Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 4:2 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
Mei 2002 |
|---|
| "In dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide." (Sag. 14:4) |
- Naas le Roux
Hoeveel weet u van die gebeure wat tydens die wederkoms van die Here Jesus gaan afspeel? ‘n Mens staan telkens verstom wanneer jy met kinders van die Here praat en ontdek dat hulle maar net weet dat die Here weer gaan kom. Die Bybel is so vol van al die ingrypende gebeure wat voor, tydens en na die koms van die Here Jesus gaan plaasvind, dat ‘n mens reken dat dié onderwerp op die lippe van elke prediker moet wees. Wanneer mense dan niks van die wederkoms weet nie, is dit moeilik om te weet waar om te begin met al die interessante en insiggewende feite rakende hierdie belangrike onderwerp.
Goeie nuus is dat daar nou ‘n video is wat ons ‘n kykie gee in die direkte gebeure tydens die wederkoms. Dit is ‘n video deur die Internasionale Direkteur van die Internasionale Christen Ambassade Jerusalem, Michael Utterback. Die video handel oor The Significance of the Temple Mount.
In die video sien u die Tempelberg te Jerusalem asook die Olyfberg. Die teks hierbo noem hoedat die Messias met sy koms na dieselfde plek sal kom as waarvandaan Hy opgevaar het na die hemel (Hand. 1:11-12).
Ek het onlangs met ‘n sekere predikant oor die wederkoms gepraat en het verstom gestaan. Na al die jare waarin hy die Woord verkondig het, was hy heel onbewus van die verskillende gebeure wat die Bybel beskryf. Vir hom is die wederkoms so ‘n vae iets wat in die vergetelheid lê. Dit sal alles maar net so in ‘n oomblik verby wees en - nou ja.
Wat interessant is, is dat die eerste koms van die Here Jesus uit ‘n hele reeks gebeure bestaan het. So is die tweede koms ook ‘n gebeurryke geleentheid. Met die eerste koms het ‘n engel aan die priester Sagaria verskyn om die geboorte van Johannes die Doper aan te kondig. Die maagd Maria is bevrug deur die Heilige Gees en dan was daar die geboorte van Jesus te Betlehem. Hy het later sy bediening beoefen, wonders en tekens gedoen terwyl Hy die evangelie van die koninkryk verkondig het. Voorts is Hy vervolg en uiteindelik gekruisig. Na sy opstanding uit die dode, het Hy aan baie verskyn waarna Hy opgevaar het na die hemel om as ons Hoëpriester aan die regterhand van God te gaan sit.
Na al hierdie gebeurtenisse saam word normaalweg verwys as die eerste koms. Die tweede koms bestaan uit net so ‘n verskeidenheid gebeure. Dit is amper soos wanneer ‘n mens na ‘n berg in die verte kyk. Van ver lyk dit soos een groot bergpiek. Soos ‘n mens nader beweeg, ontdek jy dat dit uit verskillende pieke bestaan. Die een is groter as die ander en die een skuins agter die ander. Wanneer jy egter die berg uitklim, sien jy dat daar boonop nog meer klowe en pieke is as wat jy jou ooit kon voorstel.
So is dit ook met die profesieë rakende die koms van die Messias.
Wanneer ons vandag terugkyk na die Ou Testamentiese profesieë, blyk dit dat daar nie ‘n onderskeid gemaak was betreffende die eerste en tweede koms van die Here Jesus nie. Dit was bloot profesieë dat Hy sou kom. Omdat ons vandag weet wat Hy alles met sy eerste koms vervul het, kan ons nou duidelik sien wat nog onvervuld is. Al die orige dele van die profesieë gaan Hy met sy tweede koms vervul.
Die Ou Testamentiese profete het nie ‘n onderskeid geken tussen twee verskillende komste van die Messias nie. Hulle het maar net geprofeteer wat Hy alles sou doen met Sy koms. Daarom dat die volk verwag het dat Hy onder andere ook sou kom as die Koning wat sy koninkryk sou kom vestig.
Al hierdie dele van die profesieë rakende sy koningskap moet Hy nog vervul. Dit is waarom sy dissipels net na Sy opstanding wou weet of Hy die res van die profesieë toe sou vervul (vgl. Hand. 1:6). Sy antwoord hierop het daarop neergekom dat Hy dit wel nog gaan doen, maar dat dit hulle nie toekom om die tye of geleenthede te weet wanneer Hy dit gaan doen nie (Hand. 1:7).
Tussen die eerste en die tweede fase van sy koms as Messias, is daar die groot gedeelte waarvan die Ou Testamentiese profete nie geweet het nie. Dit is die tyd waarin ons tans leef, naamlik die tyd van die Kerk. Hierna gaan die Here Jesus weer kom. Dié keer as Koning en as Regter. Die eerste keer het Hy as die lydende Dienskneg gekom om vir ons sondes te betaal.
Wanneer ons na al die verskillende momente in die profesieë rakende die tweede koms kyk, dan is dit net soos met die eerste koms, asof die berg uit verskillende spitse saamgestel is. Wat van ver na een piek lyk, is in der waarheid ‘n hele reeks pieke.
Michael Utterback lig die sluier oor baie daarvan in hierdie video. Ons gaan nie nou op dit alles in nie, maar noem net dat volgens ons teks hierbo (Sag. 14:4), die Here Jesus gaan terugkeer na die Olyfberg. Dit kyk uit oor die Tempelberg. So sien ons in hierdie video die dorsvloer wat Dawid gekoop het om ‘n altaar vir die Here te bou (2 Sam. 24, 1 Kron. 21). Dit is ook dieselfde plek as waar Abraham vroeër sy seun Isak wou offer. Die Here het hierdie berg verkies as sy woonplek op aarde. In Israel word dit ‘n berg genoem. Soos dit wat ons normaalweg ‘n "meer" noem in Israel die naam "See van Galilea" het, so is daar verskillende heuwels wat berge genoem word.
Die Bybel praat byvoorbeeld daarvan dat Jerusalem omring is van berge. In Suid-Afrika sou ons dit eerder heuwels genoem het. Die Olyfberg self bestaan byvoorbeeld uit ‘n reeks van vier heuwels wat die een teen die ander rus. Die dorsvloer wat Dawid gekoop het, was ook op ‘n heuwel wat omring is deur ander heuwels. Koning Dawid het sy stad, die Stad van Dawid, onder hierdie dorsvloer teen die heuwel uitgelê. Bo die stad self is die paleis gebou en naas dit, op die hoogste punt waar die dorsvloer was, het Salomo later sy tempel gebou. Dit word vandag die Eerste Tempel genoem. Na die ballingskap is die Tweede Tempel op dieselfde plek gebou. Koning Herodus het later hierdie tweede tempel herbou tot ‘n baie groot kompleks. Die kompleks staan vandag nog, maar die deel in die middel daarvan, naamlik die tempel self, is in 70 nC. verwoes. Vandag pryk die Goue Rotskoepel van Islam op hierdie plek - in die middel van die tempelkompleks! Dit is natuurlik in vervulling van die profesie waarna die Here Jesus verwys waar Hy sê dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies (diegene wat nie Jode is nie) totdat die tye van die nasies vervul sal wees (Luk. 21:24).
Hierdie tempelkompleks van Herodus vorm as't ware die een hoek van die Ou Stad Jerusalem. ‘n Mens kan vandag steeds op die mure van die Ou Stad reg rondom loop. Die moderne stad Jerusalem beslaan natuurlik ‘n baie groot gebied oor die heuwels rondom die heuwel waar die Ou Stad lê.
Op hierdie video sien u soms die Olyfberg vanaf die Ou Stad en dan weer die Ou Stad vanaf die Olyfberg. Michael Utterback verduidelik dan wat gaan gebeur die oomblik wanneer die Here Jesus uit die hemel gaan neerdaal en sy voet op die Olyfberg gaan neersit. U kan gerus Sagaria 14 asook Openbaring 19:11-21 waar hierdie gebeure volledig beskryf word, self lees.
Is u gereed vir die wederkoms van die Here Jesus Christus? Is u al deel van diegene wat nie meer kan wag dat hierdie gebeure gaan plaasvind nie? Daar is baie dinge wat hierdie dag vooraf sal gaan. Ons kan nie nou op dit alles ingaan nie. Voorts is daar ook baie dinge wat sal gebeur nà die koms van die Here Jesus. Wat egter van belang is, is dat ons sal verlang dat dit moet gebeur. 2 Petrus 3:12 sê dat ons "die koms van die dag van God verwag en verhaas".
Op byna elke nuusbulletin sien en hoor ons hoe dinge in Israel ontwikkel. Is u saam opgewonde aan die wag dat Jesus die profesieë aangaande sy koms as Koning en Regter sal vervul?
Miskien gaan dit u baie help om na hierdie video te kyk. Ons weet wat die inhoud daarvan geestelik gesproke vir onsself beteken het en wil graag hê dat u ook daarin sal deel. Dit is ‘n video om saam met u vriende en familie te kyk en ook aan ander te gee. Een persoon wat reeds hierdie video, The Significance of the Temple Mount, bestel het, het gebel om te sê dat sy normaalweg ‘n video net een maal kyk. Sy het hierdie een reeds drie keer gekyk, en gaan dit nou weer kyk.
Een ding weet ons, die koms van die Here Jesus is naby.
- Naas le Roux
Woensdag, 17 April het die Westelike Provinsie Sioniste Raad die hele Ratanga Junction (‘n groot familiepretpark) gehuur vir die Yom Ha'atzmaut vieringe van die herstigting van die staat Israel in 1948. Wat interessant was, is dat onder andere ook die Internasionale Christen Ambassade Jerusalem genooi was om ‘n stalletjie by hierdie Israeli geleentheid te hê. Weens die video's wat ons vir hulle gemaak het, het die bestuur van die Christen Ambassade Kérugma gevra om ‘n TV en videomasjien as deel van die stalletjie op te stel. Dit was vir die herhalende vertoon van twee video's. Die een was ‘n halfuur video met die hoogtepunte van die Loofhuttefees 2001 te Jerusalem soos wat ons self ook help afneem het. Die ander was ‘n 25 minute samestelling van die hoogtepunte uit ons video Highways to Zion. Die video's is om die beurt die hele middag en aand vertoon.
Wat vir ons wonderlik was, is dat hulle ook ‘n Christen genooi het om die skare by die geleentheid toe te spreek. Dr. Johan Greeff, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Christen Ambassade Jerusalem het die geleentheid gehad om namens die Christene die Jode geluk te wens met die herdenking van die staat Israel se hergeboorte.
Wat my veral opgeval het, was die oorweldigende reaksie op die vertoon van die video's. Soos die skare by die stalletjies verbygeloop het, was daar een dame wat negatief gereageer het toe sy die Naam Jesus Christus op die video hoor. Sy het ons goed laat verstaan dat ons wat in Jesus glo nie by hierdie geleentheid hoort nie, want dit is ons wat hulle in die gaskamers gemartel het.
Verder was daar omtrent net positiewe reaksie. Dit is nie moontlik om al hierdie reaksies te beskryf nie. ‘n Vrou en haar dogter het op ‘n stadium staan en kyk. Keer op keer het hulle besluit om te loop, maar dan het iets op die video's weer hul aandag getrek. So het hulle elke keer weer bly staan. Op die ou end vra die vrou my toe die prys van Highways to Zion. Sy wou ook die telefoonnommer hê waar sy dit in Kaapstad kan koop. Moontlik sou dit vir haar ‘n verleentheid wees as sy met dit in die hand tussen almal daar moes rondloop. Sy vra toe of hulle van die Christen Ambassade se pamflette mag neem. Die dogter het opgewonde een van elk geneem. Daarop het die vrou na ons gedraai en gesê: "Ek kan nie glo wat ek hier sien nie. Ek dag ons word deur alle mense verwerp. Dit is die eerste keer dat ek mense teëkom wat nie Jode is nie, maar wat positief is oor ons as Jode en oor Israel. Dit is te wonderlik vir woorde. Julle sal nooit weet wat dit vir ons beteken nie."
‘n Rukkie later staan daar ‘n jong Jodin en kyk asof vasgenael. Nadat sy altwee video's deurgekyk het, het mnr. Jack Carstens, een van die bestuurslede van die Christen Ambassade, haar genader. Hulle staan toe ‘n rukkie en gesels. Na die tyd vertel hy toe dat hy haar gevra het of dit vir haar ‘n verleentheid sou wees as hy ‘n kopie van die video Highways to Zion aan haar sou skenk. Haar reaksie was dat hy dit nie moet doen nie. Hy het geen idee watter repurkusies dit vir haar sou hê as sy by die huis met so ‘n video sou aankom nie. "Nee dankie," sê sy, "maar ek wil vir jou sê ek is oorstelp oor dit wat ek hier aantref. Ek kan nie glo dat daar ander mense is wat iets vir ons as Jode voel nie. Dit is net te wonderlik om te glo." Met trane in haar oë is sy toe daar weg.
Wil u nie saam met ons bid vir hierdie mense nie? Hulle staan so alleen in hierdie wêreld. Al wat meeste van hulle van die Christendom weet, is dat Hitler ‘n Christen was. Hy was Rooms Katoliek en dus ‘n Christen. Hulle weet nie dat daar ‘n onderskeid is tussen Roomse en Protestantse Christene of dat ‘n mens nie as Christen gebore kan word nie. Daar is geen begrip by hulle dat ‘n mens, alhoewel gebore uit Christen ouers, eers weergebore moet word alvorens jyself ‘n Christen word nie. Hulle word immers as Jode gebore. So beskou hulle alle Christene as hul vyande wat meegedoen het aan die vervolging van die Jode deur die geskiedenis soos onder meer deur die Kruisvaarders en die Nazis.
Daarom is dit ‘n geweldige ontdekking vir hulle as hulle mense teëkom wat vir hulle omgee, hulle bystaan en daadwerklik help.
Dit is waar die teenwoordigheid en werk van Christen-organisasies in Israel, soos die Christen Ambassade, die skanse afbreek en ‘n klimaat help skep sodat Christene al hoe meer aanvaar word en die evangelie van Jesus Christus ‘n makliker weg na hul harte kan vind.
Het u al die video Highways to Zion gesien? Dit is goed om nou weer ‘n slag daarna te kyk en te dink aan die impak daarvan op die Jode wat so in die verbyloop vassteek en dele daarvan sien.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/