Die woord kérugma kom van die Grieks vir "die boodskap wat verkondig of geproklameer word".

Kérugma Produksies


Geloofsonderneming

Kérugma Produksies is 'n geloofsonderneming wat ten doel het om multimedia produksies, soos videos en DVDs, oor verskeie onderwerpe te vervaardig. As geloofsonderneming is Kérugma Produksies van die Here afhanklik vir al sy behoeftes. Ons vertroue is dat Hy wat hierdie bediening begin het, dit in stand sal hou deur die vrywillige offergawes van sy kinders.

Skrifverklarende videos

Kérugma Produksies het ten doel om videos oor verskeie onderwerpe te vervaardig, waaronder Skrifverklarende videos. Daaronder word bedoel videos waarin daar deur middel van die nodige beeldmateriaal volledig getoon word waarvan die Bybel praat. Die oogmerk is om hierdie videos in so 'n groot verskeidenheid tale as moontlik beskikbaar te kan stel.

Finansies en pryse van produkte

As geloofsonderneming poog Kérugma Produksies om die pryse van sy produkte so laag as moontlik te hou sodat dit deur soveel as moontlik mense aangeskaf sal kan word.

Die prys van die videos delg byvoorbeeld nie die produksiekoste daarvan nie. Die produksiekoste vir die meesterband van 'n professioneelgeredigeerde video, word bereken per minuut van die totale tydsduur daarvan. So 'n produksie kos normaalweg etlike duisende rande per minuut. U kan vir uself uitwerk wat die koste vir die vervaardiging van 'n vollengte video van 180 minute moet beloop. Indien hierdie koste by die pryse van die videos ingesluit moes word, sou baie dit nie kon bekostig nie. Derhalwe word die prys van die videos so bereken dat dit slegs die koste van die produk self delg. Dit word dus so goedkoop as moontlik versprei.

Die vertroue is dat elkeen wat seën ontvang deur die kyk daarvan en deur die Here daartoe opgewek word om die werk finansiëel te ondersteun, Hom gehoorsaam sal wees (1 Kor. 9:7,11&14).

Administrasie van Kérugma

Naas le Roux is die Direkteur van Kérugma Produksies. Beide hy en sy vrou Marina, het die graad M.Th. aan die Teologiese Seminarium van die Universiteit Stellenbosch behaal.