VIDEOVERSPREIDING IN SUID-AFRIKA

Die stigting van 'n geestelike videoklub

Uittreksel uit die Bulletin van Maart 2002

Liewe Kérugma Ondersteuner

Deur die genade van die Here Jesus Christus het ons by die plek gekom waar ons ervaar dat dit tyd geword het om 'n geestelike videoklub te stig. Ons begeerte is dat elkeen van u hierdie brief biddend sal lees en indien moontlik, sal aansluit by die klub. Dit is reeds 'n geruime tyd op my hart om 'n slag openhartig met u te praat oor sekere aspekte rakende videoverspreiding in Suid-Afrika. Ons ervaring is dat ons video's so baie bied wat 'n mens graag wil hê deur elke mens gesien moet word, dat ons u wil vra om ons te help daarmee. Hoeveel van Kérugma se video's het u al gesien? Ons wil graag hê dat u dit alles moet sien. Maar nie net u nie, ook u familie, vriende en bure.

Ons weet dat as ons die video's oor 'n tydperk heen een vir een as 'n geskenk aan u sou stuur, die kans goed sou wees dat u daarna sou kyk. U sien: Uit die ondervinding met videoverspreiding die afgelope jare weet ons dat wanneer jy aan iemand 'n boek as geskenk gee, daar maar 'n geringe kans is dat die persoon dit sal deurlees. Dit hang af wie die persoon is en of dit die geskikte boek op die regte tyd is. Moontlik lees hy net 'n gedeelte daarvan of selfs net die voorwoord. 'n Mens weet nooit nie. Maar met 'n video is dit anders. Die ondervinding leer dat die meeste mense wat 'n video persent kry, daarna kyk.

Die waarde van 'n video bo dié van 'n boek is baie groot. Dit wat 'n mens lees is van onskatbare waarde. 'n Feit is egter dat die effek van dit wat die mens tegelykertyd hoor en sien, soos op 'n video, tot tien keer hoër is.

Dit bring ons egter by 'n ander probleem, en dit is die koste daaraan verbonde om 'n hoë gehalte multimedia produk soos 'n video of DVD daar te stel.

Voor ons daarby kom wil ek net eers 'n vergelyking tref tussen die pryse van sekere items, sodat u kan verstaan waarom ons altyd sê dat die koste van die video's, soos u dit by ons bestel, nie die produksiekoste daarvan insluit nie.

Hoeveel betaal u vir 'n goeie geestelike CD? 'n Feit is dat CD's in Suid-Afrika deurgaans duurder is as video's. Maar dit kos vyf keer meer om so 'n video te maak. Wanneer ons ons video's byvoorbeeld by 'n video ateljee sou laat produseer, is die kwotasie daarvoor so hoog dat dit totaal onmoontlik sou wees om dit te laat doen.

Die verhouding tussen die pryse van CD's en video's op die oorsese mark is meer realisties. Pryse van geestelike CD's is ongeveer US$10.00 stuk terwyl video's tot US$20.00 of meer kos.

Waarom verkoop ons dan in Suid-Afrika ons video's so ver onder prys? Daar is veral twee faktore wat die prys beïnvloed. Die een is die hoeveelheid video's wat in 'n land soos ons s'n verkoop. Die ander is 'n spesifieke situasie wat ontstaan het, klaarblyklik juis omdat die oplaag wat versprei word so klein is.

Die omstandighede waardeur die pryse van geestelike video's relatief laag gehou word, het ontwikkel deurdat 'n sekere maatskappy wat al vir jare goeie Christelike video's geproduseer het, die produksiekoste daarvan onder andere deur borge gefinansier het.

Op dié wyse kon hulle video's vrystel teen die prys wat basies net die band, die dupliseerkoste, die omslag, etikette en houer, asook die verspreidingskoste verhaal het. So het 'n onrealistiese lae prys vir video's op die Suid-Afrikaanse mark ontstaan. Elkeen wat sedertdien die mark sou betree, sou hulle video's nie kon verkoop as dit nie teen hierdie lae pryse was nie. Die probleem wat hieruit ontstaan het is dat enigeen wat geestelike video's wil produseer, die produksiekoste elders vandaan moes kry. Kérugma vertrou die Here om in mense soos u, wat reeds van ons video's gesien het, se harte te werk om in hierdie behoefte te voorsien.

Die voordeel van die lae pryse is dat die video's meer toeganklik is vir almal. Daar is egter ook 'n nadeel en dit is dat baie video's nou nie in Suid-Afrika geproduseer of versprei kan word nie. 'n Vriend van ons in Engeland wou byvoorbeeld een van sy video's in Suid-Afrika versprei. Sy gedagte was om dit teen die, soos hy gereken het, baie billike prys van R200.00 beskikbaar te stel. Na beraadslaging met verskillende persone het hy toe besluit om dit teen R100.00 stuk te versprei. Die Suid-Afrikaanse verkope daarvan werk dus vir hom op 'n verlies uit. Dit gaan egter vir hom daarom dat mense die video moet sien. So ook vir ons met die video's wat ons versprei.

Daar is egter baie goeie oorsese produksies wat ons graag wil aankoop en versprei. Naas die pryse van die meesterbande, wat reeds hoog is, is dit egter normaal dat US$7.00 (± R80.00) tantieme per kopie oorbetaal moet word aan die verskaffer oorsee. Dit maak dit dan natuurlik onmoontlik om die videoband, houer, omslag en dupliseerkoste by te voeg en die video in Suid-Afrika te bemark.

Ons noem al hierdie dinge net om vir u 'n klein kykie te gee in die dilemma waarin ons ons bevind. Gepraat van die lae volumes wat in Suid-Afrika verkoop, dan moet daar net genoem word dat 'n video wat betref sy trefkrag baie effektiewer is as byvoorbeeld 'n boek. 'n Voorbeeld hiervan is die video van Kérugma wat deur die jare ons besverkoper was, naamlik die getuienis van ds. Etienne Maritz Die Here het my verlos van tipiese Toronto "Blessing" ervaringe. Toe die video destyds gemaak is, het ons 1000 omslae laat druk.

Die video het goed versprei, selfs 'n paar kopieë oorsee. Oral het 'n mens daarvan gehoor. Die trefkrag van so 'n video is geweldig. Een predikant het vertel dat hy in sy gemeente liewer nooit moet toelaat dat een van sy dienste langer as 'n sekere tyd duur nie. Hy sou die video toe in drie dele oor 'n tydperk van drie Sondagaande wys. Toe hy die video-projektor aan die einde van die eerste sessie afskakel, het die gehoor tot sy verbasing daarop aangedring dat hy die res ook moet wys. So het almal die aand die hele video van 2 uur en 30 minute gekyk!

Sy vrou het die video die volgende dag aan 'n persoon by 'n universiteit geleen. Die studente het dit gekyk asook verskeie skole en koshuise in daardie stad. So gebeur dit meermaal dat ons verneem hoedat 'n video vir 'n groot verskeidenheid mense getoon word. Daaruit weet ons hoe 'n effektiewe evangelisasie medium dit is.

Sowat 'n jaar gelede vra ds. Maritz ons toe interessantheidshalwe of ons enige idee het hoeveel kopieë van die video deur die jare verkoop het. Waar hy ookal kom en gaan, hoor hy van die video. 'n Predikant op 'n bekende groot dorp het byvoorbeeld vir hom gesê: "Etienne, jy hoef nie self op ons dorp te kom preek nie. Almal het jou video gesien."

Groot was sy verbasing om te hoor dat ons nog steeds 800 van die oorspronklike 1000 omslae oor het. Geestelik gesproke was die produsering van die video 'n groot sukses. Ons kan die Here maar net dank daarvoor. Fiansieël gesproke is dit egter 'n ander verhaal.

Interessant was sekere feite wat na vore gekom het uit 'n gesprek met iemand wat verbonde is aan die maatskappy wat hierbo genoem is. Hulle het byvoorbeeld 'n reeks video's gemaak van 'n bekende Amerikaanse prediker wat Suid-Afrika besoek het. Kan u raai hoeveel kopieë van die video's van die reeks hulle laat maak het? Die antwoord was: "Nee Naas, ons het 200 stelle van die reeks gemaak." Of hulle beplan om wanneer die 200 verkoop is nog te maak. Nee, hulle verkoop nooit soveel van 'n video nie.

Skets dit vir u iets meer van die situasie in Suid-Afrika? Persoonlik glo ek ons kan baie meer van 'n video in Suid-Afrika versprei. Daar is nog baie mense wat nie van die video's weet nie.

Ons wil u vra of u nie moontlik meer direk betrokke wil raak daarby om ons te help om die video's te maak en te versprei nie. Ons leef in 'n tyd en 'n dag waarop elke moontlike geleentheid aangegryp moet word om die Woord van die Here uit te dra.

Daar is mense wat sê hulle wil nie betaal vir 'n video wat hulle net een of twee keer gaan kyk nie. 'n Feit is dat dit nodig is om 'n video meermale te kyk. Die eerste keer mag dit 'n goeie indruk maak, maar daar is baie wat 'n mens eers raak sien wanneer jy dit die tweede of derde keer kyk.

Voorts is dit sekerlik nie nodig om 'n video net vir jouself te hou nie. Is daar nie iemand aan wie jy dit kan leen of selfs kan gee wanneer jy dit klaar gekyk het nie?

Hierdie video's maak baie goeie geskenke uit. Jy kan baie seker wees dat iemand vir wie jy dit gee, dit sal kyk. Voor jy weer 'n boek of CD vir iemand gee, maak seker of een van Kérugma se video's nie dalk ook 'n goeie geskenk sal wees nie.

'N KÉRUGMA-VIDEO IN ETHIOPIË

Onlangs skakel 'n dame om te sê dat haar man ter wille van sy werk Adis Ababa toe moes gaan. Hulle het toe pas die video Highways to Zion gekyk en was so opgewonde daaroor, dat hy besluit het om dit saam te neem. Hulle het baie gebid dat die Here sou gee dat dit nie in sy bagasie ontdek sou word nie. Met vrees en bewing het hy dit toe in Ethiopië ingeneem.

Daar ontmoet hy toe 'n Christen en gee die video vir hom. Nou het hulle 'n brief van hierdie Christen ontvang. Hy skryf dat hy die video alreeds in verskeie kerke getoon het en dat daar ongelooflike reaksie daarop is. Hulle het nog nooit soveel lering in hul kerke gekry as deur hierdie een video nie!

DIE GELEENTHEID

Hiermee wil ons graag aan almal van u die geleentheid bied om ons te help om die evangelie van Jesus Christus deur video's uit te dra. Gemeet aan die man-ure, die gesofistikeerde digitale apparaat soos die redigeerstasie, die kamera asook ander deskundige hulp, beloop die produksiekoste aan hoë gehalte video's geweldige bedrae. Alhoewel ons deur die genade van die Here reeds baie van hierdie kostes kon sny deur self baie te doen, het ons steeds u as kinders van die Here se hulp en ondersteuning met elke projek nodig. Daarsonder kan ons dit nie end uit deurvoer en die boodskap op 'n behoorlike wyse versprei nie. Wil u dit nie oorweeg om hierdie bediening deur u gebede, maar ook deur 'n gereelde maandelikse donasie te ondersteun nie? Laat ons eerlik wees daaroor: Gebede en fondse is 'n kombinasie van die twee dinge wat nodig is om so 'n bediening te loods. Daar is mense wat dit reeds doen sonder om enigiets daarvoor te kry. Dit is sekerlik hoe dit werk wanneer die Here iemand opwek om 'n vrywillige offergawe te gee.

Ons begeer egter dat die video's by u sal uitkom. Dit is moeilik om 'n produksie soos byvoorbeeld Psalm 23 - The Shepherd and His Sheep te maak en dan te weet dat iemand op die adreslys dit nie te siene kry nie. Jy wil graag hê dat almal dit moet sien en jy wil ook graag hoor wat hulle daarvan dink.

Daarom die idee om die Kérugma Videoklub te stig. U sien: Dit is een ding om te vra vir gereelde dnasies, maar die eintlike saak is: Ons wil graag dat elkeen van u hierdie video's sien en ook deel in die seën wat ons daaruit kry. Daarom dat ons aan u die geleentheid gee om die video's te ontvang, terwyl u terselfdertyd vir ons help om dit te kan maak.

Lidmaatskap van die klub werk soos volg: U onderneem om die bediening van Kérugma Produksies gereeld maandeliks te ondersteun deur die bedrag wat u op die meegaande vorm invul. Kérugma op sy beurt onderneem om maandeliks aan u 'n video persent te gee. U kan op hierdie vorm vir ons ook aandui watter van ons video's u dié keer wil ontvang.

Op dié manier is ons seker dat u en u gesin ten minste een keer per maand 'n nuwe video te siene kry. Terselfdertyd is u besig om deur dit wat u gee daartoe by te dra dat die Woord van die Here op 'n baie effektiewe wyse na andere uitgedra word.

Daar is baie werk om te doen. Waar die Here vra dat ons moet bid dat daar arbeiders in sy oes uitgestuur moet word (Mat. 9:38), is u deur deelname aan hierdie klub des te meer besig om mee te help in die proses om arbeiders uit te stuur.

Ons het maar skaars begin om video's wat die Skrif verklaar vanuit die agtergrond van die Bybellande te maak. Daar is video's wat in baie ander tale en ook vir verskillende kulture gemaak moet word.

Ook in Afrikaans het ons video's wat gereed is om geredigeer te word - so is daar onnoembaar baie dinge wat wag om gedoen te word.

Ons sien en hoor elke dag getuienisse van mense wat van die video's sien.

Moontlik hoor u eendag, waar ons almal voor die genadetroon staan, 'n getuienis van iemand wat ook daar is as gevolg van een van die video's wat hy kon sien. Sal dit nie wonderlik wees om dan te verneem dat dit so is weens dit wat die Here deur u gebede en finansiële ondersteuning in die persoon se lewe kon doen nie?

Groete in die Naam van die Here Jesus Christus.

In Sy diens

Naas le Roux