|
The Shepherd and His Sheep
Niemand was so goed toegerus om die bekende Psalm 23 te dig, as die herder-koning van Israel, koning Dawid self nie. Psalm 78:70-72 sê dat die Here,
"Het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooi het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande."
Dawid het Psalm 23 gedig vanuit die oogpunt van 'n skaap. Die woorde van hierdie lied is niks anders nie as die persoonlike belydenis van 'n skaap. 'n Skaap sê hier hoe goed sy herder hom versorg. Om hierdie Psalm reg te verstaan, is dit nodig om 'n slag in die vel van een van die skape op die heuwels rondom Bethlehem, te klim.
Dit is amper dít wat Dr. Randall D. Smith van Christian Travel Study Programs gedoen het voor hy toergroepe in Israel begin leer het hoe 'n mens hierdie Psalm moet verstaan. Vir twee volle weke het hy saam met 'n skaapwagter in die velde van hedendaagse Bethlehem deurgebring.
Op die video, PSALM 23: THE SHEPHERD AND THE SHEEP, hoor u nie net sy verklaring van Psalm 23 en sy vertellinge nie, maar sien u hoe die spesifieke skape in die landskap van die Bybel leef en versorg word. U leer meer omtrent 'n herder en die versorging van 'n kudde. U leer ook hoe om te onderskei tussen die bokke en die skape. Maar miskien sien u die lewe van 'n skaap in die kudde van die Herder self, in 'n nuwe lig.
Ja, u mag dalk die paar bekende woorde in Psalm 23 in 'n heel nuwe lig sien. Hierdie video is so pas vrygestel en duur nie lank nie, net so ongeveer 33 minute, maar bied die kyker iets wat hom baie lank kan besig hou. U sal die video keer op keer weer wil kyk en aan almal wat by u kom inloer, wil wys.
Die vrae aan die einde daarvan sal 'n groep wat dit bespreek lank kan besig hou. Vol tonele uit die alledaagse lewe van 'n skaap in Israel, maak hierdie video 'n uitstekende geskenk aan elkeen vir wie u graag iets wil gee wat hulle sal onthou.
|