Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 5.1 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
September 2003 |
|---|
| " Jesus sê toe weer vir hulle: 'Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook'. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: 'Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou'" (Joh. 20:21-23). |
- Ignatius A le Roux
Die gebruik van sekere Christenleiers om op mense te blaas selfs sodat hulle omval, word klaarblyklik geregverdig deur die geval waar die Here Jesus op sy dissipels geblaas en gesê het: "Ontvang die Heilige Gees". Daar is egter sekere vrae wat hieruit na vore kom: Kan die "blaas in die Gees" regtig hierin gegrond word? Indien nie, watter implikasie hou hierdie gebeurtenis dan vir ons vandag in? Kon die dissipels toe al die Heilige Gees ontvang het? Was dit wat Jesus hier vir hulle gesê het dan nie vóór die uitstorting van die Heilige Gees nie?
Die geleentheid waar Jesus op sy dissipels geblaas het, was sy eerste verskyning aan hulle na sy opstanding. Dit was die aand van die eerste dag van die week (Joh. 20:19), die Sondag waarop Jesus uit die dood opgestaan het. In aanvulling tot Johannes se beskrywing van die geleentheid vind ons ook Lukas se berig daaroor (Luk. 24:36-49). Wat opvallend is, is dat daar op daardie Sondag nog geen verwagting by die dissipels was dat Hy sou opstaan nie (vgl. Luk. 24:1-12, Joh. 20:1-10).
Teen die aand was hulle egter agter geslote deure vergader. Jesus het aan Maria Magdalena en aan Petrus verskyn (Luk. 24:34, Joh. 20:11-18). Skielik kom die Émmaüsgangers toe ook daar aan met die nuus dat Jesus leef! (Luk. 24:33-35), En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hulle midde en sê: "Vrede vir julle!" (Luk 24:36). Hierop gee Hy toe aan hulle die opdrag: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook."
Reeds voor sy dood het Hy hierdie woorde al in sy hart gekoester toe Hy vir hulle gebid het: "Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur" (Joh. 17:18).
Moontlik was sy opdragte aan hulle in Mattheus 10 en Lukas 10 hierby inbegrepe, maar nou staan Hy as die opgestane Heer tussen hulle om aan hulle op te dra om voort te gaan met die werk wat Hy begin het. Hy het voorheen verduidelik dat nie Hyself nie, maar die Heilige Gees in hulle sou kom woon om hulle toe te rus vir hierdie taak (Joh. 14:12-17).
Wanneer Jesus nou blaas en vir hulle sê om die Heilige Gees te ontvang, is dít waarna Hy hier verwys? Het die dissipels nou die Heilige Gees ontvang? Wat het dan op Pinkstrdag gebeur? Hoe moet ‘n mens die twee gebeurtenisse verstaan?
Twee van die video's wat Kérugma versprei handel juis oor die Johannes Evangelie. Dit is die video's en DVD's JESUS ON JESUS, Deel 1 & 2. Daarin verduidelik Dr. Randall Smith hoedat Johannes sy evangelie sorgvuldig saamgestel het deur ‘n seleksie te maak uit alles wat Jesus gedoen en geleer het (Joh. 20:30-31).
Hierdie Johannes verduidelik dan vroeër in sy boek dat die Heilige Gees nog nie daar was nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie (Joh. 7:39).
In die oorspronklike Hebreeus tref ‘n mens nêrens in die Ou Testament die eienaam "Heilige Gees" aan nie. In die Ou Vertaling in Afrikaans, ‘n vertaling wat direk op die Hebreeus en Grieks gebaseer is, tref ons die naam "Heilige Gees" wel in Psalm 51:13 en in Jesaja 63:10,11 aan. In die Hebreeus is dit egter "die Gees van sy heiligheid" en nie die eienaam Heilige Gees" nie. Dit is eers in die Nuwe Testament dat die Gees van God die naam "Heilige Gees" kry. Die rede daarvoor is dat Hy nie geken is as die inwonende Heilige Gees voordat die verhoogde en verheerlikte Here Jesus Hom vanaf die troon van God uitgestort het nie (Hand. 2:32-36). Hy het Hom uitgestort om in die hart en gees van diegene wat in Jesus Christus glo, te kom woon. Sedert Pinksterdag ontvang elkeen wat tot wedergeboorte kom nie net ‘n nuwe hart en nuwe gees, soos onder die Ou Verbond nie, maar ook die inwonende Heilige Gees (Eseg.36:26-27). Sedert die Pinksterfees waarop die Here Jesus die Heilige Gees uitgestort het, word elkeen wat tot geloof in die Here Jesus kom, deur die Heilige Gees gedoop tot ‘n lid van die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13). Hy kom woon daar diep in die hart, ja, in die nuwe wedergebore gees van die gelowige. Daar woon en werk Hy om die Here Jesus in en deur die kind van God se lewe te openbaar en te verheerlik.
Die eerste vrug op sy inwoning in ‘n kind van God se lewe is die stille wete dat hy ‘n kind van God is. Hy weet maar net: God het my aangeneem as een van sy kinders. Voorts ervaar hy dat die Here hom deur hierdie vrede lei. Naas dat hy die wil van die Here uit die Woord leer ken en daagliks daarin groei, ervaar hy ook dat die Here se vrede hom vooruit trek. Dit is telkens maar net ‘n stille wete diep in sy hart wat hom die vrede gee dat dit wat hy doen, God se wil is. So weet hy telkens dat dit wat hy doen reg is en God behaag.
Alhoewel ons lees dat die geloofshelde onder die Ou Verbond ook getuienis ontvang het dat hulle God behaag (Heb. 11:2 en verder), is daar tog ‘n verskil. Omdat hulle nie die inwonende Heilige Gees gehad het om hulle te lei nie, het hulle deur aanskouing gewandel.
Hulle moes gedurig offers bring (Lev. 1-6), deur ‘n wolk- en vuurkolom gelei word (Eks. 40:36-37), die Hoë Priester moes deur die Urim en die Tummim bepaal wat die wil van die Here was (Eks. 28:30, Lev. 8:8) en drie maal elke jaar moes die hele volk Jerusalem toe gaan vir ‘n agt dae lange fees om die Here dáár te aanbid. So is daar baie dinge wat gedoen moes word, wat sedert die uitstorting van die Heilige Gees nie meer nodig is nie.
Nou is dit interessant dat sedert die Here Jesus geblaas en aan die dissipels hierdie opdrag gegee het, daar een duidelike gebruik was wat hulle toegepas het en wat toon dat hulle steeds opgetree het soos onder die Ou Verbond. Dit is iets wat die Kerk sedert Pinksterdag nie meer doen nie. Dit het gebeur toe hulle besef het dat iemand as apostel aangestel moes word in die plek van Judas. Nadat twee voorgestel is, het hulle gebid en die lot gewerp om te bepaal, soos die Hoë Priester deur die Urim en Tummim sou doen, watter een die Here aanwys. Sedert die koms van die Heilige Gees word die lot egter nie meer gewerp nie. Dit is die Heilige Gees self wat duidelik lei en die regte persone aanwys (Vgl. Hand. 6:5, 13:2).
Hoe moet die opdrag van die Here Jesus aan die dissipels in Johannes 20:22 dan verstaan word? Wanneer ons dit in die Grieks lees, is daar iets wat opval. Daar lees ons:
En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy en sê vir hulle: "Ontvang Heilige Gees".
Die lidwoord voor die woorde "Heilige Gees" kom nie in die Grieks voor nie. As ons dit in Afrikaans so moet skryf, dan lyk dit of die lidwoord ontbreek. Daarom is dit moeilik vir Bybelvertalers om te weet wat om te doen. Persoonlik voel ek dat so iets deur ‘n voetnoot of deur dit kursief te druk, aangedui moet word.
In die Grieks is dit nie soos in Afrikaans waar dit lyk of die lidwoord ontbreek nie. Dit is normaal dat dit bloot net nie daar gebruik word nie. En dit gee aan die opdrag van die Here Jesus ‘n heel ander betekenis. ‘n Betekenis wat diegene wat Hom gehoor het, sou verstaan het net soos diegene wat vandag die Grieks lees, dit begryp. Wat die Here Jesus sê is: Ontvang die toerusting van die Heilige Gees vir die taak wat Ek nou aan julle opdra.. Sonder die lidwoord sien dit nie op die persoon van wie gepraat word nie, maar op een of ander eienskap, werking of besitting van die persoon. Daar is omtrent elf gevalle in die Nuwe Testament waar die lidwoord so voor die eienaam "Heilige Gees" in die Grieks nie voorkom nie. Een voorbeeld is Lukas 11:13 waar ons lees hoe die Here Jesus sê:
"As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?"
Sou ‘n mens ‘n lidwoord daar invoeg, soos in baie Bybelvertalings gebeur, dan klink dit of die Here Jesus sê ons kan tot die Vader bid om aan ons die Heilige Gees te gee. Dit kan tog nie reg wees nie. Die Here Jesus gee Hom aan elkeen soos hy tot bekering kom. Die Here Jesus noem hier dat ons die Vader kan vra om aan ons ‘n eienskap, ‘n werking of die vrug van die Heilige Gees te gee. Dit is soos Jakobus wat leer:
"... as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word" (Jak. 1:5).
Wanneer die Here Jesus uit die dood opstaan en sy dissipels stuur soos die Vader Hom gestuur het en dan vir hulle sê: "Ontvang Heilige Gees", dan rus Hy hulle toe met iets wat die Heilige Gees nou in hulle lewens kan doen, wat hulle tot nog toe nie geken het nie.
Sedert die sondeval het die Heilige Gees nie in die mens gewoon nie. Die mens is sondig, onrein en onheilig. Die Here Jesus was egter ‘n mens van vlees en bloed, net soos ons, maar Hy het nooit gesondig nie. Daarom kon Hy wat ons met sy bloed aan die kruis gekoop het, ons met daardie bloed reinig sodat sy Gees nou ook in ons kan woon. Hy het Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer (Heb. 9:14). Dit is deur die werk van die Heilige Gees dat Hy hierdie offer kon bring. Meer nog, die Vader het Hom deur die Heilige Gees uit die dood opgewek (Rom. 8:11). Dit is hierdie Heilige Gees, die Gees van sy opstanding wat vandag in elke kind van God woon. So is dit dat Jesus met sy eerste verskyning aan diegene wat Hom volg die opdrag gee: "Ontvang Heilige Gees". Daarmee sê Hy aan hulle om te ontvang die werking van die Heilige Gees wat Hy tot en met die kruisiging nog nie aan hulle kon gee nie. Nou egter kon Hy aan hulle ook die opstandingskrag gee. Dit wat Hy in die Here Jesus gewerk het, kon Hy nou ook in hulle werk. Hulle kon saam met Jesus opstaan en leef (Rom. 6:5, 8:11).
Verstaan u nou waarom die Here Jesus by daardie geleentheid geblaas het? Soos Hy met die skepping van die mens die asem van die lewe in die mens ingeblaas het, so kom hy as die eersteling uit die dood en blaas die asem van die opstandingslewe in hulle in: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook, ontvang hierdie werking van die Heilige Gees".
En watter verskil het die opstandingslewe nie in hulle lewens teweeg gebring nie? Lukas 24:45 sê dat Jesus by dié geleentheid hul verstand geopen het om die Skrifte te verstaan. Onder die Ou verbond het die profete ondersoek, nagevors en nagespeur om te verstaan wat dit was wat die Gees van die Gesalfde deur hulle geprofeteer het aangaande die lyding van die Messias en die Koninkryk wat Hy sou bring (1 Pet. 1:10-12). Hulle kon dit egter nie verstaan nie. Ook Johannes die Doper kon dit nog nie begryp nie. Hy het deur middel van sy dissipels vir Jesus laat vra: "Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?" (Matt. 11:3).
Met sy opstanding uit die dood kon die Here egter die gelowiges se oë open om te verstaan dat Hy moes sterf om op die derde dag op te staan. Dit sodat hulle bekering en vergifnis van sondes in sy Naam kon verkondig aan die ganse mensdom. Hulle moes egter te Jerusalem wag totdat Hy die beloofde Heilige Gees op hulle sou uitstort voordat hulle dit kon doen (Luk. 24:45-49).
Gedurende hierdie tyd terwyl hulle gewag het op die koms van die Heilige Gees, is daar ‘n merkwaardige verandering by hulle te bespeur. Die opstandingskrag van die Here Jesus, soos deur die Heilige Gees in hulle gewerk, lewer wonderlike vrug in hulle lewens op.
Baie wil vandag leer dat wanneer die Heilige Gees oor mense kom, daar krag en eenheid sal wees en ons die Woord sal kan verstaan. Voor die koms van die Heilige Gees sien ons egter sy dissipels alreeds eendragtig bymekaar. Hulle kry nou antwoorde uit die Woord van die Here en leef in gehoorsaamheid aan Hom - en dit alles nog vóór die uitstorting van die Heilige Gees.
Hiervan lees ons in Handelinge 1:13-26.
Vers 13: Hulle voer gehoorsaam die opdrag van die Here Jesus uit om in Jerusalem te wag op die koms van die Heilige Gees.
Vers 14: In die tuin van Getsemané kon hulle nie wakker bly om saam met Jesus te bid nie. Nou volhard hulle eendragtig in gebed en smeking.
Vers 15: Die wispelturige Petrus van vroeër neem nou leiding.
Vers 16: Hulle vind antwoorde in die Skrif op hul vrae aangaande Judas.
Vers 20: Hulle ontdek dat die Skrif sê dat iemand in Judas se plek as apostel aangestel moet word.
Vers 21-22: Hulle kan die kriterium waaraan so ‘n persoon moet voldoen, vasstel.
Vers 23-26: Hulle kon soos volwasse mense twee persone nomineer en een van hulle kies.
Is hierdie mense nie baie verskillend van die dissipels wat ons voor die opstanding van die Here Jesus leer ken het nie? Hulle het vroeër geredeneer oor wie van hulle die grootste sou wees en het almal weggehardloop toe Jesus gevange geneem is. Uit vrees vir die Jode het hulle agter ‘n geslote deur vergader. Nou wag hulle in gebed en smeking op die koms van die Heilige Gees.
Daar is egter meer wat Jesus aan hulle gegee het op die dag van sy opstanding. Saam met die opstandingskrag kom die lewe van iemand wat uit die dood opgestaan het. Dit is iemand wat die dood oorwin het. Voor sy dood, terwyl Hy aan die kruis gehang het, het Jesus vir dié wat Hom verwerp en vermoor het, gebid: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie" (Luk. 23.34).
Vroeëer het ons gesien dat Jesus eers aan Petrus alleen verskyn het en toe later die aand aan die hele groep. Paulus noem ook hoedat die Here Jesus op die derde dag opgewek is "en dat Hy aan Céfas (dit is Petrus) verskyn het; daarna aan die twaalf" (1 Kor. 15:5).
Hoekom het Jesus eers aan Petrus verskyn? Omdat hy die sleutels van die koninkryk het? Omdat hy die leier van die apostels sou word? Nee, as Petrus so ‘n wonderlike leier was, sou hy dit sekerlik kon hanteer as Jesus aan hulle almal saam sou verskyn. Daar is egter ‘n ander rede waarom dit vir Petrus ‘n verleentheid sou wees as die opgestane Jesus skielik aan almal sou verskyn. Hy is die een wat drie dae tevore Malchus se oor afgekap het en net daarna op die vraag of hy dan nie een van Jesus se dissipels is nie, drie maal gesê het dat hy Hom nie ken nie. Die Here Jesus het hom aangekyk en Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween (Luk. 22:61-62).
Die Here Jesus is toe dood en Petrus het geen begrip gehad dat Hy weer sou opstaan nie. Petrus was een van die eerstes by die leë graf, maar het steeds "nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie" (Joh. 20:6-10).
Wat tussen die Here Jesus en Petrus gebeur het toe Hy later die dag aan Petrus verskyn het, weet ons nie. Een ding weet ons wel. Die Opgestane Heiland sou Petrus sekerlik verseker het dat Hy sy berou gesien het. Wat ‘n onvergeetlike ervaring moes dit nie vir Petrus gewees het om so deur die Here Jesus vergewe te word nie?
Daardie aand toe die Here Jesus blaas en aan hulle sê dat hulle die Heilige Gees se lewendmakende krag moet ontvang, het Hy egter nog meer gesê:
As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou (Joh. 20:23).
Saam met die opstandingskrag van die nuwe lewe kry ons dus die genade om andere te bedien met vergifnis asook die gesag om diegene wat oortree te bestraf. Dit wat ons verniet ontvang het, kan ons ook verniet aan andere gee. Petrus sou sekerlik voortaan weet hoe om mense te vergewe. Dit is egter ook soms nodig om diegene wat nie vergifnis vra nie, maar daarop trap, te bestraf. Dieselfde Petrus wat so ‘n groot vergifnis ontvang het, moes dit self ook per geleentheid doen (Lees gerus Hand. 8:18-23).
Ken ons die Opgestane Heiland? Leef ons in gemeenskap met Hom wat aan die regterhand van die Vader sit, of blaas ons op mense om hulle in hipnotiese transe te laat neerstort?
Die Here Jesus het niks hiervan gedoen nie, maar aan sy volgelinge, deur sy Gees, die gesag verleen om die opstandingslewe ook aan ander te gee deur hulle te vergewe en vry te spreek. Ja, daar is ook diegene wat hard aangespreek moet word, wat berispe en bestraf moet word. Doen ons dit? En as hulle berou het, kan ons hulle dan van harte vergewe.
Vergewensgesindheid is die hoof eienskap van die opstandingslewe. Wanneer ons besef dat ons verlore is in ons sondigheid en die Here aanroep, vergewe Hy ons en gee aan ons sy opstandingskrag. So staan ons op in die nuwe lewe. Meer nog, ons word nou instrumente deur wie die Here Homself ook aan ander kan openbaar. Wanneer ‘n mens die opstandingslewe van die Here Jesus ontvang, ontvang jy die gesindheid wat ten spyte van wat andere aan jou mag doen, kan bid:
"Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie".
Ons het die verspreidingsregte van die Amerikaanse Maatskappy Eternal Productions se videos bekom. Ongelukkig is daar reeds groot hoeveelhede onwettige kopieë van hierdie videos deur verskillende sogenaamde Christen video maatskappye en bedieninge in Suid-Afrika versprei. Dit is lae gehalte kopieë. Kérugma Produksies is die alleenverspreider van die maatskappy se videos en DVD's in Suidelike Afrika. Ons het ‘n paar jaar gelede, deur ‘n spesifieke ooreenkoms, reeds twee van die videos versprei. Sedertdien het ons nou na baie pogings die regte vir die verspreiding daarvan bekom. Dit behels die koop van die meester asook ‘n bedrag tantieme per kopie wat ons verkoop. So dra elke koper van so ‘n video by tot die bestryding van die vervaardigingskoste van die produkte. Diegene wat onwettige kopieë versprei of daaraan meedoen, doen nie net sonde deur die gehalte daarvan te verlaag en die trefkrag daarvan te verswak nie, maar keer dat dié wat alles insit om die boodskap uit te kry, hul uitgawes kan bestry en kan voortgaan om nog meer produkte te vervaardig. Baie koop hierdie verswakte produkte sonder om te besef dat hulle eintlik ingeloop word.
Wanneer u na een van Eternal Productions se videos of DVD's kyk, vra ‘n bietjie vir uself af hoe lank u dink dit vir die vervaardiger daarvan, Jim Tedlow, geneem het om dit te maak. En hoeveel sou u reken kos so ‘n produksie? Miskien moet elke Christen wat iewers ‘n vervalste kopie van ‘n video gekry of gekoop het, dit terugneem na waar dit vandaan kom en net sê hulle wil dit nie meer hê nie.
Sou ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie so ‘n kopie in u huis kry, word nie u alleen nie, maar ook die boektafel waar u dit gekoop het, asook die persoon wat dit aan hulle verskaf het (die dupliseerder daarvan), elk beboet met R5 000-00 of 3 jaar tronkstraf per kopie wat gevind word. Dit is na wat ons verneem, die minimum straf. Nog meer: As ons as produksiehuis bewus raak van iemand wat onwettige kopieë maak, help versprei of besit en ons meld dit nie by die owerhede aan nie, is ons tegnies gesproke ook aandadig. Is mense wat aan dié dinge meedoen regtig kinders van die Here? Wat het dan geword van die rein gewete waarmee ons die Here moet dien?
Sedert ons Eternal Productions se eerste twee videos Countdown to Eternity en A Question of Origin destyds versprei het, was daar baie bestellings daarvoor. Ons het steeds die meesters gehad, maar ons het nie een kopie daarvan versprei nie. Alhoewel ons gebrand het om dié boodskappe daarvan te sien uitgaan, het ons maar net bly wag totdat ons nou die offisiële regte verkry het. Vandag kan ons almal in die oë kyk en is ons gewetens skoon want daar is niks wat ons Jim Tedlow skuld of voor die Here aan skuldig is nie. Nou kan ons die videos met vrymoedigheid vir u aanbied. Die derde een Messages from Heaven handel oor ‘n baie aktuele saak. Dit toon hoedat derduisende "Christene" stroom na plekke waar die sogenaamde Moeder Maria aan hulle verskyn, hoe olie op hulle val en hulle silwer hangertjies in goud verander, ens. ens. Dit is niks anders as spiritisme waar die geeste van afgestorwenes geraadpleeg word nie. In die lig van die gewildheid van spiritistiese TV programme soos Crossing Over with John Edward, ens. is dit nodig om hierdie video te kry en ook aan andere te toon.
Feit van die saak is, u naam is steeds op ons adreslys. Is ons naam op u gebedslys? Ons sou dit so graag so wil hê, want ons het baie gebedsondersteuning nodig. Daar is so baie dinge wat moet gebeur. Video's wat verfilm moet word, redigeer werk wat lê en wag, DVD's wat gemaak moet word en elke dag kom met nuwe besluite of ons dié of daardie gaan doen of nie. Intussen is daar geen finansies vir meeste van die dinge nie en weet ons dat die tyd uitloop. Daar is so baie wat gedoen moet en kan word, ook in ander tale. Dink net aan die baie tale in Suid-Afrika alleen. En die meerderheid van die mense in die wêreld op hierdie oomblik het nog nooit van Jesus Christus gehoor of dat Hy aan die kruis vir hulle gesterf het nie.
Ons maak staat op u gebede. Daarsonder kan ons nie dit wat ons moet doen, doen nie.
Die langverwagte DVD-era het uiteindelik aangebreek. Sommige mense het al laat weet dat hulle nie meer ons videos kan bestel nie, want hulle het nie meer 'n videomasjien nie. Ander weer skrik as hulle van DVDs hoor: AMoet ons nou 'n nuwe masjien koop?@ U hoef nie nou 'n nuwe DVD-masjien te koop nie, maar moet asseblief nie weer 'n videomasjien koop nie. Soos wat CDs die ou langspeel plate vervang het, net so is DVDs besig om die gewone VHS videos te vervang. Dit beteken egter nie dat u nie langer Kérugma se videos op die gewone VHS video bande sal kan kry nie. Net soos daar 'n oorgangstydperk was waartydens nuwe vrygestelde CDs ook steeds op langspeelplate uitgereik was, net so sal ons so lank as moontlik steeds die videos op VHS bande ook beskikbaar hê. Ons reik tans alle nuwe videos tegelykertyd op VHS bande en op DVD skywe uit. Intussen is ons besig om so vinnig as moontlik een vir een die bestaande videos ook op DVD vry te stel. Dit is 'n tydsame proses, maar die resultate is baie goed. Soos wat die klankgehalte van 'n CD beter is die van 'n plaat, so ook die beeld en klank van 'n DVD. Dit is vir ons wonderlik om die resultaat te sien. Dit was altyd frustrerend om na 'n VHS band van een van ons videos te kyk. Alhoewel nie sleg nie, het 'n mens net altyd gewens almal van u kon eerder sien hoe die video op die meester band lyk. Nou kan u! Alhoewel 'n DVD tegnies gesproke nie dieselfde gehalte kan weergee as die meester DVCAM band nie, lyk dit presies dieselfde. Die menslike oog kan basies nie meer sien as dit wat die DVD skyf toon nie. Derhalwe is dit vir ons lekker om ons videos nou so aan u beskikbaar te stel. DVD gehalte is basies te vergelyk met DSTV.
Goeie nuus is ook dat DVD-masjiene, alhoewel aanvanklik duur, nou dieselfde as video masjiene kos. Daar is 'n wye verskeidenheid DVD-masjiene en u kan steeds 'n baie duur een koop. Dit hang van u sak af, maar in sekere opsigte mag die goedkoopste masjien dalk vir u die beste wees. U sien, daar is DVD skywe wat op groot maat vervaardig word en wat op alle DVD-masjiene gespeel kan word. Baie DVDs, soos ook die van Kérugma Produksies, word egter nie op groot maat gedruk nie. Dit is eers met 'n oplaag van vyf honderd of meer op 'n keer dat ‘n meester DVD oorsee gestuur word om gedruk te word. Ons DVDs word een vir een geskryf. Sulke geskrewe DVD's kan nie deur alle DVD-masjiene gelees word nie. Veral die duurder masjiene kan probleme daarmee gee. Dit is interessant, maar die goedkoopste van die masjiene gee die minste probleme. Waarna u moet kyk, is dat die DVD-masjien wat u koop, geskrewe of Awritable@ DVD skywe kan lees. Die heel beste manier om seker te maak is deur so 'n DVD saam te neem winkel toe en te vra dat hulle die DVD op die masjien speel sodat u kan sien of dit werk. Volgens wyd uitgebreide toetse kan sowat 95% van alle DVD spelers in die wêreld die tipe DVDs wat Kérugma maak, speel. Wanneer u eendag beplan om 'n DVD-masjien aan te skaf, mag dit 'n goeie idee wees om eers een van ons DVDs te bestel en daarmee seker te maak dat die masjien wat u koop, dit kan speel.
Net soos CDs duurder as plate is, so ook is DVDs duurder as VHS bande. Daarom kan dit miskien goed wees om eers 'n DVD of twee te koop voor u die DVD speler koop. Dan hoef u nie DVDs op dieselfde dag saam met u masjien te koop nie. Soos ons gesê het, dit is nie nou al nodig om 'n DVD-masjien te koop nie. Hou asseblief u video masjien so lank as moontlik. Selfs al sou u reeds 'n DVD speler besit, gaan u steeds VHS bande kry wat u wil kyk. Die eintlike gedagte is dat u u videomasjien hou tot dit nie meer werk nie en u dit dan moet vervang. Boonop is DVD-masjiene op die stadium nog nie daartoe in staat om op te neem nie. U kan slegs DVDs daarop speel. 'n Mens benodig dus steeds 'n videomasjien vir die dinge wat jy graag wil opneem.
Kérugma wil hiermee ook graag vir al ons ondersteuners die volgende bied. Wanneer u wel ‘n DVD speler kry, mag die behoefte ontstaan om van u eie video's oor te dra op DVD om dit so te bewaar vir die toekoms of om dit maar net op u DVD speler te kan speel. Ons kan dit vir u teen ‘n vasgestelde tarief doen. Skakel maar net vir meer besonderhede en ons kan dit vir u reël. Dit geld natuurlik nie vir amptelike videoproduksies met kopiereg nie.
Soos met die Kérugma Video Klub kan mense nou by die Kérugma DVD Klub aansluit. Die minimum maandelikse donasie is ongelukkig dubbeld dit wat vir die Video Klub geld. Huidige lede van die Video Klub kan enige tyd oorskakel na die DVD Klub.
Ons is veral bly dat die DVD-era uiteindelik aangebreek het. Van die begin af is ons kamera en ander apparaat aangeskaf met die oog daarop. So kan die Evangelie boodskap nou eindelik op hierdie gehalte uitgedra word. Bid asseblief saam dat die video's en DVD's by die hele verloregaande mensdom kan uitkom.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/