Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 2:3 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
MEI 2000 |
|---|
| "... God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in die mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God." (1 Kor. 2:10--11) |
- Ignatius A le Roux
Die Here Jesus bid in Johannes 17:21 vir eenheid van sy volgelinge:
| " ...dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees..." |
In vers 23 sê Hy dan verder: "Ek in hulle en U in My". Begryp u wat die Here Jesus hier sê?
Hy sê dat Hy in die Vader is, net soos die Vader in Hom is. Verder kom dit wat Hy sê op die volgende neer: "Vader, Ek is binne-in elkeen van my volgelinge, Ek woon in hulle, maar U is binne-in My. En Vader, so is U ook binne-in elkeen van u kinders. U is in My en Ek is in hulle."
Miskien is dit nodig om die gedagte te oordink: God, die Vader, binne-in God die Seun, binne-in mý!
Hoe werk dit? In die vorige uitgawe van die BULLETIN het ons gesien dat God die Heilige Gees met ons wedergeboorte binne-in ons gees kom woon. Voor die Here Jesus se hemelvaart het hy gesê dat dit voordelig is vir ons dat Hy weggaan, want dan kan Hy die Trooster, die Heilige Gees, in sý plek stuur (Joh. 16:7). Wanneer Hy sedertdien in sy genade 'n mensekind wederbaar, stort Hy vanuit die troon van God, die Heilige Gees uit binne-in die gees van die mens wat Hy red. So kom woon die Seun van God binne-in u en my wanneer Hy ons red. En God die Vader is onlosmaaklik een met die Seun, en Hulle woon binne-in ons.
Ken ons hierdie heerlikheid? Dat God Drie-enig binne-in ons woon, ons wat kinders van God is?
In Johannes 15, waar die Here Jesus praat van die wingerdstok en die lote, sê Hy in vers 4 en 5:
| "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." |
Jesus sê: "...Wie in My bly, en Ek in hom ... Bly in My, soos Ek in julle. "
Dit bring ons by die vraag: Bly ons werklik in die Here Jesus Christus? Hy gee in die sewende vers vir ons 'n wonderlike belofte:
| "As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." |
Kan u sien, God die Vader soek aanbidders ware aanbidders wat Hom in gees en waarheid aanbid (Joh. 4:24). As ons in die Here Jesus Christus bly, dan sê Hy, sal ons van die Vader vra net wat ons wil en ons sal dit verkry. Is dit ons daaglikse ervaring?
Hoe kom 'n mens by die plek in jou geestelike lewe waar dit wat Jesus hier belowe, regtig gebeur? Die Hebreërskrywer gee vir ons die antwoord. In Hebreërs 4 lees ons van die sabbatsrus wat u en ek as kinders van God moet ingaan. Ons moet nie daar in die woestyn bly soos dit met Israel was wat vir 40 jaar in die woestyn rondgeswerwe en daar omgekom het nie! Nee, ons moet uit die woestyn deur die Jordaanrivier die beloofde land, die rus van God, ingaan.
Hy sê dat ons nie mense moet wees wat in die vlees bly wandel nie, ons moet nie maar net deur die Rooi See gaan en weet ons is kinders van God nie. Ons moet nie maar net die ervaring hê dat ons uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei is nie. Ons moet ook verder gaan, ons moet aan die doel waarom God ons gered het, beantwoord.
U sien, dit is een ding om te kan getuig en te sê dat ek weet dat ek 'n kind van God is. Dit is egter 'n ander ding om soos 'n kind van God te lewe. Dit is egter wat dit beteken om 'n Christen te wees, want die Bybel sê vir ons:
| "As ons deur die Gees van God lewe, laat ons ook deur die Gees wandel" (Gal. 5:25). |
Dit beteken dat ons nie maar net moet wéét dat ons 'n kind van God is nie. Ons moet ook by die plek kom waar ons in gehoorsaamheid aan die stem van die Goeie Herder wandel!
'n Mens kan alleen daartoe kom deur 'n algehele oorgawe waar jy jouself ten volle na gees, siel en liggaam oorgee aan die Drie-Enige God wat binne-in jou gees, daar diep in jou hart, woon. Jy doen dit deur jouself aan Hom toe te wy en jouself tot sy beskikking te stel deur vir Hom te sê: "O God, ek gee myself net soos ek is, met al my tekortkominge, in al my swakheid, geheel en al aan U. Toon my asseblief as daar enigiets in my lewe is of kom wat U nie behaag nie. Kom neem ten volle oor in my lewe. Ek bring my gevoelens, my idees, my gedagtes, my wilskrag, ja ook my liggaam voor U om te vra dat U U plek op die troon van my hart sal inneem. Regeer U asseblief voortaan in my hele lewe."
'n Christen moet deur die Jordaanrivier gaan. Jy moet die beloofde land ingaan. Jy moet by daardie plek kom waar jy vervul is met die Heilige Gees; waar die Gees van God beheer het oor jou hele wese na gees, siel en liggaam.
In Hebreërs 4 lees ons meer omtrent die sabbatsrus wat ons moet ingaan:
| "Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie" (verse 9-11). |
Wat het met die volk van Israel gebeur? Hulle het gekom by die plek waar hulle die beloofde land moes ingaan. Hulle het toe egter ongehoorsaam en ongelowig geword en nie die rus ingegaan nie. Hulle het in ongeloof omgedraai en dit was toe dat God hulle vir 40 jaar in die woestyn laat rondswerf het totdat almal wat ongehoorsaam was, in die woestyn omgekom het. Hul nageslag, asook Kaleb en Josua, húlle het hierna die beloofde land ingegaan. Húlle het die rus ingegaan.
Hoe gaan 'n mens vandag die rus van die Here in? Hebreërs 4:12 verduidelik na aanleiding van die wyse waarop die offerdier voorberei was vir die vuur, hoe dit moet gebeur:
| "... die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart." |
Ons moet onsself onderwerp aan die Woord van God. Wanneer God deur sy Woord met ons praat of Hy stil, sag, diep in ons hart iets sê, of deur 'n preek, of deur 'n boodskap oor die radio of televisie en Hy ons oortuig en wys op enigiets in ons lewe wat verkeerd is dan moet ons onsself onderwerp daaraan deur dit te bely én daarmee te breek.
U sien, daar staan dat die Woord van God "is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard". Hier word klaarblyklik verwys na die spesifieke instrument wat in die Ou Testament gebruik is om die offerdier oop te klowe (vgl. bv. Gen. 15:9-10; Jer. 34:18-19). Hierdie "swaard" of kapmes "dring deur tot die skeiding van ... gewrigte en murg", so staan dit daar. Daarmee word bedoel dat die offerdier, waaraan daar geen gebrek mag wees nie (vgl. Eks. 12:5), se liggaam deurdring is tot op die skelet. Wanneer alles daar in orde was, is ook van die bene oopgekap sodat selfs die murg blootgelê is as finale toets dat dit 'n gesonde dier was.
Op die normale wyse waarop so 'n dier in twee stukke verdeel is, so werk die Woord van God ook in ons om sodoende die "oorlegginge en gedagtes van die hart" te openbaar. Sodoende kan die Here deur sy Woord aan jou openbaar wat van die vlees, die wêreld, die Satan of die woestynlewe nog in jou lewe oor is. Wanneer dit gebeur, kan jy daarvan werk maak om in berou voor God daarmee te breek. So kom die Woord van God en maak skeiding tussen gees en siel. Dit sny deur jou gedagtes, deur jou opinies, deur jou oortuigings, deur jou geheue, deur jou verbeeldingskrag, deur jou gevoelens, deur jou wilskrag - dit kap oop en sny deur tot in jou gees om daar diep binne aan jou te openbaar hoe God jou op daardie oomblik sien.
Dit is deur hierdie "operasie" dat die Here sy kind uit die woestynlewe die beloofde land binnelei. So 'n operasie is nooit sonder pyn nie. Jy moet die koste bereken alvorens jy die Jordaan oorsteek. Maar weet dit: God wil jou graag in die Beloofde Land hê. Dit is sy doel met jou lewe.
In die vorige BULLETIN het ons aan die hand van 1 Korintiërs 2:10 gesien hoedat God deur sy Heilige Gees aan ons in ons gees die dinge wat in God se hart aangaan, bekend maak. Alvorens die werking van die swaard van die Gees nie in ons lewe plaasgevind het nie, kan die Gees van God dit nog nie so doen nie. Ons moet eers sterf aan onsself alvorens ons vervul kan word met die Heilige Gees. Hy woon sedert Hy ons wederbaar het, in ons nuwe gees, maar Hy begeer om net so ook beheer te hê oor ons wil, emosies, verstand en liggaam.
Eers wanneer dít gebeur het, kan dit met ons wees soos Paulus in 1 Korintiërs 2:13 skryf, naamlik dat "ons geestelike dinge met geestelike vergelyk". Dan eers leef ons soos geestelike mense. Paulus sê hoe die mens wat die rus van God ingegaan het, daar uitsien:
| "... die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie"(1 Kor. 2:15). |
Is dit nie wonderlik nie? In1 Korintiërs 2:10 sê hy dat die Heilige Gees "alle dinge" deursoek. In vers 15 sê hy verder dat die geestelike mens "alle dinge" beoordeel. Dit is daarom dat Johannes skrywe:
| "... julle het die salwing van die Heilige Gees en weet alles" (1 Joh. 2:20). |
Kan u nou sien wat die verhouding tussen die Gees van God en die gees van die mens kan wees? Die goeie nuus wat ons hierdeur leer is dat volgens 1 Korintiërs 2:15 en 1 Johannes 2:20, dit die normale stand van sake vir die Christen se lewe is.
In 1 Korintiërs 2:13 sê Paulus dat die vrug op die inwoning van die Gees van God in ons gees is dat wanneer ons praat, praat ons "nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer". Ja, ons vergelyk "geestelike dinge met geestelike", want die Gees wat die diepste geheimenisse van God deursoek, openbaar dit aan ons in ons gees.
Ons moet geestelike mense wees. Die Here Jesus Christus het aan die kruis van Golgota gehang, en met 'n groot stem uitgeroep:
| "Vader, in U hande gee Ek my gees oor." |
Dit was toe dat Hy die laaste asem uitgeblaas het. Hy het gesterf terwyl Hy sy gees oorgegee het aan die Vader. Nie sy siel nie. Nie sy liggaam nie. Sy gees het Hy oorgegee in die hande van die Vader. Is ons gees in die hande van ons Vader in die hemel?
1 Korintiërs 2:10-11 praat van 'n ope, vrye, skone en normale kommunikasie tussen God die Vader op die troon en sy kind hier op aarde. Hierdie kommunikasie vind in die gees van die mens plaas deur die werking van die Heilige Gees.
Is ons oop en ontvanklik vir die verborgenhede, die diepste geheimenisse van God soos Hy dit aan ons openbaar? Het ons al die rus van God ingegaan? Leef ons in hierdie volle, vrye, skone kommunikasie met ons Vader in die hemel?
Dit is waarom Hy sy Seun gestuur het en Hom aan die kruis laat sterf het. Die Vader wou dat die Seun sy gees aan Hom oorgee. Deur sy krag, waar Hy op hierdie oomblik aan die regterhand van die Vader sit, werk die Seun deur sy Heilige Gees ook in ons die krag om ons gees oor te gee in die hande van ons Vader. Hy doen dit sodat ons in die Gees sal wandel volgens die verborgenhede van God wat Hy aan ons openbaar. Hy openbaar dit wat niemand weet nie, in sy liefde aan ons sodat ons kan weet wat sy wil is. Ons is sy seuns, sy dogters vir wie Hy herskep na die beeld van sy Seun, Jesus Christus.
Leef ons in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader in die hemel?
Die Here Jesus kon sy gees in die hande van sy Vader gee omdat sy gees onbesoedeld was. Hy het tydens sy aardse lewe enkel en alleen geleef volgens dit wat Hy van die Heilige Gees in sy gees ontvang het. Ja, in sy gees het Hy geweet wat die Vader aan Hom sê. Hy was altyd in 'n direkte gemeenskap met sy Vader in die hemel. Die Gees wat altyddeur weet wat in God is, het dit ook aan Hom geopenbaar.
In Johannes 5 getuig die Here Jesus self hiervan. Hierdie getuienis lewer Hy teenoor die Jode wat Hom wou vermoor. 'n Paar van die dinge wat Hy daar omtrent hierdie saak openbaar, tref ons in verse 17, 19-20 en 30 aan:
| "My Vader
werk tot nou toe, en Ek werk ook." "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen." "Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het." |
Die Een wat dit gesê het en dit ook net so uitgeleef het, woon deur sy Gees in elkeen van ons. Hy sit vandag aan die regterhand van sy Vader om aan elkeen van ons deur sy Gees, oomblik vir oomblik mee te deel hierdie lewe wat Hyself hier op aarde geleef het. Dit was 'n lewe in volkome harmonie en gemeenskap met sy Vader. So 'n lewe in gedurige volgehoue gemeenskap met sy Vader, kan Hy aan elkeen wat in Hom glo gee.
Hy het dit geleef deur die werking en vanuit die krag van die Heilige Gees.
Hierdie selfde Heilige Gees woon en werk vandag diep in die hart van elke kind van God. Sy begeerte is om die lewe van die opgestane Jesus in ons lewens tot openbaring te bring.
Luister ons vandag na sy stem wanneer Hy met ons praat? Ons hemelse Hoëpriester wat ons in die wil van die Vader wil lei, praat stilweg deur die inwonende Heilige Gees in ons harte onmiddelik wanneer daar maar die geringste gedagte by ons opkom om iets te doen wat nie in harmonie met die wil van die Vader is nie.
Deur die krag en werking van die Heilige Gees is dit moontlik om net so in gemeenskap met die Vader te wandel, soos ons dit in die Seun se lewe gesien het. Hy het immers sy lewe as 'n voorbeeld aan ons nagelaat (1Pet.2:21).
Laat ons luister wanneer die Heilige Gees praat. Laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring (Heb.12:1). Wanneer die Heilige Gees ons bewus maak van iets wat die Vader nie behaag nie, laat ons daarmee breek.
Dit is nodig vir elke kind van God om te waak daarteen om nie soos die volk te wees wat na die tien ongelowige verspieders geluister het nie. Hulle kon nie die beloofde land ingaan nie, maar moes vir die res van hul lewe in die woestyn rondswerwe. Lees gerus Hebreërs 3 hieroor. Daar staan:
| "Daarom soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie ..." (Heb. 3:7-8). |
Soos 'n mens jouself daarop toelê om te luister na die stille waarskuwings van die inwonende Heilige Gees, leer 'n mens al hoe meer om die stem van die Vader te hoor. Die Here wil hê dat ons sy stem so sal ken dat ons volkome in harmonie met die wil en die begeerte van die Vader sal wandel. Waar dit so is, kan die Vader die lewe van die Seun in en deur ons lewens in hierdie wêreld tot openbaring bring.
Dit is dan dat die belofte van die Seun 'n werklikheid in ons lewens is:
| "As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." (1 Joh. 15:7) |
Kopiereg © 2000 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za
Web: www.kerugma.org.za