Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579
SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 2:6 | Kérugma®
Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
OKTOBER 2000 |
|---|
| "Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot 'n beker van bedwelming ... tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word". (Sagaria 12:2-3) |
- Ignatius A le Roux
In die vorige Bulletin (Vol. 2:5) is volledig berig oor die beplande MILLENNIUMBERAAD VIR WÊRELDVREDE VAN 1000 GODSDIENS- EN GEESTELIKE LEIERS BY DIE VERENIGDE NASIES. Hierdie Beraad het toe, soos beplan, van 28-31 Augustus 2000 plaasgevind. Die Beraad is van 6-8 September 2000 opgevolg deur die VN MILLENNIUM BERAAD VIR STAATSHOOFDE. Dit was die eerste so 'n byeenkoms in die geskiedenis van die mensdom. Konings, staatspresidente en eerste ministers van bykans al die lande van die wêreld het van oor die hele aarde te New York onder leiding van die Sekretaris-Generaal van die VN, mnr. Kofi Annan, in die vergadersaal van die Algemene Vergadering saamgetrek. Vanuit 'n wêreldse oogpunt beskou, was beide berade 'n reuse sukses. Uit 'n Bybelse oogpunt was dit egter die begin van die vervulling van profesieë waarop daar vir baie eeue gewag is.
So was daar byvoorbeeld tydens elke nuusberig oor die VN MILLENNIUMBERAAD VIR STAATSHOOFDE, 'n spesifieke saak vermeld wat die bostaande profesie uit Sagaria 12 duidelik na vore geroep het.
Daar is telkens verduidelik dat mnr. Kofi Annan die Beraad byeen geroep het met die volgende sake op die agenda:
Alhoewel hierdie sake aandag geniet het en daar verskillende ondernemings daaromtrent gemaak is, is daar elke keer genoem dat die Beraad oorskadu is deur die netelige kwessie van die Midde-Oosterse Vredesooreenkoms.
Van dag een af tot die laaste nuusberig nadat die Beraad verdaag het, is genoem dat die beheer oor een wêreldstad die groot saak is wat onopgelos gebly het. Dié stad is Jerusalem! Vir iemand wat die nuusberigte op CNN gevolg het, het dit later soos 'n refrein geklink. Wat ookal berig is oor die Beraad, elke keer is genoem dat Jerusalem die groot probleem vir die afgevaardigdes is.
Die probleem is dat twee partye wat totaal onversoenbaar is, albei beheer oor Jerusalem opeis. Die een is die Jode en die ander is die Palestynse Vryheidsorganisasie.
Net voor die Beraad, gedurende Julie 2000, het die Amerikaanse President, Bill Clinton, die leiers van die twee partye te Camp David byeengebring. Die leier van die Jode is die Israelse Eerste Minister, Ehud Barak, terwyl die bekende Yasser Arafat die Uitvoerende President van die Palestyne is. President Clinton is al vir jare besig om 'n oplossing vir die probleem te probeer bewerk - maar alles tevergeefs. Die groot strydpunt bly die beheer oor Jerusalem en veral die Tempelberg.
CNN het twee afsonderlike onderhoude met die twee leiers lewendig gebeeldsend. Daarin het Yasser Arafat verduidelik dat hy net dit doen wat sy mense reeds besluit het. Hy sal hulle onder geen omstandighede verraai nie. Derhalwe is daar geen toegewings wat hy ooit sal maak nie. Ehud Barak het op sy beurt genoem hoedat hy alreeds in die kort rukkie wat hy aan bewind is, meer toegewings gemaak het as enige van sy voorgangers. Dit het hy gedoen ten einde oorlog te vermy. Daar is egter een ding wat geen Israelse Eerste Minister in staat is om te doen nie. Geen Eerste Minister van Israel kan en sal ooit 'n dokument onderteken wat die soewereiniteit van die Tempelberg aan president Arafat oordra nie. So iets is nie denkbaar nie.
Ons weet dat daar voorbereidings in Israel getref word vir die bou van die derde tempel. 2 Tessalonisense 2:4 sê dat die Antichris daarin sal sit en voorgee dat hy God is. Openbaring 13:8 en 12 leer dat die mense hom sal aanbid. Esegiël 40-48 skets ook die toekomstige tempel te Jerusalem. Ons verwonder ons dus nie dat die plek waar Salomo se tempel en later ook die van Herodus gestaan het, vir die Jode van die grootste belang is nie. Maar wat se belang het die Arabiese Moslems in die Tempelberg?
Dave Hunt verduidelik in sy nuusbrief, The Berean Call, van September 2000 dat die Palestynse Vryheidsorganisasie sedert 1969, onder leiding van Yasser Arafat, daarop aanspraak maak dat hulle die sogenaamde Palestyne verteenwoordig. Dit is 'n Islamitiese terroriste organisasie wat baie ander terroriste dwarsoor die wêreld opgelei het. Arafat self het sy eerste moord op 20 jarige ouderdom gepleeg. Onder sy aanvoering het die Palestynse Vryheidsleër die wreedste en bloeddorstigste terroriste organisasie ooit geword. So is die Palestynse Prys vir Kultuur byvoorbeeld onlangs toegeken aan Abu Daoud vir sy boek waarin hy vertel hoedat hy die moord op elf Israelse atlete by die 1972 Olimpiese spele beplan en uitgevoer het.
Die Palestynse Vryheidsorganisasie sê dat die stryd teen die Joodse vyand is nie 'n stryd oor die grense van Israel nie, maar oor haar voortbestaan.
Tipies van die wêreldpers, is Arafat en sy Palestynse moordenaars deur die media voorgestel as verontregte helde.
Pous Johannes Paulus II se onlangse besoek aan Bethlehem was uit reaksie op Arafat se uitnodiging aan hom om "ons Jesus Christus" te herdenk. Wie is "sy Jesus Christus"? Arafat leer dat Jesus 'n Palestynse vryheidsvegter was - en die Pous seën hom met 'n glimlag. Die Pous het Arafat al herhaalde male hartlik te Rome ontvang. Hierdie hartelose, sadistiese moordenaar en terroris het die Nobel Vredesprys ontvang en is vereer as die kampioen van geregtigheid vir die Palestynse volk.
Wie en wat is dié "verontregte" Palestynse volk? Daar was nog nooit so iets soos 'n Palestynse volk, nasie, taal, kultuur of godsdiens nie. Die Palestynse Vryheidsorganisasie se aanspraak op 'n herkoms van 'n Palestynse volk wat sogenaamd vir duisende jare in die land Palestina gewoon het, is van alle historiese waarheid ontbloot.
Dit was die land Kanaän wie se inwoners, die Kanaäniete, deur God uitgeroei is weens hul volhardende sondes teen Hom. Kanaän het toe die land van Israel geword toe God dit aan sy volk gegee het.
Arafat en sy volgelinge noem hulself Palestyne, maar is kragtens hul geboorte, taal en kultuur Arabiere. Hulle het noue verwantskap met Arabiere in die lande rondom Israel. Meeste van hulle kom van daar en is na Israel getrek deur die voorspoed van die land.
Die naam Palestina kom van die Filistyne wat Kanaän destyds ingeval het vanaf Kreta en dele van Klein-Asië. Arafat, 'n Arabier, beroep homself egter op hulle as sy voorgeslag.
Dit het in 1948 begin toe Israel aan die Jode toegesê is as hul tuisland. Daar was Arabiere wat skielik begin sê het dat hulle die ware Filistyne is en dat die land Israel nog altyd aan hulle behoort het. Die wêreldmedia het maar te graag die leuen help versprei, dit ten spyte van die feit dat slegs sowat drie persent van Palestina in 1948 deur Arabiere besit was.
Hierteenoor het die Jode histories gesproke sekerlik die reg om aanspraak op hul land te maak. Abraham het 4000 jaar gelede die graf van Magpéla asook die omringende grond te Hebron by Efron gekoop vir 400 sikkels silwer om sy vrou Sara daar te begrawe (Gen. 23:7-20). Sara, Abraham, Isak, Rebekka, Jakob en Lea is almal daar begrawe. Dawid is te Hebron as koning gesalf.
Jerusalem self was vir 3000 jaar die hoofstad van Israel. Die Tempelberg vorm die kern waarom dit in hierdie stad gaan. Die gevoelens rondom hierdie stukkie grond ontvlam kort-kort so heftig dat dit die potensiaal besit om enige tyd die Derde Wêreldoorlog in te lui. Daarom dat beide die Sekretaris-Generaal van die VN, mnr. Kofi Annan, asook die president van die VSA, mnr. Bill Clinton, tydens die huidige onluste te Israel na die Midde-Ooste gevlieg het om mnr. Barak en president Arafat bymekaar te laat kom.
Die klein stukkie aarde waaroor die gevoelens so kan oploop, is die plek waar Abraham destyds 'n altaar gebou het om Isak te offer. Koning Dawid het jare later hierdie selfde plek by Arauna die Jebusiet gekoop. Hier het hy 'n brandoffer altaar gebou waarvan die Here self die vuur aangesteek het (1 Kron. 21:15-26). Dit is waar sy seun Salomo die eerste tempel gebou het. Vandag troon die bekende goue rotskoepel van Islam daaroor. Dit is as't ware 'n monument van Islam se onbybelse aanspraak dat Abraham nie vir Isak nie, maar vir Ismael aldaar geoffer het. Dave Hunt vra tereg: Gegee die 3000 jaar geskiedenis van Jerusalem asook die belang wat dit vir Christene het, op watter basis kan Moslems aanspraak maak op die beheer oor die Tempelberg?
In die aanhoudende konflik oor die gebied kan die vervulling van Jesus se merkwaardige profesie duidelik gesien word, naamlik dat Jerusalem "vertrap sal word deur die nasies (die nie-Jode) totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:24). Ook sedert die land in 1948 aan die Jode gegee is as tuisland, word dit steeds deur nie-Jode "vertrap".
Hierdie toedrag van sake sal voortduur, dit weet ons uit Daniël 9:26-27 totdat "'n vors wat sal kom" naamlik die Antichris, "met baie 'n sterk verbond sal sluit." Die Antichris gaan kom in die gedaante van die Messias - die Gesalfde - die Christus. Hy gaan 'n vredesverbond met Israel sluit. Wat hy met die Palestyne gaan doen is 'n goeie vraag. Die vredesverdrag gaan gesluit word vir "een week lank", dit is 'n tydperk van 7 jaar. In die helfte van hierdie week, met ander woorde, na drie en 'n half jaar gaan hy sy verbond met hulle verbreek.
Dan gaan hy homself openbaar in sy ware aard. Dit is dan dat hy in die tempel wat intussen gebou moet word, gaan eis dat hulle hom (of dan 'n beeld van hom) aanbid (2 Tess. 2:4, Op. 13:15).
Hierdie skrikbewind van die Antichris gaan erg wees, maar van korte duur. Drie en 'n half jaar later, aan die einde van die tweede helfte van die sewe jaar tydperk wat die verbond met Israel sou duur, gaan die Here Jesus met sy wederkoms kom, Hy gaan dan hierdie vors, die Antichris, saam met sy Valse Profeet lewend werp "in die vuurpoel wat met swawel brand" (Op. 14:20).
Hierdie koms van die Here Jesus sal voorafgegaan word deur 'n wêreldwye opmars teen Jerusalem. Vanuit al die nasies van die wêreld gaan 'n weermag te Armagéddon saamtrek (Op. 16:14,16). Armagéddon is die Grieks vir die berg Megiddo.
Die berg is naby die stad Megiddo en die vlakte van Esdraelon waar baie gevegte gedurende Ou Testamentiese tye plaasgevind het. Hoe lank die oorlog gaan duur voordat die Here Jesus gaan kom om Israel van totale uitwissing te red, weet ons nie. Die gebeure kan duidelik in Sagaria 14 gelees word. Op die regte tyd gaan Hy kom en sal Hy staan op die Olyfberg (Sag. 14:4). Wanneer Hy so in sy heerlikheid kom, gaan al die nasies (die nie-Jode) voor Hom versamel word om geoordeel te word (Matt. 24:31-46).
Wat opvallend is, is dat die kriterium waarvolgens hulle geoordeel gaan word, bepaal word deur dit wat hul optrede teenoor die Jode was:
| "... vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broers van My, het julle dit aan My gedoen." (Matt. 25:40) |
Wie is die "broers" van die Here Jesus waarna Hy hier verwys? Dit is diegene wat nie deel van die heiden nasies is wat voor Hom vergader is nie. Hier is twee groepe te onderskei van mekaar. Wanneer die Here met Sy wederkoms kom, gaan daar diegene wees wat by Hom is. Hy verwys na hulle as sy broers. Dit is sy volksgenote - die Jode.
Daar gaan ook die "nasies", of soos dit in die Grieks staan, die heidene, wees. Dit is al die mense uit al die volke wat nie Jode is nie. Die twee groepe is oral in die Nuwe Testament duidelik te onderskei van mekaar. So byvoorbeeld is die evangelie van Christus "'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek (Rom. 1:16). Die woord "Griek" kan ook vertaal word met "nie-Jood". Die "broers" van die Here Jesus is dus diegene uit die Jodedom wat tot geloof in Hom gekom het.
Die Here het in Genesis 12:3 beloof om diegene wat Abraham en sy nageslag seën, ook te seën en diegene wat hulle vervloek ook te vervloek. Daarom dat Hy aan diegene wat aan sy linkerhand vergader is, gaan sê:
| "Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele" (Matt. 25:41). |
Dit alles beteken natuurlik nie dat 'n mens nou goed moet wees vir Jode wat vervolging of verdrukking ly sodat jy gered kan word nie. Die vrug van die nuwe lewe wat 'n mens in die wedergeboorte ontvang, bring maar net spontaan na vore dat jy volgens Gods Woord en na die ywer wat in sy hart vir hulle brand, sal optree ten gunste van sy volk wat onregverdig hanteer en behandel word. 'n Voorbeeld hiervan is hoe die familie van Corrie ten Boom die Joodse vlugtelinge gehuisves en gehelp het gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Dit ten koste van hul eie veiligheid.
Die onlangse swaai betreffende die houding van die regering van Suid-Afrika jeens Israel is hier duidelik ook deel van die vervulling van Gods Woord wat leer dat al die nasies sal meedoen aan die oorlog teen sy volk. Die vorige bestel, hoe korrup dit ookal was, het een sterk saak gehad wat Gods seën oor die land gehou het, naamlik 'n positiewe ondersteuning van die land Israel. Dit het met die verskuiwing van bewind in 1994 verander. Aan die een kant verontrus dit 'n mens, maar andersyds toon dit dat die koms van die Here Jesus Christus op hande is.
Daarom was dit so opmerklik dat die media gerapporteer het dat die hele VN BERAAD VIR STAATSHOOFDE deurentyd oorskadu was deur die kwessie rakende die beheer oor
Dit is deesdae vreemd om 'n nuusberig te hoor waarin die Midde-Oosterse kwessie nie vermeld word nie. Die kans blyk goed dat dit voortaan al hoe meer prominent sal word. Die Here het immers gesê dat hy Jerusalem sal maak:
| "tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word" (Sag. 12:3). |
Dit alles bring ons des te nader aan die hoop van elke Christen, naamlik die wonderlike gebeurtenis van die Here Jesus se wederkoms. Is dit ook waarop u hoop? Ons moet mekaar immers dikwels bemoedig met die woorde dat die Here Jesus ons te enige tyd kan kom haal (1 Tess. 4:18).
Dat die dag van die Here se koms op hande is, het veral ook geblyk uit die gesig van die duisend godsdiens- en geestelike leiers van bykans al die godsdienste van die wêreld wat saam vergader het in die hoofkwartier van die VN vanaf 28-31 Augustus 2000.
Waar 'n mens gewoond is dat die groot vergadersaal van die Algemene Vergadering gevul is met mense in netjiese pakke, was dit omtrent 'n gesig om dieselfde saal te sien gevul met verskillende kopdoeke, gewade, togas, hooftooisels en dies meer. Dit was 'n skouspel wat sekerlik die hart van die komende Valse Profeet, die tweede dier van Openbaring 13:11-18, kon laat swel van trots.
Dit was ook herhaalde male deur die nuusberigte van CNN aangekondig dat die hoof van CNN, mnr. Ted Turner, deur middel van sy Better World Fund die eintlike donateur was wat die byeenkoms moontlik gemaak het. Hyself was dan ook, soos vroeër genoem (Kérugma Bulletin, Vol 2:5), die hoofspreker by die geleentheid. Volgens 'n berig in die Maranatha Christian News Service (30-8-00), het hy vertel dat hy opgegroei het as 'n Christen en dat hy eintlik 'n sendeling sou word. Die feit dat slegs Christene hemel toe kan gaan het hom egter tot die gevolgtrekking laat kom dat die hemel eintlik 'n baie eensame plek sou wees.
In sy geestelike soeke het hy uiteindelik ontdek dat daar, volgens hom, net een God is wat homself op verskillende wyses aan die mensdom openbaar. Daarom maak dit min verskil watter godsdiens 'n mens kies. Dié God wil maar net dat ons mekaar moet liefhê en in vrede moet lewe, aldus Ted Turner.
Wat 'n lekker boodskap om by so 'n geleentheid af te lewer. Soos verlede keer genoem, was dit ook die hele gees wat by die Parlement vir Wêreldgodsdienste (Desember 1999 te Kaapstad) na vore gekom het. Al die verskillende godsdienste is maar net verskillende tradisies van mekaar. Sodra ons dit ontdek het, kan ons in vrede leef met mekaar, want ons aanbid en dien almal op verskillende wyses dieselfde God. Dit word alles duidelik getoon op Kérugma se video deur ds. Soon Zevenster - DIE PARLEMENT VIR WÊRELDGODSDIENSTE - DIE WEGBEREIDING VIR DIE VALSE PROFEET.
Wat duidelik blyk is dat alles gereed gekry word dat een leier op godsdienstige vlak na vore kan kom - iemand wat deur die leiers van al die godsdienste erken sal word. Hierdie Valse Profeet sal dan ook die een wees wat almal sal lei om die leier op die politieke gebied, die Antichris, te volg en te aanbid as die Christus (Op. 13:11-18).
Wanneer 'n mens na dit alles kyk, is een ding duidelik. Ons leef in 'n tyd waarin alles gereed is sodat die ware Jesus Christus, die Een wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is, enige tyd sy Bruid kan kom haal.
Sien u ook uit daarna?
| "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg." (Luk 9:23) |
- Marina le Roux
Ons, die moderne vroue, leef in 'n tyd waarin elkeen aanspraak maak op sy regte. Menseregte bepaal wat gedoen mag word en wat nie. Ons weet egter almal dat, in plaas daarvan dat almal tevrede gestel word en daar oral vrede heers, daar al hoe meer onmin, oorloë en allerande ongeregtighede voorkom.
Een van die uitsprake van die Here Jesus wat graag deur Christene geïgnoreer word en deur nie-Christene verwerp word as absurd, is die volgende: "as iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg" (Luk. 9:23). Die Here Jesus het dit duidelik gestel dat ons Hom nie kan volg as ons onsself nie verloën nie. Is ek ook een van die Christene wat hierdie opdrag van die Here Jesus ignoreer? Kan dit wees dat ek dalk dink dat ek die Here Jesus volg, terwyl Hy my glad nie ken nie? Sal ek dalk ook eendag vir Hom moet sê, "maar Here, Here ek het in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen", net om dan sy antwoord te hoor: Ek het jou nooit geken nie"? Hoe raak hierdie voorwaarde van Jesus aan sy volgelinge ons as vrouens?
In 1 Petrus 3 skryf Petrus dat ons as getroude vrouens onsself moet onderwerp aan ons eie mans (1 Pet. 3:1). Om onderdanig te wees beteken om jouself gewillig onder iemand anders se gesag te plaas. Baie vroue sal onmiddelik sê, "Maar jy ken nie my man nie. Geen mens kan hom laat besluite neem wat my as vrou ook raak nie". Kom ons los eers al die maar's en hoor eers wat sê God. Hierdie opdrag het hy gegee aan mense wat as heidene getroud is. Baie van hierdie Christenvroue se mans was ongered, en het volgens heidense gebruike en gewoontes geleef in 'n kultuur waar vroue geen regte gehad het nie. Tog, wanneer Hy vir hulle as Christenvroue raad gee, dan sê Hy eerstens vir hulle om onderdanig te wees. Hoe kan Hy dit doen?
Ons moet onthou dat God ons gemaak het. Hy weet mos die beste hoe Hy ons gemaak het, en wanneer ons die gelukkigste sal wees. Toe God die mens gemaak het, het Hy eerste die man gemaak. Vir hom het Hy die opdrag gegee om die aarde te bewerk en te bewaak. Net nadat die man begin het met die uitvoering van sy opdrag, het God gesien dat die man alleen is en 'n hulp nodig het wat by hom pas. Daarna het Hy die vrou gemaak. Die eerste en belangrikste doel van 'n getroude vrou is dus om haar man te help om sy roeping te kan uitvoer. Wanneer 'n vrou trou, moet sy dus weet dat sy haar eie ideale ondergeskik moet stel aan dié van haar man. Sy moet dus weet dat sy in die eerste plek daar is om haar man te help om sy roeping uit te leef. Sy moet haar lewe so inrig dat sy dit vir hom so maklik as moontlik maak om die doel wat God met hom op aarde het, te bereik.
Die ideale vrou in God se oë word vir ons beskryf as iemand op wie haar man kon vertrou (Spr. 31:11). Terwyl hy in die poorte gesit het om saam met die oudstes van die land regspraak uit te oefen, het sy gesorg vir die opvoeding van haar kinders en die versorging van haar hele huishouding. Die vrou na God se hart doen wat nodig is om haar man te inspireer om met oorgawe te doen waarvoor God hom geroep het. Wanneer die Amplified Bible die woord "onderdanig" vertaal, beskryf hy dit as volg: "subordinate yourselves as being secondary to and dependant on them, and adapt yourselves to them" (1 Pet. 3:1). Dan beskryf hy verder wat dit prakties beteken "... to respect, defer to, revere him; [revere means] to honor esteem (appreciate, prize) and [in the human sense] adore him; [and adore means] to admire, praise, be devoted to, deeply love and enjoy your husband] (1 Pet. 3:2).
Efesiërs 5:22 sê verder dat ons aan ons eie mans onderdanig moet wees soos aan die Here. Net soos wat ek nooit dit wat die Here doen, bevraagteken nie, maar Sy besluite aanvaar, en sy wil doen sonder om allerande besware te opper, moet ek ook my man se belange en begeertes bo my eie stel, graag doen wat hy wil hê, en nie altyd van beter weet nie. Ek m
Wanneer hy wel foute maak, moet ek stilbly en hom aan die Here opdra, terwyl ek nog altyd vir hom wys dat ek hom respekteer, en hom vertrou om altyd die beste besluite te neem.
Daar is egter sommige vroue wat eerlik kan sê dat hulle hulle mans nie kan vertrou nie omdat hulle ongered is, en byna altyd verkeerde besluite neem. In so 'n geval sê 1 Petrus 3:1 dat ons juis dán onderdanig moet wees omdat juis dit ons ongeredde mans na die Here kan laat draai. Ons moet weet dat ons nie aan ons mans onderdanig is omdat hulle foutloos is nie, maar omdat dit God se wil vir ons is. Hy weet dat dit die wenresep is vir 'n gelukkige huwelik, gesinslewe en gemeenskap. Wanneer ons kinders sien dat pa en ma in die regte verhouding tot mekaar staan en dat ma altyd gereed is om pa te ondersteun, sal hulle ook leer om hulle te onderwerp, en sal opstandige tieners nie meer deel van Christene se huise wees nie. Is ons werklik gehoorsaam aan ons hemelse Vader wanneer Hy van ons vra om ons te onderwerp aan ons mans? Is ons nederig genoeg om onderdanig te wees, of steek rebellie maar kort kort weer sy kop uit in ons onderlinge verhoudinge in ons huis?
Volgens die Here Jesus Christus is die belangrikste kenmerk van 'n Christen se lewe dat hy homself verloën. Dit beteken onder meer hy skuif sy eie belange, begeertes en ideale opsy sodat God se begeertes voorrang kan geniet.
Om my kruis op te neem beteken om so goed soos dood te wees vir dit wat vir my lekker is, sodat niks in my pad sal staan wanneer ek God se wil moet doen nie. Dan sal ek in staat wees om Hom te volg, ook wanneer ek vervolg word en moet swaarkry omdat ek Hom volg.
As ons na dit alles kyk, is dit baie duidelik hoekom die wêreld in chaos gedompel is. Elkeen, selfs die persoon wat homself Christen noem, leef hoofsaaklik vir sy eie gerief. (Is baie van die aksies wat ons loods om die wêreld vir Christus te wen nie ook maar daarop gemik om die wêreld vir onsself 'n beter, veiliger plek te maak nie?)
Vir ons as Christene het die Here Jesus Christus dit duidelik gestel dat as ons nie ons kruis opneem en Hom volg, met ander woorde onsself onderwerp aan sy wil nie, kan ons nie sy dissipels wees nie.
Hoe kry ek dit reg? Rebellie is so deel van my samestelling.
Een ding is seker, en dit is dat dit nooit werk om te probeer om myself te verloën nie. Die wenresep is vir ons opgeskryf in Romeine 6:11. Daar staan:
| "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here". |
In die eerste plek, voordat ons enigiets probeer, moet ons aanvaar dat ons, vanuit God se oogpunt, saam met Christus gekruisig is, en dus dood is vir sonde, ja, vir alles wat God nie behaag nie. Nêrens kry ons die opdrag om te probeer dood wees nie. Nee, God aanvaar dat my ou mens reeds gekruisig is saam met Christus. Dit is net so waar as wat dit waar is dat my sonde vergewe is en my naam in die boek van die lewe geskryf is. My verantwoordelikheid is om vanuit daardie waarheid te leef. Wanneer die Heilige Gees dus vir my wys dat daar rebellie in my hart is, moet ek nie vra, "Maar ek het dan gedink ek is met Christus gekruisig. Waar kom hierdie rebellie nou vandaan?" nie. Nee, Romeine 6:11 sê dat ons moet reken dat ons dood is vir die sonde. Dit beteken dat ek nie verskoning maak vir sondes waarvan die Heilige Gees my oortuig nie, maar dat ek dit dadelik bely en in geloof aanvaar dat enige drang om weer daardie sonde te doen, gekruisig is. Ja, dit is dood saam met Christus. Op die manier maak die Heilige Gees dit 'n werklikheid in my lewe en ervaar ek dat ek oorwinning daaroor kry.
Wanneer ons as vroue besef dat ons fyngevoeligheid, ons gereedheid om die laaste woord in te kry en ons begeerte om ons sin te kry, rebellie, en dus sonde is, moet ons dit bely en aanvaar dat ons saam met Christus gekruisig is. Daarom kan ons maar buig en stilbly en ons mans hulle sin gee. Dan sal ons ervaar dat die Heilige Gees vir ons sy vrede in ons harte gee sodat ons ons nie heeldag loop en bekommer oor allerande nietighede nie. Petrus sê ons sal "geen verskrikking vrees nie" (1 Pet. 3:6).
Ken ons as Christene dit om so totaal oorgegee te wees aan die wil van God? Is dit deel van ons lewe om ons kruis op te neem, onsself te verloën en die wil van ons hemelse Vader te doen? Dit behoort te wees, anders kan ons volgens die Here Jesus nie sy volgelinge wees nie.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Fax: +27 (0)21
906-2637
E-pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/