaal self daarvoor! Of jy besef dat 'n vriend van jou 'n spesifieke kasset of reeks preke nodig het, en dan géé jy dit vir hom. So gebeur dit dat mense wat nie eers weet dat die Bybel dit leer nie, tog soms 'n vrywillige offer gee.
Ken u dit? Praat die Here só met u? Lei Hy u op hierdie wyse? Ek glo Hy doen dit in sy kinders se lewens, maar die vraag is of ons altyd luister as Hy hieroor met ons praat. Miskien luister ons nie omdat ons nie weet wat die Bybel, en veral ook die Nuwe Testament, in verband met die gee van vrywillige offers leer nie.
Moontlik mag dit tydens die lees hiervan by u opgekom het dat u die een of ander tyd ongehoorsaam was toe die Here u wou lei om so 'n offer te bring. Indien wel, bely dit aan die Here en vra Hom om u te leer wat Hy in sy Woord daaroor sê. Vra Hom ook om u van hier af verder duidelik te lei wat betref die gee van u vrywillige offers.
Waar Paulus in 2 Korinthiërs 8 juis oor vrywillige offers skryf, noem hy in vers 9 hoedat die Here Jesus Homself gegee het as 'n offer in ons plek:
"... julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word."
Dit is Hy wat vandag deur sy Gees in elke kind van God ook hierdie gesindheid werk: die gesindheid van die Here Jesus se selfontlediging (vgl. Fil. 2:5-8). Wanneer jy verneem van ander kinders van die Here wat swaar kry of deur beproewing gaan, of van sendingwerk wat gedoen moet word of van 'n projek wat aangepak word, of van iets wat vir die werk van die Here aangekoop moet word en jy ervaar diep in jou hart dat jy graag daarvoor wil gee, dan is dit moontlik God die Heilige Gees wat die gesindheid van die Here Jesus Christus in jou openbaar. Toets of dit die wil van die Here is deur met Hom daaroor te praat. Miskien kom daar 'n spesifieke bedrag in jou gemoed op. Bid en vra die Here om jou met sy bloed te reinig. Sy bloed het die krag om dit wat nie van Hom is nie, uit te wis. Sy bloed reinig 'n mens van dit wat van die vlees of die duiwel mag wees. Sy bloed sal egter nooit dit wat die Heilige Gees vir jou sê, wegneem nie.
Wanneer jy so bid, kan jy ervaar dat die gedagte om soveel te gee, verdwyn. Dit kan egter ook gebeur dat die gedagte by herhaling na vore kom. As jy so met die Here daaroor praat, en die gedagte kom later weer by jou op, aanvaar dat Hy dit so aan jou bevestig. Gaan dan en doen dit wat Hy vir jou sê. Doen dit in volle oorgawe van jouself en gee dit met die verwagting dat sy seën daarop sal rus. Gee dit met blymoedigheid.
U sien, dit is nie net hulle wat deur die Here geroep is tot sy voltydse diens wat hulself geheel en al aan die Here gee nie. Die Here begeer elke kind van Hom se hele lewe met alles wat hy mag besit of doen. Laat ons Hom gehoorsaam wees in alles wat Hy ons lei om te doen.
In beide die tabernakel en die tempel het God, toe dit volgens sy plan voltooi was, sy intrek geneem. Kragtens sy belofte in Esegieël 36:26-27 woon Hy nou in die hart van elkeen wat aan Hom behoort. Dit is die harte van mense wat nie volmaak is nie, maar wat volkome gereinig is in die bloed van sy Seun. Deur sy offer aan die kruis het Hy ons gekoop as eiendom van ons Vader. Laat ons onsself dan oorgee om volgens sy plan en wil alleen te lewe. Laat ons Hom in alles gehoorsaam wees.
Word vervolg in volgende uitgawes van die Bulletin
- Marina le Roux
Waar ons al so lankal begeer om Volume 8 van die reeks video's Die Toronto Herlewing - 'n Kritiese Evaluering te kan voltooi, het ons gereken om tog intussen die volgende interessante gegewe uit die pen van die bekende Chinese kerkleier, Watchman Nee, hier aan u deur te gee.
A great number of people desire to have joy in their feeling. The so-called holy laugh is an extreme case in point. It is taught that if a person is filled with the Holy Spirit he invariably will have this holy laugh. He who claims to have this kind of laughing cannot control himself. Without any reason he will laugh and laugh and laugh as if infected by a certain disease, and will appear to be partially insane.
Once in a meeting, after the sermon was concluded, it was announced that everybody should seek for this holy laugh. All began to beat tables or chairs, jumping and leaping all around, until not long afterwards this so-called holy laughing came. People would merely look at one another and break out laughing. The more they thought about it the funnier it became. And so they could not contain themselves and kept on laughing. What is this? Can this possibly be the fullness of the Holy Spirit? Can this be His work? No, this is plainly one of the works of the soul.
How do people get this laugh? What procedure do they follow, or what condition must they fulfill? It is nothing but simply the asking to laugh. There is but one thought, which is, to laugh. Are they seeking to be filled with the Holy Spirit? Their lips may indeed utter such words as "O God, fill me with your Spirit." Nevertheless, that is merely a procedure; the aim of asking to be filled with the Spirit is something else than to be filled. Though they may say so with their mouths, their heart desire is elsewhere. What is their aim? They want to laugh, to be joyful. They do not pray, "O God, I ask You to fill me with Your Spirit. I do not care for external sensation. If You fill me with Your Spirit, I am satisfied with or without feeling." Whoever wishes to be filled with God's Spirit ought to assume such an attitude.
Let me relate a true story. A student had repented and believed in the Lord. He had a fellow-student who professed to be filled with this holy laugh and seemed to be excessively joyful. This fellow-student urged him to seek to be filled with the Holy Spirit, saying how joyful he himself was from dawn to dusk without any sadness, and stating how helpful this experience would be to spiritual growth. Considering that his fellow-student was a believer and already a possessor of this experience, the recently saved student thought he too should have it. Accordingly, he began to pray earnestly to God. He continued in prayer, asking God to give it to him; to such an extent that he lost his appetite and neglected his study.
Later on he went to see his teacher and asked that he pray for him. The student himself pleaded fervently with God, and vowed that he would not get up from prayer that evening if God did not give it to him. He kept on praying till suddenly he leaped up and shouted how joyful he was. He laughed and laughed. The more he laughed the funnier he felt. He laughed and danced and shouted. His teacher thought he must be out of his mind. Acting as though he were a physician, the teacher took hold of him and said, "Brother, be quiet, do not act disorderly." but the more he was admonished, the fiercer he reacted. His teacher dared not say anything more, being fearful lest he offend the Holy Spirit if this were truly of God. Finally the student went home and was better the next day. Now this was nothing but a great release of soul power, for he had fulfilled the condition for its release.
Uittreksel uit: The Latent Power of the Soul, Christian Fellowship Publishers, New York, 1972, p. 71-74
Wat bedoel Watchman Nee hierbo met soul power? In kort kom dit daarop neer dat met die sondeval, Adam, soos verlei deur Eva, gekies het om onafhanklik van God te funksioneer. Watchman Nee sê:
"The tree of life, though, signifies dependence or reliance on God. The significance of this tree further tells us that Adam's original life is but a human life, and that therefore he needs to depend on God and receive God's life in order to live. But the tree of the knowledge of good and evil discloses that man does not need to depend on God but he can work and live and bear fruit all by himself."
Wanneer ek as Christen dan my wil probeer afdwing op God, in plaas daarvan om in afhanklikheid van Hom, sy wil te soek, en dit te doen, maak ek staat op my eie krag (my soul power, of die krag van my vlees) om dinge te laat gebeur. So gebruik ek my soul power om dinge, somtyds selfs goeie dinge, te laat gebeur. Dit is egter nie hoe God beplan het om sy werk deur ons gedoen te laat word nie. Paulus sê in 2 Korinthiërs 10:4-6: " ... want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus."
Om meer te verstaan van wat Watchman Nee bedoel met soul power en hoe om daarteen te waak, sal dit goed wees om sy boek, The Latent Power of the Soul te lees.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/