Hierdie getuienis van ds. Ettiene Maritz is 'n opvolg op sy videoboodskap:
Die Here het My Verlos van Tipiese Toronto 'Blessing' Ervaringe. In
hierdie tweede video getuig hy veral hoe die Here Jesus Hom nog ryker aan
hom openbaar het. Daardeur het hy op 'n dieper wyse ontdek dat die Here Jesus
alleen die middelpunt van herlewing is. Hy is die Brood van die Lewe. Hy
is die Lewe! Herlewing is dus 'n nuwe openbaring van Jesus!
Johannes getuig daarvan wanneer hy sê: "...en die lewe is geopenbaar
en ons het Hom gesien...wat ons gesien en gehoor het, verkondig
ons aan julle..." (1 Joh 1:2-4).
Jesaja getuig twee keer in Jesaja 6: "...my oë het die Koning, die Here
van die Leërskare gesien!" Die effek van so 'n openbaring van die Here
Jesus lei tot persoonlike geestelike herlewing. In hierdie video getuig Ettiene
Maritz dat hy in so 'n ontmoeting met die Here Jesus, volle versadiging in
Jesus alleen gevind het.