Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 1:2 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
MEI 1999 |
|---|
| 'n Sekere skrifgeleerde het gekom en vir Jesus gesê: "Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan". En Jesus sê vir hom: "Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie." (Matt. 8:19-20). |
- Ignatius A le Roux
| "Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan." Hoe opreg klink hierdie woorde nie? Dit is so maklik om dit vir die Here te sê. Tog, wanneer 'n mens na die reaksie van die Here Jesus hierop kyk, mag jy dalk twee keer dink voordat jy dit ook sê. Sy antwoord was duidelik: "Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie." |
Met hierdie woorde gee die Here Jesus aan ons iets deur van die tipe lewe wat Hy gelei het. Meer nog, Hy sê hierdeur vir die persoon wat Hom so graag wil volg, wat om te verwag. Hy gaan immers deel in die lewe van die Een vir wie hy volg. 'n Leerling, so leer die Here Jesus ons, is nie bo sy meester nie. Dit wat die meester te beurt val, tref die leering ook (Matt. 10:24; Joh. 15:20).
Die Here Jesus is in 'n stal gebore en het in 'n arm huis opgegroei. Voorts het Hy ook ontbreek aan die basiese geriewe van die lewe. Hy kon nie vir iemand wat Hom volg enigiets bied nie. Iemand wat Hom wou volg moes weet om dit in ag te neem voordat hy die hand aan die ploeg slaan. U sien, Jesus het dit wat Hyself gepreek het, deeglik uitgeleef. Toe Hy in sy Bergrede genoem het hoe goed die hemelse Vader die voëls van die hemel en die lelies van die veld versorg (Matt. 6:25-29), was Hyself sonder 'n plek van sy eie. Hy het geen vaste eiendom, huis of selfs 'n tent besit nie. John MacArthur skryf soos volg hieroor:
| "After the dispute about Jesus' healing of the blind man, "everyone went to his home," John tells us: "But Jesus went to the Mount of Olives" (John 7:53-8:1). Whereas others went home to spend the night, Jesus spent it alone under the stars, in prayer with His Father. We are told of His often spending time in the home of Peter in Capernaum and of Mary, Martha, and Lazarus in Bethany, but we are never told of His spending even an hour in His own house, because He had none." |
Dit beteken natuurlik nie dat diegene wat die Here Jesus volg, nie besittings mag hê nie. Beide die rykes (1 Tim. 6:17-19) en die armes (Rom. 15:26) mag, indien moontlik, huise en ander besit-tings hê. Selfs ook diegene vir wie die Here roep om alle addisionele vorme van inkomste op te offer (2 Tim. 2:4), ten einde in staat te wees om voltyds in sy diens te staan, mag die nodige besittings hê. Dit is nou indien die Here dit so beskik dat dit vir hulle beskore is. Volgens die aanduidings uit die Skrif, het Petrus en Johannes byvoorbeeld hul eie huise gehad. Voorts is daar diegene wat geroep is om voltyds in die diens van die Here te staan (Rom. 10:14-15), maar wat niks besit en geen vaste inkomste het nie. Hul vertroue vir alles wat nodig is vir hul en hul gesinne asook vir die bediening waarin hulle staan, is op Hom alleen. Waarvan leef hulle? Hierdie vraag kan beantwoord word deur te kyk na die antwoord op die vraag:
Behalwe vir enkele aanduidings uit die Skrif, weet ons nie presies wat die antwoord op die vraag is nie. Een aanduiding wat ons wel het, is dat daar diegene was wat Hom met hulle besittings gedien het. In Lukas 8:1-3 lees ons hoedat Jesus
| ...die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig [het]; en die twaalf was saam met Hom, ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het. |
Is dit nie wat almal wat besittings het, daarmee behoort te doen nie? U sien, of ons nou iets besit of nie, ons moet let op wat ons gesindheid jeens geld en materiële dinge is. Ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie (1Tim. 6:7). Maar dit wat ons doen met die dinge wat ons wel gedurende ons lewe hanteer, is wat gewig dra. Is ons besig om vir ons skatte hier op aarde te versamel? Dan gaan dit saam met ons vergaan. Ons gaan dit alles verloor die oomblik wanneer ons sterf. As ons egter besig is om die koninkryk van God en sy geregtigheid, sy wil, te soek, dan is daar skatte wat vanself in die hemel vir ons opgebou word. Dit is skatte van ewigheids-waarde (Matt. 6:19-34). Die vraag is nie of ons iets het en hoeveel nie, maar of dit wat ons het in die diens van die Here staan.
Wanneer 'n mens met die wedergeboorte die gawe van die ewige lewe ontvang, open daar 'n heel ander perspektief in jou lewe. Word u lewe al gerig vanuit hierdie perspektief? Dit is die perspektief waar 'n mens weet dat jy net 'n "bywoner en vreemdeling" (1 Pet. 2: 11-12) in hierdie wêreld is. Jou "burgerskap is in die hemel" (Fil. 3:20-21). Diegene wat met hierdie perspektief lewe, is mense wat wanneer hulle iets koop, dit koop "asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby" (1 Kor. 7:30-31).
Wat belangrik is, is dit wat die wil van God is. Johannes stel dit so: "... die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig" (Vergelyk 1 Joh. 2:15-17).
Soek ons daadwerklik die wil van die Here in alles wat ons doen - ook in elke item wat ons koop? Die Here Jesus het die skrifgeleerde geant-woord deur te sê dat Hyself slegter af is as die jakkalse van die veld en die voëls van die hemel. Een les wat ons by hierdie diere kan leer, is vergenoegdheid. Hulle is vergenoeg met dit wat hulle het. En in 'n sekere sin is dit die boodskap wat na ons kom deur die woorde:
| "Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie." |
Die opdrag waaronder ons staan, is duidelik:
| ... as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees (1Tim. 6:8). |
Daarmee saam lees ons hierdie waarheid:
| ... die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins (1Tim. 6:6). |
Het ons die eienskap wat deur die woord vergenoegdheid beskryf word? Die woord in die oorspronklike Grieks beteken dat 'n mens jouself tevrede stel. Jy het ast' ware 'n innerlike vermoë om jouself te motiveer om gelukkig en tevrede te wees met die omstandighede waarin jy jou bevind. Dit is nie 'n eienskap wat die mens in homself het nie. Volgens 1 Timoteus 6:6 gaan dit saam met die begrip "Godsaligheid". Hierdie woord het in die Grieks die betekenis om op God gerig te wees in die sin dat jou uiterlike lewenswyse toon dat jou lewe in lyn met God se standaard en vereistes is. Jou uiterlike lewe is 'n weerspieeling van die innerlike krag wat die inwonende Heilige Gees dag vir dag in jou werk. Hy is die Een wat jou innerlike mens daagliks vernuwe (2 Kor. 4:16). Dit is dus slegs moontlik vir 'n kind van God, iemand in wie die Heilige Gees elke dag hierdie vernuwingswerk doen, om sy lewe volgens die wil van God te rig. Soos wat 'n mens dit doen, is dit ook dat jy die krag ontvang om jouself te oriënteer om tevrede te wees met dit wat jy het en met die omstandighede waarin jy jou bevind. Dit kan soms goeie en aangename, maar dikwels ook uiters haglike omstandighede wees. Petrus gee aan die Christen slawe van sy dag die opdrag:
| ... wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is (1 Pet. 2:18). |
Hy verduidelik dan dat ons geroep is om ook, soos die Here Jesus Christus, dikwels onreg-verdig te ly:
| ... dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly ... Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg (1 Pet. 2:19,21). |
Wanneer die Here Jesus dan vir ons sê om Hom te volg, maar dat ons in ag moet neem dat die Seun van die mens self nie 'n plek het om sy hoof neer te lê nie, dan sê Hy dat ons moet weet dat dit 'n pad van absolute selfverloëning sal wees.
Wat interessant is, is dat die betekenis van die woord "vergenoegdheid" ook inhou dat dit die krag het om andere om jou ook te inspireer. Dit het 'n tipe aansteeklikheid. Waar jy die Here Jesus gehoorsaam is en jy onder allerlei geestelike en fisiese vervolging en finansiele druk gebuk mag gaan, is jou lewe die bron waardeur die Heilige Gees andere inspireer. Al ervaar jy niks daarvan nie, werk die Heilige Gees vanuit jou lewe deur na andere. Ook waar jy in die voetspore van die Here Jesus volg en jy soms seën mag ervaar en dit goed en voorspoedig gaan, bewaar die inwonende Heilige Gees jou van versoekinge soos geldgierigheid en hoogmoed. Die vrug van vergenoegdheid sal in so 'n geval ook tot andere spreek. Dit kan vir hulle tot inspirasie dien om self ook die Here te volg, of hulle kan jou verwerp.
Het u al die volgende belofte aan die Here Jesus gemaak?
Hoe volg 'n mens die Here vandag oral waar Hy gaan? Deur daagliks, maar ook in elke situasie elke dag met Hom te praat. Bid daagliks tot Hom deur elke oggend jouself aan Hom oor te gee en te sê dat jy alleen sy wil daardie dag wil doen. Soos die dag dan verloop en jy in 'n situasie mag kom waarin jy 'n besluit moet neem, vra stilweg in jou hart vir die Here wat Hy sou doen as Hy nou in jou skoene sou staan. Dit waaroor Hy jou vrede gee, doen dít. As jy nie dadelik weet wat die Here Jesus sê nie, onthou 1 Petrus 2:21 sê dat Hy vir ons 'n voorbeeld nagelaat het, sodat ons in sy voetspore kan navolg. Dink aan sy lewe en doen dan dit wat jy reken Hy in jou om-standighede sou doen. Deur dit te doen sal jy algaande leer om meer en meer in die voetspore van die Here Jesus te wandel. Hy is ons Goeie Herder wat voor sy skape uitloop om hulle te lei na groen weivelde. Petrus verduidelik dat ons eers soos dwalende skepe was, maar deurdat Hy ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, kan ons nou vir die geregtigheid lewe (1 Pet. 2:24-25). Naas om te bid het ons ook sy Woord waaruit ons kan leer wat sy wil vir ons is. Wanneer ons byvoorbeeld onregverdig sou ly en beledig word, kry ons in 1 Petrus 2:22-23 sy voorbeeld vir ons optrede:
| Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel. |
Is u 'n volgeling van die Here Jesus Christus? Hou dan altyd hierdie voorbeeld in gedagte en vra Hom om deur sy Heilige Gees aan u sy krag te verleen om dit ook te kan doen. Hy is ons Hoëpriester wat vanuit sy posisie op die troon aan die regterhand van die Vader, deur die Heilige Gees aan ons die krag gee om in ons situasie vandag in sy voetspore na te volg.
Oor die algemeen skets die Nuwe Testament 'n negatiewe beeld van die skrifgeleerdes. Op een plek, naamlik Matteus 13:52, maak die Here Jesus 'n positiewe opmerking in verband met een. 'n Feit is dat die skrifgeleerdes invloedryke figure onder die volk was. Wanneer die Here Jesus vir hierdie man sê dat Hy nie 'n plek het om sy hoof neer te lê nie, plaas Hy sy vinger juis dáár waar dit saak maak. Om Jesus te volg sou vir hom sy aansien in die samelewing, die agting van sy familie, sy inkomste, en moontlik sy huis gekos het. Wat kos dit u om die Here Jesus te volg? Het u al ooit gedink oor hoe belangrik hierdie verskil-lende dinge vir u is? U posisie by die werk; die agting van u familie; u besittings; en wie is in beheer van u salaris? Doen u daarmee net wat u wil, of beheer die Here Jesus dit? Miskien is dit maklik om te sê: "Here, ek sal U volg net waar U my lei", maar is ons regtig besig om dit te doen? Leef ons regtig volgens dit wat ons weet Hy in sy Woord sê? Doen ons verder in elke situasie dit wat ons in ons harte weet dat Hy deur sy Gees vir ons sê? Gehoorsaam ons sy stem? Wanneer iemand in ons gedagtes opkom, bid ons vir die persoon, of ignoreer ons die leiding van die Heilige Gees? Wanneer Hy diep in ons gees stilweg vir ons sê om iets vir iemand te doen, te gee of te stuur, luister ons of redeneer ons die influistering van sy stem weg?
"Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan." Laat ons onsself onvoorwaardelik aan die Here oorgee sodat Hy ons kan lei. Ja, laat ons daadwerklik volgelinge van die Here Jesus wees. Mense wat Hom in alles behaag en in 'n volkome verhouding tot Hom staan.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/