Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 3:2 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
MEI 2001 |
|---|
| " Toe het die Here met Moses gespreek en gesê: 'Sê aan die kinders van Israel dat hulle...dat hulle vir My 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Volgens alles wat ek jou laat sien - die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort - so moet julle dit maak' (Eks. 25: 1-9)" |
- Ignatius A le Roux
In die heel eerste Nuusbrief van Kérugma het ons die moontlikheid genoem om 'n volskaalse model van die tabernakel, soos Moses dit gebou het, op te rig. Die Nuusbrief het gehandel oor DIE NUWE UITDAGING IN DIE VERKONDIGING VAN DIE EVANGELIE. Daar is genoem dat ons op die vooraand staan van die digitale video renaissance en verskillende voorbeelde is genoem van hoe die Woord in alle tale deur multimedia produksies nou wêreldwyd uitgedra kan word.
Die tegnologie het nie net sedertdien so ontwikkel dat dit nou inderdaad moontlik geword het om dit te doen nie. Daar is intussen, sonder dat ons daarvan bewus was, 'n volskaalse replika van die tabernakel opgerig. Om alles te kroon, staan dit in die woestyn waar dit ten tye van Israel se verowering van Jerigo opgeslaan was.
In die Nuusbrief destyds, is onder andere genoem hoedat daar video's van die vyf verskillende offers wat Israel moes bring, geskiet kan word in so 'n tabernakel.
Terwyl ek die tabernakel as voorbeeld genoem het, het ek nie gedroom dat een van die eerste video's wat ons sou maak juis dié van die tabernakel sou wees nie. Die Nuusbrief was destyds pas uitgestuur of ds. Vermeulen van die Nederduits Gereformeerde Kerk Pietersburg-Oos skakel my met die nuus dat daar 'n geregistreerde maatskappy is met die naam Project Tabernacle. Die projek is steeds aan die gang met die beplanning om so 'n tabernakel in die distrik van Pietersburg op te rig.
Intussen het ons, soos in die vorige Bulletin berig, die voorreg gehad om die tabernakel wat deur dr. Randall D. Smith te Israel opgerig is, te besoek en af te neem. Die video daarvan is pas vrygestel. Hierdie video is onder andere ook geskik om gedurende eredienste, wyks-byeenkomste, Bybelstudies en diés meer vertoon te word. Dit kan ter demonstrasie gebruik word waar die evangelie na aanleiding van die tabernakel verkondig word. In die video neem dr. Randall Smith self die kyker op 'n besigtigingstoer deur die tabernakel. Wat ons natuurlik verstom het toe ons die eerste keer deur die tabernakel geneem is, was die feit dat al die koper, silwer en goud daarin uit Suid-Afrika kom. Die rede daarvoor, sê hulle, is dat Suid-Afrika se goud die goed-koopste ter wêreld is.
Naas die plekke waar die offerdiere geslag is, is die brandofferaltaar die eerste van die elemente waarby 'n mens stilstaan wanneer jy die tabernakel ingaan. In die video kan die plekke waar die diere geslag word, gesien word. Nadat die priesters die diere wat die volk gebring het, geslag het, is dit op die vuur van die altaar geoffer.
Iets baie opvallend omtrent die brandofferaltaar is dat dit so heilig sou wees dat dit elke persoon wat daaraan sou raak, heilig sou maak:
| "Jy moet ook daagliks 'n sondofferbul tot versoening berei en die altaar ontsondig deur daarvoor versoening te doen; en jy moet dit salf om dit te heilig. Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. So sal dan die altaar hoogheilig word: elkeen wat aan die altaar raak, word heilig" (Eks. 29:36-37). |
Hierdie vermoë wat aan die altaar toegeskryf is, naamlik dat dit elkeen wat daaraan sou raak, sou heilig, sê baie omtrent God se bedoeling met die instrument waarop die offers gebring moes word.
Die Bybel leer dat heiligheid normaalweg nie van een persoon of item na 'n ander oorgeplaas kon word nie. 'n Voorbeeld hiervan is Haggai 2:11-13 wat leer dat heiligheid nie oordraagbaar is nie, maar onreinheid wel. Wanneer vleis wat op die altaar geoffer is ("heilige vleis") aan iemand raak, dan word daardie persoon nie heilig nie. Sou iemand egter onrein wees omdat hy aan 'n lyk geraak het, dan word alles waaraan hy raak, ook onrein. Onreinheid is aansteeklik, maar heiligheid nie. Tog het die altaar die eienskap gehad dat dit almal wat daaraan raak, heilig maak.
Dit was egter nie 'n inherente vermoë waaroor die altaar beskik het nie. Nee, die altaar moes op 'n spesifieke wyse geheilig word, alvorens dit oor hierdie krag tot heiligmaking sou beskik.
Eksodus 30:22-38 leer dat die hele tabernakel met al sy voorwerpe deur heilige salfolie geheilig moes word. Die brandofferaltaar as deel van die tabernakel, moes egter nie net deur hierdie besondere olie geheilig word nie, maar moes eers deur die bloed gereinig word. Dit moes deur die bloed van 'n sondofferbul ontsondig word. Deur die offerbloed van hierdie bul moes daar versoening gedoen word vir die altaar. Dit moes vir sewe dae lank elke dag gedoen word.
Alvorens dit deur die salfolie geheilig kon word, moes dit dus eers deur die bloed van die sondofferbul met God versoen word. Die altaar was gevolglik eers vir God aanvaarbaar nadat dit sewe keer deur die bloed gereinig is. Daarna het dit saam met die res van die tabernakel 'n instrument geword waardeur die Here elkeen wat daaraan geraak het, geheilig het (Eks. 31:29).
Dr. Randall Smith wys op die video op die groot rol wat bloed in die tabernakeldiens gespeel het. Bloed het nie net op die brandofferaltaar gevloei nie, maar het met die water van die koperwaskom vermeng wanneer die priesters hul hande gewas het. Bloed is ook aan die horings van die wierookaltaar gesmeer en op die Groot Versoendag kon die hoëpriester die allerheiligste slegs ingaan deur die bloed aan sy eie liggaam, die voorhangsel, asook op die versoendeksel te sprenkel (Lev. 16).
Bloed het dus 'n belangrike rol gespeel in die tabernakeldiens. Die altaar moes sewe keer daarmee ontsondig of gereinig word alvorens dit geheilig kon word tot 'n instrument waardeur God mense kon heilig. Elkeen wat daaraan raak, sou heilig wees.
God is heilig en gee aan ons die opdrag:
| "... wees heilig, want Ek is heilig ..." (Lev. 11:44, 1 Pet.1:16) |
Naas die bevel om heilig te wees, is ons ook geroep tot heiligheid.
Baie verstaan die begrip "roeping" as iets wat slegs betrekking het op diegene wat spesifiek deur God geroep is tot voltydse diens in sy koninkryk. Efesiërs 4:1 sê egter vir elke Christen om waardig te wandel die roeping waarmee hy/sy geroep is. Wanneer God met 'n mens praat om sy kind te word, dan roep Hy jou. Hy roep jou om uit die wêreld uit te kom en deel van sy koninkryk te word.
Die gedagte om uit die wêreld uitgeroep te wees, gee reeds 'n sekere aspek van heiligmaking weer. Dit is om heilig, afgesonderd van en afgeskei van die wêreld te wees. Alhoewel jy steeds in die wêreld is, is jy nie meer deel van die wêreld nie.
Daarom leer die Bybel voorts dat ons geroep is tot 'n heilige lewenswandel. Paulus skryf aan:
| "die geroepe heiliges wat in Rome is" (Rom. 1:7). "die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges" (1 Kor. 1:2) en dat "God ons nie tot onreinheid geroep het nie, maar tot heiligmaking" (1 Thes. 4:7). |
Voorts bid Paulus ook dat "die God van die vrede, julle volkome heilig maak ... Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen" (1 Thes. 5:23- 24).
Wanneer God 'n mens roep om jou te bekeer, dan roep Hy jou uit die wêreld uit om een van sy kinders te word; om dus soos Hy te word. Hy is heilig. Hy is afgesonderd van die wêreld. Hy roep ons om uit die wêreld uit te kom; om afgesonderd daarvan te word. Deels beteken die begrip "heiligheid" om afgesonderd te wees. Dit wat heilig is, is afgeskei van dit wat onheilig is.
So kom God en Hy was ons in sy Woord waardeur Hy ons roep (Eseg. 36:25, Ef. 5:26). Voorts reinig en heilig Hy ons deur die bloed van die Here Jesus (Heb. 13:12, 1 Pet. 1:19). Hy gee ook aan ons die Gees van sy heiligheid, die Heilige Gees, om in ons nuwe wedergebore gees te kan woon (Eseg. 36:26-27).
Wanneer ons na dit kyk, dan blyk dit dat die woord "heiligheid" meer inhou as om net afgesonderd van die wêreld te wees. Die Here noem dat ons sal skyn soos ligte te midde van die krom en verdraaide geslag waaronder ons woon (Fil. 2:15).
Heiligheid hou iets van die prag van die goue voorwerpe in die tabernakel in. Ten spyte van die klein bietjie lig in die heiligdom, straal die goud sy onmiskenbare skynsel uit.
God is heilig en die wat aan Hom behoort, is geroep om soos Hy te wees. Hulle is afgesonderd van die wêreld maar straal van die lig van sy heerlikheid. Hulle kan hulself nie verberg nie. Soos 'n stad op 'n berg, word hulle gesien (Matt. 5:14). Dit is waarom die Here Jesus aan die Vader gesê het dat Hy sy heerlikheid aan sy volgelinge gegee het (Joh. 17:22).
En die Vader, hoe sien Hy die volgelinge van die Here Jesus? Hy sien hulle as mense wat geheilig is in die bloed van die Lam. Kolossense 1:20 leer dat God die Vader deur die Here Jesus Christus alles met Homself versoen het nadat Hy daarmee vrede gemaak het "deur die bloed van sy kruis". Dit is interessant om te let op wat alles tel onder dit wat die Vader so in die Seun met Homself versoen het. Dit is "die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele" (Kol. 1:20).
Het u gesien dat hier staan dat God "die dinge in die hemele" met Homself versoen het deur die bloed van die kruis? Dit is te begrype dat daar dinge op aarde kon wees wat Hy met Homself moes versoen. Die sondeval het so 'n effek op die mens en op die aarde gehad dat niks ongeskonde gebly het nie. Maar hoe werk dit dan dat daar dinge in die hemel sou wees wat God deur die bloed van die kruis met Homself moes versoen?
Die antwoord hierop vind ons in die opdrag om die tabernakel te bou. Toe die Here aan Moses die opdrag gegee het, het Hy uitdruklik gesê dat hy dit moes bou:
| "Volgens alles wat Ek jou laat sien - die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort - so moet julle dit maak" (Eks. 25:9). |
Hiervolgens, asook uit verskeie ander gedeeltes (Eks. 25:40; 26:30; 27:8 en Num. 8:4) blyk dit dat die Here aan Moses 'n voorbeeld van 'n taber-nakel getoon het. Hy moes die tabernakel bou "volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is" (Eks. 25:40). Hierdie voorbeeld is die tabernakel wat in die hemel is.
Die tabernakel in die hemel word die "heilig-dom" genoem "wat nie aan hierdie skepping behoort nie" (Heb. 9:11). Die aardse tabernakel is na die voorbeeld daarvan gebou. In Hebreërs 9:11-12 leer ons dat die Here Jesus as ons Hoëpriester hierdie heiligdom ingegaan het met sy eie bloed en sodoende vir ons 'n ewige verlossing teweeggebring het.
Die aardse hoëpriester moes jaarliks op die Groot Versoendag met die bloed van 'n bok deur die voorhangsel die allerheiligste ingaan om die versoendeksel met die bloed te besprinkel (Lev. 16). Dit moes elke jaar herhaal word, want hierdie offer was onvolmaak en kon die gewete van die hoëpriester nie volkome heilig nie (Heb. 9:9).
| Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en 'n ewige verlossing teweeggebring (Heb. 9:11-12). |
Die hoofengel wat God geskape het, wou homself gelykstel met die Allerhoogste (Jes. 14:14). Hy het in opstand gekom en 'n derde van die engele met hom saamgeneem. Die hemel is deur hierdie rebellie geskend. Hierdie sonde het die hemel besoedel. Hierna het die mens op aarde ook in rebellie gesondig toe hulle "soos God" wou word (Gen. 3:5).
Die aarde is getref deur hierdie sonde. God in sy genade het bepaal dat daar verlossing vir die gevalle mens moontlik sou wees. Die verlossing sou enkel en alleen kon geskied deur 'n Persoon wat met sy eie bloed die versoening sou bewerk. Hy sou die saad van die vrou wees wat die Satan in die kop sou vermorsel (Gen. 3:15). Ons weet dat Hy, die Here Jesus Christus, sy bloed aan die kruis gestort het vir ons sonde. Die kruis was die altaar waarop Hy Homself vir ons sonde geoffer het. Nou is dit interessant dat lank voor die tabernakel opgerig was, daar al 'n altaar was waarop offers gebring is.
God kon aanbid word sonder dat die tabernakel of die tempel daar was, maar nie sonder 'n altaar nie (vgl. Eks. 20:24). Die woord "altaar" dui op slag, doodmaak, opoffer. Dit wat die mens offer asook hyself is egter nie volmaak nie. Dit is onrein en dus vir God onaanvaarbaar. Daarom moes die altaar waarop die onrein en onheilige mens sy onvolmaakte offer bring, eers vir God geheilig word sodat God deur dit die mens en sy offer kon heilig.
Daarom God se vereiste dat die altaar self eers deur die bloed geheilig moes word. 'n Gereinigde en geheiligde altaar alleen kon dit wat daarop geoffer word, heilig.
Maar steeds kon die offers op die altaar nie eens die hoëpriester se gewete volkome heilig nie (Heb.9:9). Daar moes 'n hoëpriester kom wat self nie gesondig het nie en dus sonder sonde was.
Daarom moes die Seun van God mens geword het. Hy het Homself in ons plek kom stel, die versoekings weerstaan en die sonde oorwin.
Aan die kruis het Hy Homself in ons plek aan die regverdige oordeel van die Vader oorgegee. U sien: Die Here Jesus het 'n mens van vlees en bloed geword. Die enigste weg tot God en die ewige lewe was deur die bloed van die vlees.
Ons lewens is so onder die mag van die vlees, dat ons deur geen lyding, selfopoffering, gehoorsaamheid of dood daarvan vry kan raak nie.
Deur sy dood het die Here Jesus die reg en die krag verwerf om ons op dieselfde weg te laat wandel, naamlik die weg van die kruis. U sien: Die kruis is nie net maar die vloekhout waaraan ons moet glo dat Jesus gesterf het nie. Nee, onsself moet ook daaraan sterf. Wanneer die sondaar tot die besef kom dat Jesus aan die kruis Sy bloed gestort het in sy plek, dan vereenselwig hy homself met die lyding en sterwe van die Here Jesus Christus. Die prys wat die Here Jesus hier op aarde betaal het deur Sy lyding en sterwe, het so 'n krag by God die Vader, dat Hy aan elkeen wat in gemeenskap met Sy dood lewe, ook Sy opstandingskrag kan gee (Rom. 6:3,4). Deur die Heilige Gees werk Jesus met hierdie krag in ons lewens. Eerstens om aan ons die wedergeboorte te skenk. Tweedens gee Hy dan aan ons die krag om in die nuwe lewe te wandel.
So baie glo in 'n ander kruis. Dit is die kruis waaraan Christus gely het. Die ware kruis is die een waaraan elkeen wat in die dood van die Here Jesus gedoop is, self ook gekruisig is. Dit is die kruis wat deur die bloed van die Here Jesus sodanig geheilig is, dat elkeen wat in die geloof daaraan raak, self ook deur dit vir God geheilig word. Die ware kruis het die reinigende en heiligende krag van die bloed van die Offerlam van Golgota wat elkeen wat in die geloof homself of haarself daarop laat vasspyker, ook reinig en heilig. God die Vader het deur die bloed van die kruis vrede gemaak met alles in die hemel en op die aarde. Is jy al gereinig in daardie bloed? Het jy al vrede met God?
Kind van God, jy wat sê dat die bloed van die kruis jou al gereinig het, leef jy voortdurend onder die bloed van die Lam? Die kruis is geheilig deur die bloed wat Jesus daaraan gestort het. Dit is geheilig as die enigste altaar waarop alles wat ons vir God mag aanbied, geoffer mag word. Die altaar in die tabernakel moes sewe dae lank deur die bloed van sewe sondoffers gereinig word, alvorens dit deur die heilige salfolie geheilig kon word. Sewe is die getal van volkomendheid. Jesus se offer was volmaak. Hy het die altaar van die kruis met sy bloed geheilig deur net een offer. Sy bloed het vandag steeds die krag om so te reinig en te heilig. Dit gebeur so maklik dat ons reken dat ons te gering is om iets vir God te doen. Of ons voel te sondig, te swak, te minderwaardig of maar net nie bekwaam genoeg om God te behaag nie.
Geen mens is in staat daartoe om iets vir God te doen, aan te bied of om Hom te behaag nie. Deur Sy bloed het die Here Jesus die kruis egter geheilig as die enigste altaar waarop alles wat ons vir God mag aanbied, geoffer moet word. Waar 'n kind van God homself of enige projek wat hy wil aanpak of iets waaraan hy wil meedoen aan God wil voorlê, lê dit op die kruis van Christus en weet dat die kruis dit heilig vir God. Vra die Here om jouself met dit wat jy wil doen of aan Hom wil bied aan die kruis vas te nael. Glo en aanvaar dat soos die dood van die Here Jesus in jou werk, sy opstandingskrag ook aan jou die vermoë gee om met Hom te wandel. Om dit wat jy doen, te doen deur die krag wat Hy aan jou verleen. Die Here Jesus Christus is ons Hoëpriester wat enersyds vir ons by die Vader intree en andersyds deur sy Heilige Gees sy opstandingslewe in ons openbaar. Deur sy Heilige Gees gee Hy aan ons die hemelse krag en vermoë om dit wat ons doen tot die welbehae van die Vader te doen.
Wanneer die kruis ons heilig, is die bloed van die Here Jesus Christus besig om ons te reinig. Dit is iets wat voortdurend gebeur. Johannes sê dat as ons in die lig wandel soos wat God in die lig is, dan reinig die bloed van die Here Jesus Christus ons voortdurend (1 Joh. 1:7). Dit sien daarop dat die hemelse Hoëpriester ons voortdurend met sy bloed besprenkel. So was dit ons voortdurend skoon van alles in die wêreld waarmee ons te doen kry. Die Here Jesus sê dat diegene wat Hom volg, elke dag hul kruis opneem (Luk. 9:23). Soos ons elke oggend die Here vra om ons aan Sy kruis vas te nael en ons die hele dag daaraan te hou, reinig Hy ons in Sy bloed. So heilig Hy ons op Sy offeraltaar en gee Hy aan ons die krag van die nuwe lewe waardeur Hy Homself in en deur ons lewens aan die wêreld rondom ons openbaar.
Daar in Israel by die brandofferaltaar het ek gewonder watter indruk dit op die Israeliet en op sy gesin moes maak wanneer hy hul beste lam daar kom offer het. Dit wat vir hulle so kosbaar was; wat hulle so getrou versorg en opgepas het en wat snags in die grootste deel van hul huis - die stal - geslaap het. Dit wat hulle soveel voor kon kry as hulle dit op die mark sou verkoop, dit offer hulle nou in hul plek sodat hulle nie self hoef te sterf nie. Wanneer die vader sy hand daarop lê en sy sondes bely en die priester dit slag en op die vuur van die altaar neerlê - wat gaan dan nie deur hulle gemoed nie?
Die Here Jesus het ons sondes op Hom geneem en Homself gewilliglik aan die kruis geoffer as die Lam van God. Hy "het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak (die aardse tabernakel), 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn" (Heb. 9:24). Daar tree Hy vir ons in by die Vader terwyl Hy deur sy Heilige Gees aan ons sy lewe gee. Sy begeerte is dat ons ons liggame "stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer" (Rom. 12:1). Kind van God, jy wat bely dat die Gees van die Heilige God in jou woon; dat jou liggaam sy tempel is, leef jy daadwerklik 'n lewe welgevallig vir God?
Dit wat jou liggaam is en doen, dit wat die lippe van jou liggaam praat, wat jou hande doen, waar jou voete loop, waarna jou oë kyk en waarna jou ore luister, dit wat deur jou lewenshouding en jou voorkoms uitstraal, is dit alles onder beheer van die Heilige Gees en tot welbehae van die Vader? Word die beeld van die Here Jesus Christus daardeur uitgedra? Openbaar die Here Jesus deur jou liggaam die Vader aan die wêreld rondom jou? Laat ons ons liggame oorgee aan die kruis as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer.
('n Video deur Bill Randles wat toon wat hierdie valse profeet doen, word DV einde Mei vrygestel)
Ek glo dat ons leef in die laaste dae voor die wederkoms van die Here Jesus. Een van Jesus se waarskuwings was dat net voor sy wederkoms daar "valse profete" sal verskyn wat in staat sal wees om "tekens en wonders" te doen sodat, as dit moontlik sou wees, selfs die uitverkorenes mislei sal word. In die lig daarvan is dit noodsaaklik dat ons des te meer sal onderskei of sekere verskynsels van God is of nie.
Ek weet nie wat in pastoor Joshua se hart aangaan nie. Dit lyk inderdaad asof hy baie opreg is en 'n baie eenvoudige lewensstyl handhaaf. In plaas daarvan om gedurig geld te neem van mense (soos wat so baie bekende televisie evangeliste gedoen het) is daar verhale van T.B. Joshua se vrygewigheid teenoor die armes wat met groot moeite na hom kom vir genesing. Nogtans moet ons onderskei wanneer ons evalueer of sekere verskynsels van God is. "Toets die geeste om te sien of hulle van God is" (1 Joh. 4). Ek wil graag sekere waarskuwingstekens voorhou aan diegene wat wil weet hoe om hierdie verskynsels te beoordeel.
* Op 'n Franse televisie onderhoud het pastoor Joshua gesê dat hy hierdie "gawe" ontvang het met sy geboorte. Die ware gawes van die Gees van God (1 Kor. 12-14) word nie by mense se geboorte aan hulle gegee nie. 'n Persoon moet wederbaar word deur Christus, en selfs dan deel die Heilige Gees die gawes uit "soos Hy wil".
* Transsubstansiasie: Op 'n video wat deur die Synagogue of all Nations versprei word, word 'n "Bloed van Jesus" - diens gewys. Dit toon hoe profeet Joshua 'n groot tenk water seën terwyl hy elkeen van twaalf lopende tapkrane aanraak en aankondig dat dit nou die "bloed van Jesus" is. Dit wys dan hoe die gemeente vorentoe storm, stampende en stotende onder mekaar in hul haas om eerste by hierdie tapkrane te kom sodat hulle mag drink, hulself mag nat spat en in sommige gevalle selfs stort in die "bloed van Jesus". Dis is miskien die mees verontrustende van dit alles - omdat dit die Bybelse leer van die bloed van Jesus (Sy plaasvervangende dood) in 'n emosionele, bygelowige ervaring verander. Geen priester of profeet kan enige substansie in die bloed van Jesus verander nie. Die praktyk is eerder 'n heidense gebruik, en nader aan toordery as aan die Christendom. Die bloed van Jesus is gestort as 'n offer aan God die Vader, nie as 'n vloeistof om uit te giet en in gebad te word nie.
* Valse skeiding tussen die Skape en die Bokke: Nog iets wat deel is van hierdie lasterlike "Bloed van Jesus" - diens is dat, terwyl die mense druk, trek en stoot om deel te neem in die sogenaamde bloed, diegene wat "bose geeste"het, in 'n demoniese besetenheid begin optree. Hulle rol rond op die grond deur die gemors en vuilgoed (meer hieromtrent later), skreeuende en kermende in pyn. Daar is inderdaad duiwelbesetendheid, maar 'n mens sal nêrens in die Skrif 'n bevrydingsdiens vind wat eers naastenby met hierdie sogenaamde "Bloed van Jesus" - diens ooreenstem nie. Joshua verklaar dit as die "skeiding van skape en bokke", wat eintlik eers op die Oordeelsdag gaan plaasvind.
* Daar is ook 'n onwaardige en selfs degraderende aspek aan hierdie genesings verbonde. Wanneer Christus genees het, was dit alles so waardig. Die ware mens is onder, God is bo, maar 'n mens is nie "niks" nie. Hy is gemaak "na die beeld van God". In die Joshua videoband, vrygestel deur die Synagogue, word mans met rektale kanker gevra om hulle broeke af te trek, voor ander, beide voor en na die genesing. 'n Vrou ontbloot haar borste, een wys haar kanker en staan voor 'n gemengde gehoor in die angs van haar pyn. Soos die genesing plaasvind, sien 'n mens hoe etter by haar borste uitloop, oor haar rok en in 'n poel op die grond versamel. Mense wat hulle "probleme uitbraak" word gesien, sommige braak bloed, sommige klippe, skulpe, groot wurms, lewendige insekte. Waar het Jesus of Sy apostels ooit so iets gedoen? Ja, hierdie vlekke kan op die vloer gesien word. Op dieselfde plekke waar mense bloed gebraak het, en waar op film gesien kan word hoe vrouens bloederige afskeidings tussen hulle bene uitskei; op hierdie selfde vloer val mense in 'n beswyming neer, lê daar uitgestrek ('n mens kan die vlekke sien), en rol rond in die gemors.
* Afstandbeheer: T.B. Joshua gebruik 'n tegniek wat genoem word "afstandbeheer" waarin hy, terwyl hy ongeveer tien voet of so van 'n "pasient" af staan, deur middel van handbewegings hulle bewegings manipuleer. Die pasient blyk onweerstaanbaar na die linkerkant getrek te word wanneer hy sy hande na links beweeg, en na regs wanneer hy sy hande na regs beweeg. Deur 'n sirkelbeweging met sy hande te maak, stuur Joshua die pasient in 'n sirkel, dikwels totdat hulle buite beheer tol en neerval in 'n bedwelmde hoop! Weer eens is hierdie metode meer vergelykbaar met okkultiese geneespraktyke as met die majestieuse helende gawe van Jesus Christus. Nog 'n ooreenstemmende tegniek word genoem "point of contact". So byvoorbeeld staan Joshua ongeveer 15 voet van die vrou met ontblote borste wat in angs en pyn voor die gemeente staan met haar kanker en vryf sy ken hewig. Dit het duidelik 'n effek op haar kankeragtige bors deur middel van afstandbeheer. (Vergelyk die genesing van die vrou met 'n bloedprobleem vir jare - sy het slegs vir Jesus aangeraak en was genees.)
* Roep van vuur uit die hemel: Joshua het die mag om vuur uit die hemel te roep om te val op die liggaamsdele van lede van sy gemeente waarmee hulle gesondig het! Op die video word 'n vrou gesien wat haar private dele in angs vasgryp, (dit blyk ligte vermaak te wees vir andere) as Joshua se vuur haar reinig van haar sonde. In die boek Openbaring lees ons dat die valse profeet vuur uit die hemel roep tot die verstomming van hulle wat onder misleiding staan.
* Joshua glo ook in vreemde dinge: hy is byvoorbeeld 'n vegetariër want hy het aan'n verslaggewer vertel dat baie van die mense wat hy bedien ten opsigte van bevryding "half vis en half mens" is. In 'n ander onderhoud het hy gesê dat "die heilige persoon" in hom aan duisende gelyktydig kan verskyn, selfs in hulle drome! Dit is nie Christendom nie!
Om mee af te sluit: Ek gee nie voor dat ek weet wat Joshua se motivering is nie. Om die waarheid te sê dit blyk asof hy 'n baie opregte man is. Opregtheid is egter nie 'n veiligheidsmeganisme teen misleiding nie. Ek is seker Edgar Cayce, Jean Dixon en menige ander profete, wie, gemeet aan Christelike, Bybelse standaarde as vals beskou moet word, net so opreg en beskeie was. Daar is egter ontelbare waarskuwings in die Skrif aangaande die opkoms van valse profete en leraars wat soos Farao se towenaars die ware evangelie weerstaan en verhinder het deur middel van tekens, wonders en wonderwerke. Net omdat dit voorkom asof Joshua "resultate" lewer, "He seems to have the goods", is dit nie te sê dat ons soontoe moet gaan nie, want die doel heilig nie die middele nie. Selfs die gedagte om na Nigerië te gaan om genesing, 'n wonderwerk of 'n Woord van God te ontvang, is onskriftuurlik. "Jesus is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid". Hy is baie naby aan ons vandag, want "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word".
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/