Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579 SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 2:2 Kérugma® Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
MAART 2000

"... God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in die mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God." (1 Kor. 2:10--11)

DIE INWONENDE HEILIGE GEES

- Ignatius A le Roux

In die teksgedeelte hierbo praat Paulus onderskeidelik van die "Gees van God" en die "gees van die mens". Die "Gees van God" of die Heilige Gees en die "gees van die mens" is duidelik te onderskei van mekaar.

Die Gees van God, so sê hy, ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Die Nuwe Vertaling stel dit so:

"... die Gees deursoek ... die diepste geheimenisse van God."

Paulus verduidelik dan verder hoedat die Heilige Gees dit doen. Hy gebruik 'n voorbeeld wat elke mens ken, naamlik hoe die gees van die mens in homself werk. So vra hy dan: "...wie van die mense weet wat in 'n mens is?" Elkeen van ons weet dat geen ander mens ooit kan weet presies wat daar diep binne-in jou aangaan nie. Slegs jy ken die diepste gedagtes van jou hart. Diep binne-in jou gees weet jy wat jou hartsbegeertes, jou diepste verlange, jou verborge gedagtes is.

Die vraag is nou: Hoe weet 'n mens se gees wat binne-in hom aangaan? Die antwoord is heel eenvoudig: Die gees van die mens weet wat binne hom aangaan omdat hy gedurigdeur die kamers van die hart van die mens deursoek.

Nou sê Paulus dat net soos wat die gees van die mens weet wat regtig binne sy hart leef, net so weet die Gees van God wat binne-in die hart van God die Vader self aangaan. Daarom sê hy in vers 11:

"So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God."

Die Heilige Gees of dan die Gees van God is dan die een wat weet wat binne-in die hart van God aangaan. Hy weet dus wat die wil van die hemelse Vader is. As Hy dit aan 'n kind van God bekend sou maak, dan sal daardie persoon ook weet wat die wil van God is. Paulus skryf hier dat dit juis die wyse is waarop die mens die wil van God ken.

Paulus begin vers 10 deur te sê: "God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar ..." Hierdeur sê hy dat God die Vader, deur sy Heilige Gees, Homself aan ons openbaar. God, die Almagtige Skepper van die heelal, maak die diepste geheimenisse van sy hart aan ons bekend!

Die vraag is egter: Hoe doen Hy dit? Die antwoord is weer eens duidelik: Hier staan dat God die Vader dit wat in sy hart aangaan, deur die Heilige Gees aan die mens openbaar.

Ons teksvers leer ons verder iets meer omtrent die mens. Dit leer ons van iets in die mens wat dieselfde is as in God. Vers 10 sê die Gees van God ondersoek "die dieptes van God". Vers 11 sê verder: "So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God".

Ons leer hier iets meer omtrent die werking van die Heilige Gees. Volgens vers 11 is dit, wat hierdie saak betref, met die mens presies dieselfde as met God. Daar staan: "...wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?"

Hieruit kan ons sê dat die gees van die mens dieselfde werking in die mens het as wat die Gees van God in God het. Ons kan dit wat verse 10 en 11 vir ons omtrent die Gees van God leer, dus ook van toepassing maak op die gees van die mens. Dit beteken dat ons dan ook kan sê: Die gees van die mens ondersoek die dieptes van die mens. Ons kan verder sê: So weet geen ander mens wat in 'n mens is nie, behalwe die gees van die mens.

Hier kry ons 'n analogie tussen die Gees van God en die gees van die mens. God het die mens as sy beelddraer geskape en dit is juis hierin dat die mens die beeld van God is. God het die plante en diere op die aarde geskape en Hy het gesê dat dit baie goed was. Hulle was volmaak soos Hy hulle wou gehad het, maar met nie een daarvan kon Hy kommunikeer nie. Ten spyte daarvan dat Hy hulle self geskape het, kon Hy geen gemeenskap met die dier en die plant hê nie. Dit is daarom dat Hy besluit het om die mens as sy beeld en sy gelykenis hier op aarde te skape.

Genesis 2:7 sê vir ons presies hoe God te werk gegaan het toe Hy die mens geskape het. Dit is met 'n spesifieke doel dat die skepping van die mens hier so breedvoerig beskryf word. In die begin lees ons net dat God gespreek het en dan het dit wat Hy gesê het, gebeur. Genesis 2:7 openbaar egter dat God 'n spesifieke ding gedoen het toe hy die mens geskape het.

Wat die dier betref, leer Genesis 1:30 iets besonders. Deur dit wat God daar noem wat die dier mag eet, en wat sy voedsel sou wees, openbaar God meer omtrent die dier:

"...aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel."

Hoe beskryf die Woord van God die dier? Dit sê dat diere lewende wesens is, hulle het 'n liggaam en 'n siel. Die dieresiel is die lewe van hierdie wese. Dit is sy vermoëns van gevoel en van instink. Veel meer as dit het die dier egter nie.

In Genesis 2:7 leer ons voorts dat daar meer in die mens as in die dier is:

"...die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword."

Die mens het dus 'n liggaam wat bestaan uit die stof van die aarde. As 'n mens sterwe, bestaan hy bloot uit 'n stuk protoplasma. Hy bestaan uit die stof van die aarde. God het egter die liggaam wat Hy uit die stof van die aarde gemaak het, geneem en in sy neus die asem van die lewe geblaas.

Die vraag is: Wat is die asem van die lewe? Die Bybel leer ons dat die asem van die lewe die gees van die mens is (vgl. bv. Job 27:3; Sag. 12:1). Toe die gees op die liggaam ingewerk het, "het die mens 'n lewende siel geword."

Met ander woorde, toe die gees op die liggaam ingewerk het, het daar 'n medium gekom wat gees en materie aan mekaar verbind. Die oomblik toe die gees op die liggaam ingewerk het, het die lewende siel ontstaan. Dit is soos die elektrisiteit wat deur die smeltdraadjie in die gloeilamp vloei en dan ontstaan daar lig. Wanneer die elektrisiteit (die gees) deur die smeltdraadjie (die materie of liggaam) vloei, dan is die lig (die siel) daar.

Die siel van die mens omvat sy wilskrag, die intellek (met sy gedagtewêreld, sy geheue en sy verbeeldingskrag) en ook die emosies van die mens.

Die vraag is nou: In watter opsig verskil die mens dan van die dier? Die antwoord lê daarin dat die dier 'n lewende wese is wat bestaan uit 'n liggaam en 'n lewende siel. Die mens verskil egter van die dier in die opsig dat die mens nie net 'n liggaam en 'n siel het nie, maar dat die siel van die mens anders is as die van die dier, onder andere in die opsig dat dit eers ontstaan het toe daar gees op die liggaam ingewerk het.

Die mens is dus anders as die dier, want God het die asem van die lewe in die mens ingeblaas. Die mens het dus, naas sy siel, ook 'n gees. Dit is daarom dat 1 Tessalonisense 5:23 vir ons sê:

"...mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van ons Here Jesus Christus."

Gees, siel en liggaam - dit is waaruit die menslike wese bestaan.

Ons kan hierdie gees, siel en liggaam van die mens voorstel as drie verskillende sirkels waarvan die een in die ander geplaas is.

Aan die buitekant kry ons die liggaam van die mens met sy vyf sintuie. Met sy liggaam het die mens gemeenskap met die uiterlike, sigbare tasbare wreld. Die liggaam van die mens is materie en daarmee het hy kontak met die materiële wêreld rondom hom. Die siel wat bestaan uit die intellek, wil en emosies van die mens, is die tweede sirkel. Binne-in hierdie tweede sirkel kry ons die gees van die mens, die asem van die lewe. Dit vorm die kleinste of derde sirkel.

Tussen die gees en die siel van die mens is daar 'n brug, dit is die hart van die mens. Die Bybel sê vir ons dat uit die hart van die mens is die oorspronge van die lewe. Diep binne-in sy hart, daar is sy gees, maar uit sy hart ontspring sy emosies, sy gevoelslewe, sy intellektuele vermoëns en ook sy wilskrag. Ons kan nie hierdie dinge losmaak van mekaar nie. Dit alles saam vorm 'n pragtige geheel. Ons moet dit egter van mekaar onderskei.

So kry ons die gees van die mens, diep binne-in die mens, as die orgaan waardeur die mens met die geestelike wêreld kan kommunikeer. Oorspronklik was dit bedoel as die komponent in die mens waardeur hy met God kan kommunikeer. Dit is waarvoor God die mens geskep het. Hy het 'n wese daargestel met wie Hy kon kommunikeer. Hierdie wese, die mens, het egter deur die sondeval bedorwe geraak. Dit is na gees, siel en liggaam - in sy totaliteit - dat die mens in sonde geval het. Die mens het gesterf omdat hy van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het; omdat hy ongehoorsaam was aan die wil van God. So het die mens ook in sy gees gesterwe. Sy kommunikasie met God was afgesny.

Dit is daarom dat hy weergebore moet word. God sê in Esegiël 36:26:

"... Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee."

Hiermee sê Hy dat Hy in die mens 'n hartoorplanting sal doen. Hy sal die hart van klip uit die mens wegneem. Hy sal die mens oopsny en hierdie hart van klip waarmee hy gebore is toe hy die eerste maal na die vlees gebore is sal Hy uit hom uithaal. Hy sal dan in sy genade vir hom 'n nuwe, sagte, soepel hart van vlees gee. Binne-in hierdie nuwe hart sal Hy ook vir hom 'n nuwe gees gee. Dit is die wedergeboorte. Dit is wat elke mens op aarde nodig het: om 'n nuwe gees te ontvang uit die hand van God.

Dit is die werk van God die Heilige Gees om hierdie nuwe gees in die mens te skep. Die mens moet dus 'n tweede keer gebore word. Nou word hy, wat vroeër uit sy ouers na die vlees gebore is, ook na die gees gebore. Hy word uit God gebore (Joh. 1:13). Hy ondergaan die wedergeboorte.

Esegiël 36:27 sê verder dat daar meer gebeur wanneer God in sy genade dit vir die mens gee:

"... Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen."

Hy sê dat wanneer Hy vir die mens 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, dan laat Hy ook sy Heilige Gees binne-in die nuwe wedergebore gees van die mens woon. Met ander woorde, die Gees van die heilige God kom woon binne-in die gees van die mens. Dit is daarom dat die Bybel sê dat ons die tempel van die Heilige Gees is:

"... weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is ... nie?"

Weet julle dit nie? Hoekom vra Hy dit so? As 'n mens dit weet, dan gaan jou lewe dienooreenkomstig wees. As jy weet dat die Heilige Gees, die Gees van God, binne-in jou gees woon, dan gaan jou hele wese oorgegee wees aan die Heilige Gees van God. Dan gaan jy stil wees voor Hom om te hoor wat Hy vir jou sê.

Dit is daarom dat die Here Jesus vir ons in Johannes 4:23-24 sê dat die Vader in die hemel ware aanbidders soek, mense wat hom in gees en in waarheid aanbid! U sien, gees kommunikeer met gees. Miskien is dit baie Christene se probleem. Hulle is nie bewus daarvan dat God die Heilige Gees binne hulle gees woon nie. Dat Hy daar woon en werk en die Here Jesus Christus in hulle verheerlik nie (Joh. 16:14).

Ja, baie weet nie dat Hy daar in hulle gees die diepste geheimenisse van God aan hulle openbaar nie. Hulle soek na die stem van die Here en hulle wil graag weet hoe 'n mens die stem van die Goeie Herder kan hoor. Hulle soek egter sy stem in hul gedagtes, in hul verstand. Of hulle soek sy stem in hul verbeeldingskrag, of in hul emosies, in hul gevoelslewe. Dit is daarom dat dit vir hulle so belangrik is om in 'n plek te kom waar die emosies hoog loop sodat hulle weer 'n slag, volgens wat hulle mag verstaan, die stem van die Here kan "voel".

'n Mens "voel" nie die stem van die Here nie. Die werkinge van die Heilige Gees in ons lewens is nie iets wat ons op die manier moet "ervaar" nie. Die ervaring daarvan is anders; dit is veel dieper in die mens. Johannes leer ons:

" ... julle het die salwing van die Heilige en weet alles."

Dit wat die Heilige Gees in ons lewens doen, is iets wat ons weet. Dit is nie 'n gevoel nie, maar strek dieper as ons emosies. Dit is 'n oortuiging wat ons daar diep in ons gees ervaar. 'n Mens WEET dit maar net. Dit is soos geloofsekerheid soos Romeine 8:16 sê:

"Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is."

In jou gees WEET jy dit maar net. Niemand kan vir jou sê hoe dit is nie. Jy kan dit nie by andere leer nie. Dit is maar net iets wat jy weet. Dit is eintlik wat geloof is. Wanneer 'n mens wedergebore word en 'n nuwe hart en 'n nuwe gees ontvang, dan het jy ware reddende geloof. Jou nuwe wedergebore gees gee aan jou die vermoë om te glo in die Seun van God. Die Heilige Gees woon nou in hierdie gees van jou en lei jou (Rom.8:14). Daarom is jy nou iemand wat in die geloof wandel. Dit is wat Johannes ons verder leer in verband met die salwing van die Heilige:

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly." (1 Joh. 2:27)

Die feit dat ons kragtens die salwing van die Heilige alles weet, beteken nie dat ons op intellektuele vlak kennis dra van alles in hierdie wêreld nie. Dat daar niks is wat iemand my kan leer nie. Nee, dit gaan om die feit dat ons alles WEET. Ons weet alles wat ons nodig het om te weet deurdat die salwing van die Heilige in ons woon en dit aan ons gee. Hy weet wat in die hart van die Vader aangaan en maak dit aan ons bekend.

Net soos wat ons Hom met ons wedergeboorte leer ken het, net so moet ons voortgaan om na Hom te luister. Hoe het ons Hom leer ken? Dit was Hy wat ons oortuig het dat ons verlore is. Dis is verder ook Hy wat ons die vrede gegee het dat die Vader ons so lief het dat Hy sy Seun geoffer het om ons te red. Sy werk is om 'n mens te oortuig van jou sonde en dat Jesus die enigste Een is wat jou kan verlos (Joh. 16:8-11). So werk Hy steeds in jou lewe deur jou te oortuig van dit wat die wil van die Vader is. Ons moet leer om maar net na Sy stille werking in ons gees te luister. Dit is hoe ons in Hom moet bly.

Hy is die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 16:13). So is dit dat ons deur sy voortdurende werking daar diep in ons harte altyd alles WEET soos wat Hy van oomblik tot oomblik, van situasie tot situasie aan ons die wil van die Vader kommunikeer.

So is elke kind van God 'n gesalfde en het ons nie nodig om allerhande "gewaarwordinge" of "manifestasies" in ons uiterlike mens te ervaar om sogenaamd die salwing te ondervind nie. In die Ou Testament is die konings, die priesters en die profete gesalf vir hul diens. Hierdie onderskeie salwinge deur die Here Jesus is in Sy kruisdood vervul. Daarom kon Hy die Heilige Gees uitstort waardeur elkeen in wie Hy kom woon het, vandag 'n gesalfde van die Here is (1 Kor.1:21). As sodanig is dit nodig dat ons sal leer hoe om "in Hom te bly" (1 Joh.2:27). Hoe om Sy stem diep in ons harte te onderskei van ons eie gedagtes, gevoelens en van die influisteringe van die Satan. Ons moet leer hoe om in spontane gehoorsaamheid aan Hom te wandel.

So baie keer gebeur dit dat wanneer ons 'n geestelike boek lees, of na 'n preek luister, of na iemand anders se gebed luister, dat ons geestelike dinge hoor wat alles waar mag wees maar waar hoor ons dit? Ons hoor dit slegs in ons emosies of in ons intellek. Dit gaan nie dieper as die vlak van ons siel nie. Ons voel dit en ons reageer op ons gevoel en volgens wat ons kan onthou in ons geheue. Of selfs van wat ons self uitdink deur ons verbeeldingskrag. Of wat ons hoor wat iemand anders sê, maar dit kom net tot op die vlak van die siel. Dit is nie die stem van die Goeie Herder nie.

Daar is twee dinge wat ons moet weet sodat ons sy stem reg sal kan onderskei. Wat nodig is, is dat ons eerstens moet weet dat ons 'n gees het. Tweedens moet ons weet wat ons gees is. Ons moet weet hoe dit funksioneer sodat ons in ons gees kan onderskei dit wat God vir ons daar sê. U sien, God die Heilige Gees praat stil, sagweg, oortuigend met ons. Daarteenoor skiet die vyand sy vurige pyle in ons gemoed in met aanklagtes en met beskuldiginge teen ons. Dit dryf ons telkens in 'n sekere rigting. Die stem van die Goeie Herder dryf ons nooit nie. Die Here Jesus sê in Johannes 10 dat Sy skape Hom volg omdat hulle sy stem ken. Hy sê nie dat die herder agter die skape aanloop en hulle veld toe jaag nie. Nee, hy loop voor hulle uit en hulle volg hom omdat hulle sy stem hoor. Hulle hoor hom, en hulle gaan agter sy stem aan, want hulle weet dit is sy stem.

Dit is ook hoe God die Heilige Gees werk. Hy lei ons deurdat hy stil, sagweg, oortuigend daar diep in ons gees met ons praat. U sien ons gees, daar is die orgaan waarmee ons gemeenskap met God in die hemel het. 'n Deel van ons gees is ons gewete waar ons weet wat reg en verkeerd is. In ons gewete hoor ons wanneer Hy stil, sag, oortuigend vir ons sê: "Dit is reg. Doen dit. Moenie hierdie ding doen nie. Moenie aan hierdie ander stem gehoorsaam wees nie. Dit is nie My stem nie. Dit is jou emosies, dit is jou gedagtes. Moenie na daardie persoon luister nie. Of moenie na hierdie stem luister nie - dit is 'n vurige pyl wat die bose in jou kop ingeskiet het."

Stil, sagweg hoor jy in jou gees hoe God die Heilige Gees met jou praat. Dit is daar waar jy intuitief weet wat God vir jou sê, en wat die wil van die Vader is. Dit gebeur in jou gees, want God die Heilige Gees, vanuit die hemel waar hy die diepste verborgenhede van God ondersoek, openbaar dit wat in die Vader se hart leef, aan jou in jou gees.

U sien, daar is 'n ope, vrye kommunikasie tussen die wedergebore kind van God se gees en die Gees van God. God openbaar dit wat in sy hart vir jou is, aan jou in jou gees.

Dit is daarom dat dit so nodig is vir elke kind van God om te weet dat hy 'n gees het en hoe 'n mens die stem van God in jou gees hoor, sodat jy kan weet wat God tot jou kommunikeer.

Juis Rom 8:16 leer ons baie hieromtrent:

"Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is."

Kom ons kyk na wat hierdie teks ons omtrent ons gees leer. Moontlik kan dit ons help in die proses om te leer onderskei tussen ons gevoelens en ons gedagtes en dit wat ons gees is en wat God daarin doen. Hoe sê Romeine 8:16, hoe weet ek dat ek 'n kind van God is? Weet ek dit omdat iemand saam met my 'n gebed van oorgawe gebid het? Nee - dit mag egter wees dat ek dit van daardie oomblik af weet. Weet ek dit omdat die Here aan my geopenbaar het hoe sondig en verlore ek is en ek toe my sondes bely het? Weet ek dit omdat ek ervaar het dat Hy my gereinig het in sy bloed? Of weet ek dit omdat ek van 'n dag en 'n datum kan getuig waarop ek gered is? Of weet ek dit omdat ek op 'n dag maar net besef het dat ek 'n behoefte aan die Here het en ek my lewe vir Hom oopgestel het en gesê het: "Here, kom asseblief in en kom woon in my hart?"

Is dit hoe ons weet dat ons 'n kind van God is? Dit is miskien hoe ons een geword het, ja, maar dit is nie hoe ons dit weet nie. Romeine 8:16 sê: Ons weet dit omdat die Gees self, die Heilige Gees, saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is.

Waarvan praat Paulus in hierdie gedeelte? Hy praat daarvan dat in jou gees jy die ervaring het - nie 'n gevoel nie - maar net 'n stille sekere wete dat jy aan Jesus behoort. Jy weet net dat dit so is, want God die Heilige Gees het jou dooie gees lewendig gemaak en binne-in jou kom woon. Van daardie oomblik dat Hy jou wederbaar het, het jy 'n lewende gees. Jy het nou die ewige lewe van God as iets blywends in jou. Jy weet nou deur die genade van God dat jy 'n kind van God is. Dit weet jy in jou gees.

Ja, daar diep binne-in jou het jy die volle geloofsekerheid waarvan Hebreërs 10:22 praat. Daardie wete is dieper as jou emosies en jou gedagtes. Dit is in jou gees en dit is daar dat die Heilige Gees woon en in jou werk. Dit is daar dat jy sy stem kan hoor.


Kopiereg © 2000 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21 906-2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za