Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 4:1 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
Maart 2002 |
|---|
Kérugma Produksies het so pas 'n geestelike video-klub gestig. Baie mense skakel ons en vra: "Hoe kry ons julle video's in die hande? Kan ons dit by julle leen, of dalk huur?" Hier is nou die geleentheid om gereeld maandeliks 'n nuwe video persent te kry. Dit is nie heeltemal persent nie, want ons vra mooi dat u asseblief 'n maandelikse donasie ter ondersteuning van hierdie bediening sal gee.
As lid van die klub is daar egter sekere voordele wat u geniet.
DIE KÉRUGMA VIDEO-KLUBVoordele van lidmaatskapLede kry elke maand 'n gratis video persent ÉN kwalifiseer boonop vir 'n R10.00 afslag op elke ander video wat hulle bestel. In die toekoms mag daar ook ander spesiale aanbiedinge aan lede gemaak word. Voorregte van lidmaatskapOns vra mooi dat elkeen wat aansluit 'n bedrag van ten minste R100.00 per maand aan die bediening sal skenk. Ons weet daar is sommige vir wie dit moeilik sal wees, maar u kan moontlik 'n familielid of ander Christen nader met die versoek om u hiermee te help. Nadat u u geskenk-video gekyk het, kan u dit dan aan hierdie persoon gee. U kan ook aansluit deur 'n maandelikse donasie van R50.00 te maak, vir 'n gratis video elke twee maande. Organisasies, videoteke, jeuggroepe of gemeentes is ook welkom om aan te sluit as lede. Lidmaatskap AansoekeDaar is 'n LIDMAATSKAP AANSOEKVORM in die Bulletin. Vul dit in en pos of faks so gou moontlik aan Kérugma Produksies. U kan ook van die fasiliteit op die hierdie Web Blad gebruikmaak. Volg net die skakel op die Voorblad. |
Liewe Kérugma Ondersteuner
Deur die genade van die Here Jesus Christus het ons by die plek gekom waar ons ervaar dat dit tyd geword het om 'n geestelike video-klub te stig. Ons begeerte is dat elkeen van u hierdie brief biddend sal lees en indien moontlik, sal aansluit by die klub. Dit is reeds 'n geruime tyd op my hart om 'n slag openhartig met u te praat oor sekere aspekte rakende videoverspreiding in Suid-Afrika. Ons ervaring is dat ons video's so baie bied wat 'n mens graag wil hê deur elke mens gesien moet word, dat ons u wil vra om ons te help daarmee. Hoeveel van Kérugma se video's het u al gesien? Ons wil graag hê dat u dit alles moet sien. Maar nie net u nie, ook u familie, vriende en bure.
Ons weet dat as ons die video's oor 'n tydperk heen een vir een as 'n geskenk aan u sou stuur, die kans goed sou wees dat u daarna sou kyk. U sien: Uit die ondervinding met videoverspreiding die afgelope jare weet ons dat wanneer jy aan iemand 'n boek as geskenk gee, daar maar 'n geringe kans is dat die persoon dit sal deurlees. Dit hang af wie die persoon is en of dit die geskikte boek op die regte tyd is. Moontlik lees hy net 'n gedeelte daarvan of selfs net die voorwoord. 'n Mens weet nooit nie. Maar met 'n video is dit anders. Die ondervinding leer dat die meeste mense wat 'n video persent kry, daarna kyk.
Die waarde van 'n video bo dié van 'n boek is baie groot. Dit wat 'n mens lees is van onskatbare waarde. 'n Feit is egter dat die effek van dit wat die mens tegelykertyd hoor en sien, soos op 'n video, tot tien keer hoër is.
Dit bring ons egter by 'n ander probleem, en dit is die koste daaraan verbonde om 'n hoë gehalte multimedia produk soos 'n video of DVD daar te stel.
Voor ons daarby kom wil ek net eers 'n vergelyking tref tussen die pryse van sekere items, sodat u kan verstaan waarom ons altyd sê dat die koste van die video's, soos u dit by ons bestel, nie die produksiekoste daarvan insluit nie.
Hoeveel betaal u vir 'n goeie geestelike CD? 'n Feit is dat CD's in Suid-Afrika deurgaans duurder is as video's. Maar dit kos vyf keer meer om so 'n video te maak. Wanneer ons ons video's byvoorbeeld by 'n video ateljee sou laat produseer, is die kwotasie daarvoor so hoog dat dit totaal onmoontlik sou wees om dit te laat doen.
Die verhouding tussen die pryse van CD's en video's op die oorsese mark is meer realisties. Pryse van geestelike CD's is ongeveer US$10.00 stuk terwyl video's tot US$20.00 of meer kos.
Waarom verkoop ons dan in Suid-Afrika ons video's so ver onder prys? Daar is veral twee faktore wat die prys beïnvloed. Die een is die hoeveelheid video's wat in 'n land soos ons s'n verkoop. Die ander is 'n spesifieke situasie wat ontstaan het, klaarblyklik juis omdat die oplaag wat versprei word so klein is.
Die omstandighede waardeur die pryse van geestelike video's relatief laag gehou word, het ontwikkel deurdat 'n sekere maatskappy wat al vir jare goeie Christelike video's geproduseer het, die produksiekoste daarvan onder andere deur borge gefinansier het.
Op dié wyse kon hulle video's vrystel teen die prys wat basies net die band, die dupliseerkoste, die omslag, etikette en houer, asook die verspreidingskoste verhaal het. So het 'n onrealistiese lae prys vir video's op die Suid-Afrikaanse mark ontstaan. Elkeen wat sedertdien die mark sou betree, sou hulle video's nie kon verkoop as dit nie teen hierdie lae pryse was nie. Die probleem wat hieruit ontstaan het is dat enigeen wat geestelike video's wil produseer, die produksiekoste elders vandaan moes kry. Kérugma vertrou die Here om in mense soos u, wat reeds van ons video's gesien het, se harte te werk om in hierdie behoefte te voorsien.
Die voordeel van die lae pryse is dat die video's meer toeganklik is vir almal. Daar is egter ook 'n nadeel en dit is dat baie video's nou nie in Suid-Afrika geproduseer of versprei kan word nie. 'n Vriend van ons in Engeland wou byvoorbeeld een van sy video's in Suid-Afrika versprei. Sy gedagte was om dit teen die, soos hy gereken het, baie billike prys van R200.00 beskikbaar te stel. Na beraadslaging met verskillende persone het hy toe besluit om dit teen R100.00 stuk te versprei. Die Suid-Afrikaanse verkope daarvan werk dus vir hom op 'n verlies uit. Dit gaan egter vir hom daarom dat mense die video moet sien. So ook vir ons met die video's wat ons versprei.
Daar is egter baie goeie oorsese produksies wat ons graag wil aankoop en versprei. Naas die pryse van die meesterbande, wat reeds hoog is, is dit egter normaal dat US$7.00 (± R80.00) tantieme per kopie oorbetaal moet word aan die verskaffer oorsee. Dit maak dit dan natuurlik onmoontlik om die videoband, houer, omslag en dupliseerkoste by te voeg en die video in Suid-Afrika te bemark.
Ons noem al hierdie dinge net om vir u 'n klein kykie te gee in die dilemma waarin ons ons bevind. Gepraat van die lae volumes wat in Suid-Afrika verkoop, dan moet daar net genoem word dat 'n video wat betref sy trefkrag baie effektiewer is as byvoorbeeld 'n boek. 'n Voorbeeld hiervan is die video van Kérugma wat deur die jare ons besverkoper was, naamlik die getuienis van ds. Etienne Maritz Die Here het my verlos van tipiese Toronto "Blessing" ervaringe. Toe die video destyds gemaak is, het ons 1000 omslae laat druk.
Die video het goed versprei, selfs 'n paar kopieë oorsee. Oral het 'n mens daarvan gehoor. Die trefkrag van so 'n video is geweldig. Een predikant het vertel dat hy in sy gemeente liewer nooit moet toelaat dat een van sy dienste langer as 'n sekere tyd duur nie. Hy sou die video toe in drie dele oor 'n tydperk van drie Sondagaande wys. Toe hy die video-projektor aan die einde van die eerste sessie afskakel, het die gehoor tot sy verbasing daarop aangedring dat hy die res ook moet wys. So het almal die aand die hele video van 2 uur en 30 minute gekyk!
Sy vrou het die video die volgende dag aan 'n persoon by 'n universiteit geleen. Die studente het dit gekyk asook verskeie skole en koshuise in daardie stad. So gebeur dit meermaal dat ons verneem hoedat 'n video vir 'n groot verskeidenheid mense getoon word. Daaruit weet ons hoe 'n effektiewe evangelisasie medium dit is.
Sowat 'n jaar gelede vra ds. Maritz ons toe interessantheidshalwe of ons enige idee het hoeveel kopieë van die video deur die jare verkoop het. Waar hy ookal kom en gaan, hoor hy van die video. 'n Predikant op 'n bekende groot dorp het byvoorbeeld vir hom gesê: "Etienne, jy hoef nie self op ons dorp te kom preek nie. Almal het jou video gesien."
Groot was sy verbasing om te hoor dat ons nog steeds 800 van die oorspronklike 1000 omslae oor het. Geestelik gesproke was die produsering van die video 'n groot sukses. Ons kan die Here maar net dank daarvoor. Fiansieël gesproke is dit egter 'n ander verhaal.
Interessant was sekere feite wat na vore gekom het uit 'n gesprek met iemand wat verbonde is aan die maatskappy wat hierbo genoem is. Hulle het byvoorbeeld 'n reeks video's gemaak van 'n bekende Amerikaanse prediker wat Suid-Afrika besoek het. Kan u raai hoeveel kopieë van die video's van die reeks hulle laat maak het? Die antwoord was: "Nee Naas, ons het 200 stelle van die reeks gemaak." Of hulle beplan om wanneer die 200 verkoop is nog te maak. Nee, hulle verkoop nooit soveel van 'n video nie.
Skets dit vir u iets meer van die situasie in Suid-Afrika? Persoonlik glo ek ons kan baie meer van 'n video in Suid-Afrika versprei. Daar is nog baie mense wat nie van die video's weet nie.
Ons wil u vra of u nie moontlik meer direk betrokke wil raak daarby om ons te help om die video's te maak en te versprei nie. Ons leef in 'n tyd en 'n dag waarop elke moontlike geleentheid aangegryp moet word om die Woord van die Here uit te dra.
Daar is mense wat sê hulle wil nie betaal vir 'n video wat hulle net een of twee keer gaan kyk nie. 'n Feit is dat dit nodig is om 'n video meermale te kyk. Die eerste keer mag dit 'n goeie indruk maak, maar daar is baie wat 'n mens eers raak sien wanneer jy dit die tweede of derde keer kyk.
Voorts is dit sekerlik nie nodig om 'n video net vir jouself te hou nie. Is daar nie iemand aan wie jy dit kan leen of selfs kan gee wanneer jy dit klaar gekyk het nie?
Hierdie video's maak baie goeie geskenke uit. Jy kan baie seker wees dat iemand vir wie jy dit gee, dit sal kyk. Voor jy weer 'n boek of CD vir iemand gee, maak seker of een van Kérugma se video's nie dalk ook 'n goeie geskenk sal wees nie.
Onlangs skakel 'n dame om te sê dat haar man ter wille van sy werk Adis Ababa toe moes gaan. Hulle het toe pas die video Highways to Zion gekyk en was so opgewonde daaroor, dat hy besluit het om dit saam te neem. Hulle het baie gebid dat die Here sou gee dat dit nie in sy bagasie ontdek sou word nie. Met vrees en bewing het hy dit toe in Ethiopië ingeneem.
Daar ontmoet hy toe 'n Christen en gee die video vir hom. Nou het hulle 'n brief van hierdie Christen ontvang. Hy skryf dat hy die video alreeds in verskeie kerke getoon het en dat daar ongelooflike reaksie daarop is. Hulle het nog nooit soveel lering in hul kerke gekry as deur hierdie een video nie!
Hiermee wil ons graag aan almal van u die geleentheid bied om ons te help om die evangelie van Jesus Christus deur video's uit te dra. Gemeet aan die man-ure, die gesofistikeerde digitale apparaat soos die redigeerstasie, die kamera asook ander deskundige hulp, beloop die produksiekoste aan hoë gehalte video's geweldige bedrae. Alhoewel ons deur die genade van die Here reeds baie van hierdie kostes kon sny deur self baie te doen, het ons steeds u as kinders van die Here se hulp en ondersteuning met elke projek nodig. Daarsonder kan ons dit nie end uit deurvoer en die boodskap op 'n behoorlike wyse versprei nie. Wil u dit nie oorweeg om hierdie bediening deur u gebede, maar ook deur 'n gereelde maandelikse donasie te ondersteun nie? Laat ons eerlik wees daaroor: Gebede en fondse is 'n kombinasie van die twee dinge wat nodig is om so 'n bediening te loods. Daar is mense wat dit reeds doen sonder om enigiets daarvoor te kry. Dit is sekerlik hoe dit werk wanneer die Here iemand opwek om 'n vrywillige offergawe te gee.
Ons begeer egter dat die video's by u sal uitkom. Dit is moeilik om 'n produksie soos byvoorbeeld Psalm 23 - The Shepherd and His Sheep te maak en dan te weet dat iemand op die adreslys dit nie te siene kry nie. Jy wil graag hê dat almal dit moet sien en jy wil ook graag hoor wat hulle daarvan dink.
Daarom die idee om die Kérugma Video-Klub te stig. U sien: Dit is een ding om te vra vir gereelde donasies, maar die eintlike saak is: Ons wil graag dat elkeen van u hierdie video's sien en ook deel in die seën wat ons daaruit kry. Daarom dat ons aan u die geleentheid gee om die video's te ontvang, terwyl u terselfdertyd vir ons help om dit te kan maak.
Lidmaatskap van die klub werk soos volg: U onderneem om die bediening van Kérugma Produksies gereeld maandeliks te ondersteun deur die bedrag wat u op die meegaande vorm invul. Kérugma op sy beurt onderneem om maandeliks aan u 'n video persent te gee. U kan op hierdie vorm vir ons ook aandui watter van ons video's u dié keer wil ontvang.
Op dié manier is ons seker dat u en u gesin ten minste een keer per maand 'n nuwe video te siene kry. Terselfdertyd is u besig om deur dit wat u gee daartoe by te dra dat die Woord van die Here op 'n baie effektiewe wyse na andere uitgedra word.
Daar is baie werk om te doen. Waar die Here vra dat ons moet bid dat daar arbeiders in sy oes uitgestuur moet word (Mat. 9:38), is u deur deelname aan hierdie klub des te meer besig om mee te help in die proses om arbeiders uit te stuur.
Ons het maar skaars begin om video's wat die Skrif verklaar vanuit die agtergrond van die Bybellande te maak. Daar is video's wat in baie ander tale en ook vir verskillende kulture gemaak moet word.
Ook in Afrikaans het ons video's wat gereed is om geredigeer te word - so is daar onnoembaar baie dinge wat wag om gedoen te word.
Ons sien en hoor elke dag getuienisse van mense wat van die video's sien.
Moontlik hoor u eendag, waar ons almal voor die genadetroon staan, 'n getuienis van iemand wat ook daar is as gevolg van een van die video's wat hy kon sien. Sal dit nie wonderlik wees om dan te verneem dat dit so is weens dit wat die Here deur u gebede en finansiële ondersteuning in die persoon se lewe kon doen nie?
Groete in die Naam van die Here Jesus Christus.
In Sy diens
Naas le Roux
| "Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae " (Ps. 23:6). |
- Ignatius A le Roux
Wat verstaan u onder die woorde: "Net goedheid en guns sal my volg ..."? Word dit nie normaalweg verstaan as siende op die goedheid van die Here nie? Hy is mos 'n "goeie" God en daarom oorlaai Hy ons met die goeie. Voorts sorg Hy dat ons in guns is by almal. Is dit wat dit beteken as die teks sê dat goedheid en guns ons sal volg?
Die bekende Psalm 23 is eintlik niks anders nie as die persoonlike getuienis van 'n skaap. Die skaap getuig hoe goed sy Herder hom versorg. Niemand was beter toegerus om hierdie getuienis neer te pen, as die herder-koning van Israel nie. Psalm 78:70-72 sê dat die Here:
| "... het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande." |
Met die dig van Psalm 23 het Dawid as't ware in die vel van 'n skaap geklim. Hy wat self eers op die oop velde rondom Betlehem sy vader se skape versorg het, skryf nou vanuit die oogpunt van 'n skaap. Dit is egter 'n skaap wat homself bevind in die kudde van die Goeie Herder. Hy vertel hoe die Herder sy kudde hanteer en dit versorg. En dit is in hierdie konteks dat die begrippe wat in hierdie gedig gebesig word, duidelik word.
Wanneer die skaap sê dat sy Herder so wonderlik is dat slegs goedheid en guns hom volg, beteken dit dan dat sy hele lewe maar net 'n lewe van maanskyn en rose is? Dawid het in sy lewe deur baie moeilike tye gegaan. Naas al die goeie was daar ook baie teëspoed. Een geval was waar selfs een van sy eie seuns, Absalom, die volk in rebellie teen hom gelei het. As 'n mens die verhaal rondom hierdie gebeure lees, dan klink dit nie asof net materiële welvaart, geluk en persoonlike gewildheid Dawid op daardie stadium "gevolg" het nie.
Skape as sodanig word normaalweg beskou as uiters dom diere. Tog beskik hulle oor verskeie wonderlike eienskappe. So word hulle byvoorbeeld in die klassieke literatuur besing as die diere met goue hoewe. As rein diere het hulle gesplete kloutjies (Lev. 11:3) en dit is juis as gevolg hiervan dat "goedheid en guns" die skape kan volg.
'n Bekwame herder weet om nooit toe te laat dat die veld deur sy kudde oorbewei word nie. Daarom verskuif hy die kudde gereeld van een weiveld na die ander. Die kloutjies van die skaap trap die veld los, met die gevolg dat dit ook nadelig kan wees waar oorbeweiding plaasvind. Wanneer daar reën val in 'n oorbeweide gebied, veral wanneer dit 'n heuwelagtige terrein sou wees, soos byvoorbeeld in Israel, dan kan al die los bo-grond meehelp tot gronderosie.
Die skaap getuig egter in Psalm 23 dat sy herder so vir hom sorg dat net goedheid en guns volg waar hy wei. Daarmee sê hy dat sy Herder hulle as kudde lei om die grond los te trap, maar net tot so ver as wat dit nodig is.
Wat egter meer is, is dat die losgetrapte grond ook die nodige bemesting moet kry voor die reëns val. Skape eet nie die groot graspolle in die veld nie, maar eerder die klein plantjies wat onder die beskutting van die gras groei.
'n Mens kan hierdie kruie van die veld proe in die vleis van skape wat reg wei. Dit verklaar ook waarom die vleis van skaap uit verskillende streke se smaak so verskil. Die kruie wat die skaap eet kan duidelik in die mis van die skaap gesien word. Wanneer 'n mens een van die misballetjies van 'n skaap tussen jou vingers stukkend vrywe, dan blyk dit bloot uit skoon droë stukkies van die voer wat die skaap geëet het, te bestaan.
Waar die skaap beweeg, laat hy dus omgedolfde en goed bemeste grond agter. Wanneer die reëns kom, val dit dan op goed voorbereide grond. Die gevolg is dat die veld lieflik uitspruit.
Dit is waarvan Dawid getuig wanneer hy sê: "Net goedheid en guns sal my volg ..." Hy sê dat die Herder hulle as kudde so goed versorg, dat waar hulle kom en gaan, hulle altyd die veld in 'n beter toestand laat as waarin hulle dit aangetref het. Is dit nie ook hoedat die Here ons versorg nie? Paulus skryf in 2 Korintiërs 2:14-15 dat God die Vader "die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God ..."
Dit is deur Sy genade dat 'n plek waar ons vertoef, in 'n beter toestand agtergelaat word as waarin ons dit aangetref het. Daarom dat wanneer ons 'n vertrek instap waar 'n groep mense aan die gesels is, ons teenwoordigheid en deelname 'n positiewe effek daarstel.
Dit is natuurlik nie so dat almal dit eweveel waardeer nie. Die wêreld haat die kinders van die Here en vir hulle is die aangename geur van Christus "'n reuk van die dood" (2 Kor. 2:16). Nogtans werk die Here deur ons om Homself aan almal met wie ons in aanraking kom, te openbaar. Net soos skape nie self bewus is van hul effek op die velde waarin hulle wei nie, net so is ons ook nie noodwendig bewus van die "goedheid en guns" wat ons oral waar ons kom en gaan, volg nie.
Die Here Jesus is die Een wat ons, met ons wedergeboorte in sy bloed reinig. Hy kom woon dan deur sy Gees in ons harte. Deurdat die Heilige Gees daar in die diepste dele van ons harte, daar diep in ons gees woon, openbaar Hy die eienskappe van die Here Jesus in ons lewens. Die Bybel noem dit die vrug van die Heilige Gees (Gal. 5:22).
Dit is wat ons bely wanneer ons sê dat die Goeie Herder so vir ons sorg dat net goedheid en guns ons volg al die dae van ons lewe. Gee hierdie verklaring van Psalm 23:6 nie 'n heel ander betekenis aan die woorde as wat ons aanvanklik gereken het nie?
Byna elke woord in die bekende psalm kry 'n nuwe betekenis wanneer jy so daarna kyk. Kérugma het onlangs 'n video geproduseer wat gedurende verskillende seisoene in die velde te Israel verfilm is. Dr. Randall Smith, wat self vir 'n tyd lank saam met 'n herder die skape in die velde rondom Betlehem versorg het, staan in die video in die oop weivelde rondom Betlehem. Deur hierdie video kry Psalm 23 vir 'n mens nuwe betekenis. Miskien leer 'n mens ons Goeie Herder ook beter ken deur die ware betekenis van hierdie psalm so te ontdek.
Ons vertrou dat elkeen van u van die geleentheid gebruik sal maak om die video te bekom. Al die tyd en fondse vir die produsering van die video is aangewend met die gebed dat dit 'n plek in elke huis sal vind en veral in die harte van dié wat dit sien.
Dit is baie interessant om in hierdie video te sien wat dit beteken wanneer die skaap sê: "... ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae." Dr. Smith, wat beide 'n teoloog asook 'n argeoloog is, verduidelik dat die huise te Betlehem in Jesus se tyd, byna almal grotte was. Die diepste deel van die grot was die stal waar die vee snags gedurende die wintermaande gehou was. Hul teenwoordigheid het tot die verhitting van die voorste deel van die huis bygedra. Voorts was daar normaalweg twee ander vertrekke. Die eerste was die woonvertrek waar die gesin gebly het en tussen hierdie een en die stal was die gastekamer. In ons Bybels is hierdie gastekamer vertaal as "herberg".
So het Josef en Maria tydens die verpligte sensusopname onder keiser Augustus na sy ouerhuis te Betlehem gegaan. Die bekende kommunikasiemedia van vandag het nie bestaan nie. Daar was geen manier waarop hulle vooruit kon laat weet wanneer hulle sou kom nie. Klaarblyklik was die gastekamer reeds gevul deur van die ander kinders wat ook vir die sensusopname opgedaag het. Daarom moes hulle tevrede wees om in die stal, die diepste vertrek in die huis, tuis te gaan. So lees ons in Lukas 2:6-7:
| "En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die gastekamer was nie." |
In die video Psalm 23 - The Shepherd and His Sheep kan u sien hoe so 'n grot-huis destyds gelyk het. Wat veral interessant is, is hoe 'n krip daar uitgesien het. Nogal heel anders as dié wat ons normaalweg op kerskaartjies of tydens kersopvoerings te siene kry.
Dawid se belydenis, naamlik dat hy in die huis van die Here sal bly in lengte van dae, sê dat die Herder hom elke aand in sy huis inlei. Hy bly daar in die stal en is dus deel van die gesin. Die Herder sorg vir hom en gee hom skuiling teen die koue nat winter. Die Seun van die Mens is in so 'n stal gebore. Uit Lukas 2:8 lei ons af dat dit gedurende Maart tot Oktober moes wees, want dit was gedurende die warm somermaande waartydens die herders hul skape snags buite in die veld hou. Dit sou ook vreemd gewees het as 'n sensusopname in die reënseisoen - die winter - gehou sou word.
Jesus kon dus nie in Desember (die winter in Israel) gebore gewees het nie. Hy is in die stal van sy grootouers gebore gedurende die tyd waartydens die vee buite op die veld sou wees. Ken u hierdie stal-kind? Hy wat later gesê het: "Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken ... en Ek lê my lewe af vir die skape ... en hulle sal na my stem luister."
The Daughters of ZionUnderstanding the people and the land of IsraelBaie mense besoek Israel sonder dat hulle die inwoners van die land regtig verstaan. In hierdie video tref dr. Randall D. Smith 'n vergelyk tussen diegene wat in die Bybel die "Dogters van Sion" genoem word en dié wat tans in die land woon. Die term "Dogters van Sion" kom 26 keer in die Ou Testament voor. In sommige gevalle verwys dit na die Israeliete in die land en ander kere sien dit op die nie-Joodse gelowiges wat die belange van Israel op die hart dra. Die dogters van 'n stad was diégene wat aan die buitewyke gewoon het. Hulle het in tente gebly en wanneer die vyand die stad aangeval het, is hulle die swaarste getref. Aanvalle het gereeld plaasgevind, want Israel was as't ware 'n land-brug tussen die groter kontinente. Dieselfde gebeur vandag nog met die inwoners van Israel. Baie besoek die land en reken om 'n maklike politieke oplossing voor te stel, maar min besef hulle die mense se ware behoeftes. Wil u graag Israel beter verstaan? Dan is hierdie video 'n moet vir u. |
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/