Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 4:4 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
September 2002 |
|---|
| "Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam " (Joh. 20:30-31). |
- Naas le Roux
Gedurende die agt dae waartydens ons die Parlement van Wêreldgodsdienste in Desember 1999 afgeneem het, het ons 'n sekere Sjiek leer ken. Hy het duidelik te kenne gegee dat hy een passie het en dit is om die waarheid te soek. Hy begeer om die waarheid te leer ken voordat hy te sterwe kom.
Op die voorlaaste dag van die Parlement het ons aan hom 'n Bybel gegee met 'n boekmerkie wat by Johannes 1 ingesit was. Hy en sy vrou was oorstelp deur die gebaar en het toe verduidelik dat hy net drie dae per week werk. Die res van sy tyd wy hy aan sy navorsing na die waarheid. Ons het hom toe atent gemaak op die boekmerkie en gewys dat hy moet begin lees by die Evangelie van Johannes. Daarin sal hy die waarheid leer ken.
Dit is interessant hoe Johannes sy evangelie saamgestel het. Hy het nie maar net geskryf soos hy dinge onthou het nie. In die laaste vers van sy boek verduidelik hy:
... daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie (Joh. 21:25).
Hieruit en uit die teksgedeelte bo-aan blyk dit dat hy doelgerig 'n seleksie uit alles wat Jesus gedoen en geleer het, gemaak het. Hy het as't ware net die kernmomente opgeteken. Dit is amper 'n tipe van opsomming van alles sodat iemand deur dit te lees regtig sal kan sien wie Jesus is. By nadere ondersoek sien 'n mens hoe Johannes te werk gegaan het in die samestelling van sy evangelie.
Die teoloog en leraar wat ook as argeoloog vir 12 jaar in Israel woon en werk, dr. Randall Smith, verduidelik mooi hoe die Johannes Evangelie saamgestel is. In die Evangelie vind ons sewe keer waar Jesus die uitdrukking gebruik: "Ek is ...". So openbaar Hy Homself as die Brood van die Lewe (Joh. 6:35), die Lig van die Wêreld (Joh. 8:12), die Deur (Joh. 10:9), die Goeie Herder (Joh. 10:11), die Opstanding en die Lewe (Joh. 11:25), die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh. 14:6) en die Ware Wingerdstok (Joh. 15:1). Wat hiervan opvallend is, is dat Jesus hier aan die woord is. Hy sê wie Hy is.
Johannes het egter ook sewe van die baie wonderwerke wat Jesus gedoen het, opgeteken. Naas die dinge wat Jesus gesê het, is dit sewe van al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het. Dit is dinge wat Jesus gedoen het om Homself te openbaar. Nikodemus, 'n Joodse leraar, sê dan ook aan Jesus:
"Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie."
So openbaar Jesus Homself deur water in wyn te verander (Joh. 2:1-11), 'n koninklike beampte se siek kind oor 'n lang afstand te genees (Joh. 4:46-54), 'n sieke by die bad van Betésda te genees (Joh. 5:1-15), brood en visse te vermeerder (Joh. 6:6-13), die storm stil te maak (Joh. 6:16-21), 'n blind geborene se gesig aan hom te gee (Joh. 9:1-7) en Lasarus uit die dood op te wek (Joh. 11:1-45).
Wanneer 'n mens so na dit kyk, is dit wonderlik om te sien hoe duidelik Jesus Homself aan ons kom openbaar het. Dr. Randall Smith wys nou verder uit dat Jesus Homself destyds tussen twee wêrelde bevind het. Die een was die Joodse lewens- en wêreldbeskouing. Wat egter sterk hierop ingewerk het en 'n grondslag vir die Westerse mens gevorm het, is die Grieks-Romeinse beskouing.
Hierdie twee heel uiteenlopende lewens- en wêreldbeskouings is as't ware verteenwoordigend van bykans die hele menslike bestaan.
Die onderskeid tussen die twee sien 'n mens byvoorbeeld baie duidelik tussen die verskillende bevolkingsgroepe in 'n land soos Suid-Afrika.
Die Westerse mens glo en aanvaar dit wat iemand aan hom vertel. Solank die spreker of prediker oortuigend voorkom, word dit wat hy sê sonder meer geglo. Dit gebeur dikwels dat 'n heel onbekende persoon van oorsee kom en sonder meer aanvaar word. Mense glo maklik dit wat hy hulle vertel, al ken hulle hom nie en weet hulle nie vanwaar hy is nie.
Hierteenoor aanvaar die tradisionele Afrika mens weer nie iemand se woord alvorens hy nie sy huis gesien het en weet hoe hy leef nie. Dit is dikwels nodig dat 'n paar lede van die groep vir wie gepreek moet word, eers die prediker leer ken. Wanneer hulle dan vir hul stamgenote kan sê dat hulle by die man se huis was, dat hulle sy vrou en kinders gesien het en dat hulle leef soos die man vir hulle wil leer, dan sal hulle na hom luister en glo wat hy sê.
Dr. Randall Smith wys daarop dat wanneer Johannes die Doper twee van sy dissipels na Jesus stuur om te vra of Hy wel die Messias is, dan antwoord Jesus hom op die manier waarop die Midde-Oosterse mens dit sou verstaan. Jesus antwoord hulle en sê:
"Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie" (Matt. 11:4-6).
Jesus se antwoord kom daarop neer dat Hy vir Johannes sê: "Kyk wat Ek doen, en besluit self wie Ek is."
Vir die Westers georiënteerde mens kon Hy maar net sê: "Ek is die Messias" en dit sou genoeg wees. Die wat Hom wou glo, sou dit aanvaar.
Vir die Midde-Oosterse mens was dit egter nie genoeg dat iemand so iets sou sê nie. Sy lewe moes toon wie Hy is. Vir Johannes wat sy koms aangekondig het en die volk voorberei het op die komende koninkryk, was dit 'n krisis dat hy in die tronk sit.
Wat se koning is dit wat die een wat alles voorberei het op sy koms so in die gevangenis laat bly? Jesus sê nie dat Hy die Messias is nie. Hy bevry hom ook nie uit die gevangenis nie. Nee, Hy wys Johannes maar net daarop dat Hy die dinge doen wat die profete gesê het dat die Een op wie die Gees van die Here sou wees, sou kom doen.
Vir die Jood destyds was dit nodig om te sien dat Hy die dinge doen. Dit het die krag gehad om hom tot geloof te bring in die Persoon wat dit gedoen het.
Kérugma Produksies het so pas dr. Randall Smith se video vrygestel getiteld: Jesus on Jesus, Part 1: The Seven "I am" -sayings of Jesus in the Gospel according to John. Deel twee handel oor die sewe wonderwerke wat Johannes beskryf. Daarin sien 'n mens die plekke waar Jesus dit gedoen het. Veral insiggewend is die bad van Betesda. Dit is waar Jesus een persoon tussen 'n menigte siekes uitsonder. Hierdie man genees Hy op die Sabbat. Die man het vir baie jare gelê en wag op die roering van die water. Dit is baie interessant om te ontdek hoe hierdie plek van genesing daar uitgesien het en wat die agtergrond van die roering van die water werklik was.
Daar is baie wonderlike dinge in die tweede video, maar die eerste een is miskien juis goed vir ons Westerlinge wat glo wat mense sê. Dr. Randall Smith wys daarop dat die Ek is - uitsprake van Jesus spesifiek gerig is op die wat hulle laat lei deur die mondelinge uitsprake van mense.
Elkeen van die sewe gedeeltes waar Jesus Homself so bekendstel is vir my baie besonders. Waar hy praat van "Ek is die Lig van die Wêreld", het ons die sewe olielampe van die goue kandelaar in die replika van die tabernakel aangesteek. Op die video kan 'n mens duidelik sien hoeveel lig dit in so 'n donker vertrek gee - en Jesus sê dat ons wat Hom volg die lig van die wêreld is ...
Daar is soveel dinge wat vir 'n mens oopgaan wanneer jy sien waar die dinge gebeur het. Dinge soos waar Jesus sê dat Hy die Brood van die lewe is, die Deur, die Goeie Herder, en sovele meer. Veral interessant is die besoek aan die graf van Lasarus met die lewensgetroue mosaïek uitbeeldinge van die gebeure in Johannes 11.
Ek dink net dat geen mens genoeg daarvan sal kan kry om na hierdie video's te kyk nie. Elke keer wanneer 'n mens weer daarna sal kyk, sal meer dinge vir jou oopgaan en sal jy meer daaruit kry.
Wil u nie vir ons help om die video's by baie meer mense uit te kry nie? Miskien is daar 'n manier waarop die Here u wil lei om dit te doen.
Johannes sê dat hy uit al die dinge wat Jesus gedoen en geleer het hierdie gedeeltes so opgeteken het dat elkeen wat dit lees tot geloof in Jesus sou kom. Geloof waardeur hulle die ewige lewe as iets blywends in hulle sou hê.
Die Sjeik vir wie ons die Bybel gegee het, het kort daarna vir ons 'n kerskaartjie gestuur as blykie van dankbaarheid. Daarna het ons nog nie weer van hom of sy vrou gehoor nie. Bid saam met ons dat hulle die Johannes-evangelie weer en weer sal lees, tot hulle Hom wat die weg, die WAARHEID en die lewe is, sal leer ken. En bid dat die Here u sal wys hoe om te help om hierdie twee video's oor die Johannes Evangelie by baie mense uit te bring.
Uit ons briewebus
Ons wil graag uittreksels uit sommige van die briewe wat ons ontvang met u deel. Soos wat dit vir ons bemoedigend was, glo ons dat dit ook vir u 'n aanmoediging sal wees.
Uit Upington skryf 'n klublid:
Baie dankie vir my video, "The Shepherd and His Sheep" wat ek ontvang het. Ek het dit baie geniet en het dit ook reeds aan van my familie en vriende gewys. Ek kan nie wag om die volgende videos te ontvang nie.
Vanaf September 2002 wens ek graag my ledegeld te verhoog na R100.00 per maand.
'n Ander briefie uit Kimberley lees:
Baie dankie vir die video "The Shepherd and His Sheep" wat alreeds deur my ontvang is. Ek het sommer dadelik daarna gekyk en dit was tot groot seën vir my gewees. My verbasing was groot dat ek eintlik geen kennis van 'n herder- sy staf, of 'n skaap gedra het nie.
Dit was ook vir my 'n absolute openbaring van Ps. 23. Dis kosbaar. Ek het dit ook met my vriendin gekyk en gedeel, en sy was net so verbaas oor haar min kennis in die verband. Ek het dit ook al genoem aan medgelowiges, en hulle nuuskierigheid is groot en is ook baie gretig om na die video te kyk...
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/