Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579 SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 1:A Kérugma® Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
MAART 1999

"Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus ... dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon" (Efé. 3:16-17).

IS U SEKER DAT JESUS AL IN U HART WOON?

- Ignatius A le Roux

Paulus noem in Efésiërs 3:14-19 'n spesifieke gebed wat hy vir die Christene te Efése bid. Een van die dinge waarvoor hy so vir hulle bid, is dat die Here Jesus "deur die geloof in julle harte kan woon". Nou is die vraag: Hoe moet ons dit verstaan dat Paulus bid dat die Here Jesus in hulle harte moet woon, as hulle dan reeds kinders van God is?

Paulus noem in Efésiërs 1:3 dat die Vader hulle "geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus". Hy verklaar verder dat die Vader hulle uit genade gered het "en saam opgewek en saam laat sit het in die hemele in Christus Jesus" (Efé. 2:5-6). Voorts sê hy in Efésiërs 3:17, waar hy bid dat die Here Jesus in hulle harte moet woon, dat hulle "in die liefde gewortel en gegrond is".

Waar het hulle aan hierdie goddelike liefde gekom? In Romeine 5:5 leer Paulus dat die Heilige Gees die liefde van God in ons harte uitstort wanneer Hy in ons kom woon. Hy het dus reeds in die Christene te Efése gewoon en gewerk. Wat bedoel Paulus dan wanneer hy bid dat die Here Jesus in die harte van hierdie kinders van God moet woon? Hoe sou die Efésiërs hierdie gebed verstaan het?

Die antwoord op hierdie vraag lê opgesluit in die betekenis van die woordjie "woon", soos wat Paulus dit hier gebruik.

Die begrip "woon" sluit iets in van dit wat Jesus in Johannes 10:9 sê wanneer Hy verklaar:

"Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind."

'n Skaap wat deel geword het van 'n kudde, is tuis in die kraal en beweeg onder die sorg van die herder, oral rond. So 'n skaap gaan "in en uit". Hy kom saans in die kraal in en beweeg smôrens weer uit na die weiveld. So behels die woordjie "woon" dat jy tuis en op jou gemak is. Jy kan kom en gaan soos dit jou pas. Jy kan dinge in jou huis inrig soos jy daarvan hou. Daar doen jy wat jy wil, soos dit vir jou lekker en aangenaam is. Dit is jou huis. Jy is die eienaar daarvan en besit dit. Jy hoef niemand se toestemming te vra vir enigiets wat jy doen nie. Wanneer iemand spontaan kan "ingaan en uitgaan", is hy kommervry. Hy is tuis, op sy gemak en weet dat hy daar behoort. Hy is gelukkig en kan homself wees.

'n Verdere betekenis van die woordjie "woon" word in Matteus 12:45 aangetref. Die Here Jesus noem daar van 'n groep bose geeste wat beheer kry in 'n persoon se lewe. Hy sê dan: "... en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste." Wanneer bose geeste so in 'n persoon se lewe "woon", is hulle in beheer van so 'n mens se lewe. Hulle regeer oor hom en doen in en deur hom wat hulle graag wil. Hulle manifesteer hul aard en werk in en deur so 'n mens se lewe. Dit is 'n aaklige gedagte, maar dit is 'n realiteit. 'n Mens sien dit byvoor-beeld in die geval van die gedemoniseerde van Gadara (Mark 5:1-7). Tot voor die Here Jesus hom vry gemaak het, was sy lewe die "woonplek" van die legioen bose geeste.

Alhoewel demone op ander wyses in mense se lewens werk as wat die Heilige Gees doen, is die woord wat Jesus gebruik om te sê dat die bose geeste in hierdie persoon se lewe "woon", dieselfde woord wat Paulus in Efésiërs 3:17 gebruik, wanneer hy bid dat Jesus in die harte van die Efésiërs moet woon. Die feit dat hy bid dat Jesus in hulle harte sal "woon", beteken nie dat Hy nie reeds in hulle harte is nie, maar dat Hy nog nie regtig in beheer van hul lewens is nie. Hy is nie ten volle in beheer van hul harte nie en voel as't ware nog nie regtig tuis daar nie. Gevolglik kan Hy nie die werk daar doen wat Hy eintlik begeer om te doen nie. Dit is naamlik om sy inwoning in hul harte te openbaar deur die vrug van die Heilige Gees in hul lewens na vore te bring (Gal. 5:22).

Dit klink vreeslik om te dink dat Jesus in 'n mens se lewe kan wees, maar nie tuis is aldaar nie. Wat deur die betekenis van die woord "woon", soos Paulus dit in hierdie gebed gebruik, duidelik blyk, is dat die gevaar bestaan dat alhoewel die Here Jesus in iemand se lewe ingekom het, Hy nie noodwendig tuis en op sy gemak is daar nie. Dit is asof Hy teenwoordig is in so 'n lewe, maar Hy is nie in beheer daarvan nie. Hy word daar geduld soos 'n loseerder, eerder as die hoof van die huis. Hy kan nie op sy gemak wees en kom en gaan soos Hy graag wil nie. Nee, sy ervaring is dat sy teenwoordigheid daar maar net geduld word. Dit gaan vir Paulus in hierdie gebed dus nie oor die teenwoordigheid van die Here Jesus in die lewe van 'n gelowige nie, maar oor die hoedanigheid van sy inwoning in so 'n persoon se hart. Hoedanig is die posisie wat Hy in so 'n lewe beklee.

Wanneer 'n mens eers jou eie huis het, dan vind jy rus. Wat 'n vrede moet 'n mens nie ervaar as jy weet dit is jou eie huis nie? Jy kan maar daarin bly en daarin maak soos jy wil. Daar kan jy ontspan, ontvang en onthaal wie jy wil en maar net jouself wees. Kom jy van die werk af, dan weet jy, jy kan nou maar rustig wees en jou gang gaan.

Die Here praat in die Ou Testament onder andere in Jesaja 66:1 in hierdie terme wanneer Hy dringend aan sy volk vra:

"Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?"

Sy huis, sy rusplek sou wees die plek in hul midde waar Hy tuis, op sy gemak en in beheer sou wees.

Weens Israel se afgodery is sy deur Nebukad-nésar in ballingskap weggevoer. Jerusalem en die tempel is gelyk gemaak met die aarde (2 Kron. 36:11-21). Nou met haar terugkeer en herstel 70 jaar later, is daar diegene wat reken dat as die tempel net eers weer herbou is, sal God weer in hul midde woon. Die Here verduidelik egter in Jesaja 66:3-4 watter afsku Hy sal hê in die offers wat hulle reken om in hierdie tempel vir Hom te bring:

"Wie 'n bees as offer slag, is soos hy wat 'n man doodslaan; wie 'n lam offer, soos hy wat 'n hond se nek breek; wie 'n spysoffer bring - dit is varkbloed; wie wierook as gedenkoffer bring, is soos hy wat 'n afgod prys."

Dit mag verskriklik klink, maar dit is hoe die Here vormgodsdiens sien. Hulle wou 'n tempel bou sodat hulle die offers wat Hy hulle deur Moses beveel het, kon bring. Weens die straf van ballingskap wat hulle moes verduur, is hulle nou klaar met die afgode en wil hulle streng volgens sy voorskrifte handel. Hy ken egter hul harte en weet dat hulle dit bloot wou doen om te kan sê hoe vroom hulle nou is. Hulle pleeg nie meer afgodery nie, maar bring sy offers. Waarmee vergelyk Hy die offers wat hulle met so 'n gesindheid wou bring? Volgens die teks hierbo stel Hy dit gelyk aan moord en die ergste vorm van afgodery denkbaar. Hulle wou die offers wat Hy ingestel het bring, maar met dieselfde motief waarmee 'n afgodedienaar sy offers bring, naam-lik om Hom tevrede te stel. Om Hom te manipuleer om hulle te seën in dit wat hulle graag wil doen. So het hulle Hom gedegradeer tot niks minder nie as nog 'n afgod. Daarom vra Hy vir hulle:

"Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?"

Wanneer Hy dit vra, vervolg Hy dan deur in Jesaja 66:2 te verklaar:

"... op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord."

In die Ou Testamentiese konteks sou dit sekerlik nie verkeerd gewees het om die tempel te herbou en die offers weer te bring nie. Maar om dit te doen net om te kan sê: "Ons is nie so sleg soos ons ouers wat die afgode aanbid het nie. Óns aanbid die enigste ware God; die God van Israel. Kyk hoe bring ons sy offers!"

Hierdie gesindheid waarmee hulle hul offers vir Hom wou bring, is vir Hom 'n gruwel. Daarom vergelyk Hy dit wat hulle doen, met moord en afgodery. Hy begeer nie 'n fisiese tempel om in te woon nie, maar eerder om in hulle midde te woon. Wat Hy wil hê is om hulle God te wees wat tuis in hulle midde sou wees. Om in hulle harte te woon, dit is sy begeerte.

Die Here wat die harte ken, is die Een wat vandag ook vir ons vra:

"Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?"

Hy wat die harte ken, is die Een wat vra: "Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou?" Wanneer Hy dit vra, verklaar Hy: "... op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord."

Hy het vandag steeds geen ander woonplek hier op aarde nie as die harte van sy kinders. Daarom is dit goed om te let op die gebruik van die begrip "om te woon" in die Bybel.

Die Efésiërs kon presies verstaan wat Paulus vir hulle bid. Hulle wat in die liefde van God gewortel en gegrondves is, hul lewens moes sodanig die woonplek van die Here Jesus wees dat Hy daadwerklik sou tuis wees in hul harte.

Kom ons vra onsself die vraag: Het die Here Jesus al 'n rusplek in ons lewens gevind? Is dit 'n plek waar Hy weet en ervaar dat Hy tuis en op sy gemak is? Waar Hy aanvaar word en in beheer is? Waar daar niks is wat sy rus versteur nie? Waar alles gebeur volgens sy wil en waar niks toegelaat of geduld word wat Hom nie aanstaan nie?

Spreuke 4:23 beveel ons:

"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe."

Elke gedagte wat ons dink, elke woord wat ons praat en alles wat ons doen, het hul oorsprong in ons hart. Waak ons regtig oor elke gedagte, woord en daad soos mense wat weet dat die Seun van God in ons harte woon?

Gedurende die woestyntog het die Here in die allerheiligste van die tabernakel gewoon. Sy teenwoordigheid was duidelik sigbaar weens die wolkkolom wat bedags vanuit die allerheiligste opgestyg het en die hele volk teen die hitte van die son beskerm het. Snags was sy teenwoordig-heid waarneembaar as 'n vuur wat uit die aller-heiligste lig, hitte en beskerming oor die hele laer gebied het. Wanneer die priesters die bloed van die volk se offers in die heiligdom ingeneem het, hoedanig moes hulle stille aanbidding van die Here nie gewees het nie? Hulle moes bewus gewees het dat Hy elke gedagte wat hulle dink, kon sien. So is dit wat die oorspronge is van alles wat ons dink, praat en doen, ook direk saam met die lewende God in die troonkamer van ons hart. Hy weet en sien alles. Dit speel direk voor sy aangesig af. Dit is Hy wat belowe het om met die wedergeboorte nie net aan ons 'n nuwe hart en 'n nuwe gees te gee nie, maar om self ook deur sy Heilige Gees in ons nuwe, wedergebore gees te kom woon (Eseg. 36:26-27).

Is u seker dat u al wedergebore is?

Die Here Jesus sê:

"...as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh. 3:3).

Hy is die Een wat sy lewe aan die kruis afgelê het met die belofte:

"Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly ... die Gees van die waarheid ... julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees" (Joh. 14:16-17).

Luister mooi na die volgende wat Hy, op pad na die kruis, vir ons belowe het:

"As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak" (Joh. 14:23).

Het u Hom lief? Woon Hy, rus Hy, in u lewe?

Wil u nie uself afsonder met Hom om u lewe, u hart, algeheel en onvoorwaardelik aan Hom oor te gee nie? In 2 Kronieke 16:9 het ons die versekering dat:

"... die HERE - sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is."

Hoe kry 'n mens jou hart daar waar dit daadwerklik, permanent, onverdeeld op die Here gerig is? Daarvoor is meer nodig as maar net 'n skietgebedjie. Wat help is om jou met die Here af te sonder en die saak behoorlik met Hom uit te maak. Doen dit wat Jesus in Matteus 6:6 beveel en sonder jouself af sodat jy jou aandag by die Here kan bepaal. Doen dit gereeld dag vir dag en spreek elke keer die begeerte uit dat jy jou hart onverdeeld op Hom wil rig. Dat jy wil hê dat Hy in jou hart moet woon en in algehele beheer moet wees van jou hele lewe. Dat jou emosies, jou gedagtes, jou woorde en jou dade onder sy beheer sal staan.

Wanneer jy dit gereeld, dag vir dag oor 'n tydperk heen bid, sal jy ervaar hoedat Hy stukkie vir stukkie vir jou sal toon watter aspekte van jou lewe nog nie aan Hom behoort nie. Sodoende sal Hy jou help om die een ding na die ander uit te gooi en te oorwin. Dinge wat jy nooit gedink het sonde kan wees nie, sal Hy aan jou uitwys as dat dit Hom nie aanstaan nie. Luister na sy stem en breek daarmee. Jy sal ervaar hoedat Hy al hoe meer in beheer van jou gedagtes, woorde en dade kom. Sodoende sal dit wat eie aan Hom is, sy karaktereienskappe, al hoe meer tot open-baring kom in jou lewe. Dit is waarvan Paulus in Galasiërs 5:22 praat as die vrug van die inwoning van die Here Jesus deur sy Gees in die gelowige se lewe.

Woon die Here Jesus al so in jou hart?

Hy verseker ons:

"... op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord."

Wanneer Hy praat, hetsy deur sy Gees diep in jou hart of deur sy Woord, die Bybel, luister dan na Hom en doen dit wat Hy sê. Wees sensitief daarvoor om dit nie te ignoreer of weg te redeneer nie. Praat met Hom daaroor en vra Hom om aan jou die genade en die krag te verleen om Hom te gehoorsaam. Sodoende sal jou lewe 'n lewe word waarin slegs dit wat Hom behaag, gedoen word. Dit is 'n lewe waarin en waardeur Hy Homself aan die wêreld kan openbaar. In die hart van so 'n persoon kan Hy daadwerklik woon.

Wanneer mense 'n nuwe huis betrek, gaan hulle normaalweg deur die proses waar hulle dit inrig na hul begeerte en smaak. Soms verbreek en verbou hulle selfs daaraan. So ook wanneer die Seun van God in ons lewens kom bly. Dink maar aan die eerste waarneembare verandering in die lewe van die persoon wat Hy in Markus 5 bevry het van die legioen bose geeste:

"Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand - die een wat die legioen gehad het."

Wanneer bose geeste in 'n mens woon, dwing hulle hulself op jou af. Hierteenoor is die Here Jesus die Een wat stilweg met jou sal praat, maar die keuse of jy Hom gaan behaag, aan jou oorlaat.

Laat ons onsself daarop toespits om gehoorsaam te wees aan selfs die geringste influistering van die Heilige Gees. Ons het die belofte van die Vader dat die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het, in ons woon om ons in staat te stel om in sy insettinge te wandel en om sy verordeninge te onderhou en te doen (Eseg. 36:27). Dit is Hy wat ons na die "rykdom van sy heerlikheid" met krag versterk deur sy Gees in ons innerlike mens. Ons mag Hom, so gereeld as wat ons dit mag nodig hê, daarom bid.

Mag die Here Jesus daadwerklik in u hart woon.


Kopiereg © 1999 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21 906-2637
E-pos:
info@kerugma.org.za; http://www.kerugma.org.za/