Posbus 1367, KUILSRIVIER 7579, SUID-AFRIKA Tel:+27(0)21 903 1901 Faks:+27(0)21 906 2637
E-Pos: info@kerugma.org.za Web: www.kerugma.org.za
| Volume 6.2 | Kérugma®Bulletin 'n Nuusbrief aan die oorwinnaars in Christus |
September 2004 |
|---|
| "Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in ... en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie" (Luk. 14: 21-24). |
- Ignatius A le Roux
Dit is interessant watter dinge 'n blywende indruk op 'n kind se gemoed kan maak. Iets wat op my lewe 'n stempel afgedruk het, is die verhaal van David Wilkerson soos wat hy dit in sy boek THE CROSS AND THE SWITCHBLADE vertel. Ek was nog 'n kleuter toe my pa die storie vir ons as kinders vertel het. Ons was bederf deur 'n pa wat die wonderlikste slaaptydstories kon vertel.
Die storie wat elke aand vervolg het, was die keer egter iets heel anders. Dit het niks met Ollie die Olifant en sy maat die renoster daar op die plaas te doen gehad nie. My pa, ds. Paul le Roux, wat destyds 'n sendeling in Afrika was en later leraar in die moederkerk geword het, se hart was by dit wat die Here op daardie stadium besig was om in die agterbuurte van New York te doen. So het hy dan elke aand na huisgodsdiens die storie van THE CROSS AND THE SWITCHBLADE vertel. Ons het aan sy lippe gehang en baie vrae gevra.
Verder onthou ek hoedat ons, in die jare daarna, elke keer wanneer ons in Kaapstad gekom het, by die koffiekroeg van Pietie Victor se straatwerk ingeloer het.
Later, gedurende my diensplig opleiding te Simonstad, kon ek toe persoonlik betrokke raak by die werk. En toe kom die geleentheid tydens my laaste twee jaar op kweekskool. My vrou Marina het 'n voltydse pos by Straatwerk gekry en ons kon al ons aandag daaraan wy. Dit was 'n wonderlike vormingstyd vir al die jare van ons bediening vorentoe.
Dit alles was egter, glo ek, deel van die vrug op 'n David Wilkerson se gehoorsaamheid aan die stem van die Here toe Hy hom gelei het om New York toe te gaan op daardie eerste onvergeetlike tog. 'n Verhaal wat nou nog in elke geestelike boekwinkel verkoop en wat later verfilm was. Ek onthou hoe my pa die film van THE CROSS AND THE SWITCH-BLADE meermale in die gemeente vertoon het.
Nou kan u verstaan waarom ek onlangs opgewonde geraak het toe ek gehoor het dat dié David Wilkerson Kaapstad sou besoek. Die drie-en-sewentig-jarige prediker sou kom om saam met sy seun, Gary, 'n leraarskonferensie te hou. Die dag voor dit sou hy ook optree tydens 'n opelugbyeenkoms waar hy met mense wat onder die bendegeweld in die Kaap deurloop, kon praat.
Dit het nogal oorreding gekos om die nodige toestemming te kry om die byeenkomste te kon verfilm. Eers nadat die komitee wat die reëlings getref het, voorbeelde van ons video's te siene gekry het, was hulle tevrede. Deur die jare was hulle telkens teleurgesteld deur die gehalte van video's wat gemaak is van geleenthede wat hulle gereël het. Voorts was hul grootste probleem dat hulle geen begroting gehad het vir die afneem van die byeenkomste nie. Hulle was baie vestom toe hulle hoor dat Kérugma 'n geloofsonderneming is wat op die Here alleen aangewese is vir sy uitgawes. Waar daar geen fondse beskikbaar was nie, kon die video's dus steeds gemaak word, met die vertroue dat die Here deur sy kinders daarin sou voorsien.
Ons was 'n hele span wat die voorreg gehad het om onder leiding van Hennie Groenewald van die Kaapse produksiehuis, Edit Café, die geleentheid te verfilm.
Was dit nie 'n voorreg om David en Gary Wilkerson te kon ontmoet nie? Hulle, sowel as Gary se vrou Kelly en David se Chinese sekretaresse, het deurgaans op almal wat met hulle saamgewerk het, 'n blywende indruk gemaak. Pastoor Barry Isaacs, een van die Uitvoerende Komitee lede wat alles gereël het, het teenoor my getuig watter effek hierdie mense se besoek op hulle almal gehad het. Hulle is gewoond om sulke byenkomste te reël, maar dit is iets heel anders om met mense te werk wat nie daarop uit is om te kyk hoeveel geld hulle uit alles en almal kon maak nie, maar wat eerder gekyk het watter bydrae hulle kon lewer. Die een ding wat my opgeval het, is die nederigheid en gebrokenheid by die Wilkersons. Beide David en Gary is maar net normale mense wat nie te hoog of te goed vir enigiets is nie.
Dit laat my dink aan iets wat ek eintlik eerder nie sou wou noem nie. Daar is egter sommige van u wat gaan hoor van allerande kritiek teen die Wilkersons, daarom hierdie verduideliking. 'n Paar jaar gelede het ons die ervaring gehad met iemand wat ons afgeneem het, wat wilde en soms selfs ongegronde beweringe oor andere maak. Dit het ons destyds genoodsaak om selfs 'n skriftelike verklaring daaroor uit te reik. Hierdie verklaring kan steeds van ons aangevra word. Daarin het ons onder andere getoon hoedat hierdie persoon 'n direkte aanhaling maak uit 'n preek wat op kasset is. Hy haal dit aan asof dit net so op die kasset van die preek wat hy kritiseer, sou voorkom. Nadat ons na die kasset geluister het, het ons besef dat die prediker wat hy probeer diskrediteer, nie eers naastenby so iets gesê het nie. Die woorde wat hy "aangehaal" het, het nêrens op die kasset voorgekom nie.
Nou het ons e-pos ontvang van iemand wat gehoor het dat ons David Wilkerson en sy seun Gary gaan verfilm. Aangeheg daarby was 'n brief deur dieselfde persoon waarin hy nou ook teen David en Gary se bediening waarsku.
Al wat ons wil sê is dat ons bewus is van dit wat hy oor David en Gary beweer, maar dat ons nie met alles wat hy beweer kan saamstem nie. Ons wil u hiermee nooi om maar self na die DVD's en video's van David en Gary Wilkerson te kyk en self te besluit na wie u wil luister.
My persoonlike opinie is dat hierdie kritiek op die bediening van David en Gary Wilkerson ontydig, onsmaaklik en onvanpas is.
Stem ons dan met alles wat David en Gary leer, saam? Natuurlik kan ons nie op so 'n vraag 'n antwoord gee nie. Dit sou beteken dat ons eers al die boeke wat hulle geskryf het moes lees en na al hul preke moes luister. Ons was nog nooit by hul kerk in New York nie, gevolglik weet ons maar min van alles wat hulle doen, glo en leer. Dit is nie moontlik dat Christene in alle opsigte met mekaar sal saamstem nie. Dit is eerder normaal dat Christene met mekaar oor sekere dinge mag verskil.
Dieselfde geld vir almal wat ons afneem. Dit sal sekerlik onmoontlik wees om eers elke persoon se hele leer te ondersoek en eers as ons 100% met hulle kan saamstem, te besluit of ons video's en DVD's van hulle preke kan maak. As dit die kriterium moet wees sal ons net onsself kan afneem en net ons eie video's kan maak. Die Woord, soos deur baie ander verkondig, sou dan by niemand kon uitkom nie.
Natuurlik het 'n uitgewer soos Kérugma Produksies sekere voorbehoude. Daar is egter perke aan ons vermoëns om alles te weet wat 'n sekere persoon glo en leer. Ons doen ons bes om te kyk of 'n persoon suiwer is wat die basiese Christelike leer en lewe betref, en dat hy nie een of ander kultiese oortuigings het nie. Solank dit vir hulle daaroor gaan om die Woord uit te lê, Christene vir hulle dienswerk toe te rus en siele te wen, dan doen ons graag wat ons kan om dit wat hulle leer weer by soveel as moontlik ander mense uit te bring.
Kérugma is nie aan enige kerk verbonde om 'n spesifieke kerk se eie teologie te verdedig nie. Dit gaan vir ons om soveel hulpmiddels as moontlik daar te stel om die kinders van die Here oral te ondersteun en te help in die uitvoering van die bediening wat die Here aan hulle gegee het, al is dit net dat hulle so 'n video aan iemand anders sal leen.
'n DVD Klublid in Centurion, Kosie Snyman, vertel byvoorbeeld hoedat hy die DVD van David Wilkerson se opelug optrede by die Athlone Stadium aan 'n dame by sy werk geleen het. Sy het dit aan haar predikant in Lenasia gegee. Nadat hy dit aan 'n groepie in sy gemeente gewys het, het hulle gevra dat hy dit weer moet wys. Hulle het almal vriende wat hulle wil nooi om dit ook te sien. Die vriende wou dit toe almal leen om dit weer aan andere te wys. Die predikant het nou laat weet dat daar alreeds dertig mense hierdeur tot bekering gekom het.
Hierdie is maar een voorbeeld van baie soortgelyke verhale. Dit is alles moontlik weens u gebedsondersteuning en die donasies wat u aanstuur. Baie dankie daarvoor. Sonder dit kan hierdie werk nie gedoen word nie. Ons maak staat daarop. Ons is veral baie afhanklik van u gereelde gebede. Bid asseblief vir die doeltreffende verspreiding van die video's en DVD's. Bid asseblief ook dat die Here deur sy Heilige Gees die lig van die Woord diep in die harte van die mense sal inskyn waar hulle ookal daarna kyk (2 Kor. 4:6).
Ons versprei die video's en DVD's van David en Gary Wilkerson met groot vrymoedigheid en met die vertroue dat u dieselfde seën daaruit sal put as ons. Mag die Here dit in u en baie andere se lewens gebruik sodat deur u lewe des te meer siele die koninkryk sal ingaan en die groot maaltyd sal kan smaak.
Daar is 'n rede waarom die man in die gelykenis van die teksgedeelte hierbo sy diensknegte uitgestuur het om die ongenooide armes, verminktes, kreupeles en blindes in te bring na die maaltyd wat hy berei het. In die kultuur van destyds moes die genooides vooraf bevestig het dat hulle sou gaan. Daar was nie vrieskaste en ander moderne toerusting nie. Die persoon wat so 'n banket wou gee, moes op die regte tyd die vee laat slag en alles in gereedheid bring. Wanneer alles gereed was, is boodskappers gestuur om die genooides te laat haal. In die gelykenis het elkeen op daardie tydstip 'n ander "geldige" verskoning gehad. En al die voedsel op die tafels? Dit sou nou verlore raak. Verstaan u waarom die Here sê dat die man nou diegene in die lanings en op die paaie wou dwing om in te kom?
Ek glo daar is 'n belangriker rede vir sy angstigheid as net dat hy nie wou hê dat die voedsel verlore moes raak nie. Wanneer 'n mens in daardie kultuur 'n maaltyd saam met iemand nuttig, beteken dit dat jy gemeenskap met hom het. 'n Verskoning om nie saam te eet nie, is nie maar net onbeskof nie.
Daarmee verklaar jy dat die persoon benede jou is en dat jy hom minag. Dit is nie net 'n klap in sy gesig nie, maar ook 'n verklaring dat hy jou vyand is. Die persoon wat die maaltyd gereël het, het behoefte gehad aan die samehorigheid en gemeenskap van diegene wat hy genooi het. Daarom nooi hy nou diegene wat nooit genooi sou word nie. Niemand het ooit op hulle gelet nie. Hy wil egter 'n gelukkige klomp mense saam met hom aan tafel hê, daarom dwing hy hulle as't ware in. Dit is ook die rede waarom ons verder lees dat al die tollenaars en sondaars die gewoonte gehad het om na Hom te kom en na Hom te luister (Luk.15:1). Maar Hy stel dit baie duidelik dat: "nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie" (Luk. 14:24).
In Openbaring 19:9 lees ons: "salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam". Is jy seker jy is een van die wat daar gaan aansit? En hoeveel andere is daar wat deur jou genooi word om ook daaraan deel te neem?
Meeste mense glo hulle gaan hemel toe. Alhoewel hulle nou nie volmaak is nie, reken hulle hulle is tog darem nie so sleg dat die Here hulle sal wegwys nie. Dit is tog net die een of miskien twee dinge in hulle lewe wat nou nie so heeltemal reg is nie. Maar dit weeg so min in vergelyking met al die dinge in hul lewens wat reg is, dat hulle seker is dat die Here dit sal oorsien. Is Hy dan nie 'n genadige God vol liefde nie? Hy sal hulle tog sekerlik nie hel toe stuur nie.
Nou is daar 'n DVD/Video wat ons voor 'n duidelik toets stel. Dit is gemaak deur dieselfde maatskappy wie se DVD's/Video's COUNTDOWN TO ETERNITY, A QUESTION OF ORIGINS en MESSAGES FROM HEAVEN ons versprei, naamlik Eternal Productions. Die persoon wat hierdie produksies maak is die elektriese ingenieur Jim Tedlow. Hy het goed opgang gemaak in die maatskappy waarvoor hy gewerk het, tot hy tot bekering gekom het. Na sy bekering het hulle hom egter gou laat verstaan dat hulle nie 'n Christen in die maatskappy soek nie. Hy het toe sy eie besigheid begin, met die doel dat dit hom finansieel sou dra totdat hy in staat sou wees om video's wat die evangelieboodskap uitdra, te produseer. Die produksiekoste moet dan gedelg word deur die tantieme op die verkope daarvan. Dit kan verseker dat hy sal kan voortgaan om nog meer sulke produksies die lig te laat sien.
Nou het die DVD/video THE GOOD TEST die lig gesien. Dit bestaan uit onderhoude wat hy met 'n wye verskeidenheid mense uit die samelewing gevoer het. Almal van hulle antwoord positief dat hulle hemel toe sal gaan. As u vandag te sterwe kom, waar gaan u die ewigheid deurbring?
Jim hou dan maar net een of twee van die gebooie van die Here aan die mense voor. "Het jy al ooit 'n leuen vertel?" "En wat maak dit van jou?..."
Hoe ver skiet jý tekort aan God se standaard?
Hierdie DVD/video is maar net 17 minute lank, maar 'n kragtige instrument vir evangelisasie. Miskien moet jy 'n ekstra kopie daarvan bestel om aan jou kerk se jeuggroep te gee. Ons seun, Rudolf, het al 'n paar daarvan aan sy klasmaats op skool gegee. Een van hulle se ouers het nou die dag spesiaal dankie gesê vir die video. Hulle as gesin wil dit weer 'n keer kyk.
Bid saam dat die DVD/video THE GOOD TEST oral sal uitkom waar die Here dit nog in hierdie laat uur kan gebruik.
Ons bid vir die nodige fondse om dit baie wyd en effektief te kan versprei.
Kopiereg © 1999 Kérugma®
Produksies. Alle regte voorbehou.
Posbus 1367,
KUILSRIVIER, 7579 SUID-AFRIKA Tel: +27 (0)21 903-1901 Faks: +27 (0)21
906-2637
E-Pos: info@kerugma.org.za;
http://www.kerugma.org.za/