Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579 SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos:
info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za


Volume 1:5 Kérugma® Bulletin
'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus
OKTOBER 1999

"Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin ... of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie ... En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees", sê die HERE van die leërskare.
(Mal. 3:10,12)

EEN VOORWAARDE VIR DIE OORVLOEDIGE SEËN (1)

- Ignatius A le Roux

In die woorde "'n oorvloedige seën" openbaar God die Vader sy hartsbegeerte jeens sy volk. Deur sy profeet Maleagi sê Hy vir hulle dat Hy 'n spesifieke ding op sy hart het. hy wil hulle seën, sodat hulle vir al die volke, nasies en tale op die aarde tot 'n seën kan wees. Hy stel ook 'n voorwaarde vir hierdie seën. Daar is iets wat Hy wil hê dat hulle moet doen alvorens Hy die vensters van die hemel sal oopmaak en die oorvloedige seën op hulle sal uitstort. Hulle moet Hóm op die proef stel deur hul tiendes te gee. Maar kan 'n mens die Here op die proef stel? En wat behels hierdie seën? Geld dit vir ons vandag ook? En die voorwaarde, moet ons dit steeds nakom?

Sommige beweer dat die gee van tiendes "wetties" is en gevolglik die gelowige vandag nie meer raak nie. Ander gee weer nie tiendes nie uit reaksie teen die wyse waarop hulle al in kerke ervaar het dat hulle gemanipuleer was om tiendes te gee. Gevolglik is hulle vandag negatief oor dit wat die Here hoog ag. Hulle was gemanipuleer deur dreigemente soos dat rampe hulle sou tref as hulle nie hul tiendes vir daardie kerk sou gee nie. Dit is tragies dat Skrifwaarhede wat die Here daargestel het, juis om die mens in vryheid met Hom te laat wandel, so misbruik word. Hierteen-oor bring kennis van dit wat God se eintlike bedoeling daarmee is, ware vryheid. Dit sal u ook sien soos wat u hierdie artikel lees, want dit gaan nie hier om die gee van tiendes as sodanig nie. Daarvoor is die Woord van die Here te vol, ryk en diep. Daar is baie meer om te leer uit 'n gedeelte soos die teks hierbo as om maar net oor geld te praat. Alhoewel die tiende self vir die Here belangrik is, het Hy baie meer op die hart. Sy eintlike bedoeling is ver bo dit.

In die vorige twee uitgawes van die Bulletin het ons gekyk na dit wat die Skrif leer omtrent die gee van die Vrywillige Offer. Die vrywillige offer is dit wat 'n mens gee naas jou tiende. Vir 'n nog beter begrip van die rol en plek wat die gee van die vrywillige offer in die gelowige se lewe beklee, is 'n volle perspektief op die gee van die tiende as sodanig egter belangrik. Die gee van die tiende is deel van die voorwaarde wat die Here stel vir die ontvang van die oorvloedige seën. Dit beteken nie dat 'n mens moet betaal vir hierdie seën nie, maar tog is dit deel van die een duidelike voorwaarde wat die Here stel. Wat presies behels hierdie voorwaarde?

DIE VOORWAARDE

Die voorwaarde wat die Here in Maleagi 3:10 vir hierdie seën gestel het, was dat Israel Hom op die proef sou stel deur weer hul tiendes na sy tempel te bring. Hy wou hê dat hulle dit moes gee sodat daar spys in sy huis sou wees.

Om te verstaan wat die leer van die Bybel en by name die van die Nuwe Testament is betreffende die gee van tiendes vandag, is dit nodig om te weet wat die gee daarvan onder die Ou Verbond behels het. Dit is interessant om te kyk na die gee van die tiendes in die Ou Testament. Daar was verskillende tiendes, asook ander offers, wat die Israeliet moes gee. Hierdie verskillende tiendes moet van mekaar onderskei word.

Voorts moet in gedagte gehou word dat daar in die Bybel verskeie bedelinge was waaronder mense telkens tiendes gegee het. Die eerste bedeling was die tyd sedert die skepping van Adam en het geduur tot by die wetgewing te Sinaí. Dit was die tyd van die belofte. Dit was toe God aan die mens beloftes gemaak het, soos byvoorbeeld die verbonde wat Hy in Genesis 3:15-16 en 12:2-3 gesluit het. Die tweede bedeling was die tyd sedert die wetgewing te Sinaí wat geduur het tot en met die kruisiging van die Here Jesus. Dit is die bedeling wat bekend-staan as die tyd "onder die wet". Sedetdien kry ons die derde bedeling, naamlik die tyd "onder die genade" (Rom. 6:15). Dit is die tyd tussen die eerste en die tweede koms van die Here Jesus. Met sy geboorte en kruisiging het Hy die beloftes van God wat betrekking gehad het op sy eerste koms, vervul. Hy gaan weer kom, die keer op die wolke van die hemel, om die beloftes wat nog nie vervul is nie, te volbring. So is daar onder meer die bedelings van die belofte, die wet en die genade.

Die Bybel noem verskeie persone wat vóór die wetgewing te Sinaï reeds tien persent van dit wat hulle verdien of verwerf het, aan God gegee het. Reeds in die tyd toe hulle uit geloof in die beloftes van God geleef het, het hulle dit graag, vrywillig en met volle oorgawe gegee. Die een duidelike voorbeeld daarvan is dié van Abraham in Genesis 14:20. Die Nuwe Testament bevestig in Hebreërs 7:2,4 dat dit normaal was vir die gelowige in die bedeling van die belofte om dit te doen. Geduren-de die tyd van die wet het die gelowiges dit ook gedoen (Lev. 27:30,32, Num. 18:20-24). Daar was egter 'n tweede en 'n derde tiende wat deur die wet bygevoeg was en op spesifieke wyses vir sekere belangrike seremoniële sake aangewend moes word (vgl. bv. Deut. 12:10-19, 14:22-29).

Wanneer die Here Jesus in Matteus 5:17 sê dat Hy gekom het om die wet te vervul, praat Hy nie van die Tien Gebooie as sodanig nie. Die Tien Gebooie is dit wat onderskei word as die morele wet. Hy het die Tien Gebooie natuurlik ook vervul in die sin dat Hy dit deur sy lewe van absolute gehoorsaamheid nooit verbreek het nie (Heb.4:15). Die wet waarna Hy verwys, is die voorskrifte rakende die verskillende offers en feeste van Israel. Dit wat normaalweg die wet genoem word, sien op die reëls, wette of bepalings van hoe die onderskeie seremonies rakende die offers en feeste uitgevoer moes word. Dit staan bekend as die seremoniële wet. Omdat die Here Jesus hierdie offers en feeste in sy offer aan die kruis vervul het, bring die gelowige sedertdien nie meer sulke offers nie. Gevolglik gee ons ook nie meer die "tiendes" wat bedoel was as deel van dit wat met die seremonies van die offers gepaard gegaan het nie. Dit is die tiendes wat deur die wet bygevoeg was by die oorspronklike tien persent. Dit sou "wetties" wees om dit vandag te gee, want dan sou 'n mens die Ou-Testamentiese wette rakende die offers en feeste probeer nakom. Nee, in die tyd van die genade gee ons saam met al die gelowiges deur die eeue heen, net die tiende wat van die begin af gegeld het.

Die skrywers van die Nuwe Testament het die gee van die normale tiende so as vanselfsprekend ervaar, dat hulle nie self weer aan die Christene geskryf het om dit te gee nie. Die Een vir wie hulle gevolg het, het immers duidelik gesê dat 'n mens aan God dit moet gee wat syne is. So het die kinders van die Here spontaan dit gedoen wat hulle uit die Skrif geweet het God se wil is (vgl. bv. Hand. 2:44-45). Daarom word daar nie voorskrifte in die Nuwe Testament aangetref oor die gee van die tiende of die vrywillige offer nie. Wat ons wel daaroor in die Nuwe Testament aantref, is sekere praktiese reëlings wat getref word waar die Christene dit gee (vgl. die vorige artikels). Daar is ook die enkele gevalle waar sommige van hulle berispe of herinner word om dit reg te gee.

Ons leef egter in 'n wonderlike tyd, naamlik die tyd van die genade. Ons kom netnou by die voorregte wat ons geniet, maar vir eers moet ons kyk na watter seën die Here so graag oor sy volk wou uitstort.

GOD SE BEGEERTE VIR SY VOLK

In Maleagi 3:12 ontboesem die Here meer omtrent dit wat sy begeerte vir hulle is:

"... al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees", sê die HERE van die leërskare.

Ja, as Hy sy plan met hulle kan verwesenlik naamlik om sy oorvloedige seën op hulle uit te giet, dan sal al die heidene sê dat hulle geseënd is. Almal sal begeer om soos hulle te wees. Wie sal nie graag die God wat sy volk so seën, ook wil ken en aanbid nie? Ja, hul land sal "die land van welbehae" wees, "al die nasies sal julle gelukkig prys".

Dieselfde gedagte kom in Psalm 67 na vore waar Israel sy hartsbegeerte soos volg aan God bekend maak:

Mag God ons genadig wees en ons seën ... Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil. Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof ... God sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.

Hierdie drang wat volgens Psalm 67 in Israel se hart geleef het, naamlik om al die mense op die aarde vir God te wen, stem ooreen met God se plan met Abraham.

Die Here is gereed om 'n oorvloedige seën oor sy volk uit te giet. Om te verstaan wat hierdie oorvloedige seën behels, is dit nodig om te begryp wat die seën van Abraham behels.

DIE SEËN VAN ABRAHAM

Toe God Abraham geroep het om die vader te wees van diegene wat in Hom sou glo, het Hy die volgende belofte aan hom gemaak:

Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees ... en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word (Gen. 12:2,3).

Almal wat vandag die voorreg het om hierdie God te ken, is deel van die vervulling van sy belofte aan Abraham. Is God nie wonderlik nie?! Dink net hoe dikwels het Abraham gestruikel nadat God hom geroep het. Hoeveel maal het hy God nie teleurgestel nie; tog, God was getrou. Dit wat Hy sê, dit doen Hy. Dink net hoe het Hy Abraham geseën.

Die Nuwe Testament verduidelik in Galasiërs 3:7-9 wat "die seën van Abraham" behels:

Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene [diegene wat nie Jode is nie] uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: "in jou sal al die volke geseën word". Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

Hierdie gedeelte oor die seën van Abraham werp verder ook meer lig op die oorvloedige seën wat God graag oor sy volk wil uitstort. Dit staan hier dat "die evangelie" aan Abraham verkondig is. Dit is aan hom verkondig in die woorde: "in jou sal al die volke geseën word." Die inhoud van die goeie nuus, die evangelie, wat die Here vir Abraham aangekondig het, was dat God diegene wat nie uit die Joodse volk was nie, net soos vir Abraham, ook "uit die geloof sou regverdig".

Die evangelie is dus die goeie tyding dat alle mense, nie net Jode nie, maar juis ook mense uit heiden nasies, deur geloof geregverdig kan word.

Nou is die vraag: Wat beteken dit dan dat "al die volke" in Abraham geseën sou word? Die antwoord op die vraag word in Galasiërs 3:14 gevind. Daar staan dat "die seën van Abraham" na die heidene gekom het.

Wat is "die seën van Abraham"? In Genesis 12:3 het God aan Abraham belowe dat elkeen wat hom seën, deur God self geseën sal word. Verder het God belowe dat al die geslagte van die aarde in hom geseën sou word.

Om Abraham te seën, beteken om Abraham te aanvaar soos hy is en hom net die beste toe te wens. Hy is dit wat hy is omdat God hom so gemaak het. Elkeen wat Abraham sou aanvaar, sou dus ook sy God erken en aanvaar. Uit alle geslagte van die aarde sou daar dan ook diegene wees wat hom sou aanvaar en daarmee saam die seën sou beërwe wat God toegesê het aan almal wat Abraham seën.

Galasiërs 3:14 sê dan ook dat die seën van Abraham na die heidene gekom het "in Christus Jesus". Dit beteken dat diegene uit die heiden nasies wat tot geloof in Jesus Christus gekom het, ook deel gekry het aan die seën van Abraham.

Galasiërs 3:14 verduidelik verder presies wat "die seën van Abraham" beteken. Dit beteken "dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang". Elkeen wat tot geloof in Jesus Christus kom, ontvang "die belofte van die Gees".

In Handelinge 2:38-39 verseker Petrus die mense dat die wat hulle bekeer "die gawe van die Heilige Gees" sal ontvang. Hy verduidelik dit so:

"Bekeer julle ... en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep."

Wie is dié wat daar ver is? Dit is almal, naas die Jode en hul nageslag, wat ook deur God geroep sal word. Dit is diegene wat in Handelinge 1:8 inbegrepe is onder die uitdrukking "die uiterste van die aarde". Dit is almal uit die heiden nasies (Hand. 10:1-11:18) wat deur God geroep word om ook sy kinders te wees.

Petrus sê dat die belofte almal toekom wat so deur God geroep word. Die belofte is die Trooster, die Heilige Gees, wat Jesus beloof het om na sy dissipels te stuur. Dit is Hy vir wie Jesus op Pinksterdag uitgestort het. Almal wat sedert Pinksterdag in Jesus Christus glo, ontvang hierdie belofte van die Vader, naamlik die Heilige Gees (vgl. Hand. 2:33).

As iemand dus tot geloof kom, is hy een van die bevoorregte mense in hierdie wêreld in wie se lewe die belofte wat die Vader aan Abraham gemaak het, tot vervulling kom. Deur die geloof wat God in sy genade met ons wedergeboorte aan ons skenk, verkry ons deel aan die seën van Abraham.

'N DUBBELE SEËN

Daar is egter 'n verskil vir die gelowiges wat lewe sedert die kruisiging, opstanding en verheerliking van die Here Jesus Christus. Ons is besonder bevoorreg want Galasiërs 3:14 leer dat die seën sedert Pinksterdag tweevoudig van aard is. Om die "oorvloedige seën" wat die Here in Maleagi 3:10 belowe reg te verstaan, is dit nodig om dié twee aspekte van mekaar te onderskei. Sodoende sal ons des te meer instaat wees om in die volheid daarvan te lewe. Hierdie twee aspekte kom in die volgende teksgedeelte na vore:

Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word ... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang (Gal. 3:13-14).

Die eerste deel van die seën is dat soos wat iemand tot geloof kom, hy/sy "'n kind van Abraham" word (Gal. 3:7). Hulle deel dus in die seën van Abraham. Die tweede deel is dat elke gelowige, naas sy kindskap, ook die belofte van die Gees, naamlik die inwonende Heilige Gees ontvang. Elkeen wat in Jesus Christus glo, ontvang dus ook die Gees van Christus.

Die dubbele seën behels dan eerstens dat God elkeen wat tot geloof in sy Seun kom, aanneem as een van sy kinders. Tweedens kom woon Hy dan boonop ook deur sy Gees in die hart van elkeen van hulle.

Op hierdie wyse verseker God dat daar 'n geslag mense is in en deur wie Hy Homself aan al die ander mense op aarde kan openbaar. Dit is sy kerk, sy liggaam op aarde sedert die uitstorting van die Heilige Gees tot en met die dag dat sy Seun haar as sy Bruid sal kom haal. Deur sy Seun het God Homself aan die mens geopenbaar. Hy is "die beeld van die onsigbare God" (Kol. 1:15). Deur die inwonende Heilige Gees maak God sy kinders gelykvormig aan "die beeld van sy Seun" (Rom. 8:29) en openbaar Hy Homself in sy genade ook deur hul lewens aan die wêreld.

Die vrug op die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige se lewe is die karaktereienskappe van die Here Jesus Christus, soos wat Paulus dit in Galasiërs 5:22 skets. Aan hierdie vrug van die Gees in die gelowige se lewe, leer die wêreld die Seun, en so ook die Vader, ken.

Aanvanklik kon God aan die mens wat tot geloof gekom het, slegs "die seën van Abraham" gee, maar sedert die uitstorting van die Heilige Gees op daardie besondere Pinksterdag ontvang hulle ook "die belofte van die Gees". Die kruis van Christus het voorwaar 'n verandering teweeg-gebring. Waar God Homself aanvanklik eers deur die profete en toe later deur sy Seun aan die mens geopenbaar het, openbaar Hy Homself nou ook in die wêreld deur sy Gees, soos wat hy sy Seun vergestalt in en deur die lewens van sy kinders. Sedert Pinksterdag geniet alle gelowiges dus die volle seën van beide "die seën van Abraham" (naamlik om 'n kind van God te wees) asook "die belofte van die Gees" (naamlik die inwonende Heilige Gees).

Aan die einde van die Ou Testament maak God bekend dat Hy 'n oorvloedige seën op sy volk wil uitstort. Wanneer daar in die Ou Testament na hierdie oorvloedige seën gekyk word, ontstaan die vraag of mense onder die Ou Verbond hierdie volle seën kon ontvang.

VAN BELOFTE TOT VERVULLING

God het aan Abraham 'n belofte gemaak. Abraham het God geglo en Hom op sy woord geneem. Hy het geglo dat God dit wat Hy beloof het, sou vervul. Hierdie geloof in God se belofte is vir Abraham tot geregtigheid gereken (Gen. 15:6).

Wanneer gevra word of iemand onder die Ou Verbond die volheid van die oorvloedige seën van Maleagi 3:10 deelagtig kon word, beteken dit eintlik of iemand onder die wet hierdie volle seën kon ervaar. Die Ou Verbond was dit wat God met die wetgewing te Sinaï met Israel gesluit het. God het die wet

... bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom (Gal. 3:19).

Hierdie saad, so sê vers 16, "is Christus". Sedert Sinaï en tot en met die koms van Christus het die wet gegeld. Voor Sinaï en dus voor die wet, was dit die tyd van die belofte. Die belofte is in Christus Jesus vervul. Voor die tyd van die wet het die mens salig geword deur geloof in die belofte. Sedert Christus word die mens geregverdig deur geloof in die Een wat die belofte vervul het, naamlik Jesus Christus. Hoe is die mens wat "onder die wet" geleef het, dan geregverdig?

Paulus leer in Galasiërs 3:21 dat die wet nie teen die beloftes van God is nie. Die doel van die wet was om op te tree as

... ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof (Gal. 3:24).

Die "ons" van wie Paulus hier praat, is diegene wat voor Christus se koms onder die wet geleef het. Die mens onder die bedeling van die wet is dus nie geregverdig deur die wet nie. Galasiërs 3:21 leer uitdruklik dat die wet self nie lewendmakende krag het nie. Die wet kan hoogstens die mens bewus maak van sy sonde; van sy onbevoegdheid om God te behaag. Wanneer die mens dit besef, is sy enigste hoop om tot God te roep om hom in sy genade te red.

Wanneer die mens onder die Ou Verbond die wet oortree het, moes hy volgens die voorskrifte van die wet sekere offers bring. Die bloed wat tydens hierdie offers gevloei het, het op tweërlei wyse heengewys na die Lam van God. Enersyds het dit herinner aan die lam waardeur die eersgeborenes losgekoop is (Eks. 13:13-14) en na die ram wat die Engel van die Here in Genesis 22:13 op die berg Moria vir Abraham voorsien het. Andersyds het dit vooruit gewys na die kruisiging van die Messias op Golgota.

In die tyd van die belofte is die mens geregverdig deur die geloof dat die beloftes vervul sou word. Onder die wet is die mens geregverdig deur die geloof in die bloed van die Lam. In die tyd van die genade word die mens geregverdig deur die geloof in die soenverdienste van Hom in wie God sy belofte vervul het.

DIE OORVLOEDIGE SEËN

Wie is dan diegene wat die oorvloedige seën van Maleagi 3:10 kan ontvang? Die seën van God kom sy kinders toe, diegene wat Hy in sy genade deur die geloof regverdig. Die gelowiges onder die Ou Verbond kon dus die seën ontvang - maar net ten dele, omdat die belofte van die seën in hulle tyd nog nie in vervulling gegaan het nie. Eers toe die Vader sy Seun aan sy regterhand verhoog het en "die belofte van die Heilige Gees" aan Hom gegee het, kon die Seun Hom op alle vlees - mense van alle volke, nasies en tale - uitstort (Hand. 2:33).

Diegene onder die Ou Verbond kon dus die seën ontvang tot die volle mate waarin God dit op daardie stadium kon gee. Die volle seën van die belofte soos wat God dit eintlik bedoel het, kon hulle egter nie ontvang alvorens die belofte self nie vervul is in die Een wat die Saad van Abraham sou wees nie.

In die Ou Testament het geloof gesien op die gelowige se gewilligheid om te wag op die vervulling van die belofte. In die Nuwe Testament sien geloof op 'n wandel met die die Een in wie die belofte tot vervulling gekom het. Gelowiges in die Ou Testament kon dus nie die volle, die oorvloedige seën ervaar wat die Nuwe-Testamentiese gelowige ken nie.

Die seën wat die Ou-Testamentiese gelowige geken het, was voorwaar groot, maar kan ons wat vandag leef en glo in Hom wat die vleesgeworde Woord is, regtig sê dat ons onder die oorvloedige seën leef? Leef ons in die volheid van dit wat ons deel geword het in Christus Jesus? In dit wat die Here Jesus aan ons gegee het toe Hy die Heilige Gees uitgestort het?

ABRAHAM EN ONS

God het met Abraham 'n verbond gesluit. Hierdie verbond was die belofte dat Een uit sy liggaam sou voortkom, Een deur wie al die geslagte van die aarde deel sou kry aan sy seën (vgl. Gen. 15:4-5;22:18).

Abraham het hierdie belofte ontvang 430 jaar voordat die wet gekom het (vgl. Gal. 3:17). Galasiërs 3:13 leer dat Jesus Christus die vloek van die wet op Hom geneem het en dit sodoende van ons afgeneem het. As ons tot geloof in Hom kom, dan tref die vloek van die wet ons nie, omdat dit Hóm getref het aan die kruis.

Onder watter wet het Abraham dan geleef? Hoe kon hy die vader van die gelowiges geword het as hy nie eens die wet van God geken het nie? Galasiërs 3:16 sê dat Abraham in God geglo het en dit is vir hom tot geregtigheid gereken. Dit is daarom dat Abraham die Vader van die gelowiges is, nie omdat hy deur die wet geregverdig is nie, maar omdat hy tot geloof in God gekom het.

As ons die Naam van die Here aanroep, dan doen ons dit omdat ons glo dat Hy ons kan red. Ons besef dat ons verlore is en nie in staat is om onsself te red nie. Wanneer ons Hom aanroep, regverdig Hy ons in sy bloed. Hy gee daarmee saam aan ons die gawe van die geloof en so word ons kinders van Abraham. Ons is dan mense wat deur die geloof lewe en so is ons erfgename van Abraham. Ons is nou deel van sy nageslag en volgens die belofte wat aan Abraham gegee is, is ons mense wat die seën van Abraham erf. Ons word deur God geseën om 'n seën te wees in hierdie wêreld. God die Vader seën ons met alle geestelike seëninge in die hemel (Efe. 1:3) en Hy laat hierdie seën in ons lewens op aarde tot openbaring kom, want Hy wil hê dat andere moet kan sien dat ons aan Hom behoort.

Dit is soortgelyk aan dit wat Hy bedoel het toe Hy vir Israel gesê het dat as hulle sy gebooie onderhou, dan sal die sprinkane hulle land nie verwoes nie en die pes hul oeste nie bederf nie (Mal. 3:11). Hulle sou ook geen siekte geken het nie. So sou die res van die mensdom kon sien dat húl God groter, magtiger en sterker is as enige ander god.

Galasiërs 3:4 sê dat as ons tot geloof gekom het, het ons die seën van Abraham ontvang en daarmee saam ook die Heilige Gees. In soverre ons onder hierdie seën leef en in gemeenskap met die inwonende Heilige Gees wandel, kan andere sien dat ons sý kinders en Hy ons Vader is.

Die skrywer van Hebreërs sê 'n interessante ding in verband met die geloofshelde van die Ou Verbond:

Alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie (Heb. 11:39-40).

Die geloofshelde, waaronder Abraham ook tel, het uit die geloof geleef. Hulle het egter nie die belofte verkry nie. Hulle het nie self die inwonende Heilige Gees ontvang nie. Ons leef dus soos hulle, uit die geloof, maar ons het baie meer as hulle. Met ons wedergeboorte het die Heilige Gees in ons kom woon.

Dit is hoe God ons seën en tot 'n seën maak. Hy gee aan ons die Heilige Gees wat in ons woon en vanuit ons uitstroom as riviere van lewende water a die wêreld rondom ons. Deur sy genade is 'n kind van God dus 'n fontein van lewende water wat nooit teleurstel nie. 'n Fontein waar die dorstige, verlore wêreld rondom ons hul dors kan les. God die Heilige Gees kan hulle wat soekende is, deur ons bereik. Deur ons oortuig Hy die wêreld van sonde, van geregtigheid en van oordeel, en so kom die wêreld onder die besef van hul verlorenheid, van hul sondigheid, van hul gebondenheid.

Wanneer die Heilige Gees hierdie oortuigings-werk in hulle lewe doen, toon Hy ook aan hulle wie die Een is wat hulle kan red. So gebeur dit dat hulle op die plek kom waar hulle op húl beurt weer die Here aanroep. Dit alles kan gebeur omdat die Heilige Gees die Here Jesus Christus in ons lewens verheerlik.

Die Hebreërskrywer praat vervolgens met ons wat die belofte ontvang het:

Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het [die geloofshelde], laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (Heb. 12:1,2).

Hierin lê die geheim vir ons lewens. Soos ons hierbo uit Hebreërs 11:39-40 gesien het, kon Abraham en die ander geloofshelde nie sonder ons volmaak word nie. Hulle het diep in hul harte getuienis ontvang dat God sy beloftes sou vervul. Hulle het daarna uitgesien. Vandag sit hulle as 'n groot skare van getuies op die pawiljoen rondom ons om te kyk hoe ons die wedloop voleindig. Ja, ons wat die voorreg het om onder die krag van die Heilige Gees in die wedloop te hardloop, moet dit met volharding doen. Ons moet elke las en elke sonde aflê, en die oog op die Here Jesus hou. In ons gehoorsaamheid aan die stem van die Heilige Gees en in die wyse waarop ons die wil van God elke dag doen, sien die geloofshelde hoe dit wat God aan hulle beloof het, vervul word.

Nou kan ons vra: Wat het Abraham en Galasiërs 3 dan met Maleagi 3:10 in gemeen?

Dit is belangrik dat ons sal verstaan dat Abraham vóór die tyd van die wet, in die tyd van die belofte, geleef het. Abraham het egter uit die geloof geleef. Hoe leef ons vandag? Ons leef ook uit die geloof. Uit die geloof word ons geregverdig (Rom. 1:17). Ons leef nie onder die wet nie. Ons is in die bedeling van die genade en dit is daarom dat Galasiërs 5:18 vir ons sê:

... as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

Ons wat ook die tweede deel van die seën ontvang het, naamlik die belofte van die Vader; die inwonende Heilige Gees, word deur die Gees van God gelei.

DIE VOORWAARDE VIR DIE SEËN

In Maleagi 3:10 het God 'n duidelike voor-waarde gestel alvorens Hy die oorvloedige seën oor sy volk sou kon uitstort. Hy het vir hulle gesê: "beproef My tog hierin."

Dit is asof Hy hulle uitdaag. 'n Mens daag andere net uit om jou so op die proef te stel, as jy seker is van jou saak. Dit is asof die Here weet presies wat Hy gaan doen. Daarom hierdie sterk uitdaging aan hulle.

Hulle moes Hom op die proef stel; Hom as 't ware nie met rus laat nie, maar Hom inteendeel toets of Hy nie hierdie seën oor hulle sou uitstort nie. Hy wil hulle seën, maar hulle ontbeer sy seën omdat hulle nie met verwagting en met afwagting in die geloof volhardend bly kyk of Hy dit aan hulle sal gee nie. Hulle gaan maar net elke dag aan sonder om van Hom dít te verwag wat Hy so graag aan hulle wil gee.

Daarom sê Hy vir hulle: "... beproef My tog hierin ..." Die voorwaarde is nie, dat hulle hul tiendes moes gee nie. Dit moes hulle gee, ja, maar nie as 'n wet wat hulle nakom nie. Die voorwaarde is dat hulle dit moes gee met 'n verwagting. Hulle moes dit gee met die geloof dat Hy hulle sou seën met die seën wat alleen Hý kon gee.

Wat sê Maleagi 3:10? "Bring die hele tiende na die skathuis ..." Ook die Nuwe Testament praat van die tiende. So vertel die skrywer aan die Hebreërs byvoorbeeld van die gebeure waar Abraham na 'n geveg vir Melgisedek, die koning van Salem, teëgekom het. Melgisedek het hom ontmoet met die doel om hom te seën. Wat was Abraham se reaksie hierop? Toe Melgisedek die seën oor hom uitspreek, gee hy aan hom 'n tiende van die buit wat hy in die geveg geneem het (Heb. 7:9-10; Gen. 14:20).

Lank voor die wet gegeld het, het die mens al geweet dat God een ding van hom vra, naamlik die eerste deel van alles wat hy verdien of verwerf. Kain en Abel het dit al geweet. Ons lees hoedat hulle van hul opbrengs neem en dit aan die Here offer. Kain s'n is nie aanvaar nie omdat die Here sy hart kon sien. God aanvaar nie 'n tiende of 'n offer as dit nie uit 'n rein hart en met suiwer bedoelings gegee word nie. Abel het egter die seën daarvan ervaar dat God sy offer aanvaar het.

Aanvaar die Here ons offers? Dit wat ons vir Hom gee, gee ons dit uit gewoonte, of omdat dit ons plig is, of om te keer dat allerhande rampe ons tref? Of gee ons dit om God bly te maak? Gee ons dit met oorgawe en met die wete dat ons sy wil doen? Gee ons dit om Hom te behaag en met die bede dat dit vir Hom aanneemlik sal wees? Is ons begeerte dat Hy dit sal seën en gebruik? Gee ons dit met die hoop, die bede, dat Hy sy seën oorvloedig oor ons sal uitstort?

Een ding wat duidelik blyk, is dat God van elkeen van sy kinders 'n tiende verwag van dit wat Hy aan hulle toevertrou. Die seën van God en die opregte gee van tiendes gaan hand aan hand. Ons lees in Genesis 14:18-20:

Melgisedek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: "Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het." Toe gee hy hom die tiende van alles.

Die seën van die Here en die gee van tiendes vorm dus 'n eenheid. Dit wat normaal was vóór die bedeling van die wet, is nog net so normaal in die tyd van genade. Die Nuwe Testament verwys in Hebreërs 7:5 selfs terug na die gebruik onder die wet self:

Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang het, wel 'n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem ...

Onder die wet het die Leviete onder die opdrag gestaan om van die volk tiendes te neem. Dit wat 'n gebruik was voor die tyd van die wet, is net soos met die geloof, dus ook iets wat in die tyd van die wet gegeld het. Die gee van die normale tiendes het niks te doen met die wet as sodanig nie. Die wet sanksioneer net dit wat ook in die tyd van die belofte gegeld het.

Die verskil het daarin gelê dat in die tyd van die wet, die volk verplig was om hul tiendes te gee, asook die ander tiendes wat onder die wet bygevoeg was. Verder was die Leviete verplig om toe te sien dat dit gegee word. Dit het dus 'n afdwingbare wet geword. Daar moes toesig daaroor uitgeoefen word.

Die wet, so leer Galasiërs 3:19, is deur God ingestel as gevolg van die sonde van die volk. Die betekenis daarvan wat die tiende betref, is dat die volk laks geword het in die gee van dit wat hulle in hul harte geweet het God se wil was.

Die wet is gegee net totdat die Messias sou kom. Die Here Jesus het gekom om die volk van hulle sonde te verlos (Matt. 1:21). 'n Verloste mens leef uit die geloof. Deur die genade van God leef hy dus nie meer onder die wet nie, maar leef hy in gehoorsaamheid aan God. Waar hy diep in sy hart weet dat God graag wil hê dat hy 'n tiende van alles wat hy ontvang, aan Hom moet gee, doen hy dit dan ook graag.

Naas dat hy in sy hart weet dat dit die wil van God is, weet die gelowige van vandag ook uit die Woord van God dat dit God se wil is dat hy sy tiende sal gee. Deur sy Woord openbaar God Homself aan die mens as die liefdevolle, maar ook heilige Vader wat dit graag van sy kind wil ontvang. Hy dwing en dreig nie sy kind om sy tiende te gee nie, máár sy seën rus op diegene wat dit getrou doen. Veral as hulle die voorwaarde nakom, naamlik om hul tiende te gee met die verwagting dat Hy hulle sal seën en tot 'n seën sal maak.

ALLE GEESTELIKE SEËNINGE IN DIE HEMEL

Wanneer die Here sê dat Hy 'n oorvloedige seën op die volk wil uitstort, praat Hy van dit wat Jesus later die belofte van die Vader genoem het. Jesus het voor sy hemelvaart vir sy dissipels gesê om te Jerusalem daarop te wag (Luk. 24:49; Hand. 1:4,8). Dié belofte was die Heilige Gees wat Hy op die dag van die Pinksterfees uitgestort het. Hy het die vensters van die hemel geopen en sy oorvloedige seën uitgegiet.

Efesiërs 1:3 leer dat God die Vader "... ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus". Alle geestelike seëninge sien op alle moontlike of beskikbare seëninge in die geestelike sfeer. Dit is die werk van die Heilige Gees om dit in ons lewens tot openbaring te bring. So bring Hy dit wat God in sy genade aan die gelowige toegesê het, tot volle verwerkliking in ons lewens. Alles wat God die Vader in Christus Jesus vir ons berei het, gee Hy aan ons deur sy Gees wat in ons woon.

Efesiërs 1:3 sê dat die Vader ons reeds met alle seëninge in die geestelike sfeer geseën hét. In die oorspronklike Grieks sien die woorde "geseën het" op iets wat reeds gebeur het en afgehandel is. Dit vorm nou deel van ons lewens. Die Heilige Gees leef in ons om al hierdie seëninge waarmee die Vader ons reeds geseën het, oomblik vir oomblik in ons lewens tot openbaring te bring. Sodoende word die Here Jesus in ons verheerlik.

Hierdie werk het die Heilige Gees begin doen toe Hy op die dag van die Pinksterfees uitgestort is. Sedertdien gaan Hy daarmee voort totdat die Here Jesus sy bruid kom haal. Solank Hy met hierdie werk besig is, is dit ons voorreg om te leef en te wandel in die volle krag van die belofte wat op Pinksterdag in vervulling gegaan het.

DIE DUBBELE SEËN - 'N WERKLIKHEID

Wat leer ons uit dit alles? Veral twee dinge. Die een is dat dit nie Ou-Testamenties of wetties is om 'n tiende te gee nie, maar deel van dit wat God in sy Woord aan ons openbaar as sy wil. Die tweede is dat sedert die Pinksterfees waarop die Heilige Gees uitgestort is, God die oorvloedige seën aan elkeen van sy kinders gee (1 Kor. 12:13). Baie kinders van die Here leef op 'n lae geestelike vlak weens die feit dat hulle onbewus is van dit wat die Vader in sy Seun vir hulle gegee het. So baie weet maar net dat hulle kinders van God is, maar is heel onbewus daarvan dat die Heilige Gees met hul wedergeboorte in hul nuwe gees kom woon het (Eseg. 36:26-27).

Moontlik is dit ook die geval met jou. Indien dit so is, wil jy nie op jou knieë gaan en vir die Here Jesus dankie sê dat Hy die Heilige Gees ook aan jou gegee het nie? Sê dan ook dankie aan die Vader dat Hy wat so heilig is, deur die Gees van sy heiligheid in jóú woon. Vra die Here om jou in sy bloed te reinig van alle ongehoorsaamheid wat jy in jou onwetendheid begaan het en om jou te leer hoe om na die stem van die inwonende Heilige Gees te luister. Aanvaar dat dit 'n leerskool is om te leer om regtig na die stem van die Here te luister en om Hom te gehoorsaam. Dit mag tyd neem en jy sal sekerlik foute begaan. Wanneer jy agterkom dat jy 'n fout maak, vra die Here om jou te vergewe en verder te leer hoe om reg te luister. Onthou die Bybel sê dat "almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God" (Rom. 8:14). Ook wat beterf jou finansies en die gee van jou tiendes, laat die Here jou lei. Doen soos Hy vir jou sê. 'n Deel van die proses waar 'n mens die stem van die Here leer ken, is om Hom elke keer te vra wat jou te doen staan wanneer jy iets moet koop of moet gee vir sy werk. Vertrou Hom wat dit betref. Hy kan nie 'n fout maak nie.

Iemand het my eenkeer vertel hoedat die Here hom gelei het om 'n sekere bedrag aan 'n persoon te gee. Wat vir hom vreemd was, is dat die persoon aan wie hy dit moes gee, baie wegesteld was. Nog iets wat hom gehinder het, was dat die bedrag wat hy moes gee, relatief klein was. Hy het eintlik gevoel dat hy 'n gek van homself sou maak om die bedrag aan die persoon te gee. Tog was dit duidelik dat die Here vir Hom bly sê het om dit te doen. Hy het al sy moed bymekaar geskraap en die koevertjie met die paar rand daarin vir die man gegee. Groot was sy verbasing toe die man in trane uitbars en sê dat hy nooit sal weet hoe lank hy vir presies daardie bedrag gebid het nie.

Laat ons luister na die stem van die Here soos Hy deur sy Heilige Gees met ons praat. Kom ons gehoorsaam sy stem sonder om ons te steur aan die omstandighede wat voor hande is. Laat dit vir ons gaan om gehoorsaamheid aan die Een in wie se hande ons lewens is.

TIENDES EN DIE OORVLOEDIGE SEËN

Daar is 'n baie goeie rede waarom die Here in Maleagi 3:10 gesê het dat Hy wil hê dat hulle Hom op die proef moes stel deur weer hulle tiendes reg te gee. Soos die Here wil gaan ons in een van die volgende artikels sien hoedat die Bybel leer dat daar 'n duidelike verband is tussen die gee van tiendes en herlewing. Tot hier het dit duidelik geblyk dat dit wat God aan ons deur die oor-vloedige seën wil gee, baie meer is as die tiendes wat Hy van ons vra. God is ver verhewe bo die hedendaagse "roofsugtige wolwe" wat mense manipuleer om hul tiendes vir hulle te gee onder die voorwensel dat die mense daardeur allerhande rampe gaan vryspring en honderd maal soveel as wat hulle gee, gaan terug kry. Dit is duidelik dat die doel wat die Here daarstel vir die gee van tiendes, heel anders is. Dit is so tragies dat mense hulle laat mislei deur die gedagte dat hulle God se guns kan wen deur iets wat hulle doen of gee. Hy begeer nie dat ons vir Hom ons tiendes moet gee sodat Hy ons kan ryk maak nie. Die valse profete weet egter hoe goedgelowig en gierig baie mense is. Daarom buit hulle hulle uit deur hul tiendes van hulle af te dwing deur leë beloftes van materiële seën aan hulle te doen. Mense wat 'n afgod aanbid doen dit. Hulle gee of doen iets om hul god se guns of seën te wen. Voorts beskou hulle hul god se seën as iets wat hul sakke sal pas. Die ware God se guns kan deur niemand gewen word nie. Nee, Hy het ons so lief dat Hy sy Seun in ons plek gekruisig het. Uit dankbaarheid vir dit wat Hy vir ons gedoen het, gee ons alles wat ons kan, sodat elke ander persoon in die wêreld vir wie Hy ook so lief het, dit ook kan hoor.

Wanneer die Here aan Israel 'n geseënde en voorspoedige land beloof het, was dit sodat dit 'n toonbeeld sou wees aan die heiden nasies van hoe sy koninkryk daar uitsien. Sy koninkryk is die plek waaroor Hy heers. Dit is die land waar Hy gevrees en gedien word. Veel meer sien die wêreld vandag in die lewens van diegene in wie die Heilige Gees woon. Hulle is onder beheer van die Here Jesus Christus, doen slegs die wil van hul hemelse Vader en word deur die Heilige Gees gelei. Hul lewens is, ten spyte van allerhande moeilike omstandighede, 'n toonbeeld van die vrede wat die wêreld nie ken nie. Dit is hulle wat nie net hul tiendes nie, maar ook alles wat hulle kan opoffer spontaan gee sodat sy koninkryk ook in andere se lewens kan kom. Waar hulle nie self betrokke kan wees nie, gee hulle sodat die wat dit kan doen sonder enige hindernis of tekorte die evangelie kan uitdra.

Het die Vader jou al in sy genade aangeneem as een van sy kinders? Word jou lewe gekenmerk deur die drang om andere ook te sien inkom in die koninkryk van die Seun van sy liefde? (Kol. 1:13). Word jou lewe regtig verteer deur die begeerte dat andere ook die gawe van die ewige lewe, die inwonende Heilige Gees, sal ontvang?

Word vervolg


Kopiereg © 1999 Kérugma® Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367, KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21 906-2637
E-pos:
info@kerugma.org.za; http://www.kerugma.org.za/